Ctrl Z my lewe. Cheréne Pienaar. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Cheréne Pienaar
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Религия: прочее
Год издания: 0
isbn: 9780796318039
Скачать книгу
Vrou met ’n baba op haar skoot sit in die ry net voor die toilette. Die kind klou aan sy ma se kraag en die ma soen sy koppie hier teen haar nek. Lucky glimlag en steek tong uit vir die seuntjie, wat grootoog na haar kyk.

      Teen agtuur lê van die passasiers reeds en snork. Al is die sitplek op sy verste terug gestel, kry Lucky eenvoudig nie haar lê nie. Later sluimer sy tog in.

      Vieruur skrik sy wakker. Sy sit en luister na die zoem-geluid van die lugreëling. Dit herinner aan haar ma se mantras wanneer sy mediteer, iets soos “Om, mani, pedi, weet nie, uhm”. Lucky voel hoe sy van voor af geïrriteerd raak oor die woorde waarvan sy nooit kop of stert kon uitmaak nie. Nes hul verhouding.

      Sy weet nie eintlik waarin haar ma glo nie. Die een dag is dit Boeddhisme, die ander dag is sy kwansuis ’n Jood. Maar sy is pal in ’n jogabroek. Nie dat sy wat Lucky is seker is waar sy met God staan nie.

      Om haar gaan liggies een-een aan. Dis sesuur. Gister se opwinding het haar uitgeput, maar sy kry ’n tweede asem en begin blaai deur die gekreukelde tydskrif in die sakkie voor haar.

      “Which flight are you catching?” vra die Britse vrou aan haar linkerkant. Sy praat oor haar man, wat Lucky net aanstaar met ’n weerkaatsende bril wat laag op sy neusbrug lê.

      “The Barcelona one at seven-thirty.”

      “Oh dear. If I were you, I’ll try to get ahead of the pack. It’s quite a walk to that gate.”

      Die vliegtuig sak en sak totdat dit Heathrow se grond raak. Lucky is kortasem soos sy voor mense probeer indruk om haar handbagasie te kry. Met ’n gestamp en ’n hele paar “sorries“ druk sy verby die ander passasiers.

      Toe sy eindelik in die lughawegebou is, trap haar Tomy-tekkies geruisloos op die bewegende voerband. Senuweeagtig probeer sy die mense systap. Sy maak of sy nie agterkom dat haar rugsak teen sommige skuur nie.

      Haar drafstap word ’n hardloop. Hulle het vyftien minute gelede die boarding gate geopen en sy het nie ’n idee hoe ver dit nog is nie. Mense word ’n waas om haar en dis asof die tyd stilstaan. Sy sien haarself deur die skare storm.

      Is dit nie wat my lewe die afgelope tyd was nie? wonder sy. Almal gaan rustig voort met hul lewe en ek is in survival mode.

      Uitasem kom sy by die hek aan. Sy val agter in die ry by die laaste paar siele wat een-een deurgelaat word.

      Haar sitplek is tussen twee Australiese meisies. Voor haar is ’n kaart van Barcelona International se vloerplan. Sy probeer onthou waar haar en haar pa se ontmoetingspunt is.

      “Where are you from, dear?” vra die blondekop langs haar.

      “Uhm … South Africa. And … and you?”

      “Ha! Don’t look so scared. I’m only making conversation.”

      Lucky glimlag verleë en hulle begin mekaar uitvra oor hul reisplanne.

      “What is your dad doing in Barcelona?” vra Stacey, die een met die spierwit hare. Twee pare oë wag vir Lucky se antwoord.

      “He is a software developer, which is the coolest job in the world,” probeer sy in haar beste Engels.

      “Neat! I heard work is very scarce over there. Especially now. Most expats give English classes.”

      “He has been there forever,” sê Lucky wrang.

      Hulle lyk verbaas. Dan vra hulle uit oor sy lewe, of hy getroud is, of sy gereeld vir hom gaan kuier … Maar dis al wat Lucky van hom weet: dat hy in Barcelona werk en bly. Meer inligting oor André van der Veen het sy nie. Maar sy beplan om uit te vind.

      Hulle verloor belangstelling en begin praat oor wat hulle dink sy alles móét sien. Die Montjuïc-kasteel, Casa Batlló, die katedrale, die strand, die dansende fontein, die weggesteekte tapas-restaurante … Alles klink vir Lucky asemrowend.

      Clarissa, die flambojante rooikop, raak liries oor Salvador Dalí. Sy sug dramaties en val agteroor in haar sitplek.

      “Oh, Dalí! The man was a genius. My absolute favourite! Go to his museum, my friend. There’s this intricate heart with so much detail, you’ll die. Then there’s all these melting clocks. It’s absurd and marvellous at the same time … Words simply won’t do it justice.”

      Lucky weet goed waaroor Clarissa so aangaan. ’n Kunsprojek twee jaar gelede het al die oë in die klas op haar gehad. Terwyl die ander se take oor die Romantiek gegaan het, het sy besluit sy gaan die wonderwêreld van Kubisme blootlê. Dalí en sy dikwels groteske kuns was vir haar die heerlikste ontsnapping. Die einste smeltende horlosies het haar klasmaats gefassineer.

      “And tell your dad you want to see those fountains. It’s a must,” vul Stacey aan. Sy en Clarissa is op pad na Sevilla, waar Stacey se kêrel wag.

      Op die lughawe in Barcelona groet Lucky elkeen met ’n drukkie.

      Met haar tas agter haar aan gewiel, loop sy saam met ander passasiers in die rigting van ’n platform waar ’n klompie mense met naamborde in hul hande staan. Bokant haar strek ’n Nikon-advertensiebord met ’n groep laggende mense. Haar oë soek rond, maar sy sien net vreemdheid.

      Sy kyk vir die derde keer op haar horlosie. Dis tog hier waar hul ontmoetingspunt is. Het sy dan verkeerd verstaan? Sy kan sweer haar pa het gesê dis waar hulle mekaar moet ontmoet.

      Sy onthou van die paar euro’s in haar sak. Vir nou is dit al wat sy het. Sy kruis haar arms, stap stadig op en af voor haar bagasie. Die opwinding, die vlug en die dreigende teleurstelling begin aan haar rem.

      Oral om haar omarm mense mekaar en word lywe vasgegryp soos wat vreugde uit hulle borrel. Families word herenig; almal is so gelukkig en opgewonde. Sy probeer die knop in haar keel afsluk soos die gemeng met vrees in haar opstoot.

      Sy grawe in haar rugsak, kry haar aarbei-lipglans en rol dit oor haar lippe. Die horlosie op haar regterpols sê dis twintig oor tien. Hy moes al tienuur hier gewees het.

      Sy begin weer die glimlaggende gesigte van ’n kant af deurkyk. Nêrens is ’n man van haar pa se ouderdom wat alleen staan en wag nie. Sy sug, draai om en gaan sit op een van die oop stoele teen die muur. Trek haar bene op en slaan haar arms om haar knieë. Laat sak haar kop.

      “Ek kan dit nie flippen glo nie,” sê sy saggies vir haarself. “My pa haat my en wil my nie rêrig hê nie …”

      Sy kyk weer op. Vreemdelinge kyk verby haar, oor haar, deur haar.

      Sy neem ’n slukkie van die vliegtuig se Valpré-botteltjie en staan op. Haal net asem, haal net asem. Sy sal sonder hom regkom.

      Die foto van hulle twee is in haar rugsak se sysak. Sy haal dit uit om te sien of daar ’n ooreenstemmende gesig iewers tussen die mense voor haar is. Moedeloos druk sy dit terug en gaan sit weer.

      Twintig minute tik verby terwyl sy net na haar skoenpunte staar, te moeg om iets te doen.

      Skielik hoor sy ’n stem sommer hier langs haar.

      “Lucky?”

      Sy kyk om.

      “Lucky! Dit ís jy!”

      Hoofstuk 3

      André van der Veen is ’n metroman, kan Lucky sien. Daar is ’n hardheid aan sy gesig met die stoppelbaard, maar die sagte krullebol en grys aan sy slape balanseer dit uit. Sy haarband lyk eksoties en anderwêrelds. Sy toeknoophemp het swart en wit strepies, en hy het nie ’n boep soos die ooms by die Boeremark wat altyd geselsies met haar ma maak nie.

      Sy sien niks van haarself in hom nie. Barcelona sit aan hom soos wat Red Door aan haar ma sit.

      “Lucky … Ek hoop nie jy wag al lank nie?” Hy lyk nogal bekommerd.

      “Dis oukei, ek gee nie om nie,” jok sy vinnig.

      Sy bly versteen agter haar wieletjiestas staan. Hier staan hy voor haar. In lewende lywe.

      “Hallo, Pa …”