“Probeer jy my dreig?” val hy haar bars in die rede.
“Nee, my naam is nie Gerhardus Eksteen wat ander mense met dreigemente na sy pype laat dans nie,” antwoord sy kil. “Ek sê maar net – as Pa my kind weggee, is daar moeilikheid.”
Haar pa merk die halsstarrige, vasberade trek om haar sagte mond, en dan weet hy meteens dat hy haar vanaand te ver gedryf het. Hy sal sagkens met haar moet werk, anders gaan hy haar nie weer met dreigemente van die man af wegkry nie . . . Haar en Renier se paaie mag nooit weer kruis nie.
“Ek dink jy moet liewer gaan slaap, jy lyk vir my heeltemal oorspanne,” sê hy na ’n rukkie, nou weer heeltemal bedaard. “Ons sal hierdie saak weer môre bespreek. Miskien sal jy dan meer kalm en ontspanne wees –”
“As Pa dink dat ek van gedagte sal verander, begaan jy ’n baie groot fout,” val sy hom onthuts in die rede. “Noudat ek weer iets het om voor te lewe, sal ek met elke wapen tot my beskikking veg om my kind te behou.”
“Nou toe dan maar,” stel hy haar gerus. “Nou moet jy my verskoon, anders is ek laat vir die vergadering.”
Toe Tina later die aand in die bed lê, dink sy na oor haar en haar pa se woordewisseling. Sy voel glad nie jammer oor die skerp woorde wat sy hom toegeslinger het nie. Dis sy verwaande snobisme wat gemaak het dat Renier besig is om van haar te skei. As hy nie so snobisties en selfsugtig was nie, sou hy Renier aanvaar het as skoonseun.
Nee, sy voel glad nie spyt oor haar skerp woorde nie. Noudat sy Renier vir goed verloor het, is haar kindjie al wat sy nog het om voor te lewe. Hy sal haar al die geluk en vreugde gee wat haar ses weke gelede ontneem is.
Hy sal nooit sy pappa se plek in my hart kan inneem nie, maar hy sal sy eie plekkie in my hart vul, dink sy mistroostig.
Haar gedagtes dwaal nou na Renier toe, en sy wonder waarom sy liefde vir haar so eensklaps afgekoel het dat hy nie eens haar brief wil beantwoord nie. Sy het tog alles breedvoerig aan hom verduidelik. Hy behoort mos te weet dat sy hom nie uit eie wil verlaat het nie, of het hy maar besluit dat dit vir hom beter sal wees om liewer niks verder met die Eksteens te doen te hê nie?
Sy liefde was soos ’n ster wat verskiet, dink sy. Die een oomblik het dit nog soos ’n blink diamant aan ons hemel van geluk geskitter, en die volgende oomblik het dit net verskiet. Sy sug mistroostig, want sy weet dat haar liefde vir Renier altyd soos ’n bestendige ster sal skitter.
4
Gerhardus Eksteen is die volgende môre aan die ontbyttafel opmerklik stil en afgetrokke.
Gisteraand se vergadering het bepaald nie na wense verloop nie, meen Tina. Hy is altyd so afgetrokke wanneer dinge nie sy goedkeuring wegdra nie . . .
“Ek wil jou na die ete in my studeerkamer spreek, Tina,” maak haar pa skielik ’n einde aan haar gedagtes.
Sy antwoord instemmend, en dan kring haar gedagtes weer om gisteraand se woordewisseling met haar pa.
Na die ete volg sy haar pa na sy studeerkamer toe. Hy neem agter sy lessenaar plaas en sê haar aan om ook te sit.
“Ek het gisteraand ernstig nagedink oor die penarie waarin jy jou op die oomblik bevind –”
“Ek bevind my glad nie in ’n penarie nie,” val sy hom gesteurd in die rede.
“O, nou goed, ’n situasie dan, en hou op om my in die rede te val,” wys hy haar streng tereg. “In elk geval, nie een van my vriende weet dat jy getroud was nie, en ek is ook nie van plan om jou weglopery aan hulle te verduidelik nie – altans, nie nou al nie. Oor twee maande sal ek jou na ’n dorpie toe neem waar niemand ons ken nie en waar jy kan bly tot na jou bevalling.”
“Waar is die dorpie?” vra sy.
“Ek weet nog nie, maar dit sal êrens in die Kaapprovinsie wees, ver van Johannesburg af. Daar moet geen moontlikheid bestaan dat ’n bekende jou daar kan raak loop nie.”
Hy kyk haar ernstig aan. “Jy sal voor jou vertrek alles moet koop wat jy daar nodig sal hê, ek bedoel nou winterklere. Die Kaapprovinsie word ontsettend koud, en jy sal die hele winter daar wees. Jy moet intussen maar ’n nota maak van alles wat jy nodig sal hê, dan kan jy een oggend saam met my stad toe gaan om al jou inkope te doen.”
Hy kyk na sy polshorlosie en staan sonder ’n verdere woord op om te loop.
Die volgende twee maande gaan vir Tina baie stadig verby. Haar verlange na Renier laat haar soms nog in die nag huil, maar sy begin haar nou vereenselwig met die feit dat sy hom vir goed verloor het en dat hy nie bereid is om vir haar te wag totdat sy mondig is nie.
Sy het al vir Riana en haar twee broers elkeen ’n brief geskryf, maar nie een van die drie het eens die moeite gedoen om te antwoord nie. Ja, selfs haar jare lange vriende het haar nou ook verstoot. Dus is die enigste ligpunt in haar lewe die koms van haar kindjie wat haar eie vlees en bloed sal wees, iemand wat haar nooit sal verstoot nie, wat aan haar alleen sal behoort.
Dit is ’n koue, reënerige middag toe Gerhardus Eksteen se lang, vaartbelynde motor deur die stil dorpie Doringdal ry en voor die eenvoudige huisie van die weduwee Jordaan stilhou. Alles om hulle lyk so koud, nat en mistroostig dat Tina nie eens die eenvoud van die tuintjie en die huisie raaksien nie. Sy is net bly dat hulle eindelik hul bestemming bereik het.
“Ek vrees die plekkie lyk maar klein en eenvoudig,” hoor Tina haar pa langs haar sê, “maar dit is die enigste plek waar ek vir jou losies kon vind. Die binnekant van die huis is darem skoon en netjies, en die eienares is ’n vriendelike vrou.” Hy neem ’n pakkie note uit sy portefeulje en plaas dit op haar skoot. “Hier is darem ’n paar winkels as jy iets nodig kry . . .”
Hulle sit daar in die motor en gesels totdat die reën bedaar, toe stel haar pa voor dat hulle binnetoe gaan voordat die reën opnuut uitsak.
Die weduwee, Rita Jordaan, wat vir hulle die deur oopmaak, is inderdaad ’n vriendelike vrou. Tina skat dat sy so veertig is. Sy is skoon en netjies geklee, maar dit is duidelik dat sy ’n behoeftige vrou is.
Gerhardus Eksteen stel sy dogter aan die weduwee voor as “mevrou Dreyer”, en die eerste keer wonder Tina watter rede haar pa vir haar verblyf op hierdie dorpie verstrek het. Enigeen met oë kan tog sien dat hy ’n welvarende sakeman is en veel beter verblyfplek vir sy dogter kan bekostig.
Die vrou nooi hulle na die sitkamer toe, maar Gerhardus verduidelik dat hy haastig is om te vertrek en maar eers sy dogter se bagasie uit die motor sal gaan haal.
Die weduwee se tienjarige dogter, Hettie, voeg haar nou ook by hulle en bied aan om die oom met die bagasie te help. Rita Jordaan neem Tina na die hoofslaapkamer wat sy vir die jong vroutjie ingerig het en trek die gordyne oop.
“Ek hoop jy sal gelukkig hier by ons wees, mevrou Dreyer,” sê die ouer vrou vriendelik. “Dit is nou jammer dat dit juis vandag moet reën. Dit laat alles so grys en mistroostig lyk, en ek het so gehoop dat jy sommer van die staanspoor af van ons ou dorpie sou hou.”
“Dit is baie vriendelik van jou om so . . . so besorg oor my te voel, mevrou,” sê Tina waarderend terwyl sy haar handskoene uittrek. “Solank dit reën, sal ek nie na die dorpie kyk nie, net na die berg en die doringbome.”
Sy gaan staan langs die ouer vrou voor die venster en kyk hoe die reën soos ’n grys sluier teen die berg afkruip. Die veld is groot en wyd buitekant die dorp, maar na ’n rukkie is dit heeltemal onsigbaar deur die digte reënsluier wat nader kruip. Haar pa en Hettie kom die kamer met haar tasse binne, en dan draai sy stadig van die venster af weg.
“Ek sal nou weer moet gaan,” sê haar pa. “Dit word laat, en ek wil nog by mevrou Pelser, die vroedvrou, aanry om vir haar te sê jy is hier. Sy sal alles vir jou met die plaaslike dokter reël, Tina, dus is daar niks om oor bekommerd te voel nie.”
Hy groet die weduwee en haar dogter, dan stap Tina saam met hom tot op die voorstoep.