Liefde is ’n sprokie. Fynbosskrywers. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Fynbosskrywers
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Учебная литература
Год издания: 0
isbn: 9780798170291
Скачать книгу
word gedare om ’n video van hulleself op YouTube te laai. Ek en die band gaan. Neem deel, toe? Sal jou graag wil hoor sing (en sien, Patitog8er).

      PATITO:Miskien wil jy eerder nie. Miskien klink ek soos ’n koei wat kalf? Miskien hou ek die Guinness World Record vir die lelikste mens op aarde?

      CHECKM8:My liewe Patito, as ek ’n ster gehad het vir elke oomblik wat jy my dag ophelder, sou ek nou al ’n galaxy in my hand gehad het. Al sing jy soos ’n koei en al lyk jy soos ’n klip, sal niks verander nie. Neem deel. Wat kan jy verloor?

      PATITO:Sal daaroor dink. OK?

      CHECKM8:K. Sweet dreams.

      18 MEI • MAANDAG

      Groot fout. Vir Marianna gesê van die YouTube challenge. Sy het die sangjuffrou gaan vertel. Hulle dring aan ek moet dit doen. Nooit geweet hoekom nie, maar die sangjuffrou karring al aan my om te sing vandat ek in die hoërskool gekom het.

      Nou weet ek; sy was blykbaar by my graad twee eisteddfod en glo ek het ’n “uitsonderlike gawe”. Miskien moet ek dit net doen. Ek is moeg daarvoor om weg te kruip. Miskien is dit tyd om myself in die leeukuil te gooi en die ergste te laat gebeur. Dan kan ek aangaan met my lewe – sonder Alexander. Ek wil nie eens daaraan dink nie.

      PATITO:OK, ek gaan bungee. Sal jy my vang?

      CHECKM8:Vir jou Patito, enigiets. As jy ’n klip is, moet net nie op my kop land nie.Laat weet wanneer jy die video post. Kan nie wag om dit/jou te sien nie.

      22 MEI • VRYDAG

      Môreaand neem ons die video op. Ek is reg hiervoor. Oefen al heel week ná skool saam met die sangjuffrou. Sy is in vervoering oor my stem. Marianna gaan die videokamera beman en het gevra of sy my gesig kan afneem? Ek het ja gesê. Hopelik is daar nie baie mense wat na die video kyk nie. Alexander gaan dit sien. Ek wil hê hy moet, want ek is hopeloos verlief op hom. Tyd dat ek terugkom aarde toe voor ek heeltemal my hart verloor. Wie weet, dalk verras hy my?

      PS. Wishful thinking, Alana

      23 MEI • SATERDAG

      Wat ’n aaklige dag! Ma huil al heeldag. Die man wat die geld vir die behandeling belê het, is weg met al die geld. Al haar opofferinge was verniet. Alles MY skuld.

      Nie eens kans gehad om haar te vertel van die YouTube clip wat ons vanmiddag gepost het nie (so much vir die verrassing). Dis dalk beter so. Ek gaan dat Marianna dit vanaand afhaal. Wil nie nog ’n verdere verleentheid skep nie. Stupid, Alana. Stupid! Stupid!

      13 JUNIE • SATERDAG

      Ek kan nie glo hoe dinge verander het sedert ek drie weke gelede in my dagboek getik het nie. Ma het vandag my laptop hospitaal toe gebring. Ek onthou ek was op pad na Marianna toe. Daar was skerp ligte en die geraas van ’n toeter en remme op teer. Verder onthou ek niks.

      Ek was twee weke lank in ’n koma. Glo ’n wonderwerk dat ek lewe, volgens die dokters. Ek is fine, behalwe vir ’n gebreekte been en die wit verband om my kop.

      Toe Marianna my van die ander wonderwerk vertel, wou ek haar nie glo nie. Ons YouTube video het viral gegaan. Dit het al oor die 200 000 views! Daar is joernaliste wat onderhoude met my wil voer; selfs mense van ’n TV-stasie oorsee. En hordes boodskappe van mense wat vertel hoe ’n groot inspirasie ek vir hulle is, ook van die kinders by my skool (Gloria skitter natuurlik in haar afwesigheid ). Blykbaar trend #loveyourmarkAlana al vir meer as ’n week op Twitter. Ma sê ’n man van ’n platemaatskappy het gebel om te hoor wanneer hy my kan sien. WOW!

      Geen boodskap van Alexander nie. My hart is seerder as my stukkende lyf.

      18 JUNIE • WOENSDAG

      Uiteindelik in my eie bed. Wat ’n dag! Dit was ’n gedoente toe ek vanmiddag uit die hospitaal kom. Oral kameras, verslaggewers en fotograwe. Ma en Marianna het soos lyfwagte vir my ’n pad oopgestoei kar toe. Maar dit was niks teen die verrassing by die huis nie!

      Toe ons stilhou, sien ek hom. In die voordeur, met ’n bos sonneblomme in sy hand. ’n Yslike Colgate-smile op sy super-aantreklike bakkies. Alexander. OMW! Ek was in skok, my hart het amper gaan staan. Ek kon nie beweeg nie. Ma sê hy het elke dag gebel, vandat die berig oor my ongeluk in die koerant verskyn het. Hy het glo eergister al afgevlieg, vir ingeval ek vroeg ontslaan word. (Nota: onthou om hom môre te vra hoe hy dit aan sy skool/ouers verduidelik het).

      Hy het die kar se deur oopgemaak en afgebuk, ek kon sy naskeermiddel ruik. “Alana, jy’t gebungee voor ek reg was! Sê asseblief volgende keer een, twee, drie voor jy spring.” Sy oë was sag en mooi en daar was diep kuiltjies om sy mondhoeke. Toe steek hy sy hand na my uit. “Sal jy asseblief hierdie vir my vashou terwyl ek terugstap na jou huis toe?” Sy hand was groot en warm om myne.

      “Vir jou, Alexander, enigiets.”

      VYF

      Haar eerste keer

      “… ons sal nooit weer die deur vir ’n wolf

      oopmaak nie, want nou weet ons wolwe lyk soms

      glad nie soos wolwe nie …”

      “Volgende asseblief.”

      Vir die honderdste maal belowe sy haarself. Sy sou dit net dié een keer doen. Daar is nog drie mense voor haar. Sy staan al vyftien minute in die tou. Dit voel langer as vir ewig.

      As dit net eers verby is. As sy net eers deur is!

      Net een keer. En hy weet dit. Hy het gesê hy sal haar nooit weer vra nie. Net die een keer. Oor iemand hom gedrop het. En oor hy haar kan vertrou. Net vir haar. ’n Warmte het van haar maag af deur haar lyf gestoot. HY wou iets van haar hê. Hoe het hy haar nie gesmeek om hom te help nie, net hierdie een keer.

      Hy het sy hand deur sy swart hare gewoel en soos ’n deurmekaar seuntjie gelyk. Hy het aan haar arm gevat en in haar oë gekyk en daar was niks kleinseuntjieagtigs aan die boodskap in sy donker oë nie. Hy het asseblief gesê, terwyl hy haar arm met sy duim vryf soos hy altyd maak.

      Haar besware het opgedroog soos druppels water op warm plaveisel langs ’n swembad. Sy het ingestem soos hulle al twee geweet het sy sou.

      Hoe kon sy vir hom nee sê? Vir hom sal sy enigiets doen. Enigiets. Nog nooit in haar lewe het so ’n mooi man haar uitgesonder nie. Natuurlik het sy al boyfriends gehad, ’n hele paar, maar hulle was almal seuns. Hy is ’n man. Hy met sy donker hare. Sy betowerende oë. En ’n glimlag wat enige meisie oor haar woorde sou laat strompel. Haar hande lam maak. ’n Onderlip laat byt. ’n Hart effens vinniger laat klop. Uitasem laat.

      En hy wil net by háár wees, al verskeie kere so gesê, en homself dan verwyt dat sy so jonk is. Dat dit oneerbaar sou wees. Hy sou haar beskerm, al was dit dan teen homself. Sy het geprotesteer. “Ek is oud genoeg,” het sy uitdagend geantwoord. Hy het uit sy maag gelag en haar styf vasgehou. En alles wat koud en deurmekaar en eensaam was het soos mis voor die son verdwyn.

      Sy kon nog steeds nie glo hy het haar gekies nie. Hy kyk net na haar en haar binnegoed verander in waterige jellie. En hy weet dit. En sy weet hy weet dit.

      “Volgende asseblief.”

      Daar is ’n paartjie voor haar. Hulle sal seker saam na ’n toonbank beweeg. Dan is dit haar beurt. Haar arm sweet van die wollerige teddiebeer wat sy teen haar linkersy vashou. Haar vingers soek voel-voel na die satynetiket aan die teddie se voet. Vryf dit tussen duim en middelvinger. Soos sy gemaak het toe sy ’n dogtertjie was. Al wat ’n etiket is gevryf. Gedog sy doen dit lankal nie meer nie, maar wanneer sy gespanne is, kom die ou gewoonte terug.

      Sy maak vir ’n oomblik haar oë toe en