Rym
Rym is wanneer woorde dieselfde klink en op dieselfde plek staan – albei woorde staan óf aan die einde van ’n versreël óf albei staan in die middel van ’n versreël. Die funksies van rym is die volgende:
Dit verhoog die musikaliteit van die gedig.
Dit beklemtoon woorde wat in die rymposisies staan.
Dit sluit versreëls af.
Dit bind die gedig en strofes tot ’n eenheid.
Dit help om spanning op te bou of te verlig.
Daar is verskillende rympatrone:
Paarrym: aabb. Die eerste en tweede versreël rym; die derde en vierde versreël, ensovoorts.
Omarmende rym: abba. Die eerste en die vierde versreël rym, en die tweede en derde versreël rym.
Kruisrym: abcd. Die eerste en derde versreël rym, en dan die tweede en vierde versreël.
Gebroke rym: abcd. Geen versreël rym nie.
Alliterasie en assonansie
Dit is voorbeelde van halfrym wat binne ’n gedig kan voorkom. Alliterasie is die herhaling van dieselfde letters of klanke waarmee ’n woord begin. Dit kom voor in alledaagse uitdrukkings: nóg kind nóg kraai. Digters gebruik dit om ’n patroon van herhaling te skep. Hulle gebruik dit ook om woorde in ’n gedig te beklemtoon of om ’n sekere klankpatroon te skep.
Assonansie is die herhaling van klinkers/vokale in meer as een woord om ’n klankpatroon te vorm. Digters gebruik ook assonansie as bindmiddel tussen belangrike woorde, byvoorbeeld die o-klank in versreël 4 van kwatryn 10.
Ritme
Ritme is die natuurlike beklemtoning van lettergrepe by die uitspraak van woorde. In gedigte word dit beïnvloed deur woord- en sinsaksent, tempo, intonasie, natuurlike ruspunte in die gedig, enjambement.
Stylfigure
Ironie is die teenoorgestelde van wat jy sê of bedoel.
’n Retoriese vraag is wanneer die antwoord op die vraag reeds in die vraag vervat is, of ’n antwoord op die vraag nie eintlik verwag word nie. Byvoorbeeld: Is die reën nie te wonderlik nie? (Die feit dat die reën wonderlik is, is alreeds in die vraag vervat.)
Enjambement is die verskynsel waar een versreël in die volgende oorloop sonder enige leestekens aan die einde van die eerste versreël.
Funksies van enjambement:
Dit verleen soepelheid en vloeiendheid aan ’n gedig.
Dit maak eindrym minder opsigtelik.
Versreëls word saamgebind en dra by tot eenheid in die gedig.
Dit beïnvloed die tempo van die gedig.
In hierdie vier kwatryne vergelyk die spreker die lewe met ’n toneel wat op ’n verhoog afspeel. Kyk of julle verstaan wat sy vir ons wil sê.
Jou onderwyser gaan die onderstaande kwatryne aan jou voorlees. Luister noukeurig daarna en beantwoord dan die daaropvolgende vrae.
Kwatryne
Ina Rousseau
10
1Agter die skerms, lank reeds gegrimeer
2aanskou ek die verhoog se glans en kleur
3en wag dat u my toelaat om oplaas
4my rol te gaan vertolk, O Regisseur.
11
1As daar applous was vir die laaste maal
2en U die décor moeg na onder haal,
3sal U vir ons wat ons kostuums uittrek
4volgens ons moeite en geduld betaal?
12
1In hierdie klug vergeet soms ’n akteur
2heel onverwags sy reëls en loer versteur
3na die coulisses* links en regs
4maar geen souffleur se stem dring tot hom deur.
13
1Ofskoon die saal se ligte nie meer brand
2vra menigeen aan die verhoog se kant
3nog steeds: Is ek van hierdie klug die held
4of teen die agterdoek ’n figurant?
Uit: Versamelde gedigte 1954-1984. Human & Rousseau. 1984)
*coulisses: Die gordyne of die kantpanele op die verhoog; toneelskerms.
Vrae
Kwatryn 10
1. Wat is die “skerms” op ’n verhoog waarna versreël 1 verwys?
2. Wie of wat is die spreker in hierdie gedig?
3. Skryf twee woorde neer wat vir die leser sê dat die spreker al lank wag.
4. Waarom word “Regisseur” met ’n hoofletter geskryf? Wie dink jy is die persoon wat aangespreek word?
5. Dink jy hierdie gedig het dalk ’n dieper betekenis? Verduidelik.
6. Hoe weet ons dat hierdie ’n Persiese kwatryn is?
Kwatryn 11
7. In versreël 2 en 3 word die voornaamwoord “U” met ’n hoofletter gespel. Watter verband is daar tussen hierdie voornaamwoord en die woord “Regisseur” in kwatryn 10?
8. Skryf ’n voorbeeld van assonansie uit versreël 1 neer.
9. Op watter manier word die retoriese vraag in hierdie kwatryn beklemtoon?
Kwatryn 12
10. Wie of wat is ’n “souffleur” waarna versreël 4 verwys?
11. Watter woord in die kwatryn verwys na die akteur se woorde? Kies een van die volgende: coulisses/sy reëls/stem.
12. Haal ’n woord aan wat daarop wys dat die “akteur” ontsteld kan wees.
13. ’n “Klug” is ’n grapperige of verspotte toneelstuk. Wat wil die digter vir die leser sê? Kies een van die volgende: toneelspeel is nie maklik nie/in die regte lewe is daar nie iemand wat vir jou voorsê wat om te doen nie/die souffleur se stem is te sag.
Kwatryn 13
14. Watter ander voegwoord beteken dieselfde as “ofskoon” en sal in versreël 1 pas?
15. Wat beteken dit as die saal se ligte nie meer brand nie?
16. ’n Figurant is iemand wat nie ’n belangrike rol in ’n stuk het nie. Oor watter twee dinge wonder die akteur in die laaste twee versreëls?
17. As jy na die dieper betekenis kyk, waarom is die gebruik van die woord “figurant” in die slotreël gepas?
Piekfyn-woordeboek | |
Idiomatiese uitdrukkings | |
Hy is hart en siel in sy werk – gee al sy aandag aan sy werk. | |
Meer bek as binnegoed – baie praat, maar het min begrip/verstand. | |
Met bed en beddegoed uit huis uitjaag – met alles uitjaag. | |
Idiomatiese vergelykings | |
lieg soos ’n tandetrekker | so helder soos kristal |
so
|