Eleanor Baker
Weerkaatsings
’n Sprokie
Human & Rousseau
EEN
Dit reën soos gewoonlik en die wolke hang so laag oor die druppende bome dat dit lyk asof daar geen onderskeid is tussen nat grond en nat lug nie. En Ester van Dyk is verbouereerd. Sy is die soort vrou wat nie maklik onkant gevang word nie en sy beskou haarself as die soort mens wat enige situasie kan hanteer. Maar die onverwagte verskyning van Charles Ashton in die middel van ’n gewone werkmiddag laat haar tog rondtrap. Die nimmereindigende gedrup van die water uit die lekkende geut reg voor die voordeur irriteer haar verder en maak haar om een of ander rede meer bewus van haar ongekamde hare en verslete denimbroek, en sy is ook nie lus om te begin verduidelik van stoof skoonmaak en solder regpak omdat daar niks anders is om op so ’n triestige dag te doen nie.
Hy moet vir Gerrie spreek, het hy gesê, en Gerrie se kantoor het hom gesê Gerrie is al huis toe. Waarom die sekretaresse dit gesê het, weet sy nie. Gerrie sal op sy vroegste eers oor ’n uur tuis wees. En intussen staan die man hier in die portaal met die oop deur agter hom en die reën soos ’n swak ontwerpte verhoogdoek agter die voordeur.
“Mag ek wag?” vra hy.
“Hy sal seker nie meer lank wees nie,” sê sy onseker en druk die voordeur toe. “Wil jy in die sonkamer wag?” Sy loop voor hom uit en glimlag wrang. Sonkamer. Wanneer laas het die son geskyn? En waaroor gaan hulle gesels? Hy self praat nooit veel nie en hy sal nie in die minste belang stel in haar huishoudelike kletspraatjies nie. Hy is so hoflik dat hy haar miserabel laat voel.
“Ons het net koffie gedrink,” sê sy oor haar skouer, net voor sy by die stoepkamer instap.
“Ek is jammer om te steur. Het jy besoekers?”
“Nee, nee, nie eintlik nie. Wel, ja. ’n Vriendin is hier, maar sy is al die hele dag hier en ek …” Sy bly liewer stil, want sy weet sy klink dom.
Maar daar is niemand in die sonkamer nie. Die twee halfgedrinkte koppies staan verlate op die glasblad van die rottangtafel.
“O, sy is seker …” Ester haal diep asem en wys vir hom om te sit. “Ek gaan vir jou gou ’n skoon koppie haal.”
Hy knik en gaan sit, en voor sy by die deur uit is, het hy sy leertassie oopgeknip en ’n lêer uitgehaal, wat hy ernstig sit en deurlees. Sy wonder wat van Lize geword het. Seker geskrik toe sy die vreemde stem hoor en verdwyn.
Charles Ashton konsentreer nie eintlik op die gegewe voor hom nie en hy verwens Gerrie se sekretaresse wat so ’n fout gemaak het. Hy is ’n besige man en om nou ’n uur of wat te moet sit en wag, maak hom kwaad. Hy weet sy teenwoordigheid krap Ester om, en as die saak nie so dringend was nie, het hy maar vertrek.
Hy hoor ’n beweging so sag dat hy eers nie opkyk nie, seker dat hy hom verbeel het, maar toe hy tog opkyk, sien hy ’n meisie wat onseker in die deur staan. Sy glimlag effens en beweeg haar kop, en hy staan op en steek sy hand uit.
“Ek is Charles Ashton.”
“Lize Bergen,” sê sy en raak aan sy hand, maar toe sy wegdraai en hy weer gaan sit, wonder hy of sy regtig aan hom geraak het, want hy het niks gevoel nie. Hy maak sy lêer toe en kyk hoe sy met haar bene onder haar ingevou in een van die groot rottangstoele gaan sit. Sy is van gemiddelde lengte of miskien ’n bietjie langer en sy dra ’n los, sagte bloes wat oor haar langbroek hang en nie daarin slaag om haar verstommende maerte weg te steek nie. Haar gesig is wit, afgesien van die groot grys oë, en die vel lyk asof dit met die grootste sorg oor die bene gespan is. Hy wend sy oë vinnig af, bewus daarvan dat hy na haar gestaar het.
Gelukkig kom Ester binne met die vars koffie en sy het blykbaar haar selfvertroue herwin, want sy gesels nou lekker oor die ewige gereën en die probleme wat dit vir haar skep.
“Die kinders is altyd onder my voete,” kla sy. “En wie kan hulle blameer? Wat anders kan die arme goed doen? Wanneer laas het die son geskyn? Ons lyk almal soos uitgebleikte lakens, en dis veronderstel om somer te wees.” Sy skink vir almal vars koffie in, en hy merk afgetrokke op met hoeveel sorg sy die koppie aangee vir Lize en dan seker maak dat haar vriendin die koppie stewig vashou.
“Julle het ontmoet?” vra sy dan vervaard. “Jammer, tog.” Sy draai na Lize en verduidelik: “Charles wag vir Gerrie.”
Lize lig haar pols en kyk na die horlosie wat los om haar dun gewrig hang. “Dis nog bietjie vroeg, is dit nie?”
“Ek het ook so gedink, ja, maar Charles sê Gerrie se sekretaresse het gesê hy is op pad huis toe.”
Lize knik net en konsentreer op haar koffie, en dis Ester wat die geselskap aan die gang hou deur oor mense te praat van wie Lize geen kennis dra nie.
“Gooi gerus die kussing op die grond,” sê Lize meteens vir Charles, en hy kyk verward af.
’n Harde en hoofsaaklik ornamentele kussinkie is tussen sy heup en die stoel vasgedruk, en hy besef nou eers hoe dit hom pla. Hy trek dit uit en gooi dit op ’n ander stoel terwyl hy wonder hoe sy geweet het dit hinder hom. Maar sy sit en staar deur die venster asof sy nie deel is van die geselskap nie, en hy wend hom weer tot Ester en haar gebabbel.
Lize kyk hoe die water patroontjies maak teen die groot vensters en sy kyk geboeid hoe ’n oorhangende blomtak met groot akkuraatheid elke vier tellings ’n druppel in ’n groter wordende poeletjie op die buitenste rand van die venster laat val. Sy moet huis toe gaan en sy het gehoop Gerrie sal haar neem wanneer hy tuis kom, maar nou lyk dit nie so nie. Die man lyk asof hy ernstige sake te bespreek het. Sy kyk weer na hom en verwonder haar aan sy gesig. As sy ’n tekenares was, sou sy hom graag geteken het, want sy gesig is pragtig ten spyte van die styfheid om die sterk kakebeen. Alles is in die regte proporsie, die neus is sterk en reguit, die lippe dun en streng, die oë afwesig al kyk hy belangstellend na Ester. Sy hare is bruin, dik en steil, maar sag, en noudat dit begin droog word, val dit syerig oor sy voorkop; iets wat hom blykbaar irriteer, want hy stoot dit ergerlik terug. Hy is nie meer jonk nie, want aan sy slape is hy reeds grys.
Sy glimlag effens en kyk weer na die venster. Wat maak dit saak hoe hy lyk? Wat maak enigiets saak behalwe dat sy nou hier sit en oor twee weke nie meer hier sal sit nie omdat Ester en Gerrie vir twee maande op tuisverlof gaan? Al wat belangrik is, is dat vandag bestaan, en miskien volgende week en miskien volgende maand. As sy gelukkig is.
Daar is ’n geklater by die voordeur en ’n ontevrede stem wat kla oor sambrele wat nie ordentlik wil toevou of oopbly nie en wat net gemaak is om te sorg dat mens nat word. Ester spring verlig op. “Daar is Gerrie nou,” sê sy, maar voor sy by die deur kom, stap haar man binne.
“Charles,” sê hy verras. “Wat doen jy hier?”
“Hy wag vir jou,” sê Ester. “Die arme man moet al hoe lank hier by ons sit en wag en …”
“Lize,” sê Gerrie en buk af om haar op die wang te soen. Hy bly ’n oomblik so oor haar staan en vee sy vinger onder haar ken. “Gaan dit goed vandag?”
“Ja, dankie,” sê sy. Sy sien hoe die vreemde man na haar en Gerrie staar, maar gelukkig vat Gerrie hom aan die elmboog en verwyder hom na die studeerkamer.
Ester val lank-uit in haar stoel neer. “Wel …” sê sy en blaas ’n loshangende stuk hare van haar voorkop weg. “Ons het dit oorleef!”
“Die man is tog nie ’n monster nie,” sê Lize.
“Nee, ek weet. Allesbehalwe. Hy is die kalmste, mees besadigde man wat ek ken. Hy word nooit kwaad nie, hy is nooit onbeskof nie, hy het die beste maniere van enige man wat ek ken, hy …”
“Nou ja? Waarom is jy so op jou senuwees?”
“Hy mag voortreflik wees, maar ek voel altyd asof ek net bene en arms en mond is in sy teenwoordigheid. Hy is so beskaaf dat hy my na ’n totale barbaar laat voel.”
“Ag, Es, jy oordryf al weer. Maar hy is pragtig.”
“Dink jy so?” Ester skink vir haarself nog ’n koppie koffie en trek ’n gesig toe sy proe hoe koud