Elizabeth staar hom aan. Dan sê sy: “Meneer Barnard, weet u dat ek ’n aangenome dogter is, dat . . . dat meneer Bornman nie my pa is nie?”
Meneer Barnard aarsel. “Ek was nie daarvan bewus nie, tot ’n maand of twee gelede toe ek ter voorbereiding van jou sewentiende verjaardag ’n paar navrae begin doen het.”
Weer staar sy hom aan, dan vra sy gespanne: “En u kliënt, die persoon wat die trustfonds geskep het, kan u my iets van hom vertel? Is dit . . . is dit moontlik dat dit miskien my regte pa kan wees?”
“Ek is jammer, Elizabeth, ek kan jou niks vertel nie. Die donateur se identiteit mag in geen omstandighede geopenbaar word nie.”
“Lewe hy of sy nog, meneer Barnard?”
Die man kyk na die gespanne gesiggie en sien die onbewuste smeking in die besonderse blou oë. Dan skud hy sy kop. “Nee, hy lewe nie meer nie. Hy is skielik oorlede binne ’n jaar nadat hy die fonds gestig het.”
Dan is dit ’n man, dink sy, moontlik ’n ouerige man. “En u kan my niks meer vertel nie?”
“Ek kan jou absoluut niks meer vertel nie. Ek het hom self nooit ontmoet nie. My vennoot, wat alles met hom gereël het, is op die oomblik in die buiteland. In ieder geval, die saak is streng vertroulik. Nóg ek nóg hy kan jou enige inligting hoegenaamd oor die donateur gee. As jy die trustgeld aanvaar, sal dit op daardie voorwaarde wees. En as jy besluit om die geld vir verdere studie te gebruik, sal dit onder my of my vennoot se voogdyskap moet geskied totdat jy mondig is.”
Terwyl Elizabeth nou na Oudendal en Leeufontein ry waar haar aangenome pa van sy hartaanval herstel, dink sy weer terug aan al hierdie dinge. Die gebeure daardie oggend, die besoek van die vreemdeling en die wonderlike nuus van die trustfonds, het ’n diep indruk op haar gemaak. Met gemengde gevoelens van dankbaarheid, nuuskierigheid, bitterheid en verlange het sy aan die geheimsinnige donateur gedink. Dan was sy darem nie heeltemal vergete nie. In die groot, onvriendelike wêreld was daar tog iemand wat aan haar gedink het, hom oor haar ontferm het. Hoe graag, hoe bitter graag sou sy nie met hom kennis wou gemaak het nie, van hom die geheim wou verneem het wat haar al soveel slapelose nagte en soveel ongelukkigheid besorg het. Maar hy is dood en die geheim is moontlik saam met hom begrawe.
Sy het sonder aarseling die trustlating aanvaar. Daaroor was daar van die begin af by haar geen twyfel nie. Dit is die antwoord op haar gebede. Sy hoef nie langer soos ’n bedelares in ander se oë te kyk nie; sy kan haar kursus voltooi sonder om haar oor geld te bekommer. In die toekoms is sy haar eie baas en kan sy doen wat sy wil.
Later, nadat sy self eers aan die gedagte gewoond geraak het, het sy haar pa die nuus vertel. Hy het nie veel gesê nie. Hy was blykbaar teleurgesteld omdat sy hom nie dadelik geraadpleeg het nie, maar hy het geen beswaar gemaak dat sy die geld gebruik om verder te studeer nie.
Soos gewoonlik het tannie Cora ook haar stuiwer in die armbeurs gegooi. “Ek sê nog ek dink dis onverstandig vir ’n meisie om so ver te leer. Netnou kry jy trouplanne en dan is al daardie geld in die water gegooi. Bêre dit liewer; so ’n neseier sal later as jy getroud is baie handig te pas kom.”
“Ek sal nie gou trouplanne kry nie,” het sy koeltjies geantwoord.
“Jy weet nie waarvan jy praat nie, Elizabeth,” het tannie Cora met ’n beterweterige glimlaggie gesê. “As ’n meisie die dag verlief raak, is dit klaarpraat met al haar mooi drome en planne.”
“Dankie, tannie Cora,” het sy uit die hoogte geantwoord, “maar as ek die dag trou, sal dit nie vir liefde wees nie. En al trou ek ook, is ek nie van plan om op te hou praktiseer nie.”
“En wie moet na jou huis en kinders kyk? Moet hulle maar vir wind en weer grootword?”
“Ek het nog nie besluit of ek kinders wil hê of nie,” het sy geantwoord. “En ’n mens kan altyd ’n huishoudster kry wat die huis en ander verantwoordelikhede net so goed, en nog beter, as baie huisvrouens kan behartig.”
Cora het geen antwoord daarop gehad nie. So ’n onnatuurlike lewensbeskouing het sy eenvoudig net nie begryp nie.
Aan die einde van die jaar het Elizabeth die matriekeksamen met ’n hele paar onderskeidings geslaag. Aan die begin van die eerste semester is sy Pretoria toe, waar sy haar mediese kursus begin het. Sy wou nie graag koshuis toe gaan nie – teen daardie tyd het sy al genoeg van koshuise en koshuisreëls gehad – maar meneer Barnard wou nie toelaat dat sy op haar eie bly nie. Maar eintlik was die lewe glad nie so onaangenaam nie en die wete dat sy uiteindelik op haar eie voete staan, het meer as vergoed vir die bietjie ongerief wat die koshuislewe meegebring het.
Sy en meneer Barnard het goed oor die weg gekom. Behalwe dat hy daarop aangedring het dat sy in die koshuis moet bly, het hy nie onnodig in haar lewe ingemeng nie. Haar universiteits- en koshuisgeld is stiptelik betaal en hy het haar ’n redelike bedrag vir klere en sakgeld toegelaat. Van haar aangenome pa wou sy niks neem nie, nie geld nie en ook nie klere nie. Sy is dankbaar vir alles wat hy reeds vir haar gedoen het, het sy gesê, maar, soos hy self gesê het, daar is nog drie jong kinders in die huis en hy het baie ander verpligtinge. Sy het lank genoeg op sy nek gelê. Haar houding het hom moontlik ’n bietjie gekrenk, maar ná al die ongelukkigheid en vernedering wat sy verduur het, was dit nogal aangenaam om hom so ’n bietjie in eie munt terug te betaal.
In die jare wat gevolg het, het sy al hoe minder van Leeufontein se mense gesien. Aan die einde van haar eerste jaar het sy in die lang Desembervakansie by ’n apteek in die stad gewerk en daarna het sy gereeld vakansietye gewerk en slegs af en toe vir ’n naweek of ’n kort vakansie huis toe gegaan. Haar briewe aan haar pa het minder en minder geword en mettertyd het hulle byna heeltemal voeling met mekaar verloor. Twee jaar gelede was sy Kersfees baie eensaam en het sy so heimwee gehad dat sy op ’n skielike ingewing besluit het om Leeufontein toe te gaan. Die kuiertjie was nie ’n sukses nie. Die huis was vol van tannie Cora se familie – Ria was ook daar – en haar kamer is intussen deur Maybelle betrek en na haar smaak verander. En hoewel haar pa probeer het om haar tuis te laat voel, was sy miserabel en kon sy nie gou genoeg van die plaas af wegkom nie.
Dit is nou byna sestien maande gelede en sy was daarna nog nooit weer daar nie.
Oor haar eie ouers het sy nog dikwels gedink, soms met verlange, dikwels met bitterheid en verwyt. Sy het hulle nie nodig nie, het sy herhaaldelik vir haarself gesê. Deur eie inisiatief, deur harde werk en volharding, sal sy ’n sukses van haar lewe maak. Maar soos die jare verbygegaan het, het daar ander probleme opgeduik. Sy het uitgevind dat daar een vraag is wat gedurig opgeduik het waar sy ook al gegaan het: Wie en wat is jou ouers? In haar studie oor genetika het sy geleer wat ’n belangrike rol oorerwing in die mens en dier se lewe speel en in haar sosiale lewe, in haar omgang met haar vriende, het sy dikwels agtergekom dat jy volgens jou familie getakseer word. As jou stamboek reg is, is die wêreld vir jou oop.
Sy het aan die begin maklik genoeg verbygekom deur te sê dat haar pa ’n boer in die Oudendal-distrik is. Maar sy het geweet, eendag is eendag, dan sal die waarheid die leuen inhaal. Eendag sal sy iemand ontmoet wat Jan Bornman en die verhaal van sy aangenome dogter ken en sal sy met skaamte moet erken dat sy nie weet wie haar pa of haar ma is nie. Eendag sal sy ’n man ontmoet, ’n man soos Ryk of Oswald, wat haar dieselfde vraag sal vra en vir wie sy graag die waarheid sal wil vertel. Wat gaan sy dan sê?
Dis al hierdie gedagtes wat haar laat besluit het om weer met Jan Bornman te gaan praat. As hy dan niks meer vir haar kan sê nie, kan hy minstens vir haar sê wie die dokter is wat haar aan hulle besorg het. Die dokter – dit is haar eerste en belangrikste leidraad; van daar af kan sy verder gaan. Sy wou ’n plan maak om Juliemaand of miskien vroeër vir haar pa te gaan kuier en die saak met hom te bespreek. Hy is die enigste een wat haar kan help. En toe, nadat sy klaar besluit het, is sy weer oorval deur ’n vlaag van onsekerheid. Moet sy nie liewer sake laat soos hulle is nie? Wat ’n mens nie weet nie, kan jou nie kwaad doen nie. Wie weet wat alles te voorskyn kom as sy nou in dinge begin krap? ’n Optelkind, het Ria gesê, en met wie weet watter onsmaaklike agtergrond. As ’n man nie kans sien om haar te vat soos sy is nie, waarom sal sy haar pa daaroor lastig val?
Die