“O, maar dit was pragtig,” sug sy. “Kan ek ok speel? Ek sal eers my hande gaan was. Ek kan speel, rêrig, ek weet hoe.”
Stien kyk twyfelend na Nols.
“Seblief?” vra Jannie mooi. “Stien, jy’t geblo.”
“Ja, ek het belowe,” erken Stien. “Nou toe dan, maar nie vir lank nie, hoor. Gaan was eers jou hande goed.”
Toe Jannie uitasem terugkom, vra Stien: “Watse bladmusiek soek jy?”
“Nee, niks, dis in my kop,” sê Jannie en skuif reg op die klavierstoeltjie.
Nols trek homself regopper en kreun hoorbaar. Hy is heilig op sy vleuelklavier, en hy haat dit as amateurs daarop probeer tokkel. Hoekom moet ek nog hieraan ook onderwerp word? wonder hy vies. Wat op aarde het Stien besiel …
Jannie leun effens vorentoe en val dan weg. Ná slegs enkele note sit Nols penorent, en Stien se oë rek. ’n Scarlatti-sonate, nogal!
Die begin is tentatief. Een of twee maal stop Jannie, klik met die tong en begin dan weer van voor af. Algaande neem haar selfvertroue toe en sy haak al hoe minder vas. Met ’n fyn aanslag gespeel … uitstekende tempo … elke noot helder en presies. Uiteindelik kom die sonate tot ’n einde en Stien gee applous.
“Hond-se-kierie,” sê Nols. “En jy is hoe oud?”
“Dertien,” antwoord Jannie.
“Wie’t vir jou geleer?”
“Señora Pizzetti. Renalda Pizzetti. Sy’t vir my les gegee van toe ek agt was tot … tot …”
“Tot jy kinderhuis toe is?” vra Stien.
“Ja. Sy’t naby ons in Woodstock gebly.”
“Sy’t nog tot so twaalf jaar gelede gesing, dan nie?” vra Nols. “Ek onthou haar Lucia in die Kunstekaap, een van die bestes ooit.”
“Sy’s mos in haar later jare getroud met ’n vreeslike ryk Italianer,” sê Stien. “So hoekom Woodstock? Ek bedoel …”
“Señora se man het bankrot gespeel,” vertel Jannie, “en daar was groot moeilikheid oor iets wat hy gedoen het. Het my ma gesê. Ek dink hy’s tronk toe en hy’s daar dood, en Señora en Roberto, dis nou haar seun, het in Woodstock kom bly. Sy gee musieklesse en hy’s ’n onderwyser. Hy’t my baie gehelp met my huiswerk. Maar ek het eerste vir Señora geleer ken.”
Dit was ’n lentedag in die jaar toe Jannie agt geword het. Ma Ellie wou winkelbrood hê vir toast en vroegoggend draf Jannie uit winkel toe met ’n mandjie en die geld. Die suidoos waai, maar nie sterk genoeg om ’n mens om te waai soos partykeer nie. Wit wolke gly oor Tafelberg en Duiwelspiek se hange. Vandag rook ou Van Hunks en die duiwel weer pyp, dink Jannie aan die storie wat ouma Nonnie altyd vertel.
In die vierkantige wit huisie op die hoek is iemand besig om klavier te speel, maar dis anders as wat Jannie al ooit gehoor het. Dis ongelooflik mooi, en sy vergeet skoon van die brood. Sy loop tot by die oop venster om beter te kan hoor, en versit nie weer ’n voet tot die musiek ophou nie. Toe moet sy vinnig skarrel om die brood te gaan koop.
Op pad terug sing die note van die lieflike tema steeds in haar kop, en later sing sy dit sommer hardop: “Lal lal lal lal lal laa laa …”
Sy sien nie die vrou raak wat by die venster staan en uitkyk nie. Maar die stem wat skielik opklink, kan sy nie ignoreer nie. Dis ’n stem wat ver dra en waarna geluister moet word, nes die skoolhoof s’n.
“Child! You, child! Come here, please!”
Jannie kyk om, maar sy sien niemand anders in die straat met wie die stem kan praat nie.
“Yes, you! Come here, please! To the door!”
Jannie loop skoorvoetend terug en klim die paar rooigeverfde treetjies na die voordeur toe. Wat is dit tog nou? wonder sy. Ek het mos niks verkeerd gedoen nie.
Die voordeur gaan oop en daar staan ’n vrou, statig, met ’n yslike bos swart hare, wit gestreep, en gitswart oë. Sy dra ’n swart rok met ’n helderbont sjaal om haar skouers.
“What is your name?” vra die stem wat ’n antwoord afdwing, of jy nou wil praat of nie.
“Jannie. Uhm, Jeanne. Jeanne Labuschagne.”
“You were singing.”
“Yes.”
“Who taught you to sing ‘The Trout’?”
“Excuse me?”
“You were singing ‘The Trout’. Who taught you that?”
“Nobody taught me, Ma’am. I was just singing what you were playing. When I came past … just now.”
“You heard me play it and now you are singing it?”
“Yes, Ma’am.”
Jannie voel ongemaklik. Die vrou laat dit klink asof sy iets gesteel het.
“How old are you?”
“Eight,” sê Jannie trots.
“Remarkable. Are you having music lessons?”
“No, Ma’am.”
“You must be taught. Exceptional voice. Remarkable ear. I shall call upon your parents. Where do you live?”
“Antie Fienie’s boarding house, in Lower Main Road.”
“Ah. I have seen it. I shall call.”
“We don’t … we can’t … my mother hasn’t …”
“If you can sing ‘The Trout’ after hearing it once, perfectly accurately and in tune, there will be no question of payment.”
Maar ouma Nonnie het gesê hulle vat nie iets vir niks nie, en Mrs Pizzetti kan doen met ’n hoenderpaai elke Maandag en ’n melktert elke Vrydag. Waarmee Señora Pizzetti betaal is vir musieklesse, vier dae per week. Selfs ná ouma Nonnie se dood het ma Ellie daarmee voortgegaan, tot sy nie meer kon nie. En Jannie het geleer klavier speel en sing. Gelukkig was daar ’n klavier in die losieshuis se sitkamer om op te oefen, want Señora was ’n veeleisende onderwyser.
“You will practise every day of your life, my dear. Every single day that the good Lord gives. Both piano and voice. You must promise me that. Promise me.”
“Yes, Ma’am.”
En Jannie het.
Конец ознакомительного фрагмента.
Текст предоставлен ООО «ЛитРес».
Прочитайте эту книгу целиком, купив полную легальную версию на ЛитРес.
Безопасно оплатить книгу можно банковской картой Visa, MasterCard, Maestro, со счета мобильного телефона, с платежного терминала, в салоне МТС или Связной, через PayPal, WebMoney, Яндекс.Деньги, QIWI Кошелек, бонусными картами или другим удобным Вам способом.