Liefde is ’n sprokie. Fynbosskrywers. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Fynbosskrywers
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Учебная литература
Год издания: 0
isbn: 9780798170291
Скачать книгу
Yeaah! Sy boodskap aan my op Chessmasters Chat:

      CHECKM8:Patito, well done, bro.

      Ha-ha-ha, hy dink ek’s ’n ou.

      25 APRIL • SATERDAG

      Gloria het gewen. Uuugh. Nooit gedink ek sal dit hoef te sê nie. Marianna het gisteraand ge-WhatsApp met die nuus. Sy is vies vir my. Ek kan dit verstaan, sy’s teleurgesteld omdat ek nie opgedaag het nie. Ek het vir Ma gesê my kop pyn, ek kan nie gaan nie. Sy weet ek het gejok. Ek haat dit om mense teleur te stel.

      Ek wou gaan – ek het tot in die stort geoefen, for goodness sake! As ek baie eerlik moet wees, ek sing nie sleg nie. Ek weet ek kon beter as Gloria doen. Maar hoe kon ek na wat gister in die bus gebeur het?

      Een sitplek oop. Langs een van die matriekseuns. Ek gaan sit, hy staan op en gaan sit op een van sy buddies se skoot agter in die bus. Almal lag. Dit was so embarrassing. Ek wil sterk wees, maar sulke goed laat my twyfel. Laat Gloria maar eerder wen, in haar gloria in.

      PS. Checkm8 het vir my ’n boodskap gestuur: Hey bro, is jy reg om weer my wit koning se gat te skop? Hoe lyk dit met ’n rematch?

      Sal hom later antwoord.

      27 APRIL • MAANDAG

      Die beste nuus ooit! Oor twee jaar het ek dalk ’n nuwe gesig. Ma het die geld vir my behandeling herbelê by ’n ander finansiële ou. Hy sê daar sal oor twee jaar genoeg geld wees om dit te laat doen. Ma en Pa spaar al van my geboorte af. Selfs ná Pa se dood het ons raap en skraap geleef sodat sy kon spaar. Dis nie fair nie. Alles oor hierdie aaklige gesig van my.

      Scarface. Cherrietert. Tamatiegesig. Scarlet Girl … Hoekom moes ek met ’n geboortevlek gebore word? Beauty aan die linkerkant en Beast aan die regterkant, met die vieslike opgehewe rooi vlek oor my voorkop, oog, wang en ken. Port-wine stain, noem hulle dit.

      Toe ek klein was het dit my nie eintlik gepla nie. Ek het baie maatjies gehad. Mense het toe ook gestaar, maar in my onskuld het ek Ma geglo: “Alana, moet jou nie aan mense steur nie, hulle kyk na jou omdat Liewe Jesus jou gekies het om Sy liefdesbloed oor uit te stort. Hulle is net jaloers.” Ek onthou ek het geglimlag wanneer mense vir my kyk en hulle selfs jammer gekry omdat hulle nie uitverkies was nie. Hoe naïef!

      In graad drie het alles verander. Juffrou Peters het Jaco Lategan, ’n nuwe seun, aan ons voorgestel en gesê hy moet langs my sit. Ek sal nooit vergeet wat hy gesê het nie: “Ek gaan nie langs daai freak sit nie, netnou steek sy my aan.” Almal het gelag en na my gekyk asof hulle my vir die eerste keer sien.

      Daarna wou minder kinders pouses met my speel. Soms is ek nog na ’n partytjie genooi, maar ek het nie meer gegaan nie. Dit was baie erg, ek het later ook my netbal en my kooroefeninge (waaroor ek MAL was) gestop. Dis toe dat ek begin skaak speel het op Pa se rekenaar. Van niks anders hê om te doen nie.

      Oukei, Alana, genoeg gewroeg. Gaan slaap. Oor twee jaar het jy ’n nuwe gesig. Ek wonder hoe dit gaan voel om normaal te wees?

      2 MEI • SATERDAG

      Groot nuus! Checkm8 se naam is Alexander en hy is wonderlik. Ek het hom weer gewen en ons het vir ure daarna in die Chatroom gesels. Hy is snaaks, filosofies, interessant; so anders as die kinderagtige ouens in my skool. Dis al ná twaalf. So Copy. Paste. Slaap. Wil vir altyd ons heel eerste gesprek onthou:

      CHECKM8:Jo bro, Patito, jy kook. Speel jy professioneel?

      PATITO:In my dreams, ja.

      CHECKM8:Wat doen jy as jy nie speel nie? Rugby? Krieket?

      PATITO:Het probeer, maar ons skool het hierdie ding teen dogters wat wil speel. Baie seksisties, nè?

      CHECKM8:Jy’s ’n girl! OMW! ’n Girl het my gat geskop. Jammer vir my seksistiese aanname. Ek gaan gou op die treinspoor speel, verskoon my. Bloosgesig.

      PATITO:LOL, jy’s verskoon. Klim van die spoor af, dis gevaarlik.

      CHECKM8:So netbal, ballet of hokkie as jy nie seksistiese ouens se gatte skop met skaak nie?

      PATITO:None of the above. Ek hou van sing.

      CHECKM8:Cool. Self mal oor musiek. Ek en 4 skoolbuddies het ’n band. Ek is die keyboard-ou. Ooit opgetree?

      PATITO:Het. Nie meer. Let’s not go there.

      CHECKM8:Ouch. Jammer om te hoor. Moenie worry nie, ons band kom ook nie verder as die garage nie. Weet jy van Musiekbefonkers op fb? Baie nice groep vir closet musikante soos ons.

      PATITO:Nee tx, sal kyk.

      CHECKM8:G2G. Prefekvergadering. Sou eerder met jou wou chat. Sug. CU l8er Patitog8er.

      PATITO:Adios, checking out mate.

      CHECKM8:LOL, môre sit ek jou in skaakmat!

      Checkm8 logged off.

      Chekm8 logged on.

      CHECKM8:So wat is jou naam?

      PATITO:Jy gaan laat wees vir jou vergadering! Alana.

      CHECKM8:Aangename kennis, Alana – baie gepas. Dit beteken beautiful, het jy geweet? Ek is seker jy is. Cheers. Alexander.

      Checkm8 logged off.

      4 MEI • MAANDAG

      Ek kan nie glo Marianna het dit gedoen nie! Vanoggend was sy soos die Spanish Inquisition toe ek haar vertel van Alexander.

      “Screen naam?” vra sy.

      “Checkm8.”

      “Van?”

      “Le Seur.”

      “Waar bly hy?”

      “Êrens in Gauteng, ek gaan hom nie vra waar nie, netnou klink ek soos ’n stalker.”

      “Watter graad?”

      “Weet nie, dalk elf.”

      Nou weet ek hoekom. So pas ’n e-pos van haar gekry met al die ins en outs van Alexander le Seur. Prestasies: prefek, skaakspankaptein en B-span krieket. Skool: Prince George Privaatskool, Pretoria. Ouderdom: sestien jaar, drie maande … Als behalwe sy skoengrootte.

      OMW, toe maak ek die attachments oop. Foto’s waar hy rugby speel (hy is lank en atleties gebou), by ’n swembad (hy’t ’n sixpack soos ’n eierboks), in sy skoolklere (selfs dít laat hy rock), ’n close-up (bruin, krullerige hare met teddiebeer-oë en lagkuiltjies). Kan nie ophou kyk nie, alles aan hom is so perfek. Marianna het onder die e-pos ’n thumbs-up teken gemaak met: All clear. Van jou BFF-FBI-agent.

      Sy’s die beste!

      11 MEI • MAANDAG

      Ek en Alexander chat elke dag so baie, ek kry nie eens tyd vir my dagboek nie. Vanoggend wakker geword met dié boodskap: Môre, sleeping beauty, hoop jy’t ’n awesome dag. X0X

      Nooit geweet my hart kan so vinnig klop nie.

      Marianna dink ek is verlief. Miskien is ek. Ma het ook al gevra hoekom ek so gelukkig lyk. Moet bieg, selfs Gloria se aanmerkings ontstel my nie meer nie. Dit maak my bang.

      Alexander sal een of ander tyd uitvind. Wat dan? Hy wou al klaar weet hoekom daar nie foto’s van my op Facebook is nie. Ek het net gesê ek is nie groot op selfies nie. Een of ander tyd sal ek vir hom moet sê …

      15 MEI • VRYDAG

      Soveel gemengde gevoelens,