Sondebok. Irma Venter. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Irma Venter
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Ужасы и Мистика
Год издания: 0
isbn: 9780798167390
Скачать книгу
Nee!” Jaap gryp na die leiband, maar hy is te stadig. Die hond laat vat verby my, agter die kroegtoonbank in.

      Die kombuisdeur gaan oop. Zenani steek haar kop uit. “Wat’s fout?” vra sy, haar stem dreigend.

      “Niks nie,” keer ek vinnig. Ek kan nie haar hande sien nie, maar ek weet sy sal iets vashou. En ek het reeds vanoggend ’n nuwe besem gaan koop. “Dis net ’n …”

      Ek kyk verstom hoe die ligbruin hondelyf agter haar by die kombuisdeur inglip. Natuurlik agter die kosreuk aan.

      “Keer!” skree ek.

      Zenani skrik. Sy gee drie treë vorentoe, nuwe besem gereed in haar hand. Agter haar swaai die kombuisdeur heen en weer.

      Jaap sug. “Ek sal hom gaan kry.”

      “Nee!” sê ek vinnig. Daar’s ’n lyk in die yskas. Crow’s se kombuis is die laaste plek waar ’n afgetrede polisieman moet wees.

      “Wag hier.” Ek beduie na een van die tafels. “Sit! Ek sal vir jou koffie bring.”

      “Goed. Dankie.” Hy leun met een hand op die tafel en sak in die stoel neer, sy gewig meestal op sy linkerbeen, asof September se beserings nog pla.

      Ek draai na Zenani, konsentreer om my stem egalig te hou. “Sal jy asseblief vir … hom koffie maak?”

      Amper het ek Jaap gesê. Hy het homself nie voorgestel nie, en ek is nie veronderstel om sy naam te ken nie.

      Ek loop haastig by die kombuisdeur in en roep hard: “Boris!”

      Niks nie.

      Die agterdeur is toe. Die hond moet hier binne wees.

      “Boris! Waar is jy?”

      ’n Lae grom trek my aandag. Dit kom vanuit die yskas. Hoekom staan die deur oop? Dalk was Zenani daar binne besig.

      Ek gee drie lang treë tot binne. Die half uitgegroeide labrador staan en knor vir die man op die stoel. Sy stem is onseker, asof hy nog oefen om geraas te maak.

      “Boris.”

      Hy draai om en kyk na my met gespitste ore.

      “Kom hier.”

      Maar die hond draai terug en begin snuffel aan Ruan Delport se broeksak. Hy trek die reep bebloede toiletpapier uit, laat dit val.

      Is dit nou regtig nodig?

      “Boris!” roep ek, harder hierdie keer. “Kom hier. Hiér.”

      Hy tel weer die stuk toiletpapier op. Kyk na my asof hy my uitdaag om hom te jaag.

      Ek spring vorentoe en gryp hom aan sy halsband. Probeer die papier uit sy bek trek. Hy grom vir my en skud sy kop heen en weer, die speletjie plesierig.

      “Ek het nie nou tyd nie!” Ek gryp na die papier, maar die hond draai sy kop weg.

      Wie noem in elk geval ’n hond Boris?

      Tyd vir ’n ander taktiek. Ek neem ’n ham van die rak, loop na Zenani se werkspasie en sny ’n stuk af. Toe ek omdraai, staan Boris reeds by my voete, toiletpapier steeds in sy bek.

      “Ek ruil jou.” Ek hou die vleis voor sy neus. Hy los die papier en gaan sit.

      Ten minste het hy goeie maniere.

      Ek gee vir hom die vleis, tel die natgekwylde toiletpapier op en gooi dit in die asblik. Sny nog ’n stuk vleis af en loop na die swaaideur. “Hierso, Boris.”

      Hy kom nadergedraf.

      Ek gee dit vir hom en sorg dat ek by die yskas kom. Slaan die deur toe en sluit dit. Ons gaan die lyk tuinstoor toe skuif sodra Jaap weg is.

      Met ’n stuk ham in die hand loop ek uit die kombuis, gooi dit by Jaap se voete. Dié sit en koffie drink waar ek hom gelos het.

      Ek moet ’n sug van verligting keer. Kan hierdie dag nou net end kry?

      “Hardkoppige klein bliksem,” kondig ek aan.

      Jaap glimlag, vryf oor die hond se kop. “Selfde as sy baas.”

      RANNA

      1

      Dit lyk na ’n ouerige gesinshuis oorkant die pad, een met ruim vertrekke. Seker drie of vier slaapkamers en twee badkamers, een miskien bruin, of groen. Die boustyl en erf dateer van iewers uit die 1970’s, voor 2,2-kinders-en-een-hond. Dis meer soos drie kinders, twee honde, ’n kat en ’n duiwehok.

      Die vensters verraai dieselfde ouderdom. Dis groter as wat vensters deesdae, en met deesdae se misdaadsyfers, gemaak word. Die diefwering is wit en Spaans; niemand sal by die vensters kan in sonder ’n raserige saag nie. Die tuin is netjies, meestal gras, en met wat lyk na kruie in bruin potte al langs die een muur af.

      Die huis kruip weg agter ’n groen palissadeheining en ’n ry struike. Die L-vormige gebou lyk nes die ander huise in Valhalla, ’n amperse kopie van die huise aan die regter- en linkerkant. Maar dis nie ’n gewone huis nie. Dis die huis waarin Crow’s se skottelgoedwasser bly en iemand wil haar dood hê.

      Bly sy alleen in hierdie grote huis? ’n Skottelgoedwasser?

      Dis te betwyfel. Valhalla is nie ’n baie ryk buurt nie, maar jy sal meer as ’n skottelgoedwasser moet verdien om hier te bly. Dalk is Naomi getroud met ’n man wat goed verdien.

      Ek kyk op my horlosie. Skuif die bakkie se sitplek agtertoe en strek my bene. Adriana is laat.

      ’n Beweging trek my aandag. Die gordyn voor die sitkamervenster beweeg na links, val terug en hang weer stil. Blý stil hang.

      Kan nie toevallig wees nie. Iemand in die huis hou my dop. Wat sou ek doen as ’n wildvreemde vrou in ’n wildvreemde bakkie voor my huis parkeer en na die voordeur staar? Die polisie bel?

      Demmit. Hierdie was die een afspraak waarvoor ek maar laat kon wees. Waar is Adriana?

      Ek bel haar. “Hoe ver is jy?”

      “Op pad. Dit storm in Johannesburg. Seker so ’n kwartier? Dalk twintig minute.”

      Weer beweeg die gordyn.

      “Ek ry om die blok tot jy hier is. Ek dink ek maak Naomi senuweeagtig.”

      “Ek sal bel en verduidelik wie jy is.” Sy dink ’n oomblik. “Maar dalk moet jy maar steeds vir my wag voor jy gaan klop.”

      “Maak so.”

      Ek skuif die sitplek vorentoe en skakel die bakkie aan. Draai regs in die eerste straat. Nog huise soos Naomi s’n. Weer regs, links. Links. Oor ’n sirkel. Nog een. My foon lui.

      “Sy antwoord nie haar sel nie,” sê Adriana gejaagd. “Gee my vyf minute. Wag vir my by die hek.”

      “Daar’s definitief iemand in die huis. Dalk hoor sy nie haar foon nie?”

      “Dalk is dit nie sy nie.”

      “Goed, kry jou daar. Maak gou.”

      Ek ry terug en parkeer oorkant die pad, maar meer af in die straat hierdie keer. Die roomkleurige huis lyk niks meer toeganklik as netnou nie. Hoe kom mens by die voordeur in as jy nie ’n sleutel het nie? Brandende oliefakkels en ’n stormram? Ek kan klop en verdwaal lyk, maar niemand vra deesdae meer padaanwysings by huise nie. Netnou skiet iemand jou.

      Ek kyk na die interkom by die hek. Ek kan die knoppie gaan druk, of ek kan hier sit en tyd mors tot Adriana opdaag. Ek klim uit en loop tot by die vuilwit boks. Druk die knoppie. Die interkom lui en lui. Die gordyn wat netnou beweeg het bly doodstil hang. Om my is die buurt stil en verlate. Iewers is ’n sproeier aan, al is dit die middel van ’n koel dag en die reën so naby dat jy dit kan ruik. Tjiek-tjiek-tjiek. Terug. Tjiek-tjiek-tjiek.

      Ek druk weer die interkom se knoppie. Steeds geen reaksie nie. Ek trek aan die hek. Dit beweeg nie. Ek kan seker oorklim, maar netnou bel iemand die polisie.

      Agter