Hy trek sy skouers op. “Maak nie saak nie,” praat hy verder. “In elk geval, ek het die foto’s aan die suidekant geneem. Ek het seker heeltyd op die landskap gefokus, want ek het haar nooit opgemerk nie, al was haar foto ook by ons in omloop ná die Masterson- moord in die Kaap.”
Hy vee weer oor sy mondhoeke. “Ek dink sy is daar by julle. Ek weet nie hoe nie, maar Ranna Abramson is terug in Suid-Afrika.”
Ek bestudeer weer die foto voor my. “Lyk die vrou nie maar net soos sy nie?”
“Kan wees,” gee hy onwillig toe. “Al die foto’s van haar is oud en sleg.”
“Maar jy is oortuig dis sy op hierdie foto. Hoekom?”
Hy lyk tevrede, asof ek uiteindelik die regte vraag vra.
“Kyk na die kamera. Sien jy die skade daar by haar linkerhand? Heel aan die onderkant links?”
Ek hou die foto teen die lig. Sien uiteindelik die duik en effense kraak aan die swart Nikon.
“Abramson het lank gelede vertel hoe Sri Lankaanse separatiste die kamera skrams getref en uit haar hande geskiet het. Dit was nog voor sy die World Press Photo-toekenning gewen het. Daar was ’n foto van die kamera by die artikel, al was daar nie een van haar nie. Ek’s seker dis dieselfde Nikon.”
Ek kyk weer na die foto. Die vrou wat op die grasperk staan, haar linkerhand om die kamera gevou. Reg om dit op te lig en ’n foto te neem. Haar oë op die groep tieners wat bal skop op die gras. Sy lyk soos iemand wat weet van foto’s neem.
Ranna Abramson, gedoop Isabel Kroon. Die vrou wat Tom Masterson vermoor het. Haar pa geskiet het. Billy Jones in Dar es Salaam doodgemaak het. En wat van die mans in Parys en San Francisco? Reeksmoordenaar. Dis wat die koerante haar genoem het, maar daar is net bewyse vir een: Tom Masterson. Sy het hom met ’n mes doodgesteek en op die spoorlyn naby Vanrhynsdorp neergesit. Dis wat sy gebieg het in haar brief aan die polisie voor sy Indië toe gevlug het – soos haar kredietkaart verraai het.
Ek kyk weer na die Amerikaner. “Dit kan wees,” gee ek toe. “Maar wat as sy reeds weg is? Hierdie foto is ’n paar maande oud.”
“Kan wees. Maar dalk is jy gelukkig en is sy nog steeds daar.” Hy kyk na my asof hy my opweeg. “Jy’s nog jonk. Dit sal goed wees vir jou loopbaan as jy haar aankeer.”
Wat hou hy en Ndlovu so aan oor my ouderdom? Hulle klink nes die res van die stasie. Elke dag ten minste een opmerking oor my brose een-en-dertig. Dan nog een of twee oor ek ’n vrou is, en die res oor ek bruin is – maar ook nie bruin genoeg nie.
“Dankie, ek sal dit opvolg.” Wat gaan ek anders doen? Dikmond by die huis sit tot Opod hulle ondersoek klaargemaak het?
“Ek dink dit sal die moeite werd wees.”
“Ek sal jou laat weet wat gebeur. Dalk kan ek selfs van jou hulp gebruik maak … as jy bereid is om te help.”
Hy knik entoesiasties. “Ek sal help waar ek kan. Sê net wat jy nodig het.”
Ek kan aanvoel hy wil nie totsiens sê nie. Hy wil hier bly, by die lewe. By ’n doel en rigting, nie meedoënlose dae vol niks nie.
“Hoe lank was jy en Delia getroud?” Die vraag is uit voor ek dit kan keer.
Weer die hand oor sy mondhoeke. “Drie-en-veertig jaar,” sê hy uiteindelik, sy oë blink van trane.
Die emosie maak my nie bang of ongemaklik nie. Het nog nooit nie. Ek weet nie hoekom nie. Dis soos luister, dit kom natuurlik.
“Dis ’n leeftyd.”
Hy knik net.
Ek beduie na die geel rose op sy lessenaar. “Was dit haar gunstelingblomme?”
Hierdie keer glimlag hy. “Goeie raaiskoot. Wat sal ’n ou man met vars blomme maak?”
“Sy het goeie smaak gehad,” sê ek.
“Ek dink ook so.”
Ek gesels nog tien minute met Jeremy Hardy en groet dan.
Ek staan op, gaan maak tee en kom sit weer. Bestudeer die foto van die lang vrou op die Uniegebou se grasperk. Kan dit regtig sy wees? En as dit Ranna Abramson is, is sy nog steeds in Suid-Afrika?
RANNA
1
Bloed loop in ’n dun, taai straal teen my nek af. Ek dep dit met ’n stuk watte. Nes die kaste in die slaapkamers het die badkamers die inbreker se aandag vrygespring – die watte en Dettol was steeds netjies weggepak in die badkamerkassie.
As ons tien minute later opgedaag het, was die hele huis seker deurmekaar. En Naomi weg. Of dood.
Ek vee weer oor die drie naelmerke wat rooi teen my nek uitstaan. Gooi die watte in die asblik, was my hande. Maak dan weer die asblik oop. ’n Bloedbevlekte waslap lê onder ’n leë toiletrol en ’n handvol gebruikte tissues. Die roesrooi bloed is droog en oud.
Iemand het seergekry. Zenani? Naomi? Iris? Dié vrou het ek nog nie met ’n oog gesien nie. Wat is hierdie plek?
Help nie ek hou aan tob oor iets waarvan ek niks weet nie. Adriana sal die antwoorde hê, en dis tyd dat sy my vertel wat aangaan.
Sy los die Merc in Valhalla vir Zenani om later te gebruik. Ons klim in die bakkie en neem die N1 Johannesburg toe. Ek ry versigtig in die swaar reën wat sig beperk tot die motor voor ons se remligte. Naomi sit agter in die bakkie met ’n geel tas op die sitplek langs haar.
Sy wou nie inklim voor sy geweet het waarheen ons op pad is nie.
“Hulle weet van die restaurant en die huis.” Haar stem was hoog en snaarstyf gespan.
Ek kon nie help om te wonder nie. Hoekom “hulle”? Hoekom nie “hy” nie?
Adriana het die deur vir haar oopgehou. “Hoe het dit gebeur? Het jy vir iemand gesê waar jy bly?”
Naomi het skuldig weggekyk.
Adriana se sug was hard. “Jy ken die reëls.”
Noudat ek weer daaraan dink, word die gedagte wat al ’n rukkie in my kop broei al sterker. Die huis, Adriana en Naomi hou verband ja, maar glad nie soos ek aanvanklik gedink het nie.
Langs my skakel Adriana ’n nommer op haar selfoon.
“Iris,” sê sy verlig toe die persoon aan die ander kant dadelik antwoord.
In die truspieëltjie sien ek hoe Naomi ineenkrimp. Sy staar skuldig by die venster uit na Midrand se nat kantoorgeboue.
“Is jy veilig?”
Ek hoor nie wat Iris antwoord nie, net ’n ontevrede vrouestem wat al harder praat.
“Kry my by Crow’s,” sê Adriana. “Ons is op pad soontoe.”
Agter ons maak Naomi ’n paniekbevange geluid. “Hulle … hulle weet waar dit is. Hulle weet!” Weer “hulle”.
Adriana ignoreer haar. “As jy nie soontoe gaan nie, Iris, kan ons nie na jou kyk nie.”
Sy luister aandagtig, dan slaan haar hals rooi uit. “Ek weet, ek weet. Dinge het nie reg geloop vandag nie … Goed, nes jy wil.” Stilte. “Jammer, Iris. Regtig.”
Toe Adriana aflui, toets ek my vermoede. “Vertel my van Crow’s. Van haar.” Ek beduie met my kop in Naomi se rigting. “En nie liegstories nie.”
“Ek het nog nooit vir jou gelieg nie.”
Ek ken daai een. “Goed dan. Moenie stilbly nie. Oor niks nie.”
Adriana lag asof ek haar uitgevang het. Haar hand vee oor haar nek, speel met die silwernaaldekoker wat teen haar bors hang.
“Sodra ons by Crow’s is. Belowe.”
2