“Wel, ja,” sê Lam nadat sy en Dawie mekaar ’n slap blik van verwyt en hulpsoeke toegewerp het, “dit is ten dele oor Roux wat Dawie jou gevra het om te kom, maar dit is darem in die eerste plek oor die winkel, moet ek eerlik sê.”
“Oom Dawie,” sê Berna, “ek voel so … so vernederd en diep teleurgesteld. Terwyl jy sit en luister het hoe ek misbruik is, het jy self ’n plan sit en maak om my te misbruik.”
Dawie se mond gaan oop en toe. Hy wik en weeg heel duidelik tussen tienduisend onvanpaste opmerkings, en toe kies hy die verkeerdste een onder die klomp: “Jy sal sien, Roux is nie so sleg nie,” sê hy. “Dalk leer julle tweetjies nog van mekaar hou.”
Toe luister Berna nie verder nie. Sy rig die motorsleutel wat sy soos ’n wapen in haar regterhand vasklem (menigmaal het sy, vrou-alleen, dit ook as wapen gereed gehou op ’n verlate parkeerplek of in die hyser) op Dawie de Vries.
“Mans,” sê sy, “is almal eenders tot hulle dood. As hulle nie klaar aangejaag het nie, is hulle op pad om aan te jaag.” Blindkwaad sien sy Lam se groot oë, en onthou darem om by te voeg: “Toe maar, hy het niks met my probeer nie, hy kan net oor sy Lam praat. Maar bruin oë of nie, ek wil niks met julle gekonkel te doen hê nie. So, hou julle verpesting van ’n ou winkel, en hou julle verpesting van ’n ou seun.”
Daarmee swaai sy om en storm motor toe. Toe sy inklim, huil die tweetjies al goed. Stomme, arme kinders. In wat ’n deurmekaar wêreld lewe hulle, tussen watse deurmekaar grootmense. En hoe nodig het hulle ’n bad en ’n bed, en ’n huis en … ’n pa. Uit die hoek van haar oog sien sy nog hoe Lam driftig beduie, met ’n uitgestrekte arm. Dalk sê sy: “Keer, haar, Dawie, sy is kwaai, en Roux het ’n kwaai vrou nodig.” Of: “Gee haar by die polisie aan, wie gee haar die reg om ons hier in ons eie plek te kom beledig?” Of dalk net: “Fietas! Wat kom soek sy hier tussen ordentlike mense?”
“Sjjjt-sjjjt-sjjjt,” troos sy aanhoudend agtertoe terwyl sy ’n wilde U-draai in die bykans verlate straat maak. Hoe oortuig sy die tweetjies tog om net stil te bly en uit te hou tot hulle weer buite die dorp is? En as sy buite die dorp is, wat doen sy dan met hulle?
Sy is skaars weer op koers in dieselfde rigting waaruit sy gekom het, toe sy sien wat plaasvind: die bakkie wat voor haar teen die randsteen gestaan het, was Dawie s’n. En in hierdie bakkie het hy gespring en dieselfde U-draai as sy gemaak om nou agter haar aan te jaag.
Wat is sy plan? wonder Berna terwyl sy hom in die truspieëltjie dophou. Hy wil haar tog seker nie halfdood ry, soos ’n slagskaap vasbind en voor die vrousoekende Roux se voete gaan neergooi nie?
Die tweeling ruik opwinding, en bly stil om te sien wat nou aangaan. Oppas, vermaan sy haarself, onthou jy het kinders in die kar. Wie een keer in ’n kwaai motorongeluk was, lê daardie skrik seker nooit weer heeltemal af nie. Maar die blou bakkie is op haar hakke, en sy trap die petrolpedaal platter.
Jy sal my stof nie sien nie, kners sy op haar tande. Jy en jou Lam kan gaan doppies blaas. Het sy nog genoeg brandstof? Genade, wat besiel haar? Sy kon die ding verstandig met die twee mense sit en uitpraat het. Sy het immers ’n koel kop en ’n nugter benadering tot die lewe, of was dit alles aangeleerde bates? Is sy sommer ’n wilde wegholding, en was Julia Joubert reg toe sy die aand voor haar seun se troue in die kombuis vir hom gevra het om die Berna-meisie liewers te los? Daardie woorde wat sy eintlik nie moes gehoor het nie, slaan nou terug in Berna se kop: “Ek het jou grootgemaak vir ’n uitsoekvrou, my seun. Dink weer ’n keer, dis nog nie te laat nie.”
Wat op aarde ’n uitsoekvrou is en hoe sy lyk, sou Berna nooit uitvind nie. Maar ’n uitsoekvrou sou seker nie gedoen het wat sy nou aan ’t doen is nie: wegvlug van haar probleem af. Haar vertrek uit die stad hierheen kan dalk nog beskryf word as beplanning, maar nie haar terugvlug soontoe nie, veral aangesien sy daar geen vastigheid meer het nie.
Toe haar gedagtes hierdie punt bereik, maak sy haar gereed om snelheid te verminder, om haar deur Dawie de Vries te laat inhaal en die saak behoorlik uit te stryk. Sy sal in elk geval die nag hier in die dorp moet deurbring, ter wille van die kinders. Maar wat kos ’n hotel nie net nie? Sedert haar salaris haar ontval het, wik en weeg sy voor elke besteding. En altyd roer daar in haar agterkop die twee woordjies: die kinders. Hulle toekoms, hulle vastigheid … So jonk nog toe hy dood is, het Ronald nie regtig polisse gehad nie. Dalk het dit onder in sy bewussyn vasgestaan dat Julia en Ron altyd sal sorg. Veral Julia. Dis vir haar wat hy altyd eerste aangespreek het, om iets te vra, te vertel, of oor te kla. Maar dis ook vir haar wat hy altyd eerste gekritiseer het; onverdraagsaam, heftig, byna hatig.
Dieselfde gedrag wat hy teenoor sy vrou geopenbaar het. Partykeer kon hy so gemaklik en vertroulik wees, ander kere onverklaarbaar gefrustreerd en foutvinderig. Sy het daaraan gedink as sy ligte kant en sy donker kant en dit was vir haar bitter jammer dat die kinders dit ook klein-klein reeds so moes ondervind.
Meteens hoor Berna ’n minder welkome geluid iewers agter haar: die sirene van ’n verkeersvoertuig, waarskynlik die enigste een op die dorp.
“Rensdal,” sê sy hardop met ’n vermoeide uitblaas van die asem, “jy wou my hê, en jy sorg dat jy my kry, of hoe?”
4
“Ek was nog nooit in my lewe in so ’n verleentheid nie,” sê Berna met klem, terwyl haar hande die stewige koffiekoppie vasklou. Een ding is seker: teen hierdie tyd is koffie vir haar sinoniem met Dawie de Vries, en Dawie de Vries is sinoniem met moeilikheid.
Toegegee, haar stelling is nie volkome waar nie; sy was al in groter verleenthede. Wat van die stel wat sy met die uwe Christiaan Hartogh afgetrap het? Sy klouerige hande, sodat daar agterna ’n blou kol op haar linkerbors was? Maar tyd het mos ’n manier om die skerp rande van herinnering af te skaaf, en dus kan sy haar deeglik inbeeld dat vandag se ervaring erger is as al die voriges in haar lewe.
“Ek bedoel,” sê sy, “ek kom hier aan, ewe goedertrou, nadat ek alle brûe agter my aan die brand gesteek en alle agterdeurtjies toegestop het. Ek kom om my dienste aan te bied en in ruil daarvoor ’n lewe en ’n toekoms vir my en my kinders te kry. En wat kry ek? ’n Sameswering.”
Sy ken haarself nie. Sy is die een wat altyd in staat was om stil te bly en weg te sluk, en hier gee sy haar oor aan ’n aktiewe woede wat haar wonderlik ontledig. En Dawie en Lammie (ja, haar naam is toe werklik Lammie, van Lamberta) buig maar net die kop deemoedig onder hierdie kastyding.
“Ek vra honderd maal om verskoning, Berna-meisie,” sug Dawie. “Help dit darem nie dat ek jou verkeersboete saam met myne sal betaal nie?”
“Dit help, ja,” sê Berna. “Want as ek dit moes betaal, sou ek een van die kinders aan julle moes verkoop vir fondse.”
“Die ou dogtertjie,” aanvaar Lammie gretig. Dis heel duidelik dat hulle uit die staanspoor ’n sagte kolletjie vir Mientjie het, en vir Ronnie is dit nogal iets om te verwerk. Hy haal die afgelope uur vrouliker toertjies uit as wat Mientjie self kan doen, en sy pogings om “r” te sê, is pateties totdat Lammie haar oor hom ontferm en hom volgens haar geheime resep die klank leer sê.
Dis voorts duidelik dat Lammie se wantroue teenoor die vreemde vroumens nou totaal oorskadu word deur haar skuldgevoel teenoor die einste vroumens. Want dat Lammie ook aandeel het in wat gebeur het, is nie weg te redeneer nie. Sy het nou wel nie vir Dawie aangesê om ’n meisie op straat op te tel nie, maar hy moes wel deeglik ’n vrou vir haar seun Roux gaan soek, beginnende by haar stadse niggie wat die goeie tweede man by ’n kerklike klub ontmoet het.
Hulle sit op die toegerankte, diep voorstoep van die De Vriese se dorpshuis, nadat die snoepwinkel sonder slag of stoot toegesluit is sodat Lammie in haar eie motortjie die jaagtog kon meemaak, gelukkig vir haar agter die verkeerskonstabel. En aan die verskonende manier waarop dié hulle bejeën het, kon Berna sien dat sy hier te doen het met ’n gerespekteerde egpaar van Rensdal. Dus was die angel van die wetstoepassing bedoel vir haar, die vreemdeling in die poorte … hoewel Dawie haar voorgestel het as “die dametjie wat by Lam kom inval om die dorp en sy mense