Toe sy bykom en haar ma herken, staan dié vuiste in die sye, neus teen neus met die jong vrou met die wit jas aan.
Ma Ellie vra: “Wat de hel bedoel jy, dokter? Watse … watse kak staan jy en praat?”
Die vrou lyk net so woedend, ligblou oë soos blokkies ys en wange rooi van kwaadgeit.
“Dit help nie om te vloek nie, mevrou. Ek sê wat ek sien. En wat ek sien, lyk vir my na kindermishandeling.”
“Kindermishandeling!” Ma Ellie se stem, wat kan dra bo ’n saal vol mense wat gesels of Stefaans se hele blaasorkes op Nuwejaar, weergalm teen die mure van die lang saal vol kinderbedjies. “Dis ’n … dis ’n … dit lieg jy! Jannie het geval in die speelpark! Kinders kom dit aldag oor! Verdomde wit vrou, sien ’n bruin kind wat seergekry het en jy dink sommer dis kindermishandeling!”
“Nie sommer nie, mevrou! Wat ek agter op hierdie kind se hempie gesien het, is twee groot, vet voetspore. Mansvoete. Rooi kolle op die ou ruggie wat gaan potblou word. Hierdie kind is vertrap – en gegooi, sê ek vir jou. ’n Kind val nie sommerso ’n skouer uit lit nie. Seker maar die kêrel wat nie sy hande kan tuishou nie. En jy knyp maar oë toe, jy wat die ma is. Jy behoort jou te skaam.”
Ma Ellie word moorkwaad. Dan praat sy sagter, maar elke woord is steeds duidelik hoorbaar. “Wie is jy om te kom skuld uitdeel as jy minder as niks weet nie? Oë toemaak, sê jy vir my. Wat weet jy van kind oppas? Wat weet jy van kind alleen grootmaak, van worrie en wakker lê, van kots opvee en koors afbring drieuur in die nag? Wat weet jy van sit in die stort se stoom met die kind sodat die kroep kan bedaar? Tot jyself nie kan asem kry nie en jou arms wil afval? Hierdie kind … hierdie kind, sê ek jou nou, die Here is my getuie, hierdie kind is gelief!” Sy buk vooroor na Jannie toe, lê haar kop langs haar op die trolliebed neer. “Hierdie kind is geliéf!” huil sy.
Dit het ’n lang man, ook in ’n wit jas, gekos om vir ma Ellie te kalmeer, en hý het geglo dit was ’n val van die slaaid af.
“Hierdie kind is gelief,” herhaal Jannie die woorde wat al baie kere gehelp het as niks anders wou help nie. Dit help ook nou vir die eensaamheid en die vreemdgeit.
Toe Stien later kom inloer, is sy vas aan die slaap.
Hoofstuk 3
HOND-SE-KIERIE, SÊ NOLS
Jannie en ma Kate sit by die ronde tafel in die kombuis, elkeen met ’n beker koffie. Ma Kate herinner Jannie aan ouma Nonnie, alhoewel sy jonger is as wat ouma Nonnie was. En sagter. Sagter en ronder.
“Nou waar kom hierie Jannie-naam vandaan, kind? Dis mos ’n jongetjie-naam,” vra ma Kate.
“Dit was my oupa,” sê Jannie. “Ek’t hom nie geken nie, hy’s dood toe ek twee was. Maar hy’t glo gesê watse Ingelse naam is Zjaan dan, dit klink vir hom soos iemand wat probeer John sê, kom ons noem die kind liewer Jannie. Toe bly sit dit.”
“O.” Ma Kate rol haar skouers. “Sjoe,” sê sy, “’n mens weet daarvan as jy dié huis deurgewerk het met ’n stofsuier. Groot kamers en lang gange.”
“Stien sê dis die ou pastorie hierie.”
“Dis reg, ja. Ek’t vir hulle ok gewerk, Meneer het my saam met die huis gekry.”
“Maar hoekom bly die dominee nie meer hier nie?”
“Hier issie meer ’n dominee nie. Net ’n Apostoliese pastoor, innie onderdorp. Die NG gemeente het te klein geraak.”
“O. Toe verkoop hulle die ou pastorie.”
“Ja. Sien, kindjie, die hele dorp is anie krimp. Mense trek weg en daar kom nie veel ander in nie. Af en toe altemit een wat aftree, soos Meneer. Of daai twee snaakse mannetjies wat die gastehuis begint het. Hier’s maar min werk.”
“Waarvan leef die mense dan?”
“Ou mense se pensioen. Een so ’n ou lady hou sommer ’n hele spul familie aan die gang. En pas kleinkinders op. Die ouers is óf weg stad toe óf hulle’s dood aan Aids. Disse plaag dié, wat oor hierie land gekom het. Soos een vannie plage oor Egipte.”
Jannie kyk af in haar koffiebeker. “My … my ma …” sê sy, maar kan nie verder praat verby die groot knop in haar keel nie.
Ma Kate kyk haar skerp aan. Dan sit sy haar hand, warm en effens skurf, oor Jannie s’n. Maar sy sê niks.
“Het … het ma Kate kinders?” vra Jannie hees.
“Ja, tweelingseuns. Gee my al my dae.” Al klink dit asof ma Kate kla, is haar roesbruin oë trots. “Maar skrander. En goed met die atletiek.”
“Ek ok,” sê Jannie.
“Hulle twee spring hoog. Wat doen jy?”
“Ekke kan vinnig hol, nog altyd. En by my nuwe skool in Goodwood is daar toe ’n coach. En vandat hy my afrig, begin ek wen.”
“Wat’s jou afstand?”
“Honderd meter. Coach sê ek’s reg gebou vir hardloop. Ek was maar altyd skaam vir my spykerbene en knopknieë, maar Coach sê knop is niks, dis aankap wat lol, of bakbene. En my voete issie plat nie, so ek trap reg. Ek moet net heeltyd oefen.”
“Dié Coach, hy’s seker kwaai mit julle?”
“Hy’s great. Maar boetie, as hy kwaad word …”
Dit was nie haar skuld nie. Dit was Draadborsel wat nie reg aangegee het nie. Wraggies aspris, dink Jannie, wat dit net-net regkry om nie die stokkie te laat val nie. Dit kos haar waardevolle sekondes voordat sy voluit kan voortstorm. In die eerste skof was hulle voor, maar Skille het agter geraak in die tweede skof, en daarna kon Draadborsel net een van hulle opponente inhaal. Nou, ná die vrot aangee, lê Jannie derde in die laaste skof van die aflos. Die interskoolgala se drie dirigente spoor die kinders aan om nog harder te sing, maar teen hierdie tyd is dit nie meer sang nie, dis een groot golf van lawaai wat oor die atlete spoel tot oor die naaste huise anderkant die heining.
Jannie fokus so hard dat sy horende doof geword het. Van die gille en fluite weet sy net mooi niks. Dis net sy en die baan en die meisiekinders voor haar. Daar’s ’n tou tussen ons, sê sy in haar kop, en ek rol hom op, ek trek hom in, al hoe stywer … al hoe korter … Ja! Ja! Verby! Nou die laaste een … katrol haar in … sy sallie wen nie, sy sallie, ek is die wind en ek waai verby …
Sy tref die lint ’n breukdeel van ’n sekonde voor die tweede naelloper, draf dan stadiger, snak na asem, buk vooroor en gooi op.
“Amper het julle dit weggesmyt! Nadat ons die aangee oor en oor en oor geoefen het!”
Coach is so woedend dat sy wange bewe, sien Jannie. Dan is dit doodsake, dit weet al die atlete goed.
“Ons het darem gewen,” waag Draadborsel dit.
“Maar hoe? Ek is glad nie tevrede nie! Die probleem is, daar’s nie vertroue tussen julle twee nie, Charmaine en Jeanne. Ek gee nie om wat julle storie is nie, maar julle los dit buite daai hek as julle atletiek kom doen! Verstaan ons mekaar? Verstaan ons mekaar mooi?”
“Ja, Coach.”
“Ja, Coach.”
“Ek wil kan reken op julle twee vir die WP Uitnodigingspele. Ek wil my nie skaam vir amateursfoute nie! Ons moet daai Beste Spanvertoning-beker bring, ek soek hom hier in ons kas! Is julle met my?”
“Ja, Coach.”
“Ja, Coach.”
Jannie kyk na ma Kate en sluk haar laaste koffie. “Al is Coach kwaai met ’n mens, hy sien jou darem raak.”