Ouma Nonnie lê baie stil. Jannie kyk af en toe na haar en merk op hoe vlak en heserig sy asemhaal. Onder die verbleikte flennienagrok lyk haar borste plat, so anders as die ferm voorstewe waarmee sy gewoonlik die wêreld aandurf. Ook haar hare is nie vanoggend in ’n bolla nie; ’n dun wit vlegseltjie hang slap oor haar een skouer. Teen die wit kussingsloop lyk haar gesig soos iets uit hout gekerf, dofbruin, met diep kepe soos die hale van ’n stomp mes weerskante van haar neus en mond. Dit laat Jannie aan ’n masker dink, en dis om van bang te raak.
“Ouma? Ouma Nonnie?”
Naderhand gaan Ouma se bruin oë stadig oop. “Ja, my kind?”
“Het Ouma nie … wil Ouma nie … is Ouma nie dalk honger nie?” Jannie kan nie onthou dat Ouma al brekfis gehad het nie.
Ouma Nonnie skud haar kop. “Nee, kind, ek is nie honger nie.”
“Maar Ouma’t nog niks gehad om te eet nie. Ek sal gaan haal.”
“Nou ja … wee’jy wat? Ek is darem lus vir ’n bietjie scramble mit tamatiesmoor. Mit net so ’n njitseltjie knoffel daarin, jy weet mos.”
“Ek sal vir Ouma gaan maak,” sê Jannie gretig. “Antie Fienie is weg mark toe.”
Jannie gaan kry vinnig alles bymekaar in antie Fienie se groot kombuis. Die antie hou nie daarvan dat die boarders vir hulleself kom kook nie, maar as sy hoor vir wie dit is, sal sy seker nie raas nie, want ouma Nonnie sit dikwels hand by in die kombuis. Eers die kookolie, dan die uie, dan die tamatie … bietjie knoffel, bietjie basilie … twee eiers, goed deurgeklop, maar nie skuim nie … sout, moenie vergeet nie … Stukkie toast daarby … die skinkbord netjies reggesit met die mes en vurk en die papierservetjie. So ja.
Ouma Nonnie kom met moeite orent teen die kussing. “Het my kind dit alles alleen gedoen en by die trap opgedra?”
“Ja, Ouma. Hier’s nog ’n kussing. Sit Ouma nou reg?”
“Dis goed so, dankie. Gee seblief my tanne aan, kind.”
Jannie is grillerig vir die glas met die swewende smaail, maar sy gee dit gedienstig aan. Ouma hap-hap ’n paar keer tot sy tevrede is.
Hoe moet dit voel om sonner tanne te wees? dink Jannie. Seker simpel. Maar dan liewer winkeltande as ’n glasoog, soos ou Johnnie in die onderste kamer op die hoek.
Ouma Nonnie druk die servet onder haar ken in en trek die skinkbord nader. Jannie sit in die rottangstoel en kyk tevrede hoe sy stadig alles op haar bord opeet.
“So, dit was lekker, kind. Nou wil Ouma slaap, hoor.”
“Ja, Ouma.”
Jannie vat die skinkbord ondertoe, was al die skottelgoed wat sy gebruik het, droog dit af en bêre dit. Nou het antie Fienie niks om oor te kla nie.
Sy loop weer saggies boontoe en loer by die kamer in. Dis heeltemal stil, net die radio wat rustige musiek speel. Ouma Nonnie het afgegly teen die kussings en lê effens skeef. Jannie loop nader om haar met die kussings te help. Dan besef sy meteens dat ouma Nonnie nie slaap nie. Haar oë is oop en dit lyk asof sy teen die plafon vaskyk. Maar sy haal nie meer asem nie.
“Ouma!” gil Jannie. “Ouma! Ouma Nonnieeee!”
Antie Fienie het net by die kombuis ingekom van die mark af. Sy hoor die nood in die kind se stem en stoom by die trap op so vinnig as wat haar swaar lyf dit toelaat. Sy het al so dikwels in haar lewe die dood aanskou dat sy met een kyk weet: die ou vrou is weg. Ai tog, dat die kind nou eerste op haar moes afkom!
“Waar’s jou ma, Jannie?”
“Skool toe, al weer ’n workshop,” snik Jannie. “Ek moes vir Ouma oppas. Ek het vir haar scramble gemaak, met tamatiesmoor … sy was lus … en ek het onthou van die suiker, lat die tamatie nie suur proe nie, en die knoffel …”
“Ja, my hartjie. Jy’t reg gedoen.”
Die lyk gaan nou pebliek na knoffel stink, dink antie Fienie, sy sal ’n plan moet maak. Bietjie van die ou vrou se English Lavender op haar uitgooi. Sal moet hulp kry om haar uit te lê. Sy hoop Ellie se begrafnisboekie is op datum. Ai, ai, ai. Antie Fienie druk Jannie styf teen haar bors vas.
Hoofstuk 2
HIERDIE KIND IS GELIEF
Die koms van die kind was vir Nols ’n verrassing. Nie alte aangenaam nie. Nero het hulle eerste gewaar. Hy lig skielik sy groot kop op en blaf. Dan staan hy op en draf stertswaaiend voordeur se kant toe.
Nols is nog volledig opgeneem in die musiek. Hy konsentreer op die uitvoering van Saint-Saëns se Orrelsimfonie wat hom teen ’n dawerende volume uit sy versigtig geplaaste luidsprekers omsingel. Viole, altviole en tjello’s het so pas die nuwe, vreedsamer tema ná die herhaling van die somber aanvangsmotief ingelei.
Hy verlustig hom in die ryk onderbou van orrelakkoorde. Alhoewel die orrelis – wie nou weer? – neig om die orkes plek-plek te wil oordonder. Dis verdomp nie ’n solo-instrument nie, nie in hierdie werk nie. “Sagter, my magtag, sagter!” skree Nols asof hy voor die orkes staan en ’n oefensessie lei. A, daar verbeter die balans, so ja, só moet dit wees. Die dirigent moes dit al eerder onder beheer gekry het.
Nols staan regop en beduie met ’n denkbeeldige dirigeerstok vir die orkes wat hy asof in lewende lywe voor hom sien. Maar dis nie lewende lywe hier voor jou nie, nè, ou pel? sê die smalende stem wat nog sy lewe lank in sy kop woon, hom deurentyd kritiseer, koggel, verkleineer en uitlag. Op hoërskool, toe hulle die gedigte van Eugène Marais behandel het, het Nols dadelik aanklank gevind by die gedig oor Skoppensboer. Ja, hy het verstaan dit gaan eintlik om die wete van sterflikheid, maar die beeld van daardie een wat als beloer en laaste lag – dit was ’n presiese beskrywing van die stem wat hom so gepla en gedryf het. Stilkry is min, maar deur uit te blink, deur sukses te behaal, kon hy darem die smalende innerlike kommentaar laat bedaar.
Sien nie meer kans vir lewende lywe nie, nè? Banggat. Staan nou soos ’n fool en swaai jou arms rond in jou sitkamer. Ag foei tog. Hoe zijn de helden gevallen.
Ek luister nie meer vir jou nie. Jy’s nie meer my baas nie. Ek’s afgetree, ek kan maak soos ek wil. Nols hou wrewelig vol met die magistrale gebare waarmee hy die denkbeeldige orkes voor hom lei.
Nero blaf weer.
“Is die mense hier? Ek het niks gehoor nie.”
Traag skakel Nols die musiek af. Hy het nie lus vir hierdie besoek van ’n vreemde kind nie. Wat het Stien tog nou weer besiel? Hy is lief vir dié susterskind van hom, maar sy het ’n manier om te wil inmeng in sake wat haar nie aangaan nie. Nou ja, Stien en ma Kate moet maar opsnork met die kind. Hy gaan nie kinderoppasser speel nie.
Hy maak die voordeur oop.
“Stien!”
“Nols!”
Sy het hom nog nooit as oom aangespreek nie. Sy gee hom ’n liefdevolle druk en hy ruik haar kenmerkende parfuum, iets met jasmyn in, en rose.
“En dis Jannie,” stel Stien die kind voor, wat oogknippend half agter haar skuil.
Nols kyk met groot verbasing na die koddige figuur: ’n maer bruin seuntjie met een bloupers toegeslane oog en ’n koperrooi borselkop in ’n blou sweetpakbaadjie en vaalgewaste jeans. Jene tog, maar Stien kan darem die vreemdste mense optower.
“Naand,” sê hy kortaf.
“Naand, meneer.”
“Moenie vir die hond bang wees nie,” sê Stien. “Dis ’n Ierse wolfhond, hulle is groot, maar hulle’s eintlik baie mensliewend.”
“Lyk meer na ’n jong perd,” sê die kind.
Stien beveel: “Nero! Sit! Gee poot!”
Nero gehoorsaam. Sittend is sy kop amper so hoog soos Jannie s’n. Hy steek ’n poot uit. Jannie lag klokhelder, en skud dan ewe beleef blad met die hond.