“Hein, kom sit. Kom vertel my alles. Jy hoef nie bang te wees nie. Ek veroordeel jou nie. Vertel my alles wat vandag gebeur het, asseblief.” Sy wil hom wéér saggies op die gemakstoel terugdruk, en sy sien hoe ’n pyntrek oor sy gesig spoel terwyl hy terugleun. Haar oë verstar. ’n Ontsettende gedagte flits deur haar en sy kyk hom skerp aan. “Hein …? Wat makeer? Het jy pyn?”
Sy sien die adamsappel moedig op en af beweeg soos hy sluk. Hy skud sy kop, maar sy sien ook die verraderlike bewing van die sensitiewe mondhoeke, en skielik het sy ’n vreeslike vermoede.
“Hein?”
Haar stem is baie sag en haar een hand reik uit, haar handpalm oop teen die een wang waar sy die kaakspiere kliphard voel span.
“Hein, het jou pa jou …?”
Die volgende oomblik gryp hy haar vas, sak die jong kop op haar skouer neer, en sy staan soos ’n standbeeld terwyl die jong seunsliggaam teen hare ruk. Sy voel hoe die rou snikke – nie dié van ’n seun nie, maar amper dié van ’n groot man – deur hom skeur, hoe die jong arms haar in ’n knelgreep vashou met die krag van die jeug maar die krampagtigheid van ’n man wat reeds met die lewe kennis gemaak het. ’n Rukkie lank kan sy niks anders doen as om hom net vas te hou nie, byna ewe krampagtig, en sy weet nie dat daar trane in haar eie oë is nie.
“Hein …?”
Eindelik stoot sy sy kop weg, neem sy gesig tussen haar hande, kyk op na die smartverwronge jong gesig.
“O, Hein, vertel my asseblief wat dit is! Het hy jou geslaan?”
“Ja.”
Met ’n wilspoging wat glad nie by so ’n jong seun pas nie, herwin hy sy selfbeheersing en draai weg.
“Dit maak nie saak nie. Ek het dit seker verdien.”
“Jy het nie.”
Sy weet sy tree nou teen alle reëls van die sielkunde op. Nooit mag ’n ouer voor ’n kind gekritiseer word nie, al was die ouer ook hoe verkeerd. Maar die woorde is klaar uit, en sy kom langs hom staan.
“Hoekom het jy dit weer gedoen? Dis nie ’n verwyt nie, Hein, vertel my net hoekom? Wat het vanoggend te veel vir jou geword, jou weer na die dagga gedryf?”
Hy skud sy kop. “Ek kan jou nie vertel nie. Ek kan nie verduidelik nie. Dis … iets van lankal … en sy is nou dood.”
Die agterdog in haar word sekerheid. Die ontwrigting in dié kind se lewe het te doen met die dood van sy ma vier jaar gelede. En hy kan nie daaroor praat nie.
“Het jy haar baie liefgehad?”
Hy knik. “Ja, ek het haar baie liefgehad. Ons het mekaar begryp. Ek en Pa …” Hy sluk die res van die sin in, maar dis nie nodig dat hy dit uiter nie. Sy begryp. Hy en sy pa het mekaar nooit werklik gevind nie. Hy en sy ma wel – en toe is sy dood. En hy kon dit nie verwerk nie, want die pa wat die plek moes vol staan, kon dit nie doen nie.
Hy kyk smekend af na haar. “Ek kan nie nou teruggaan daarheen nie! Ek kan nie nou terug huis toe nie! Nie vandag nie …” Dis ’n noodroep uit sy hart en sonder om te dink sê sy vinnig, gerusstellend:
“Jy hoef nie. Kom, ek bring jou na my woonstel.”
’n Veraf stemmetjie probeer haar waarsku sy tree nou uiters dwaas op, maar dis of sy skielik nie meer beheer oor haar denke het nie. Sy weet net sy kan Hein nie in die steek laat nie. Vir die eerste keer het hy ’n beroep op haar gedoen. Vir die eerste keer seker sedert sy ma se dood het hy hom tot ’n ander mens gewend. Sy durf hom nie nóú faal nie. Sy stap vinnig na die lessenaar, tel haar sleutels en handsak op, glimlag na hom, die kommer diep in haar eie oë weggesteek. “Kom, ek bring jou gou weg.”
Hy lyk onseker, soos ’n bang seuntjie, toe sy na die deur stap nadat hulle by die woonstel aangekom en sy hom probeer tuis laat voel het. Sy het vir hom ’n koppie koffie gemaak, beskuit uitgehaal, hom gewys waar die badkamer is en toe gesê: “My spreekure is nog nie verby nie. Ek sal moet teruggaan. Maar maak jou solank tuis. Daar is my platespeler. Ek dink daar is iets onder die klomp plate waarvan jy sal hou. Gaan lê bietjie as jy so voel. En, Hein, moet jou oor niks bekommer nie. Alles sal regkom.”
“My pa …”
“Moenie bekommerd wees nie,” herhaal sy weer met ’n selfversekerdheid wat sy nie werklik voel nie. “Los jou pa vir my. Alles sal regkom. Tot siens. Ek sien jou later.”
Maar op pad terug na haar spreekkamer het Louwda se verstand haar begin aankla, haar vertel dat dit beslis nie ’n wyse optrede aan haar kant was nie. Haar versekering aan Hein dat sý sy pa sal hanteer, was ’n klug, en sy weet dit. As Ruben Brynard moet agterkom waar sy seun op dié oomblik is …
Haar hart sit in haar keel toe sy haar spreekkamer binnestap en Stella se groot oë sien.
“Doktor, hier het ’n man ingestap … Hy sê … Hy wil nie sê wie hy is nie, hy wil net …”
Die deur na haar kantoor gaan oop en Ruben Brynard staan daar soos ’n oordeelsengel. Selfs nie daardie dag dat hulle saam geëet het en baie na aan ’n rusie was, het sy sy gesig só gesien nie. Dit lyk of dit uit ’n granietblok gekap is. Hy praat nie ’n woord nie. Staan net opsy en sy oë beveel haar om haar eie spreekkamer binne te stap. Sy hoor die deur beslis agter hulle toegaan en sy het nie die moed om na hom te draai nie.
“Waar is Hein?”
Sy het geen ander keuse nie as om na hom te draai, die grys oë vol onheil te ontmoet nie.
“Dit is ’n vreemde vraag, meneer Brynard. Jy is sy pa.”
Sy weet hy kyk dwarsdeur haar bravade. Sy weet hy kan die onsekerheid en tikkie vrees in haar oë lees en sy besef sy is nie opgewasse teen hierdie man nie. Maar dan verskyn Hein se jong gesig voor haar, en sy weet sy moet – ter wille van daardie jong lewe se toekoms – haar man staan teen dié man. Vandag moet sy hierdie ronde wen, buig of bars.
“Jou ontvangsdame het my gesê hy was hier en julle is saam weg. Ek is nie in die luim vir draaie loop nie, doktor Louw. Ek wil weet waar Hein is. Onmiddellik!”
“Omdat jy bang is dat hy …?”
“Bang, doktor? Bang?”
Sy weet sy het die verkeerde woord gebruik. Ruben Brynard het geen bang haar op sy kop nie. Daar is niks op hierdie aarde waarvoor hy bang kan wees nie. Nie hierdie man nie. Sy sluk, dwing haar oë om nie weg te skram van die smeulende blik nie.
“Ja. Miskien by die polisiekantoor om sy pa aan te gee vir aanranding.”
Sy weet nie of sy al ooit ’n paar oë gesien het wat só koud flikker nie.
“Dit sou die dwaasste ding wees wat hy ooit kon doen, nog dwaser as om dagga te rook, doktor. Want as hy dáár uitkom … Wanneer ék met hom klaar is, sal hy regtig ’n aanrandingsaak teen sy pa aanhangig kan maak. Ek sal dit dan vir hom die moeite werd maak.”
Dis desperaatheid wat haar haar humeur laat verloor die oomblik dat sy besef sy staan voor ’n staalmuur. Die woede wat by haar oorneem, is een van magteloosheid.
“Jy verstom my, meneer Brynard. ’n Man van jou ouderdom, jou intellek en jou opvoeding wat ’n seun van sewentien jaar te lyf gaan!”
“En jy verstom my, doktor Louw, jy en jou sielkunde. Jou vermetelheid om my optrede teenoor my seun te bevraagteken is verstommend. En nog meer verstommend is jou dwaasheid om ’n jong seun van sewentien weg te steek. Ek wonder of jy besef watter gevolge dit vir jou kan inhou?”
Eers kyk sy hom net verdwaas aan. Haar verstand wil net nie inneem wat hy so duidelik gesê het nie. Dan sluit sy haar oë ’n oomblik, probeer om haar selfbeheersing