Vyf vir vreugde. Ena Murray. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Ena Murray
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Эротическая литература
Год издания: 0
isbn: 9780624072591
Скачать книгу
hierdie duisende liggies wat voor haar flikker, is ’n jong seun aan ’t dwaal en ’n pa besig om te soek. Die kernvraag is net of dit die end van die probleem sal wees as hulle mekaar vind. Sy twyfel. Trouens, sy weet presies wat die antwoord daarop is. Die groot dwaaltog van twee harte wat verby mekaar lewe, sal steeds voortduur.

      Teen ligdag kan sy haar nie langer beteuel nie. Met ’n besliste beweging tel sy die gehoorbuis van die telefoon op. Dit maak nie saak wat hy gaan dink nie. Heel waarskynlik gaan hy haar afjak, maar sy kan hierdie onsekerheid nie langer verduur nie.

      Die kortaf “ja” aan die ander kant nadat die telefoon ’n paar keer gelui het, laat haar stem in haar keel vasruk.

      “Meneer Brynard?” ’n Kort stilte.

      “Ja, doktor Louw?”

      “Ek bel net om te hoor …”

      Sy hoor hom ’n lang sug aan die ander kant gee, meer soos die uitblaas van ingehoue asem weens opgehoopte spanning. Hy het waarskynlik gehoop sy het vir hom nuus.

      “Nee. Niks nie. Ek kom so pas terug by die huis.”

      Sy weet nie wat sy moet sê nie, maar sy wil ook nie die gesprek beëindig nie. Ondanks alles wat Ruben Brynard is, weet sy dat hy ’n diep bekommerde man is. Dis immers sý seun wat deur die nag ingesluk is. Dit moes vir hom ’n lang nag gewees het, baie langer as vir haar.

      “Dan sê ek maar tot siens. Ek hoop …”

      “Dankie vir die bel, doktor Louw. Tot siens.”

      Die telefoon klik in haar oor en sy sit die gehoorbuis met ’n bewende hand terug op die mikkie. O, Ruben, as jy en jou seun julle net vir ’n mens kan oopsluit! Sy weet self nie hoe sy deur daardie werkdag kom nie. Wanneer haar telefoon lui, ruk sy, maar daar kom geen taal of tyding van enige kant nie.

      Toe Louwda die middag ná werk by haar woonstel kom, begin die rustelose gedwaal weer van voor af. Sy is by die deur voordat hy behoorlik geklop het. Hulle groet mekaar nie. Nie een sê ’n woord nie, hy stap by haar verby sonder om te wag dat sy hom binnenooi, en sonder om te vra, gaan sy kombuis toe en maak koffie. Toe sy binnekom, sit hy agteroor in ’n stoel, sy agterkop teen die rugleuning gestut, die oë gesluit, en ’n oomblik lank kan sy Ruben Brynard skaamteloos bestudeer.

      En weer kry sy die ongelooflike gevoel dat hierdie man, ondanks sy krag en sekerheid, ondanks alles wat hy voorhou, hierheen gekom het omdat hy haar nodig het: iemand om ’n paar oomblikke mee te deel. Daar is niemand by die huis met wie hy kan praat nie. Hy is nie daaraan gewoond om met mense oor sy probleme te praat nie – maar hy is ’n mens, en op hierdie oomblik ’n baie doodgewone mens. Kommer het hom mensliker gemaak as voorheen, want die kommer was duidelik leesbaar op sy gesig, die spore wat die nag op hom gelaat het. Hy lyk ouer. Die gesig het nuwe lyne op, tog lyk dit nie meer so streng nie. Die moegheid lê soos ’n skaduwee oor hom, en sy het skielik ’n onmoontlike begeerte om nader te stap en hom aan te raak – te laat voel daar is iemand wat begryp.

      Maar natuurlik waag sy dit nie. Hy is nie die soort man teen wie se wang jy jou hand lê as ’n gebaar van blote vertroosting nie. Hy is nie ’n man vir wie jy simpatie wys nie, want hy glo daaraan om alleen te staan … sterk te wees, sonder die sagter dinge van die lewe wat die swaarkry draagliker maak.

      “Nog niks gekry nie?”

      “Nee.”

      Hy maak nie sy oë oop nie. Bly net so sit.

      “Jy het nie juis ’n keuse nie, of hoe? Jy sal die polisie net móét …”

      “Nee. Ek sal hom nog tot môreoggend kans gee.”

      Sy swyg. Môreoggend kan te laat wees, Ruben. Vir ’n seun in die toestand waarin Hein is, gaan môreoggend te laat wees – veral as hy nou in verkeerde geselskap verval, wat waarskynlik teen hierdie tyd reeds gebeur het. Maar wie is sy om Ruben Brynard voor te skryf?

      “Ek wens ek kon help. Ek wens ek kon weet waar om te gaan soek …”

      Hy maak sy oë oop, kyk na haar.

      “Jy het my vertel jy het nie kinders nie. Maar jy was getroud, was jy nie?”

      Die vraag kom so skielik op haar af dat sy hom ’n oomblik net verslae kan aankyk, dan laat sak sy haar ooglede verward.

      “Ja, ek was getroud.”

      “Is hy dood?”

      Sy skud haar kop, tel haar koppie koffie op. Sy weet nie hoekom sy hom antwoord nie. Dis onnodig. Sy het nie nodig om enige persoonlike feite van haar lewe aan hierdie man te vertel nie. “Ons is geskei.”

      “Hoe lank was julle getroud?”

      “Sewe jaar.”

      “Geen kinders nie?”

      Sy skud haar kop. “Ek het verwag, maar toe my baba verloor en is ons geskei.”

      “Maar jy sal weer trou, sal jy nie? Jy is nie werklik gelukkig met jou lewe soos dit nou is nie, is jy?”

      Sy kyk verbaas na hom. Sy kan nie begryp waarheen al hierdie vrae lei nie.

      Wat het dit te doen met Hein wat weg is? Of probeer hy maar hierdie paar oomblikke met onbenullighede vul – want haar persoonlike lewe moet vir hom iets onbenulligs wees – net om weg te kom van sy eie kommer?

      “Ek is gelukkig in my werk.”

      “Maar jy is nie tevrede met jou lewe soos dit is nie, is jy? Jy is nie gemaak vir ’n spreekkamer nie.”

      Sy kan hom net verstom sit en aankyk. Sy blik is ondersoekend, speurend. “Jy sal graag ’n gesin wil hê, nie waar nie?”

      Sy staan op, stap van hom af weg. Sy wens hy wil stilbly. Sy is tog nie ter sprake nie. “Daar is baie dinge in die lewe wat ’n mens graag wil hê, meneer Brynard, wat jy nie kan kry nie.” Sy lag kortaf. “Meestal kry jy nie die dinge wat jy graag wil hê nie.”

      “Dikwels kry ’n mens nie die dinge wat jy graag in die lewe wil hê nie om die eenvoudige rede dat hulle nie werklik bestaan nie. Jy jaag ’n gekkeparadys na. Jy hardloop agter iets aan wat nie daar is nie, na die einde van ’n reënboog, en jy kry dit nooit nie.”

      Sy glimlag wrang. “Jy is reg. Dié dinge wat ek graag in die lewe sal wil hê, bestaan seker nie. Daarom is ek wat ek nou is, en sal dit seker bly.”

      “Maar ’n verstandige mens, ’n mens wat sy nugter verstand gebruik, sit iets terug in die plek van daardie drome wat nie werklikheid kan word nie. Keer terug aarde toe en word prakties. Of dan … verwerklik soveel van jou drome as moontlik en staar jou nie blind teen daardie stukkie wat nie moontlik is nie.”

      Sy draai om en kyk op na hom. “Ek begryp nie wat jy by my wil tuisbring nie, meneer Brynard.”

      “Jy soek na idilliese geluk in die huwelik, in die gesin … Daar is nie so iets nie. Maar ’n mens kan ’n huwelik hê, ’n gesin, sonder om heeldag op ’n wolk te wil sweef.”

      Haar oë flits verward. Het hierdie gebabbel enige sin?

      “As u onder die indruk verkeer ek is iemand wat met verspotte onmoontlike drome rondloop, begaan u ’n fout, meneer Brynard. Ek het die lewe leer ken soos dit is. Ek weet daardie idilliese geluk bestaan nie. Ek weet die werklikheid is iets heeltemal anders.”

      “Dan is dit goed. ’n Mens moet nooit te veel verwag nie. Dan word jy nooit te diep teleurgestel nie. Kom ons veronderstel jy kan dít kry wat jou werklik gelukkig sal maak, of so gelukkig as wat menslik moontlik is. ’n Man, ’n gesin, ’n huis.”

      Sy kyk fronsend na hom. “Wat probeer jy sê, meneer Brynard?”

      “Ek probeer niks sê nie, doktor Louw. Ek wil jou iets vra.”

      “Ja? Wat is dit?”

      Hy draai van haar af weg, stap enkele treë, draai weer om. “Sê my, as Hein jou seun was … Vergeet heeltemal daarvan dat jy sy sielkundige is. Ek sê, veronderstel Hein was