Ctrl Z my lewe. Cheréne Pienaar. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Cheréne Pienaar
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Религия: прочее
Год издания: 0
isbn: 9780796318039
Скачать книгу
Hanke geword het? Haar heupbeen steek soos ’n sambreel se punt uit waar sy teen die muur leun, haar skouerblaaie om die vensterbank gehaak. Haar arms hang dood langs haar sye. Oë toe teen die skerp oggendson.

      Lucky gaan staan langs haar, sit haar tas neer en leun ook teen die vensterbank.

      Hulle staan altyd saam eenkant. Dis ook hoe hulle ontmoet het. Hanke het in die hoek van die klas gesit en spinnerakke trek met haar Pritt. Haar andersheid het Lucky aangetrek soos daai drade tussen haar vingers. Van toe af is dit hulle twee teen die poppies. Toe kom Gideon om dinge net mooi uit te balanseer. Eintlik was hy nog altyd daar. Hy is cool, Hanke is die hipster, en Lucky probeer steeds uitpluis wie sý is.

      “Yes, freak.”

      “Môre, môre.” Lucky buig oor haar sak om haar Ken en Verstaan Wiskunde Graad 11 en 12 op te diep.

      Hanke maak haar oë oop en loer na die boek in Lucky se hande.

      “Die hele wêreld het Kindles en ons moor steeds bome asof dit uit die mode gaan,” sê sy. “Sal ’n paar jaar neem voor dit Bloem hit.”

      Lucky glimlag skeef. “Jy vrot na rook, Hanke. Batman gaan dit verloor.”

      “Who cares? Ek het ’n maand in hierdie godverlate plek oor. Wat gaan hulle sê? Nee wat, suster, my punte is te goed. Ek kan heroïen in my potloodsakkie aanhou as ek wil.”

      Lucky rol haar oë. “Ag, asseblief.”

      “En jy val deur jou hol.”

      Moet Hanke altyd so kras wees?

      “Jý’s een om te praat. Jy lyk verskriklik maer.”

      “Fok. Nie nog jy ook nie.”

      Voor Lucky kan antwoord, hoor hulle die gegiggel onder die suurlemoenboom ’n entjie weg van hulle. ’n Groepie meisies met blink oë en stywe bollas vertel hard vir almal om te hoor van hul planne vir die vakansie én die toekoms.

      “Ek gaan chemiese ingenieurswese op Stellenbosch swot.”

      Minette Pieterse. Dan pak sy daai ry wit tande en die dimpels in die wange uit.

      Lucky wil skree, maar dan onthou sy: Vandag is anders. Uiteindelik het sy ’n antwoord gereed as daai swaar vraag-septer haar kant toe swaai: Wat doen jy volgende jaar?

      Om met ’n rugsak Barcelona toe te vlieg, voel soos ’n stap in die regte rigting. En dit klink bitter cool. Hoe is die ouens in Europa?

      Die klok onderbreek haar gedagtes en hulle stap klas toe.

      “Wat gaan aan?” vra Hanke. “Jy’s hier, maar ook nie hier nie.”

      “Dude, ek het groot nuus. Ek gaan Barcelona toe, na my pa toe.”

      Hanke se oë rek. “Dís pretty awesome! Ek hoor daar is sick graffiti. En hey, nou kan jy uitvind hoekom hy jou vir veertien jaar basically ’n ignore gekap het.”

      Hulle gaan sit agter in die klas. Lucky is nuuskierig om Hanke se jongste sketse te sien, al maak haar vriendin se kunswerke haar meestal bang. Hanke het ’n donker siel, that’s for sure, maar talent, dié het sy beslis.

      Hanke haal haar A3-sketsboek uit en blaai ’n paar blaaie aan. Sy draai die boek om vir Lucky te wys. ’n Reusehaas met slagtande waarvan speeksel drup, staan agter tralies. Sy arms hang slap langs sy sye. Sy oë is pikswart, sonder enige wit, en sy lang ore is vuil en verwaarloos.

      Lucky se hart mis ’n slag. “Wonderlik,” sê sy met ’n strak gesig en kyk dankbaar op na wat ook al die klas skielik tjoepstil maak.

      Batman staan in die deur asof op aandag met ’n knipbord onder sy arm.

      “Ek vertrou julle is klaar met Vraag 3?” Sonder om vir ’n antwoord te wag, gaan hy voort: “Jul matriekafskeidfoto’s is gereed en kan afgehaal word in die voorportaal. Míts julle Vraag 3 afgehandel het.”

      “Die enigste ding meer lame as ’n matriekafskeid is ’n matriekafskeidfoto,” mompel Hanke hier langs Lucky.

      Minette en haar groepie kyk opgewonde vir mekaar. “Yessss!” klink dit uit verskeie kele.

      “Shoot me now.” Hanke kyk nie eens op nie, hou net aan skets aan iets wat lyk soos ’n zombie met ’n swart aktetas in sy linkerhand.

      Lucky loer onderlangs na haar vriendin. Hanke is altyd cooler as die status quo, veral wat betref ’n eeu-oue instelling soos die matriekdans. Lucky het vir Gideon gevra om saam met haar te gaan. Sy was moerig toe hy met dieselfde kleur das as haar rok by die huis opgedaag het. Hanke gaan dink dis super lame! En die res gaan dink ons is ’n couple! het sy mismoedig gedink.

      Hanke het natuurlik swart gedra. Die ou aan haar sy het sy net as ’n grootwordpel voorgestel.

      Uiteindelik kyk Hanke van haar sketsboek op. “Dis alles so ’n waste,” sug sy terwyl sy na die opgewonde meisies voor hulle kyk.

      Dalk was dit, dink Lucky. Dit sou daai aand baie lekkerder gewees het om series saam met haar ma te kyk. Die AA-coach sê dis goed dat hulle dinge saam doen wat almal geniet. Elsa sou soos gewoonlik die nuwe “Hairdo DIY” wat sy op Pinterest gesien het op haar ma se lang lokke oefen.

      Maar Gideon het die aand tog lekker gemaak, dink Lucky met ’n glimlag.

      “Dis rock of niks, dude,” het hy vir die DJ gesê. “Sit af hierdie sokkiemusiek and be true to yourself.”

      Toe almal na die Barbas Café is om die eerste smakie van vryheid te proe, het hulle vier gaan inbreek by die putt-putt-baan. Hanke se partner het ’n sigaret opgesteek en hulle het almal ’n trek gevat. Lucky het begin hoes. En aan haar ma gedink.

      Die foto’s lyk nie sleg nie, moet sy toegee toe sy dit ná die laaste periode gaan afhaal. Dalk sal dit vanoggend se woordewisseling by die huis beter maak.

      Lama is so warm soos die binnekant van ’n leë coke-blikkie op ’n galadag toe sy in die motor klim. Toe sy vir Elsa by haar skool oplaai, het dié net een ding op die brein: Haar ousus gaan Europa toe. Maar by die huis is die atmosfeer nie veel beter as die oggend voor hulle weg is nie.

      Haar ma takel haar ná aandete.

      “Wat van jou toekoms, Carla?”

      Lucky ruk haar hand uit die te warm seepwater. Gewoonlik toets sy eers voor sy die skottelgoed begin was, maar haar kop is te vol van ander dinge.

      Sy is egter gereed vir daai vraag.

      “Ma, dis ’n gap-jaar. Dit beteken ek vat ’n gáp.”

      “Waar gaan jy bly? Hoe gaan jy die lewe daar kan bekostig? Jou pa … gaan nie vir jou tyd hê nie. Dis ’n vreemde stad en hulle praat ’n vreemde taal.”

      “Hy’t my genooi en ek gaan! Môre doen ek aansoek vir my visum en sodra ek my laaste vak geskryf het, vlieg ek.”

      Lucky se stem klink vir haar te hard. Iewers het iets net skiet gegee. Sy skud die seepwater van haar hande af en loop kamer toe. Gaan sit op haar bed en skop die deur toe, ’n bietjie harder as wat sy wou.

      Laataand lê en staar sy nog steeds na die wit plafon. Gaan hulle orraait wees? Wie gaan die sproeiers regmaak as dit breek? Wie gaan vir Elsa langs die netbalbaan aanmoedig? Wat as haar ma weer begin drink?

      Dis nie vir altyd nie, probeer sy haar gewete sus.

      Sy staan op en loop uit, buitentoe. Haar ma sit op die houtbankie op die stoep. Met haar bene opgekrul sit en staar sy die donkerte in. Lucky gaan sit langs haar en luister saam na die nag se stilte.

      “Kan Ma al weer nie slaap nie?”

      Daar is ’n lang stilte voor haar ma antwoord.

      “Gaan jy mooi na jouself kyk, my kind?”

      “Ek belowe, Ma. En ek kom dadelik terug as dit nie vir my lekker is nie.”

      Of as jy weer bottel vat en weird begin raak, dink sy, maar byt die woorde terug.

      Haar