As daar iemand was met wie sy die saak kon bespreek, sou dit haar seker baie gehelp het. Maar daar was niemand nie. Die gebeure het ’n diep kloof tussen haar en haar pa veroorsaak, wat hy tevergeefs probeer oorbrug het. Daar was niemand by wie sy hulp of troos kon soek nie, en self moes sy maar weer rigting vind uit die doolhof van onsekerheid waarin sy beland het.
Aan die einde van Junie het Cora geboorte gegee aan ’n seun. Jan Bornman se droom van ’n eie seun en erfgenaam vir Leeufontein is ná baie jare uiteindelik vervul. Daar het groot blydskap op Leeufontein geheers, maar Elizabeth het geen deel daarin gehad nie; sy het buite die warm kring van opwinding en geluk gestaan. Haar eie ouers wou haar nie gehad het nie en die enigste pa wat sy ooit geken het, het sy met die geboorte van sy seun ook finaal verloor.
Miskien was baie van haar ongelukkigheid haar eie skuld. Haar pa het dikwels probeer om weer haar vertroue terug te wen en haar deel van die gesin te maak. Op haar manier het Cora ook toenadering gesoek, maar Elizabeth was te trots en eergevoelig om in te dring waar sy nie welkom was nie.
Ek het hulle nie nodig nie, het sy vir haarself gesê, nie my eie ouers nie en ook nie my aangenome pa nie. Ek sal op my eie voete staan; ek sal self veg vir wat ek in die lewe wil hê. Dit was in daardie veelbewoë dae dat sy finaal besluit het om medies te studeer. Dit was van jongs af haar ideaal om eendag ’n dokter te word, maar haar pa het altyd glimlaggend gesê dat sy te jonk is om te weet wat sy wil doen. Later as sy ryper en verstandiger is, kan hulle weer gesels.
Sy het hard gewerk op skool en haar rapporte was skitterend. Ria daarenteen het steeds swakker en swakker gevaar totdat sy aan die einde van standerd nege besluit het om die skool te verlaat om te gaan werk. Uiteindelik was Elizabeth van haar gehate teenwoordigheid op skool ontslae, maar die kwaad wat Ria gedoen het, deels seker ook maar om haar gevoel van minderwaardigheid weg te steek, kon nie weer ongedaan gemaak word nie. Die gebeure van die laaste vier jaar – haar ma se dood, haar pa se huwelik met Cora van Breda, die geboorte van sy seun en erfgenaam en, ’n jaar later, ’n dogter, die agterbakse Ria se kleinlikheid en gemeenheid en, die bitterste slag van almal, die wrede ontdekking dat sy ’n aangenome kind is met geen eie familie of agtergrond nie – het hulle merk gelaat op die trotse, fyngevoelige jong meisie. Sy het haar ongelukkigheid agter ’n hooghartige houding verberg, nie altyd die invloed wat sy weens haar intelligensie en sterk persoonlikheid op haar maats gehad het ten beste gebruik nie, en sy het nie, soos die algemene verwagting was, hoofmeisie geword nie. Sy het dit nooit laat blyk nie, maar dit was vir haar ’n groot teleurstelling waarvoor sy ook vir Ria met haar skinderpraatjies blameer het.
Ná daardie teleurstelling was sy meer vasbeslote as ooit vantevore om op haar eie voete te staan. Sy het weer met Jan Bornman gesels oor haar planne om dokter te word, maar hom nie baie simpatiek gevind nie. Hy het die saak met Cora bespreek – ná die geboorte van die seun en erfgenaam was Cora die ongekroonde koningin van Leeufontein, wat die septer met ’n ferm hand geswaai het – en toe gesê dat hy definitief nie kans sien vir so ’n lang en duur kursus nie. Met die droogte en ander teëspoed het hy ’n paar moeilike jare agter die rug en hy is nie meer jonk nie en het nog drie jong kinders aan wie se opvoeding en geleerdheid ook gedink moet word. Cora stel voor dat sy ’n verpleegster word, dis ’n baie beter beroep vir ’n meisie, of as sy baie graag verder wil studeer, kan sy ’n onderwyseres word. Sy kan maklik ’n beurs of ’n paar beurse kry en hy sal vir haar die geld voorskiet wat sy verder nodig het. Cora glo, en hy stem saam met haar, dat kinders hulle studiegeld met rente aan hulle ouers behoort terug te betaal. As sy dus medies gaan studeer, sal sy hom aan die einde van haar kursus ’n paar duisend pond skuld. Teen daardie tyd, indien nie eerder nie, het sy seker lankal trouplanne, en hy glo eerlik dat dit baie verstandiger sal wees as sy ’n ander, meer praktiese loopbaan kies.
Jan Bornman se besluit was vir Elizabeth ’n geweldige teleurstelling. Sy het haar trots laat vaar, sy het mooigepraat en gepleit en belowe dat sy eendag elke pennie met rente sou terugbetaal, maar haar pa kon of wou haar nie tegemoetkom nie. Dis alles Cora se skuld, het sy verbitterd gedink. Cora het van die begin af nie van haar gehou nie. Vir Cora is dit nie genoeg dat haar seun eendag Leeufontein sal erf nie, sy is vasbeslote dat Elizabeth niks sal kry nie. As aangenome dogter het sy immers geen aanspraak op Jan Bornman se hart of sy geld nie.
Ongelukkig en verbitterd, maar vasberade om nie haar drome en ideale te laat vaar nie, is sy ná die vakansie terug skool toe. Sy sal nog harder as in die verlede op skool werk en aan die einde van die jaar goed presteer, en as haar pa haar nie wil help nie, sal sy iemand anders kry wat die geld vir haar sal leen. Sy sal op haar eie voete staan; sy sal hulle wys sy het nie hulle hulp nodig nie. Maar daar was ’n seer gevoel in haar hart en ’n groeiende wrok, nie net teenoor Cora en Jan Bornman nie, maar ook teenoor haar eie onbekende ouers wat hulle plig teenoor hulle kind so skromelik verwaarloos het en haar deur hulle selfsugtigheid en onverantwoordelikheid in so ’n onbenydenswaardige posisie geplaas het.
En toe, by al die ongeluk en teleurstelling, het daar iets wonderliks gebeur. Elizabeth het eendag ’n week of twee voor haar sewentiende verjaardag ’n brief gekry van die bestuurder van ’n bekende bougenootskap in Pretoria. Hy het geskryf dat hy aan die einde van die volgende week vir sake Oudendal toe moet kom en dat hy haar graag namens ’n kliënt van hom wil spreek. Hy het voorgestel dat sy hom Saterdagoggend op ’n sekere tyd by die kantoor van die prokureur, Dirk van Dalsen, ontmoet.
Elizabeth was heeltemal uit die veld geslaan deur die onverwagte versoek; sy kon glad nie raai wat aangaan nie. Waarom wil die vreemde man haar kom spreek? Is dit dalk in verband met haar eie ouers? Sy wou eers die saak met haar pa bespreek, maar die herinnering aan sy onsimpatieke houding het haar daarteen laat besluit. Later, as dit nodig is, kan sy hom raadpleeg. Sy wil eers weet wat aangaan.
Sy het dadelik die afspraak bevestig. Sy het vir niemand van die brief of die afspraak vertel nie. As dit slegte of teleurstellende nuus is, sou sy verkies om dit vir haarself te hou. Maar haar verbeelding het die wonderlikste moontlikhede opgetower en dit het moeilik gegaan om haar gedagtes by haar werk te bepaal. Nog nooit het die tyd so stadig verbygegaan soos daardie tien dae nie en teen Saterdag was sy half siek van opwinding.
Op die bestemde tyd is sy na die prokureur se kantoor. Hoe goed onthou sy nog daardie oggend. Dit was Septembermaand en oral was daar tekens dat die lente aangebreek het. Die bome het begin bot, die voëls het gesing en dit was al lekker warm. Maar in Elizabeth se hart was daar vrees en onsekerheid. Sy moes die afgelope jare so baie terugslae verduur dat sy bang was om te hoop dat die vreemdeling se besoek vir haar iets goeds kan inhou.
By die prokureur se kantoor was hulle haar blykbaar te wagte en die tikster het haar dadelik na een van die kantore geneem waar die besoeker, ’n meneer Barnard, ’n ouerige man met grys hare en ’n ietwat streng voorkoms, reeds vir haar gewag het.
“Die posisie is kortliks dit, Elizabeth,” het meneer Barnard gesê nadat hulle kennis gemaak en hy haar die een en ander oor haar skoolloopbaan gevra het, “ons kliënt, wie se naam in geen omstandighede bekend gemaak mag word nie, het tien jaar gelede ’n trustfonds vir vyftienhonderd pond in jou naam gestig. Die geld plus die saamgestelde rente, wat teen dié tyd by die sewehonderd pond beloop, kry jy wanneer jy die dag een-en-twintig jaar oud is, oor vier jaar. Maar volgens ’n bepaling van die trust kan voorskotte gemaak word mits jy dit vir studiedoeleindes gebruik.”
Elizabeth kon haar ore nie glo nie. Dit is die antwoord op al haar gebede. Gretig verduidelik sy vir hom wat die posisie is en hy luister belangstellend.
“Jou pa is heeltemal reg, die mediese kursus is lank, moeilik en duur. As ek ’n dogter gehad het, sou ek ook liewer gesien het dat sy ’n ander loopbaan kies.”
“Dit was altyd my ideaal om dokter te word, al moet ek die geld leen. Dit is ’n lang en seker ’n moeilike kursus, maar ek is nie bang om hard te werk nie. Ek . . . as u wil, kan ek u van my laaste rapporte stuur, dan kan u self oordeel.”
Meneer Barnard het effens geglimlag. “Dit sal nie nodig wees nie. Ek is