“Hoe ernstig is dit?” Dit moet baie sleg wees as sy belowe het om haar veertig-’n-dag-gewoonte te laat staan.
Alex sit sy hande op my skouers, waarsku my met ’n effense druk. “Hy het nie baie tyd oor nie,” sê hy.
“Jammer.”
Steeds sê Sarah niks nie.
Ek weet nie mooi wat om te doen nie. Om aan Sarah te raak is verbode. Om jammer te sê eintlik ook, en dit het ek reeds gedoen. Ek staan op en vryf oor haar skouer. Ek kan nou maar net sowel al die reëls breek.
Ek beduie vir Alex hy moet saamloop hysbak toe.
“Is Adriana okay?” keer Sarah ongeduldig, haar stem diep en rond, nes haar tante s’n.
Ek draai om. “Fisiek, ja. Maar sy is ontsteld. Iets het gebeur en sy het hulp nodig.” Ek soek na Alex se hand, kyk vlugtig na hom. “Dit sal gaaf wees as jy ook kan help.”
“Wat het gebeur?” vra hy agterdogtig.
Hoe moet ek dit verduidelik? Selfverdediging? Moord?
“Die aanvaller is dood,” sê ek dan.
Sarah lag kortaf, maak die laai langs haar oop en haal ’n pakkie nikotienkougom uit. Sy sit ’n stafie in haar mond.
Ek kan Alex se oë op my voel brand.
“Hy het háár aangeval.” Ek los liewer die deel van die messe en die yskas uit.
“Die polisie kan mos help,” vang hy my in elk geval uit.
“Vir Adriana help? Jy weet mos beter.”
“Seker.” Hy vee moeg deur sy hare. “Ek moes geweet het. Ek hét geweet.”
Ek vermy Alex se oë toe ek my rugsak optel en Ruan Delport se besittings uithaal. ’n Mens raak nie betrokke in ’n debat wat jy weet jy gaan verloor nie.
AJ
1
Hoekom is ek nou weer hier? wonder ek terwyl ek asem soek.
Ek het te laat gekuier gisteraand. En te veel geëet. Dis nie noodwendig die net-skrikgemaakte filet wat die probleem was nie, eerder die malvapoeding. Twéé stukke. Hierdie goed tel op as ’n mens oor dertig is.
Maar my sondes het niks te doen met die ellendige weer nie. Die dag het beneuk opgestaan en sal heel waarskynlik vanaand beneuk gaan slaap. Wolke lê dik oor die stad al vandat ek die Merc by my garage uitgetrek het – glad nie Pretoria-weer nie.
Ten minste is reën beter as donderweer. Enigiets is beter as donderweer en weerlig. En hael. Ek haat hael.
Ek stuur die fiets tot waar die smal, modderige grondpad teen die koppie af slinger en kyk vir oulaas na die woud geboue voor my. Ek wil net die remme van die Merida laat los toe my foon lui.
“Is this the real life? Is this just fantasy?” sing Freddie Mercury.
Ek staan vir ’n oomblik op die fietspedale, op soek na balans. Besluit dan om te antwoord, al is dit net om Freddie stil te maak. Ek moes die foon afgesit het voor ek op die fiets geklim het. Ek gaan al die wild in die Groenkloof-reservaat skrikmaak.
Agter my hoor ek die geblaas van asems soos twee mense teen die helling op swoeg. Ek stoot die fiets uit die pad, tussen die lang gras in, en antwoord: “AJ.”
“Ei, djy’s vroeg op.”
“Was nie snaaks die eerste keer nie, en ook nie die 160ste keer nie.” Ek haal my waterbottel af en drink gretig. Volgens die fiets se rekenaar het ek reeds 16 kilometer getrap.
Sersant Liam Jeffries lag. “Dis ’n matter of opinion. Ek sal ophou die dag ná ons eerste date.”
“Gaan nie gebeur nie.”
“Dit sal soos Romeo en Juliet wees. Ek, van die verkeerde kant van die tracks, en jy, die halwe coloured meisie met die larney pappie van Bishopscourt.”
Pleks ek net die foon laat lui het. “Wat wil jy hê, Liam?”
“Onse baas soek jou.”
“Kolonel Ndlovu? Hoekom?”
“Iets oor Basil.”
My moed sink. Ek moes geweet het ek gaan nie loskom nie. Die enigste vraag is watter prys ek gaan betaal vir wat ek gedoen het.
“Dalk moes jy maar anderkant toe gekyk het, AJ,” sê Liam skielik ernstig. “Jy’s die nuwe girl en Basil is al deel van die furniture. Hy’s al hier van hy sopnat agter die ore was, toe jy nog in die Kaap gewerk het.”
“Dit sou nie reg gewees het nie. Is dit nie wat saak maak nie?”
“Wat reg is, is om ja te sê vir ’n movie Dinsdagaand,” skerts hy weer.
Ek haak my skoen by die bergfiets se pedaal in. “Ek’s al klaar so diep in die moeilikheid, ek gaan nie ’n kollega ook date nie.” Ek probeer lag. “Maar dankie vir die vra. Altyd nice vir ’n meisie om te hoor.”
“Dankie kry my niks.”
“Wel, dankie dan vir die waarskuwing.”
Ek lui af, bêre my foon en waterbottel, en stoot die fiets teen die skerp steilte af.
Basil se moer.
Ek is besig om ’n lang skraap aan my regterbeen met Savlon skoon te maak toe Ndlovu bel. Ek is vinniger by die koppie af as wat die modder wou hê. Dat ek kwaad was, het ook nie gehelp nie.
Ek ignoreer vir Freddie en gooi die foon terug op die passasiersitplek.
Dit begin weer lui, gaan dood, lui weer.
“AJ,” antwoord ek uiteindelik skerp. Byt op my tande toe die ontsmettingsmiddel my vel brand.
“Môre,” groet kolonel Reggie Ndlovu, hoof van die Brooklyn-polisiestasie se speurdiens.
Ek skuif regop agter die stuurwiel van die stokou rooi 300D Mercedes. Ndlovu se stem doen dit aan mense. Die kortaf, skerp klank is nes hy – haastig, dun en aggressief.
“Goeiemôre, kolonel.”
Soos altyd mors die baas nie tyd nie.
“Jy gaan nie netnou so sê nie.”
Ek skroef die Savlon toe en gooi dit terug in die deur se kantrakkie waar ek dit bêre vandat ek begin fietsry het. “Ek luister.”
“Ek wil hê jy moet vir ’n paar dae verlof neem. So twee weke.”
“Hoekom?”
“Die ouens hier is kwaad vir jou. Meeste van hulle, in elk geval.”
“Ek het net gedoen wat …”
“Ek weet. Ons is al hoeveel keer hierdeur, AJ.”
Ek wonder of dit ’n goeie teken is dat hy my naam gebruik en nie my rang nie. Kaptein Averil Joan Williams.
“Bly net ’n rukkie by die huis dat almal kan afkoel. Dis al.”
“En Basil?”
“Hy’s ook by die huis. Alles moet nou net bedaar dat ons objektief na hierdie gemors kan kyk. Dat ek Opod hier kry om ’n ondersoek te doen.”
Hy is reg. Miskien is die polisie se interne-ondersoekdirektoraat die beste opsie.
“Is jy seker jy wil voortgaan met die saak?” vra hy toe ek stilbly.
“Hy het ’n verdagte aangerand. En toe is die kind nog onskuldig ook.”
“Sou dit reg gewees het as hy skuldig was?”
“Dis nie wat ek bedoel nie, kolonel.”
“Hy’s jou broer.”
“Halfbroer. En dit maak