Sy neem hom na die telefoon in die voorportaal toe en stap dan weer uit. Sy is oortuig dat daar êrens ’n fout in die firma se boeke ingesluip het, want haar pa is gans te trots en hooghartig om so ’n skandaal te veroorsaak . . . Of was dit die rede waarom hy Thys Joubert aan haar wou afsmeer; om hom uit sy finansiële moeilikheid te red?
Tina ruk soos sy skrik toe die speurder skielik agter haar praat.
“Juffrou,” sê hy ietwat huiwerig, “ek vrees ek het al weer onaangename nuus. Ek is pas meegedeel dat jou pa gevind is . . . Hy is dood in sy motor aangetref.”
“Dood?” Sy kyk hom geskok aan. “Hoe . . . waaraan is hy dood?”
“Deur gas van sy motor se uitlaatpyp . . . selfmoord.”
“Dan . . . was hy skuldig,” sê sy half aan haarself. “Ek sal my suster en swaer dadelik moet laat weet.”
“Sal ek dit vir jou doen, juffrou Eksteen?” vra die speurder hulpvaardig.
Tina skud haar kop.
“Dankie, dit is baie vriendelik van jou, maar ek dink dit sal beter wees dat ek self met my suster praat. Hulle woon op Groenbaai aan die suidkus. En as jy my nou sal verskoon, sal ek hulle solank in kennis stel.”
Hierna groet en vertrek die speurders.
Tina wag nie lank nie, toe is haar oproep deur en praat sy met Santi.
“Tina, dis wonderlik om weer jou stem te hoor!” roep Santi verras uit. “Ek verlang al so baie na jou, my sussie. Wanneer kom jy vir ons kuier?”
“Ek weet nie, Santi. Hier het iets skokkends gebeur, daarom bel ek jou. Dis Pa. Hy is vanoggend oorlede . . . selfmoord gepleeg –”
“Nee, ek glo dit nie!” roep Santi geskok uit. Toe bars sy in trane uit.
“Dit is waar, Santi,” sê Tina. “Ek kan jou nie al die besonderhede oor die telefoon gee nie, maar hy het dit bepaald gedoen om hom van die vernedering van ’n vreeslike skandaal te red. Dit sal natuurlik in al die middagkoerante wees en ook oor die radio uitgesaai word. In elk geval, ek verwag jou en Walter hier so gou as wat dit vir julle moontlik is.”
“Ons . . . kom dadelik,” sê Santi met ’n hees, tranerige stem. Toe sê hulle vir mekaar tot siens en lui af.
Tina het gelyk gehad. Na die nuus om kwart oor een, weet almal dat Gerhardus Eksteen ’n ongelooflike klomp geld van sy firma verduister en vanoggend selfmoord gepleeg het.
Tina weet nie veel van haar pa se sake af nie, maar sy besef dat daar beslag gelê sal word op al sy besittings. Sy besef ook dat sy so gou moontlik vir haar ’n werk sal moet vind, maar watter werkgewer sal Gerhardus Eksteen se dogter in diens neem?
Dis waar, sy sal hierdie saak met Walter en Santi moet bespreek, want haar spaargeld sal haar nie lank aan die lewe hou nie. Vandag is sy egter bly dat sy ’n matrieksertifikaat het met handelsvakke. Sy behoort heel maklik ’n betrekking te bekom.
Die stilte hang vanaand swaar oor die Eksteen-woning. Tina het nog nie een traan oor haar pa gestort nie. Die verlies van haar kind lê nog te rou in haar hart om ’n traan oor hom te stort. Sy voel dat dit sy eie trots en hooghartigheid is wat hom tot so ’n einde gedryf het. As hy destyds, na haar ma se dood, hierdie pragstuk van ’n huis verkoop en eenvoudiger gelewe het, sou dit nie vir hom nodig gewees het om sy firma se geld vir sy eie doeleindes te gebruik nie. Maar almal wat op ’n eenvoudiger skaal gelewe het as hy, was benede sy stand. Hy het selfs haar huwelik vernietig en haar kindjie weggegee omdat Renier en sy seuntjie nie in sy lewenspatroon gepas het nie.
Dis waar, sy wil hom nie verwyt nie, maar hy het te diep wonde in haar hart geslaan om nou trane oor hom te stort. Sy voel net bitter jammer vir hom omdat hy sy trots en hooghartigheid toegelaat het om hulle albei se lewe te ruïneer.
Dit is byna tienuur toe Walter se motor voor die deur stilhou. Santi is weer dadelik in trane toe sy haar suster groet. Maar toe haar aangenome seun begin kriewelrig word, vee sy gou haar trane af.
Tina groet haar swaer, en dan dwaal haar blik weer na die pragtige blonde seuntjie wat op Santi se arm sit. Hy kyk haar met intense blou oë aan asof hy wonder waarom sy nie ook huil nie, sy mamma huil dan al feitlik heeldag!
Daar is ’n brandende pyn in Tina se hart toe sy in die blonde seuntjie se donkerblou ogies kyk. Haar eie ou seuntjie, waar hy ook al is, is ook ses maande oud en, wie weet, straks het hy ook blonde haartjies en blou ogies soos hierdie kêreltjie.
Dit lyk asof die grootman Tina klaar opgesom het, want nou hou hy sy armpies met ’n breë glimlag na haar toe uit.
Tina is so beïndruk deur die kêreltjie se spontane glimlag dat sy nie eens die skielike strakheid op Santi se gelaat opmerk nie. Sy neem die babaseuntjie in haar arms en vra sag: “Wat is sy naam?”
Dit is Walter wat antwoord.
“Ons noem hom Ian, en glo my, hy ken al sy naam. Nogal ’n besonder intelligente seun. Hy klap al hande, sing homself aan die slaap en maak ons klokslag sesuur elke oggend wakker.”
“Hy . . . is pragtig,” sê Tina met ’n onvaste stem. “Ek weet nie eens hoe my eie seuntjie lyk nie, want ek het nooit die eer gehad om hom te sien of in my arms te hou nie.”
Santi is nou doodsbleek, maar Tina skryf dit toe aan haar verdriet oor hul pa se afsterwe, derhalwe bepaal sy haar onverdeelde aandag by klein Ian, wie se handjies nou met mening na haar swart hare gryp. Sy kielie hom in sy vet nekkie totdat hy kraai van genot.
Hulle gaan sit, en na ’n rukkie sê Tina weer: “Ek dink my seuntjie het ook blonde hare en blou oë soos . . . soos Renier.”
“Ek veronderstel Renier is die man met wie jy getroud was?” Walter kyk haar vraend aan.
Tina knik. “Ons was drie weke getroud toe my pa ons huwelik vernietig het, maar ek sal Renier altyd liefhê. Vir my sal daar nooit weer ’n ander liefde wees nie.”
Hulle gesels daar in die sitkamer totdat die huishulp hulle met tee en verversings bedien. Ian kry sy bottel melk en raak in Tina se arms aan die slaap.
In haar bed, daardie aand, huil Tina weer bitterlik oor haar kindjie wat sy nie eens een keer in haar arms kon vashou nie. Noudat sy klein Ian gesien en vertroetel het, is haar verlange na haar eie kindjie soveel intenser en die leemte in haar lewe soveel groter.
Die volgende oggend voel sy, soos gewoonlik, leeg en van alle lewenslus gestroop. Walter tref die reëlings vir die begrafnis, en sy bied aan om na Ian te kyk terwyl hy en Santi die ontslapene se oorskot gaan besigtig.
“Is jy seker jy wil nie saamgaan nie, Tina?” vra Walter toe sy en Ian hulle na die motor toe vergesel.
Sy skud haar kop. “Hy sal maar net soos gisteroggend lyk, en ek sal hom altyd onthou soos wat ek hom geken het . . . trots, hooghartig en verwaand.”
Walter en Santi kyk haar geskok aan.
“Waarom sê jy hy was verwaand, Tina?” vra Walter.
“Omdat hy op sommige mense neergesien het wat in elke opsig beter as hy was, en omdat hy hom die reg wou toeëien om my lewe in ’n vorm te giet wat hom gepas het, en vir mý gevoelens het hy niks omgegee nie . . . Nee, gaan julle maar, ek sal klein Ian oppas.”
“Jy klink so . . . so hard en verbitter, Tina, ek ken jou mos nie so nie!” Santi kyk haar simpatiek aan.
Tina kyk haar suster reguit aan.
“Ek is nie verhard nie, Santi, ek voel maar net . . . wel . . . nog steeds bitter seer oor die verlies van my man en my kindjie. Jy het nog nie so ’n ontsettende verlies belewe nie, dus sal jy nie kan begryp hoe ’n diep wond dit laat nie. Ek glo nie ’n leeftyd is lank genoeg om so ’n wond te heel nie.”
Na Santi en Walter se vertrek, gaan stap Tina met klein Ian in die tuin. Elke keer wanneer sy in die baba se mooi blou ogies kyk, voel dit asof haar hart wil breek van verlange na haar eie kindjie . . . en tog voel sy vreemd aangetrokke