Liefde is ’n sprokie. Fynbosskrywers. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Fynbosskrywers
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Учебная литература
Год издания: 0
isbn: 9780798170291
Скачать книгу
Die spanning bou op, die meisies byt hulle naels en hou hulle selfone gereed om die wenner af te neem.

      Lila wip soos sy skrik toe haar naam uitgeroep word.

      “Lila is die wenner van vanjaar se kompetisie.” Die hoof kyk trots na haar. “Sy wen ’n kontantprys en … ’n splinternuwe selfoon!”

      Lila stap skaam tussen die kinders deur om haar prys te ontvang. Almal klap hande. Haar kunsjuffrou lyk so trots op haar.

      Lila hoor die sein van ’n boodskap op haar selfoon deurkom: Sal jy asseblief saam met my matriekdans toe gaan? Gerbrand.

      Haar wange brand. Sy kan dit nie glo nie. Waar sou hy haar nommer gekry het en hoekom sal hy háár nooi?

      Die middag ná skool wag hy vir haar by die skoolhek. Haar hart klop doef-doef.

      “Jy het my nog nie geantwoord nie?”

      Lila weet nie waar om te kyk nie. Sy sluk.

      “Ja,” fluister sy en hy stap tevrede weg.

      Lila sit moedeloos op die stoeptrappie. Sy het ’n knop op haar maag. Haar tante het altyd gesê ’n mens moet ’n plan maak wanneer jy ’n probleem het, maar hierdie probleem is te groot. Sy weet nie hoe om soos ander mense aan te trek nie; sy was nog nooit by ’n deftige partytjie nie; was nog nooit by enige partytjie nie!

      Ag, wat het haar tog besiel om ja te sê vir Gerbrand. Sy weet sommer – sy gaan hom in die skande steek. Sy kan nie eens dans nie.

      Wat as … sê nou net … Die gedagtes aan alles wat verkeerd kan gaan, maak haar kortasem. Sy druk haar kop in haar hande. Sy het nie ’n rok vir die matriekdans nie.

      Die tuinhekkie kraak en Lila kyk verskrik op. Dis haar kunsjuffrou. Sy is bly om haar te sien.

      “Lila,” sê sy, “ek is dringend op soek na ’n mooi stuk lap vir ’n spesiale rok. Die mense in die dorp sê jou tante kon so mooi weef. Het jy nie dalk nog van daardie mooi materiale nie?”

      Lila spring opgewonde op. Sy voel lus om haar arms om haar kunsjuffrou te gooi. Natuurlik! Hoe kon sy vergeet?

      Die linnekis – daar waar haar tante altyd die mooiste van haar geweefde materiale gebêre het!

      Sy pak die kis uit; haar kunsjuffrou loer nuuskierig oor haar skouer. Lila se asem slaan weg. Haar kunsjuffrou klap haar hande in ekstase. Sy kan kies en keur tussen die mooiste materiale. Lila hou elke stukkie lap voor haar; geniet die fyn teksture tussen haar vingers. Sy weet hoe om met haar tante se naaimasjien te werk. En sy kan ’n plan maak, soos haar tante haar geleer het.

      “Juffrou,” sê sy beslis, “hier is baie mooi materiale. Juffrou kan hiervan kry, maar in ruil daarvoor soek ek hulp.”

      Die aand van die matriekafskeid breek aan en toe daar ’n klop aan haar deur is, maak Lila oop. In ’n spierwit pak staan Gerbrand voor haar.

      Geure van soet lenteblomme hang in die lug – geure van die groot bos blomme wat hy vir haar gee.

      “Jy lyk pragtig, Lila. Soos ’n prinses!” Hy kyk met bewondering na haar; na haar goue hare wat soos ’n stralekrans oor haar skouers hang; na die fyngeweefde goudkleurige rok wat wyd uitklok om haar bene.

      Hy hou sy arm vir haar uit en saam stap hulle met die tuinpaadjie af na waar ’n chauffeur vir hulle die deur van ’n spierwit motor oophou.

      Toe hulle instap, daal ’n doodse stilte neer in die skoolsaal – wat vanaand soos ’n paleis lyk. Dan fluister baie stemme gelyk: “Is dit Lila, die bleeksiel, die weirdo van die onderdorp?”

      Later sweef Lila grasieus in die arms van haar droomprins oor die dansvloer. Haar oë dwaal oor die mense wat bewonderend na hulle kyk. Sy sien haar kunsjuffrou se oogknip. Sy sal môre vir haar gaan dankie sê vir die danslesse.

      Lila voel Gerbrand se mond naby haar oor.

      “Jy is vanaand die mooiste en rykste arm meisie in die hele wye wêreld,” sê hy en trek haar styf teen hom vas.

      Sy kyk op in sy bruin oë en glimlag. Dís soos ’n sprokie moet eindig, dink sy dromerig – in die arms van jou prins.

      VIER

      Bungee-sprong van die skarlakenmeisie

      17 APRIL • BLOU VRYDAG

      Ek haat my lewe! Hoekom kan ek nie soos normale kinders lyk nie?

      Gloria het my weer verneder. Hierdie keer voor die HELE skool. Hoe kan mense van haar hou? Regtig! ’n Mens het nie ’n 3D-bril nodig om deur haar skynheiligheid te sien nie.

      Vanoggend met saalbyeenkoms blah-blah-blah sy op die verhoog oor ’n geldinsameling-ding waarby sy betrokke was. Sonder om te blik of te bloos sê sy met daai aangeplakte stroopstemmetjie van haar: “Miskien kan ons selfs volgende keer ’n fondsinsameling vir Alana hou. Dan kan sy dalk iets aan haar gesig laat doen.” Paul en Jaco wat agter my gesit het, het kliphard gelag. Ek kon hoor hoe Jaco vir Paul sê: “Asof iemand geld gaan insamel vir ’n sirkus-freak.”

      Sulke goed behoort my nie meer te ontstel nie, maar dit maak baie, baie seer.

      NOTA AAN SELF: Moet nooit weer jou voet by jou kamerdeur uit sit nie. Die wêreld daar buite is nie vir mense soos jy nie.

      18 APRIL • SATERDAG

      Heeloggend skaak gespeel. Ek is nou tweede in my kategorie op Chessmasters.com. Whoop! Whoop! Nou moet ek nog net vir Checkm8 wen. Die ou (meisie?) is baie goed.

      Marianna was vanmiddag hier. Malkop BFF. Ek het so gelag. Sy’t daai foto van Gloria, waar sy besig is om ’n puisie uit te druk, op haar Facebook-blad gesit. Gloria was briesend. Die boodskap wat sy vir Marianna op haar selfoon gelos het … Nie eens rugbykykers vloek so nie.

      Natuurlik het sy haarself un-tag, maar nie voor sewe-en-dertig mense kommentaar gelewer het nie. Dit is seker kinderagtig, maar ek kon nie help om ’n klein bietjie lekker te kry nie.

      Marianna is great (al is sy weird). Ek wonder hoe my lewe sou gewees het as sy nie in graad vier na ons skool toe gekom het nie? Dit sou aaklig wees om die enigste outcast in die skool te wees.

      20 APRIL • MAANDAG

      Ek kan nie glo meneer Swanepoel dwing al die graadneges om Vrydagaand aan die talentkompetisie deel te neem nie. Dis só wreed! Ek wil nie! Mense staar genoeg na my, ek het nie ’n verhoog nodig nie! Vandag by die Spar het ’n vrou haar sak met kruideniersware laat val toe sy my gesig sien. Ma sê ek moet my nie aan mense steur nie. Dis vrek moeilik.

      Ek moet net uit hierdie konsert kom!

      PS. Marianna gaan soos Dracula aantrek en ’n stuk uit Shakespeare voorlees. Ha-ha. Sy voel ’n veer. Wens ek het haar guts gehad.

      21 APRIL • DINSDAG

      Alana, jy KAN dit doen. Tyd dat jy opstaan teen Gloria. Die vermetelheid. Pouse kom sy en haar groepie Glorianers daar aan: “So waarmee gaan jý ons Vrydagaand vermaak, Alana? Ek hoop jy probeer weer sing. Laat weet net as jy my nuwe onderlaag wil leen.”

      Sy is só fake. Ek het gedink Marianna gaan haar met die vuis slaan (sy is klaar in die moeilikheid omdat sy laas week vir Jaco met die papiervampier – haar woord vir ’n krammasjientjie – gegooi het toe hy my Rudolph, the red faced reindeer, genoem het).

      Die giggelende Glorianers met hulle mascara-wimpers en lip gloss-lippe het my net laat snap. Ek kon dit net nie meer inhou nie. Ek het iets gesê soos: “Baie dankie, maar nee dankie, Gloria. Ek het nie stopverf nodig om my krake toe te smeer nie. En as ek reg onthou, het die eisteddfod-beoordelaars in graad twee my sang bo joune verkies. Wees reg om Vrydag verneder te word.”

      Dis ’n gevoelige saak vir haar, want ek weet sy neem sedert daai eisteddfod peperduur sanglesse. Sy het net gesnork en omgedraai, die trossie Glorianers soos eendjies agterna. Marianna het my so hard op my skouer geklop, ek het ’n blou kol.

      Wat het my besiel? Wat gaan ek sing? In graad twee was dit anders.