Susanna M Lingua Gunstelinge 3. Susanna M Lingua. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Susanna M Lingua
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Короткие любовные романы
Год издания: 0
isbn: 9780624068075
Скачать книгу
weer die mensie wees wat sy altyd was.” Hy kom orent en kondig aan dat hy solank in die sitkamer sal gaan wag.

      Dit duur etlike minute voordat Tina haar bewussyn herwin. Sy is wasbleek en totaal uitgeput. Sy kyk die dokter ’n oomblik stil aan, toe onthou sy dat haar pa haar weer eens ’n dierbare ontneem het en bars in hartverskeurende snikke uit.

      Vir dokter Serfontein is dit ’n groot verligting toe Tina so skielik in trane uitbars, want hy het gevrees dat die verlies van haar kind te veel vir haar sou wees. Maar trane het nog altyd verligting gebring, en hy weet dat dit ook in haar geval verligting sal bring.

      Tina snik asof haar hart wil breek. Noudat haar kindjie haar ontneem is, is daar vir haar niks meer om voor te lewe nie. Sy wens dat sy liewer dood was, want sonder Renier en hul kindjie is die lewe vir haar doelloos en leeg.

      Toe Tina se snikke later bedaar, stryk die dokter liggies met sy hand oor haar swart hare en vra besorg: “Voel jy nou beter, ou meisietjie?”

      ’n Verdwaalde sug ontsnap uit haar bors, en haar donker oë is dof van pyn en hartseer toe sy met trane in haar stem sê: “Dokter, is daar dan geen werklikheid in die lewe nie? Was alles waarvoor ek gelewe het, dan net ’n droom?”

      Die dokter skud sy kop stadig en neem albei haar hande vertroulik in syne.

      “Nee, ou meisietjie,” sê hy sag, “die lewe is ’n werklikheid en soms ’n harde werklikheid. Maar die lewe het my ook geleer dat alles met ’n doel geskied. Ek weet jy voel vandag of die lewe vir jou geen doel meer het nie, maar dit is nie waar nie. Elke mens op aarde dien ’n doel, en elke ding wat met ’n mens gebeur, is ’n stukkie van die groot legkaart wat die lewe self vir jou inmekaarpas om die geheel te vorm. Eendag sal jy wel sien waar hierdie stukkie van vandag in jou legkaart inpas, maak nie saak wanneer nie. En dan, ou meisietjie, sal jy verbaas wees om te sien waarom hierdie dinge met jou moes gebeur het.”

      “Ek weet nie of ek ooit so daaroor sal kan dink nie, dokter,” sê Tina hartseer. “Ek het nie meer lus vir die lewe nie. My hartseer is so groot . . . te groot om te dra –”

      “Nee, jy moenie so praat nie,” val die dokter haar sag in die rede. “Jy moet vorentoe kyk.”

      “Voor wag daar niks nie. Besef jy wat dit beteken as jou toekoms en jou drome jou ontneem is, dokter?”

      “Ou meisietjie, ek besef hoe jy voel. Maar glo my, die lewe gaan nie vir jou stilstaan nie. Jy is met harde slae geslaan, maar daar sal weer vir jou ’n weg oopgaan om te volg. Sodra hierdie donker nag waarin jy verdwaal het, plek maak vir die dag, sal jy weer rigting vind.”

      Hy kom orent en wink die vroedvrou nader. “Mevrou Pelser sal nou vir jou iets te ete bring, daarna sal ek jou weer ’n inspuiting gee sodat jy kan rus en vergeet.”

      “Laat staan maar die kos, dokter, ek wil niks hê nie,” sê sy met trane in haar oë. “Ek wens ek kon vir ewig slaap, want net in ewige slaap sal daar vergetelheid wees.” Sy begin weer droewig huil.

      Die dokter dien haar weer ’n ligte inspuiting toe en verlaat die vertrek. Gerhardus wag hom op die stoep in.

      “Hoe gaan dit nou met haar, dokter?”

      “Ek dink jy het jou dogter verloor, meneer Eksteen. Sy sal nooit weer die dogter wees wat jy geken het nie, en dit het jy aan jou eie optrede te danke. Maar haar afkeer van jou is gelukkig nie my probleem nie. Ek voel besorg oor haar gesondheid, want haar gees is gebreek en sy het nie meer die wil om te lewe nie. In elk geval, ek sal weer vanaand kom kyk hoe dit met my pasiënt gaan.”

      Hierna groet en vertrek die dokter. Gerhardus vertoef nog ’n rukkie op die stoep; dan gaan hy na Tina se kamer toe. Maar sy slaap reeds, dus besluit hy om maar terug te gaan na die hotel toe waar hy inwoon.

      5

      Vir Tina is elke dag soos ’n ewigheid. Sy het alle belangstelling in die lewe verloor en praat feitlik met niemand nie. Haar pa het die eerste paar dae pal by haar in die kamer gesit, maar later moes hy ook erken dat Tina haar finaal onttrek het en in haar eie afgesonderde wêreld lewe.

      Dokter Serfontein voel al bekommerd, want daar is geen tekens dat sy aansterk nie. Sy doen ook nie eens moeite om bedags orent te sit nie. Wanneer sy nie slaap nie, lê sy met groot, verdrietige oë deur die venster en staar, en snags lê sy ure lank en snik asof haar hart wil breek.

      ’n Week later word Gerhardus Eksteen dringend na sy kantoor in Johannesburg ontbied. Hy reël met Rita Jordaan dat Tina by haar kan bly totdat sy sterk genoeg is om met die motor Johannesburg toe te reis.

      Met dokter Serfontein en Rita se getroue hulp en bystand is Tina drie weke later sterk genoeg om uit die bed uit op te staan. Ofskoon sy nog steeds geen belangstelling in die lewe toon nie, voel die dokter oortuig daarvan dat sy wel later weer rigting sal vind.

      Rita en Hettie kry vir Tina eindelik weer sover dat sy vir kort wandelings saam met Hettie gaan. Maar Hettie vind dat hul wandelings nie meer dieselfde is nie, want Tina is nie soos voorheen nie. Sy toon geen belangstelling meer in die berg, die klowe en die doringbome wat oortrek is met geel blommetjies nie. Sy gesels ook nie soos voorheen nie. Trouens, sy praat kwalik en antwoord net wanneer Hettie ’n vraag aan haar stel. Soms gaan sit sy op ’n rots en staar na die horison totdat Hettie haar daaraan herinner dat hulle moet huis toe gaan.

      Tina praat ook nooit van haar kindjie nie, maar Hettie weet dat sy oor haar seuntjie treur, want sy het nog nooit weer geglimlag sedert haar pa en mevrou Pelser haar baba weggeneem het nie, en sy hoor ook dikwels hoe droewig Tina in die nag oor haar kindjie huil.

      Twee maande na Tina se bevalling daag haar pa onverwags op Doringdal op om haar huis toe te neem. Hulle het pas ontbyt genuttig en Tina is nog besig om Rita met die ontbytskottelgoed te help, toe Hettie hulle kom vertel dat meneer Eksteen net voor die deur stilgehou het.

      Rita droog dadelik haar hande af en stap na die voordeur toe. Tina is egter nie haastig om die man te gaan groet wat haar al so baie leed aangedoen het nie. Sy plaas eers al die borde en koppies in die rak voordat sy sitkamer toe gaan.

      Haar pa groet haar met ’n soen. Hy is bewus van haar kil houding en die aanklag in haar oë, maar sê nogtans tevrede: “Dokter Serfontein het my gisteraand gebel en gesê jy is nou sterk genoeg vir die reis na Johannesburg toe. Ek vrees jy sal jou nou dadelik moet gaan aantrek sodat ons kan ry. Ek moet agtuur vanaand in Johannesburg wees om ’n vergadering by te woon.”

      Met Rita en Hettie se hulp, neem dit Rita nie lank om haar persoonlike besittings in te pak nie. Sy weier om haar kraamrokke saam te neem en vra Rita om daarvan ontslae te raak.

      Eers toe haar tasse in die motor is, besef sy hoe lief sy werklik vir Rita en Hettie geword het. Sy groet en bedank hulle vir al hul vriendelikheid, maar sy weet dat sy in woorde nooit haar dank kan uitspreek vir alles wat hulle vir haar gedoen en beteken het nie.

      Op pad Johannesburg toe is Tina, soos gewoonlik, stil en in haarself gekeer. Die feit dat sy huis toe gaan, laat haar geheel en al koud, want tuis is daar niks wat weer glans aan haar lewe kan gee nie. Die een plek is vir haar maar net soos die ander . . .

      Hulle kom net betyds tuis sodat Gerhardus sy vergadering kan bywoon. Tina voel so moeg van die lang reis dat sy na die ete maar dadelik bed toe gaan, maar soos gewoonlik bring die stil ure van die nag weer al die pynlike herinneringe terug en huil sy haar aan die slaap.

      Tina is reeds ’n week tuis toe haar pa haar die aand na die ete na sy studeerkamer toe ontbied.

      “Noudat jy so mooi aangesterk het,” sê hy nadat sy gaan sit het, “voel ek dis tyd dat jy jou plek in die regte kringe behoort in te neem, Tina. Ek sal vir jou ’n partytjie reël vir Sater­dagaand en sorg dat die gaste net uit jong mense bestaan.”

      “Verskoon my, maar ek stel hoegenaamd nie belang in jou vriende of hul sosiale kringe nie,” sê sy met iets soos minag­ting in haar stem. “Ek kan jou natuurlik nie belet om ’n partytjie te gee nie, maar ek weier beslis om dit by te woon –”

      “Wat! Jy sê jy weier?” val hy haar skerp in die rede. “Nou, luister