“Die man wat ’n bloubokkie vang, se liksens sal afgevat word!” is ’n beter dreigement agterna gestuur.
Van toe af is die wippies en die boswagter fyn dopgehou. Sy pa het hulle belet om weer ’n bloubokkiewip in ’n voetpad te stel, al was dit die beste plek vir myle ver. Mens weet nooit watter dag die boswagter kies om rondom die kap van jóú byl te kom spaai nie. Toe het hulle maar in die ruigtes gesoek totdat hulle afkom op ’n hopie mis so groot soos gortkorreltjies, of bloubokkiepaadjie kry. Sy pa het geglo jy moet vir die kop stel, nie vir die pote nie. Jy buig ’n lekker jong boom af en bind ’n bloklynlus aan die punt sodat dit twee handhoogtes bokant die grond sal hang nadat jy die boom se punt geanker het dat dit net-net hou. Nou kom die bokkie wei-wei nader, sy kop is deur die lus voor hy weet waar hy is, die boom skiet terug en ruk die lus om sy gorrel vas, en die boswagter kan maar kom. Die bokkie sal bokant sy kop in die Bos verwurg hang en hy sal onder verby en dit nie weet nie.
En die grootmense het jou nog ’n ander ding van die bloubokkie geleer: hulle is anders as al die ander bokke in die Bos omdat hulle gal in hul koppe sit. Sowaar. Daarom is hul naam ook galkoppies. En dit sou ’n bloubokkie wees wat die eerste dink in Saul laat loskom het.
Maar voor dit alles en bo dit alles het hy en Jozef van die groot vrees wat in die Bos wandel, geleer. Van die olifante. Hy was klein toe hy vir die eerste keer die verskriklike bol mis gesien het. Seker so vyf jaar oud. Hy en sy pa en Jozef en oom Anneries was op pad na waar daar stinkhout gewerk moes word, en dit was die eerste keer dat hy volwaardig saamgeneem is om die eerste take van ’n boskind te leer: die werk om die skerm. Water aandra, vuurhout kap, vuur maak, die vuur oppas, die patats onder die as bak en uithaal voordat die olie uitkook, koffie maak.
Die bol het in die voetpad gelê.
“Is dit één olifant s’n, Pa?” Hy het verskrik vasgesteek; dit was so groot soos ’n jong os se kop!
“Stil!” het sy pa vinnig gekeer. “Jy noem nie sy naam in hierdie bos nie! Hy hoor vir jou en dink jy roep hom. Kom!”
Maar hy sou bo-oor die grote bol moes trap en hy was te bang om dit te doen. Oom Anneries het eendag gesê tien osse saam is een groot olifant se lyf.
“Hy gaan ons trap, Pa!” het hy begin huil en agtertoe gestaan.
“Jy’s dom, man! Die mis is ten minste twee dae oud en teen dié tyd is hy seker al bo by Jonkersberg as jy my vra. Kom!”
Van ou grootvoete of ou dikbene of van onse voorouers mag jy gepraat het, maar nooit van ’n olifant nie. Net vreemdes het só onverskillig in die Bos kom praat.
En hulle het van die eerste wapen teen die groot vrees van die Bos geleer: die wind. Al roer daar nie ’n blaar om jou nie, soek jy ’n skerf blou lug bokant jou deur die blaredak en wag dat ’n wolkie verbytrek sodat jy kan weet watter kant toe om te hol as die takke Bos in breek.
Hy was nege toe hy vir die eerste keer alleen voor die groot vrees moes staan. Hulle het getrek en by Groot Eiland gaan huismaak. Sara en Magdalena was toe klein en Izak is kort daarna gebore. Wanneer daar ver van die huis af gekap is, het hulle ’n skerm gemaak en in die Bos gebly totdat die hout klaar was. Soms drie weke en langer. As hulle nie te ver van die huis af gekap het nie, het hulle donkervoordag opgestaan om ligdag by die hout te wees, heeldag gekap en laatmiddag weer teruggestap. Baie moeg.
Hulle het daardie keer by Witplekbos waenhout gemaak en alhoewel dit maar so twee uur se stap van die huis af was, het sy pa aan die einde van die eerste week besluit om skerm te maak en te bly tot die hout klaar is; die suiker was op, die koffie en twak was min en by die huis was die meel ook aan die opraak. Die hout moes uitgesleep en reggemaak word en op die dorp kom. Saul was toe nog nooit op die dorp nie en sy idee van die plek was taamlik vaag.
Teen die einde van die derde week het dit egter begin reën en dit was te nat om te kap of te saag. Al wat hulle kon doen, was onder die skerm sit en hoop dit klaar op. Oom Anneries was darem bly oor die reën; dit het hom kans gegee om voor te kom met sy speke. Ses wa-speke het vir die ou ’n bottel brandewyn, Cape Smoke, op die dorp geruil en hy kon die netjiesste speke met ’n dissel uit ’n stuk assegaaihout kap. Later jare het Saul dikwels gewonder hoeveel waens oor dié land kreun met ou Anneries se brandewynspeke in die wiele.
Ou Anneries. Toe Saul op ’n dag uitvind dat sy regte naam eintlik Andries van Huysteen is, het dit soos ’n vreemdeling geklink. Vandat hy sy verstand gekry het, het die ou maar by hulle gewoon en in sy pa se span gekap.
Dit het vyf dae lank gereën. Toe dit opklaar, was die kos so te sê op. Een van hulle sou moes huis toe om kos te haal. Hy of Jozef. Maar Jozef kon teen daardie tyd al sterk help by die hout en elke hand had net sy vat.
Die volgende dag het Saul se pa hom tot by die naaste voetpad geneem.
“Jy steel nie napad nie,” het hy die orders afgegee. “Jy hou met hierdie voetpad aan tot by die sleeppad en dan hou jy wes – sononder se kant toe, tot by die ou skerm, en daarvandaan vat jy weer die voetpad.”
“Ja, Pa.”
“En jy luister heeltyd vir die grootvoete.”
“Ja, Pa.” In sy hart het hy klaar besluit om hulle te wys hoe gou hy met die kos kon maak.
Dit was nat. Op plekke is hy gly-gly af en anderkant weer hou-hou uit. Waar hy kon, het hy gedraf en die hele tyd sy ore rondom hom in die Bos gegooi vir die breek van ’n tak wat ’n olifant kon verraai. Olifante is altyd woelig in nat weer. En kort voor kwartdag was hy by die huis. Sy ma was een van hulle te wagte – nie hom nie – sy het geweet hulle kos sou nie vir reënweer uitkom nie en het patats gekook en askoek gebak.
Net ná halfdag was hy al weer op pad terug. In die sak oor sy rug was die gaar kos, ’n paar treksels koffie en genoeg rou patats om die hout op klaar te kry.
Hy het niks gehoor nie, nie ’n stok se kraak of ’n roersel nie. Niks. Hy was die voetpad anderkant die sleeppad skaars in toe hy opkyk en hom sien. Die olifant. Voor hom in die voetpad met sy broek na agter, en die wind was verkeerde kant! Die skrik het hom soos ’n bliksemstraal geslaan. Toe die slurp opkom en rondsnuif na waar die mensreuk vandaan kom, het hy agteruit begin strompel maar terselfdertyd geweet hy gaan nie wegkom nie. Die skurwe lyf was aan die omswaai en die krom, geel tande aan die omkom …
“As ’n grootvoet jou jaag, pluk jou baadjie of jou hemp uit en smyt dit neer,” het sy pa hulle geleer. “Hy sal dink dis jy en dit eerste vertrap. Solank hy sy mistake uitvind, hardloop jy of jy klim!”
Saul het die sak met die kos neergegooi en vinnig ’n wit-els gekies en geklim. Halfpad boontoe het die vrees hom sy arms om ’n dwarstak laat gooi en sy bene om ’n ander een laat vasknel. Toe hy afkyk, was daar twee olifante onder die boom: die grote wat hy eerste gesien het en ’n jonger een. Op die plek waar hy die sak neergegooi het, was hulle besig om die onderbos uitmekaar te trap en in sy angs het hy gebid dat hulle tog hul woede op die sak moes uittrap en van hom vergeet. Maar die jonger een het eerste die mensreuk teen die boom gekry en toe begin stamp om hom daar uit te kry. Die grote het ná ’n ruk kom help.
Hulle sê as ’n vuur wit brand, is hy op sy warmste; as vrees wit in jou brand, is jy op jou bangste. Dit het hy daardie dag geleer … Solank die wit-els hou, moes hy hou, het hy hom voorgeneem. Hy wou nie doodraak nie, hy wou nie onder hul pote beland en saam met die kos in die aarde in verflenter word nie. Hulle het met die koppe hul woede teen die boom uitgehaal terwyl hul pote die klam bos-aarde tot ’n pappery vertrap het en sloef-sloef uit die modder gesuig het voor elke nuwe aanslag teen die ou wit-els se stam. En elke keer het hy gedink: Met die volgende stamp skud hulle my uit en dan’s ek dood! Elke keer dat hy sy oë oopgemaak het, het dit gelyk of die skurwe boggelskofte nader aan sy voete is.
Hulle het hom daar probeer uitskud totdat die skemerte oor die bosvloer begin kruip het. Toe het hulle sommer net weggestap. Dikbos in en hy kon nie sien hoe ver nie. Hy het net die geswiep van die ruigte gehoor en toe was dit stil. Hy het gewag. Sy arms was styf en seer, sy bene bloedvel