“Dis ’n lieg en jy weet dit net so goed soos ek! Oupoot sou nie tien ander saamgeneem het as hy die kwaad wou doen nie. Nie hy nie.”
“Hulle sê sy spore was daar.”
“Hy mag vroeër die nag daar verbygegaan het. Waar tien vertrap het, kan jy in elk geval van niks seker wees nie en dit weet Jozef-hulle ook.”
“Ek sê maar soos baas Gert my gesê het.” Hy het weggekyk voor hy die laaste hou slaan: “Freek Terblans kom hom skiet.”
Die woorde het hard getref.
“Hy kom Oupoot skiet?”
“Ja. Baas Gert sê dis al man wat Jozef vertrou om hom te skiet. Hy’t ’n man oorgestuur Noetzie toe, na Freek toe, en hy’t laat weet hy sal hom Vrydag kom skiet.”
Ná die aandete het Saul en Frank Jefferson, kaptein van die Pictor, ’n paar rondtes kaart gespeel. Dit het egter nie die bitterheid wat in hom aan die toeneem was, gekeer nie – ook nie die gevoel dat hy stadig teruggesleep word na ’n vuur waardeur hy sy lewe lank geworstel het om te ontsnap nie.
“Jy is besonder stil?” het Jefferson teen nege-uur se kant opgemerk. Hulle het mekaar reeds ’n hele klompie jare geken; vroeër was die Pictor een van die skepe wat gereeld by die Knysnarivier aangedoen het en hulle het altyd mekaar se geselskap opgesoek. “Of begin jy aan jou weggaan twyfel?”
“Nee. Nie vir ’n oomblik nie.”
Ná nog twee rondtes het Jefferson weer probeer: “Kan ek ’n persoonlike vraag vra?”
“Vra gerus.”
“Dis baie opvallend dat jy nie meer baklei nie …”
“Baklei?” Die opmerking het hom verras.
“Nie met die vuiste nie, met iets binne-in jou … Nog sjerrie?”
“Nee dankie. Ek dink ek verstaan wat jy wil sê, en ek moet erken, jy verras my met jou waarneming. Jy’t reg, ek baklei nie meer nie. Kom ons sê ek het ’n eenmansoorlog gevoer en verloor,” het hy erken en sinies bygevoeg: “’n Oorlog wat nooit bestaan het nie oor dinge wat nooit bestaan het nie.”
“Jy het altyd die indruk geskep dat jy niks vrees nie, Saul Barnard. Jy skep dit nog, behalwe dat jy nie meer baklei nie. Dit beteken nie dat jy nie meer kwaad is nie.”
“Jou beurt om te deel,” het Saul die gesprek in ’n ander rigting gestuur.
Tienuur het hy die kaarte neergesit. “Ek is jammer, ek konsentreer nie.”
“Ek kom dit nog die hele aand agter.”
Hy het nie die lamp in sy kajuit opgesteek nie, ook nie sy klere uitgetrek nie, maar net so op die bank in die donker gaan lê en Maska se woorde teruggeroep: Freek Terblans het laat weet hy sal hom Vrydag kom skiet. Dit het om en om deur sy kop kom draai totdat die wrewel en bitterheid hom teruggejaag het dek toe.
Bokant Belvidere se koppe, aan die oorkant van die nagblink meer, het die ster-kruis kopkant afgeduik op sy baan: Alfa, Beta, Gamma, Delta, het hy een nag vir Kate die name van die vier punte geleer.
Die gedagte aan Kate het hom van die reling laat wegdraai en in die rigting van die voormas laat loop. Deur die takelwerk kon hy die stil dorpie teen die skuinste bokant die meer in die nagskemer sien lê. ’n Hond het êrens geblaf, ’n ander het antwoord gegee.
Kate.
Sy was ’n droom wat saam met baie ander drome vernietig moes word. Aan die begin sou dit die seerste seer wees wat hy saam met hom moes dra.
Agter by die kruismas het die waker van die skip gekug en bakboordkant die donker in gespoeg. Êrens in die uitgestrekte, digte Bos tussen die berge en die dorpie was Oupoot ook op wag. Het hy in Kom-se-Bos geskuil? Bokant Diepwalle? In een van Gouna se klowe? Het hy geweet dat die sandloper teen hom omgekeer was? Het hy geweet dat hy uitgesit was om skuld te betaal wat nie syne is nie? Oupoot sou nooit ’n enkele nag sy alleenheid gelos het om saam met ’n trop te loop kwaad doen nie. Nooit. Daarvoor is hy te slim en té lank al die leierolifant van die Bos. Jare gelede is daar ook sommer net aanvaar dat dit hy was wat Marais vermorsel het, ten spyte van die feit dat wat van Marais oor was, weke later per toeval gevind is en niemand meer kon sweer watter een vir die verwoesting verantwoordelik was nie. Oupoot moes die blaam dra omdat hy in die omgewing gesien is.
En Jozef het Freek Terblans laat weet om Oupoot te kom skiet. Freek, ’n man wat menige olifant met een stuk lood inmekaar laat kniel het. Wat die tande uitgekap en tussen die hout op sy wa versteek het om dit vir ’n flenter van ’n prys op die dorp te loop verkwansel. ’n Man wat nie aan ’n hart- of breinskoot glo nie, maar wat van die sykant af skiet om die massiewe rug tussen die blaaie te vergruis.
Dit was toe dat hy gesweer het dat Freek Terblans Oupoot nie sou skiet nie. Terblans se byle sou nie daardie tande uit hul kasse kap nie. Nee. Saul Barnard sou Oupoot skiet. Hy was dit aan Oupoot verskuldig om hom die vernedering te spaar om voor Terblans se geweer te kniel. Hy had nie ’n keuse nie. Dié allerlaaste taak moes hy op homself neem. Hulle het Oupoot reeds gehaat soos hulle hóm haat, en pleit om genade sou nie help nie.
Daarom loop sy voete weer oor die grond wat hy afgesweer het, hoor sy ore weer die loeries, is hy weer eens in die altyd skemer wêreld van die Bos, en daar sal Freek Terblans eers vir hóm moet skiet voordat hy op Oupoot sal kan aanlê.
Daar is vier dae oor na Vrydag toe. Die Pictor sal nie voor Maandag vertrek nie.
Saul Barnard, seun van die houtkapper Joram Barnard, is in die Bos ontvang en gebore en grootgemaak. Op die sewende dag van Januarie 1860 is hy kort duskant Krisjan-se-Nek onder ’n wit-els gebore omdat sy ma se tyd haar oorval het op pad Brandrug toe waar haar mense gekap het. Hy was die tweede seun. Jozef was toe twee jaar oud en sy pa moes hom in die fynruigte wegsteek totdat alles verby was.
Sy ma kon lees en skryf. Hulle had ’n Bybel en sy het vir hom en Jozef ook leer lees en skryf. Sy pa kon nie lees nie. Hy het gesê ’n man hoef nie te kan lees en skryf om hout te werk nie. En soos die ou olifantbulle die jong bulle leer, het hy hulle die dinge van die Bos geleer. Van die bome. Die verskil tussen ’n kalander en ’n upright, van die witpeer, die vlier, die rooi-els, die wit-els; van assegaai en hardepeer, ysterhout, kershout en kamassie. Sommige leer jy aan die lyf ken en ander aan die blaar. In die begin lyk ’n jong stinkhoutboom en ’n saffraan na dieselfde ding, totdat jy geleer het om steelkant van die stinkhoutblaar die twee harde knoppies te soek. Hulle het die struike van die onderbos leer ken, wat medisyne is en wat nie. Watter bessies jy kan eet, watter nie.
Hulle het die voëls leer ken. Hy en Jozef. Party aan die stem lank voordat hulle hulle in die digtheid van die Bos gesien het. Die kok-kok-kok van die groot loerie het jou ongeduldig gemaak omdat dit ’n roep sonder lyf bly, sodat jy op ’n dag loop wag sit het met jou oë in die bosdak totdat die groot groen voël geruisloos afgesweef het na ’n laer tak en die bloedrooi vere van sy vlerke ’n oomblik in die sonspatsels geblink het.
Die bosloerie is ’n ander een. Kleiner as die groot loerie, net so mooi, maar dommer. As jy jou lippe tuit om te fluit, maar jy fluit nie, jy hoot-hoot-hoot deur jou lippe, lok jy hom van ver af nader, en as dit nie te ruig was nie en Jozef het reg gemik met die klip, had hulle loerievleis in die pot vir die aand. Soms het jou geluk by ’n bosduif gelê. Die kleinvoëls het met die tyd saam name gekry: lawaaimakertjies, piet-my-vrou, die pikswart byevangers met die swawelsterte, die bontrokkies, die kleinjantjies, die suikerbekkies. Die hele swetterjoel.
En die bokke. Die bosbok met sy bruin lyf en witspikkel-halsband – ’n ou ram word later amper swart van bruin en as jy een van hulle kwes, moet jy maak dat jy wegkom, want hy sal vir jou inhaal en jou op ’n ongemaklike plek bykom met sy horings. Hulle sê dis hoekom ou Anneries nooit getrou het nie. Jy leer die grysbok in die kruppelbos ken. En die mooiste bokkie van almal: die bloubokkie van die ruie onderbos. So klein, so lig van voet dat jy selde sy stippelspoortjies kry, miskien iewers waar hy oor die dryfsand langs ’n stroompie is of oor ’n sandplek in ’n voetpad. Afgeslag, het hy maar ’n groot hoender se vleis en sy