ENA MURRAY
Vyf vir vreugde
Jasmyn
1
Die meisie met die goudblonde hare kyk hoopvol op toe die deur van die spreekkamer oopgaan.
“Was dit die laaste vir die dag, Stella?”
Die meisie skud haar kop, glimlag verskonend: “Jammer, doktor, daar is nog een. U is seker doodmoeg teen dié tyd.”
“Ja, dit was ’n besige dag. Goed, wie is dit?”
“Hein Brynard – die matriekseun van …”
“O ja. Hy was verlede week ook hier. Toe kon ek nie juis hond haaraf maak met hom nie, maar laat ons weer probeer.”
Sy glimlag, neem die lêer by die ontvangsdame en blaai vlugtig daardeur. Sy lees die besonderhede vinnig deur om haar geheue te verfris: Hein Brynard, sewentien, matriekleerling. Pa: Ruben Brynard, prokureur. Ma: vier jaar gelede oorlede. Intelligent, goed in sport, introvert. Geen probleme tot onlangs toe hy betrap is dat hy dagga op die skoolterrein gerook het. Agteruitgang op skool- én sportgebied merkbaar die afgelope twee tot drie maande. Onderaan in haar eie handskrif is ’n datum van ’n week gelede met net een inskrywing: Geen samewerking.
Doktor Louwda Louw weer die frons tussen haar oë en loop Hein tegemoet toe hy in die deur verskyn.
“Kom binne, Hein. Goeiemiddag.”
Hy stap nader, kyk strak terug, dan dwaal sy blik weg. Haar hart pyn. Hy is so ’n pragtige seun … nog net sewentien, maar reeds met daardie harde, ontnugterde kyk in die oë wat sy al so goed by baie van die probleemgevalle leer ken het. Maar hierdie seun voor haar is nog te jonk vir daardie blik. Dit hoort nie daar nie – veral nie by ’n seun wat menslik gesproke alles in die lewe het nie … skynbaar alles. Maar teen dié tyd weet sy ook al dat juis aan hulle wat skynbaar alles in die lewe het ’n dieper behoefte knaag. Hierdie seun kom volgens die algemene lewenstandaard uit ’n goeie huis. Aan geld is daar geen tekort nie. Swaarkry is iets wat met ander mense gebeur. En tog is daar ’n gemis … êrens ’n honger in hom, ’n tekort wat hy met daggadampe wil aanvul.
“Hein …” Sy swyg, magteloos voor die gevoel van moedeloosheid wat haar wil oorweldig. Iets vertel haar dat sy ook nie vandag daarin gaan slaag om deur die muur te dring wat hy om hom gebou het nie. Dit is so belangrik dat sy hom bereik. Maar sy kan hom net help as hy gehelp wil word – en hy wil nie.
’n Halfuur later moet sy maar die aftog blaas. Niks wat sy sê, kan hom beweeg om haar te vertrou met dít wat hier binne-in hom woel en kook nie.
Voordat hy loop, roep haar stem hom weer tot stilstand. “Hein, één ding moet jy altyd onthou. Daar is net één Hein Brynard op hierdie aarde … net één soos jy. Jy is uniek. Daar is niemand anders soos jy nie. En dit hang net van jouself af of jy daardie unieke persoon ’n kans gaan gun om iets moois en wonderliks van hierdie lewe te maak. Dit is jou keuse, weet jy. Elke mens het die reg om te kies: of hy iets van hierdie één aardse bestaan wil maak en of hy dit self gaan verwoes. Dit is selde, baie selde, dat ’n lewe sonder eie medewete of selfs toedoen verwoes word. Daar is weliswaar ’n groot Plan agter elke lewe, maar, weet jy, ons het ’n wonderlike Skepper. Hy gee ons genoeg speling, binne perke, om reguit te stap óf ons spore krom en skeef agter ons te laat. Die keuse is joune, net joune.”
Maar steeds is daar geen spoor van versagting, geen tegemoetkoming op die star gesig nie. Hy luister omdat hy moet, maar sy twyfel of enigiets wat sy vanmiddag gesê het tot hom deurgedring het, werklik binnegedring het tot daar waar die wortel van die kwaad lê.
Toe die deur agter dié moeilike geval van haar toegaan, stap Louwda na die venster, tuur af na die straat – daar ver onder waar mense soos sy, mense soos Hein Brynard, soos klein miertjies rondskarrel.
Hoe vreeslik klein moet ons nie in die oë van die Opperheer lyk nie. Daar bo van waar Hy so ver op ons neerkyk. Tog … elkeen is so belangrik vir homself. Elkeen glo daar loop nie ’n belangriker mens op hierdie aarde rond as juis hyself nie … en binne-in daardie klein miertjie word ’n perkelose gees geberg. ’n Gees wat nooit versadig kan word nie. Wat blý absorbeer: al die vreugde wat op sy pad kom, al die smart en ontnugtering. En waar is die versadigingspunt?
Sy sug en draai terug na die lessenaar. Weet sy dit dan nie self nie? En behalwe in haar persoonlike lewe, ervaar sy dit ook elke dag in haar werk. Sy werk met kinders. Hulle word probleemkinders genoem, maar eintlik is daar nie so iets nie. Dikwels is dit eerder die probleemouer wat die oorsaak is van so baie hartseer en afwykings onder die jeug. Kinders wat die pad byster geraak het omdat hulle nie die spoor van Ma of Pa gevolg het nie … omdat Ma of Pa, of so dikwels nie een van die twee, die woord ouer werklik waardig was nie. En dan noem jy die kind die probleem …
Is dit ook op Hein Brynard se geval van toepassing? Moet sy nie baie verder terug as Hein gaan soek nie?
Stella kom binne en sy kyk op: “Stella, skakel asseblief Hein Brynard se pa. Ek wil met hom praat.”
“Nóú, doktor?”
“Ja, asseblief. Ek weet dit was al tyd om huis toe te gaan, maar …”
“Natuurlik sal ek dit doen, doktor. Ek sal u deurskakel.”
Sy sit met gevoude hande voor haar en staar terwyl sy wag. Dan tel sy die gehoorbuis op toe die telefoon langs haar ’n kort luitjie gee en sy hoor Stella se stem aan die ander kant.
“Meneer Brynard, doktor.”
“Dankie.”
“Meneer Brynard …?”
“Ja?”
Die stem klink baie soos dié van Hein – amper ewe ontegemoetkomend.
“Doktor Louw van die Kinderleidingkliniek.”
“Ja?”
’n Baie kort aarseling aan haar kant. Hy klink beslis nie baie belangstellend nie. “Ek sou u graag ’n paar oomblikke wou spreek, meneer Brynard. Kan ons ’n afspraak reël?”
Hierdie keer is die aarseling aan sý kant. Dan: “As jy dink dis noodsaaklik, ja.”
“Ek dink beslis so.”
“In daardie geval … ek is baie besig.”
Haar oë vernou. Dink hy dalk hy is die enigste mens in hierdie stad wat besig is? Sy wag en sy stem klink duidelik onwillig.
“Ek het geen ander tyd as my etensuur nie, doktor.”
“Dan sal ons maar in etenstyd moet praat.”
“Môremiddag?”
“Goed. Waar presies is u kantoor?”
“Dit is nie nodig dat u na die kantoor kom nie. Ons afspraak is in die etensuur, dus kan ons mekaar in ’n restaurant ontmoet.”
Sy wil eers weier, sommer reguit sê sy bedel nie vir ’n gratis ete nie. Dan bedink sy haar, want sy is skielik daarvan oortuig dat sy eintlik lankal ’n afspraak met Hein se pa moes gereël het. “Dankie.”
Hy stel kortaf ’n bekende restaurant in die stad voor en sy willig in. Haar eie stem klink baie formeel toe sy sê: “Dankie, meneer Brynard. Môremiddag om eenuur dan.”
Doktor Louwda Louw lyk glad nie soos ’n geleerde sielkundige toe sy met haar hoëhakskoene en netjiese uitrusting die restaurant binnestap nie. Haar goudblonde hare hang glansend tot op haar skouers, haar gesig is foutloos gegrimeer. Sy sou eerder kon deurgaan vir ’n model.
Die man wat eenkant rondstaan, duidelik wagtend op iemand, kyk net vlugtig na haar kant en dan gaan sy blik weer na die deur terwyl hy fronsend na sy polshorlosie loer. Effens sinies merk hy op hoe die koppe draai terwyl die blonde godin, soos hy haar reeds spottend in sy gedagtes gedoop het, tussen die tafels deur stap, haar oë soekend om haar. Maar daar is geen belangstelling in sý blik nie, en weer kyk hy weg, die ongeduld dié keer openlik in die grys oë te sien.
“Meneer Brynard …?”
Hy draai sy kop stadig na regs, kyk af na haar, en