Elaine bars hartlik uit van die lag. “Wat was die groot generaal se naam, oom Dirk?” vra sy.
“Sy naam was ook Dirk Human, meisie,” sê die oubaas sedig.
“Vreemd dat ek nog nooit van hom in die Geskiedenisklas geleer het nie,” sê sy.
Maar oom Dirk laat hom nie so maklik van stryk bring nie.
“Jy’t te veel van medisyne en te min Geskiedenis geleer, meisie, dis hoekom.”
“Ja, dis nooit anders nie, oom,” sê sy vol lag. “Ek weet van generaal De Wet en . . . ”
“Ag, hulle was niks, meisie; niks, sê ek jou . . . ”
Tant Truia maak terstond ’n einde aan oom Dirk se diskoers toe sy op die stoep verskyn en vriendelik sê: “Ek het maar sommer self vir jou suiker in die koffie gegooi en geroer ook, kindjie. Ek weet darem nog hoeveel suiker jy drink.”
“Dankie, tante, dit sal lekker smaak,” sê sy en vervolg met ’n ondeunde blik in haar oë: “Oom Dirk vertel my nou dat sy oupa . . . ” Die oubaas maak betekenisvol keel skoon en verander die onderwerp dadelik deur Elaine haastig in die rede te val.
“Ek hoor ou Jaak Derant se seun gaan julle uitkoop, meisie?”
Elaine knik.
“Ja, dit is ongelukkig waar, oom,” sê sy sag.
“Dis jou oorle’ oupa se skuld,” lig oom Dirk haar so tussen monde vol koffie in. “Laat kom toe mos vir hom diere van oorkant die water af, en toe vrek die hele duur spul . . . Ja, dis ’n nare storie, meisie. Nou moet jou pa vir ’n ander man werk, en dit omdat jou oupa so ’n korrelkop was. Wou mos na g’n mens luister nie.”
“Ja, dis tragies, maar sulke dinge gebeur soms met ’n mens, oom Dirk.”
“Reken, ou Jaak wou mos mý plasie ook koop,” sê Dirk. “Maar ek het vir hom gesê hy kan Avondrus koop wanneer ek en ou Truitjie dood is.”
“Die ou grondwolf sal dit doen, oom,” sê Elaine verontwaardig. “Bordeaux, Boskloof en Avondrus grens mos in die vorm van ’n driehoek aan mekaar, oom, en as hy die bakens tussen die drie plase verwyder, sal hy die grootste plaas in die hele omgewing besit . . . ”
Elaine kuier die hele oggend by die twee oumense. Met die belofte dat sy weer op ’n ander dag sal kom kuier en dan sommer vir tant Truia iets vir die rumatiek sal saambring, groet en vertrek sy weer.
Prins runnik saggies toe hy Elaine na hom toe aangestap sien kom. Die jong meisie kyk hom aan en glimlag. Sy weet dat hy al ongeduldig is vir ’n bietjie oefening in die oop veld.
Elaine lig haar rats in die saal, waai vir die twee oumense en dan dawer Prins se hoefslae oor die werf. Haar hoed skuif stadig agtertoe en hang later op haar rug met die linte om haar nek. Nou geniet sy die rit meer. Sy hou van die son op haar gesig en die wind in haar hare.
Elaine was egter nie bestem om hierdie rit lank te geniet nie, want toe sy die punt van die berg nader, kom ’n perderuiter om die bergpunt gejaag en snel met donderende hoefslae op haar en Prins af. Elaine wonder by haarself wie die ruiter kan wees. Dit is ’n lang, breed geskouerde man, en ook die groot swart perd is vir haar vreemd.
Eers toe ruiter en perd haar nader, merk sy dat dit haar aartsvyand, Niel Durandt, is. Sy wou net wegjaag en maak asof sy hom nie herken het nie, maar Niel trek Radja, die swart hings, langs Prins, steek sy hand uit en neem die teuels onverwags uit Elaine se hand.
“Môre, Elaine!” groet hy haar glimlaggend terwyl hy albei perde tot stilstand dwing.
“Mag ek vra wie jou die reg gegee het om die teuels sommer . . . sommer uit my hand te neem, meneer Durandt?” snou sy hom toe.
“Ek het eiereg gebruik, ou kleintjie,” sê hy ongeërg. “En jy hou jou verniet so kwaai met my. Kom ons gaan sit op daardie rots. Ek wil met jou praat.” Hy beduie met sy karwats in die rigting van die rots.
Elaine werp hom ’n onthutste blik toe. “Ek glo nie ons het iets meer vir mekaar te sê nie, meneer Durandt. Ek het niks vir jóú te sê nie.”
“Miskien nie, maar ek het heelwat vir jóú te sê. Gaan jy nou afklim, of moet ek jou afhelp?” vra hy met ’n ondeunde trek in sy donker oë.
Elaine ken sy soort. Sulke groot, bedaarde mans is gewoonlik die soort wat net een maal praat, en om deur hom uit die saal getel te word . . . ! Nee, sy sal maar liewer self afklim.
Met albei perde se teuels in een hand lei Niel die meisie na ’n groot, plat rots toe aan die voet van die berg.
“Was jy gister ernstig toe jy gesê net jy gaan op die dorp woon?” vra hy toe hulle albei gemaklik op die rots sit.
Sy kyk hom skeef aan. “Ek kan regtig nie sien wat dit met jou te doen het nie . . . ”
“Dit sal jou niks baat om my so kwaai aan te gluur nie,” sê hy goedig. “My vraag is tog baie eenvoudig. Was jy ernstig?”
“Jy is ’n haatlike mansmens . . . Ja, ek was ernstig as jy dan moet weet,” snou sy hom weer toe.
“Gaaf, nou vorder ons,” sê Niel tevrede. “Maar sê vir my eerlik; waarom wil jy op die dorp gaan woon?”
“Jy ken die antwoord op daardie vraag, meneer Durandt,” antwoord Elaine kortaf, onvriendelik.
Niel laat egter nie toe dat haar onvriendelikheid hom van stryk bring nie.
“Nee, ek ken nie die antwoord nie, want ek glo nie vir een oomblik dat jy gister die ware rede verstrek het nie,” sê hy.
“Wel, of jy dit glo of nie, ek verseker jou ek het elke woord bedoel, meneer Durandt . . . ”
“My naam is Niel, Elaine. En moenie weer vir my sê jy verkies om nie familiêr met my te wees nie, want ek gaan my eenvoudig nie daaraan steur nie. Wat is die ware rede waarom jy op die dorp wil gaan woon?”
“Ek kan dit nie help as jy my nie wil glo nie, meneer Durandt,” laat sy nou ’n klein bietjie vriendeliker hoor.
Daar is ’n ligte frons op Niel se breë voorkop toe hy ernstig sê: “Maar die rede wat jy gister aangevoer het, is heeltemal ongegrond, Elaine! Jy weet net so goed soos ek dat jou ouers hulle nie vir my en my pa gaan afsloof nie en dat jou ma geen bevele van my sal ontvang nie. Dit sal ook nie vir jou ma nodig wees om haar oor my en my pa te ontferm nie. Ons twee lewe al agt jaar sonder ’n vrou in die huis.” Daar is tergduiweltjies in sy oë. “Maar as jý so af en toe lus voel om vir ons op ’n Sondag te kom kook en saam met ons te eet.”
Elaine werp hom ’n vernietigende blik toe en val hom met ’n kil stem in die rede: “Jy is van jou wysie af of . . . of anders voel jy nie gesond nie.”
“Wat laat jou dink ek voel nie gesond nie?” vra Niel met ’n sagte laggie en oë wat blink van terglustigheid.
“Omdat ’n gesonde mens nie yl nie,” is haar kortaf antwoord.
“Yl?” Hy begin weer saggies lag. “Maggies, nee, ek het nog nooit in my lewe so gesond gevoel soos op hierdie oomblik nie. Maar sê my, wat is daarmee verkeerd as ek jou vir Sondagete na Bordeaux toe nooi?”
“Alles,” antwoord sy bedaard, haar gramskap nou onder beheer. “Jy weet hoe ek oor julle Durandts voel.”
“Ja, ek weet hoe jy oor ons voel, kleinding,” erken Niel, “maar as ek Boskloof nie koop nie, sal iemand anders dit tog koop, en teen ’n veel laer prys. Verkies jy dat jou pa sy plaas vir ’n appel en ’n ei moet weggee eerder as om dit teen ’n redelike prys aan mý te verkoop?” Hy kyk haar vraend aan.
“Ek sou verkies dat my pa Boskloof verkoop op voorwaarde dat die koper die plaas oor tien jaar weer aan ons terug sal verkoop.”
“Niemand sal Boskloof op daardie voorwaarde koop nie, Elaine, behalwe ’n spekulant,”