“Niel het nie in die buiteland gaan kuier nie, ounooi,” sê haar pa. “Hy het gaan kyk hoe die mense in daardie geweste boer. Sy reis was glo baie leersaam . . . Wat frons jy so, kleintjie?”
“Verskoon my, ek was nie daarvan bewus dat ek frons nie, Pappa,” sê sy ietwat verleë. “Ek het maar net gewonder . . . Ek verbeel my ek het eendag iemand hoor sê dat Niel oor ’n landbougraad beskik.”
Daan sit sy leë koffiekoppie op die koffiewaentjie neer en knik bevestigend.
“Jy het reg gehoor. Niel het ’n landbougraad en glo nog iets. Hy is ’n vooraanstaande man, kleintjie. Hy is voorsitter van ons landbouvereniging, dien in die skool- en hospitaalraad.”
“Verskoon my, Pappa, ek wil nie onbeleef wees nie, maar ek het nou heeltemal genoeg van die voortreflike Niel gehoor,” val sy haar pa onverwags in die rede. “Vertel my liewer hoe dit met tant Truia en oom Dirk Human gaan.Woon hulle nog op Avondrus?”
Daan glimlag onderlangs.
“Ja, hulle woon nog op Avondrus,” antwoord hy goedig. “Ek het vanmôre by hulle aangery op pad stasie toe. Tant Truia kla maar nog dat die rumatiek haar opkeil en oom Dirk . . . Nou ja, hy skiet nie meer spek nie, hy gooi nou sommer met die hele vark!”
Elaine bars uit van die lag.
“Dit is so tipies van oom Dirk,” sê sy met ’n laggie in haar stem. “As ek nie môreoggend my bromponie by die stasie moes gaan haal het nie, sou ek graag ’n draai by die twee oumense wou maak.”
“Gaan kuier gerus vir hulle, ounooi. Ek sal jou rydingetjie by die stasie gaan haal,” bied Daan aan. Hy wil nog meer sê, maar Gerda spring hom rats voor.
“Die . . . e . . . bromponie,” sê sy afkeurend. “Moenie vir my sê jy gaan die ding gebruik om jou pasiënte mee te besoek nie, Elaine!”
Elaine lag saggies.
“Hoe het Mamma geraai?” vra sy guitig.
“Jy is nie ernstig nie, is jy?” Gerda kyk haar dogter bekommerd aan. Dit is vir haar nou baie duidelik dat vandag se jong mense die mees onverantwoordelike dinge aanvang. Verbeel jou, ’n bromponie!
Maar dan hoor sy Elaine met ’n vrolike stem sê: “Ek is doodernstig, Mams. Ek kan tog nie ’n motor bekostig nie, en ’n bromponie is buitendien baie ekonomies . . .”
“Ekonomies, ja, maar baie beslis nie gerieflik nie. Ek wonder wat jy gaan doen as ’n reën- of ’n haelstorm jou op ’n plaaspad oorval?” wil Gerda weet.
Elaine glimlag breed en sorgloos toe sy sê: “Dis baie eenvoudig, Mams. Ek trek maar net my reënjas aan, en as dit ’n haelstorm is, gaan soek ek skuiling onder ’n boom. Dis al!”
“Laat staan die kind, Gerda,” sê Daan. “As sy nie ’n motor kan bekostig nie . . . Nou ja, dan kan sy net nie! Op reënerige dae kan sy mý motor leen. So, noudat al die probleme uitgestryk is, sal ek seker kan gaan kyk wat die werksmense in my afwesigheid aangevang het . . .”
“Nee, wag ’n bietjie, Pappa!” keer Elaine haastig. “Paps kan nie nou al gaan nie! Daar is mos nog iets wat Pappa my wil vertel, of het my ou paps al vergeet?”
Daan sug asof hy meteens baie moeg is.
“Nee, ek het nie vergeet nie, kleintjie,” sê hy en leun swaar terug in die stoel. “Dit is net nie vir my aangenaam om jou dit te vertel nie. Ek weet mos hoe lief jy ou Boskloof het . . .”
“Dan . . . dan het dit iets met die plaas te doen?” Sy praat sag, maar haar blik dwing haar pa om aan te gaan en haar te sê wat hier op Boskloof aan die gang is.
“Dit het alles met die plaas te doen, ounooi,” hoor sy hom weer sê. “Ek en jou ma moes jou natuurlik lankal vertel het, maar ons wou jou nie met ons probleme belas terwyl jy nog gestudeer het nie. Die afgelope jaar het ons weer gevoel dat ons jou eers ’n kans moet gee om jou voete te vind . . . In elk geval, dinge het die afgelope paar jaar so versleg dat ek genoodsaak is om Boskloof te verkoop . . .”
“Boskloof . . . verkoop? Onmoontlik! Ek glo dit nie!” roep Elaine geskok uit. “Pappa kan mos nie so iets doen nie! Boskloof is dan die Enslins se familieplaas . . .”
’n Klop aan die voordeur laat Elaine meteens swyg. Sy wonder vererg waarom daar juis op hierdie oomblik besoekers moet opdaag. Kon die mense nie vervlaks op ’n ander dag kom kuier het nie? Sy moet haar pa sonder versuim oortuig dat dit ’n fout sal wees om Boskloof te verkoop.
“Ek sal gaan kyk wie dit is,” sê Gerda. Sy staan sonder meer op en verlaat die sitkamer.
“Pappa, ek kan nie glo dat dinge so . . . so erg kan wees nie,” sê Elaine verslae.
“Dit is ongelukkig waar, kleintjie.” Daan se stem klink duidelik moeg en afgemat. “Glo my, dit was nie vir ons maklik om hierdie besluit te neem nie. Jy moet ook maar daarby berus. Dit help tog nie om teen die prikkels te skop nie . . .”
Gerda se binnekoms, vergesel van Niel en oubaas Jacques Durandt, laat Daan meteens swyg.
“Elaine het vanoggend met die tienuurtrein gekom,” sê Gerda vir die besoekers. Dan wend sy haar na Elaine. “Jy ken mos nog vir Niel en sy pa, Elaine?”
Elaine knik bevestigend.
“Ek onthou oom Jacques nog baie goed, Mamma,” sê sy. Sy kyk die besoekers met haar kenmerkende reguit blik aan en groet hulle onpersoonlik.
“Môre, oom Jacques . . . meneer Durandt.”
Die twee mans groet die jong meisie met die hand.
“Ja, dag, niggie . . . e . . . doktertjie!” sê oubaas Jacques met die basstem wat Elaine nog so goed onthou. Die oubaas se oë gaan vlugtig, waarnemend oor haar fyn gelaat en dan vervolg hy: “Hm, so op die oog af lyk jy nie veel meer as ’n kind nie, al is jy nou ’n grootmens. Maar ek moet sê, noudat jy groot is, kan ’n mens sommer sien jy is oorle’ Herman se kleinkind. Met daardie bruin hare en groen oë lyk jy publiek nes hy . . . Ja, uitgeknip ou Herman!”
“Dankie, ek voel geëerd om soos my oupa te lyk,” sê Elaine met ’n uitdagende intonasie in haar stem. Daan en Gerda kyk haar bestraffend aan, maar sy steur haar nie aan hulle verontwaardigde blikke nie. Hulle weet hoe sy oor die Durandts voel. Van kindsbeen af het sy ’n grief teen hierdie twee mans, en niks wat haar ouers sê of doen kan enigiets daaraan verander nie.
Niel kyk egter langer na haar. Sy donkerbruin oë gly stadig, waarnemend van haar rooibruin kroontjie af tot by haar voete en dan weer terug na haar hartvormige gesiggie met die fyn gelaatstrekke. Die volgende oomblik kyk hy vas in haar groot groen oë, wat onthuts na hom terugstaar oor sy vrypostigheid om haar aan te staar asof sy ’n ongeklassifiseerde virus onder ’n vergrootglas is.
“Goeiemôre, dokter Enslin!” laat Niel met ’n sweem van ’n glimlaggie hoor. Hy is deeglik bewus van haar gramskap, en hy neem haar dit ook nie kwalik nie. Hy besef dit was voorbarig van hom om haar so openlik aan te staar. Maar, maggies, dit is die eerste maal dat hy so ’n oulike nooi in hierdie geweste raakloop, en al is hy een van die ryk Durandts, is en bly hy maar net ’n man; ’n man met ’n oog vir skoonheid! “Ek hoop jy het ’n aangename reis gehad,” sê hy.
“Nie sleg nie, dankie,” antwoord sy ietwat koelweg, glad nie beïndruk deur sy glimlag nie.
Niel groet haar ouers vriendelik. Hy wag egter totdat sy sit en trek dan vir hom ’n stoel langs hare.
“Ek is bly dat jy besluit het om hier op jou tuisdorp te praktiseer, dokter Enslin,” begin hy gemoedelik met haar gesels asof hy haar nog nooit onder ’n vergrootglas gehad het nie. “Dokter Swanepoel moes myns insiens al lankal vir hom ’n vennoot aangeskaf het. Hy is ewig met ’n operasie of ’n bevalling besig wanneer ’n mens hom nodig het, en dan moet jy maar geduldig wag totdat hy beskikbaar is. Terloops, ek wil nie bevooroordeeld wees