2. Skryf ’n voorbeeld van ’n samestellende afleiding uit paragraaf 1 neer. Onderstreep die kern. (2)
3. In paragraaf 2 is ’n woord waarin assimilasie kan voorkom. Skryf die woord en sy geassimileerde vorm neer. (1)
4. Verdeel die volgende woorde in grepe soos jy dit sou uitspreek.
a. “jakkalsstreke” (par. 1)
b. “dwelmverslawing” (par. 3) (2)
5. Dui die klankbou van die volgende woorde aan. K=konsonant; V=vokaal; D=diftong
a. “ouer” (par. 3)
b. “leuentjie” (par. 3) (2)
6. Kies die regte woord:
As die woord “sewende” as seuwende uitgespreek word, is dit ’n voorbeeld van ontronding/oorronding/nasalering en vokalisering/assimilasie. (1)
7. Skryf die basisvorme van die volgende woorde neer.
a. “kundige” (par. 3)
b. “bespreek” (par. 3)
c. “beïnvloedbaar” (par. 5) (3)
8. Skryf “17-jariges” in woorde neer. (1)
9. Skryf die regte vorme van die skuinsgedrukte woorde.
Ouers se a) gemoed kan nogal die b) hoog inskiet as verskeie c) bioloog beweer sepies het ’n invloed op die d) lewenstadium van kinders. (4)
10. Skryf ’n voorbeeld van ’n abstrakte selfstandige naamwoord in paragraaf 5 neer. (1)
11. Voltooi die volgende deur die regte versamelnaam in te vul.
’n Versameling mense wat bloedverwante is (of deur ’n huwelik of huwelike heg aan mekaar verbind is), staan bekend as ’n a) . . . , maar ’n pa, ’n ma en hul kind of kinders vorm saam ’n b) . . . (2)
Totaal: 20 punte
In hierdie aktiwiteit gaan jy
preleesvrae beantwoord
’n verhaal uit die Piekfyn Afrikaans Leesboek lees
vrae beantwoord
’n beskrywende of verhalende opstel skryf.
Prelees saam met ’n maat.
Julle het die gedig “Sproeireën” van D.J. Opperman al gelees. Gesels oor die volgende:
Het julle al die skil van ’n nartjie/lemoen/suurlemoen/lemmetjie geruik? Ruik dit lekker of sleg vir julle?
Het jy al jou hande geruik nadat jy ’n nartjie geskil het?
Het julle geweet dat die skil van hierdie vrugte in kos gebruik word en jou pampoen en soetpatats baie lekker laat smaak?
Het jy al opgelet hoe die lug ruik na ’n lekker bui reën? Of hoe dit ruik as jou ma afval kook?
Begeleide lees
Luister terwyl julle onderwyser die verhaal “Geure” van Marelize Ras in die Piekfyn Afrikaans Leesboek voorlees. Beantwoord die vrae wat in jou leesboek verskyn.
Verryking: Skryf oor geure wat met jou praat.
Watter geur is vir jou lekker/sleg/roep herinneringe op? Lees weer die verhaal deur en let op hoe die skrywer die onderwerp benader. Skryf dan ’n beskrywende of ’n verhalende opstel oor geure wat ’n rol in jou lewe speel of gespeel het. Pitkos gee ’n paar wenke:
Pitkos
Wenke om ’n beskrywende opstel aan te bied
Maak jou beskrywing interessant en verwys na soveel as moontlik sintuie.
Skep ’n stemming deur middel van jou beskrywing.
Jy kan mildelik van beeldspraak gebruik maak.
Kontraste en woordordeverandering help om eentonigheid te vermy en jou beskrywing te laat leef.
Kyk met ’n ander oog na die gewone.
Gee aandag aan besonderhede.
Neem die volgende in ag:
Kry ’n treffende titel vir jou opstel.
Maak gebruik van die stappe van prosesskryf en beplan jou paragraafverdeling deur middel van ’n kopkaart.
Sorg dat jou paragrawe logies op mekaar volg.
Let daarop dat elke paragraaf se inleidende sin die kerngedagte bevat. Die ander sinne moet ondersteunende besonderhede verskaf.
Jou opstel moet 200 tot 250 woorde lank wees.
Maak gebruik van verbindingswoorde wanneer jy sinne en paragrawe by mekaar laat aansluit.
Wissel jou sinslengtes en ook jou sinsoorte af.
Hoe belangrik is ’n goeie selfbeeld? Waarom ly party mense aan depressie? Dink jy daar is ’n verband tussen depressie en die mens se selfbeeld?
Hierdie module spring weg met ’n sonnet waarin die spreker haar hande van nader beskou. Die sonnet as digvorm is rigied ten opsigte van inhoud en tipografie, en jy gaan uitvind hoe om dit sommer maklik te herken. Jy lees ook ’n volksverhaal in die Piekfyn Afrikaans Leesboek.
Beplan, redigeer en bied verskillende joernaalinskrywings oor al die aktiwiteite aan. Elke aktiwiteit het gerigte vrae wat jy kan gebruik om oor te dink en te skryf.
Leer hoe om hoofgedagtes te identifiseer en die opsomming vinnig baas te raak. Neem deel aan ’n forumbespreking en hou ’n onvoorbereide toespraak. Verder gaan jy koerantberigte ontleed en jou eie skryf.
Woordorde, die werkwoord, deelwoord, voegwoord en die los- en vasskryf van woorde geniet ook aandag.
Die tekste spreek verskillende onderwerpe aan: ’n mens se selfbeeld en hulp vir persone wat aan depressie ly. Onthou: Jy is wat jy van jouself dink!
In hierdie aktiwiteit gaan jy
na ’n sonnet luister
die sonnet as digvorm bestudeer
’n paragraaf oor die sonnet skryf
met die joernaalinskrywing kennis maak en die eerste van ses joernaalinskrywings skryf.
Lees die onderstaande In ’n neutedop baie aandagtig deur.
Die sonnet
Die woord “sonnet” beteken “klein liedjie”. Shakespeare het ’n groot liefde vir hierdie gewilde digvorm gehad en daarom word dikwels na die Engelse sonnet as die Shakespeariaanse sonnet verwys.
Engelse en Italiaanse sonnette het dieselfde hoeveelheid versreëls, maar verskil in uiterlike bou of vorm. ’n Sonnet bestaan altyd uit 14 versreëls.
Kenmerke van die Engelse sonnet
Die Engelse sonnet word verdeel in drie kwatryne en ’n rymende eindkoeplet.
In die drie kwatryne (met vier