Karoo-Kantate
Marié Heese
Tafelberg
Hierdie storie
word met liefde opgedra aan
my kleinkinders,
Neil en Jean du Toit.
Vooraf
Sy wou nie baklei nie. Sy’t op haar tande gebyt en weggekyk en probeer om haar doof te hou. Maar dié oggend was die gekoggel net een keer te veel.
“K-k-k-k-k, g-g-g-g-g,” maak die flippen swartkopmeisiekind haar na. “Oe-eee-oe, oe-eee-oe. Aap-p-p aap-p-p aap, aap, aap.”
Die groepie kinders lag uitbundig en hop gebukkend om haar rond met bakarms en sleephande soos ape.
“K-k-k-k-k, g-g-g-g-g, oe-eee-oe,” hou die voorste hanswors aan met koggel. Sy roggel in haar keel asof sy ’n aanval kry. Dan skree sy: “Aap! Jy’s ’n aap! Mense maak nie sulke geluide nie!”
Meteens kan sy nie meer stilsit onder hierdie getart nie. Sy lanseer haarself van die trappie waarop sy gesit het en bestorm die swartkop, hard genoeg dat dié agteroor val dat sy hik. Nou’s hulle aanmekaar. Dis klappe en vuishoue en pluk en ruk en skop en trap. Die res van die groepie vorm ’n jillende kring. Stof slaan op van die speelgrond se dorre gruis.
“Vat haar, vat haar, gee haar gas!”
Dit word gou duidelik: nie almal is aan die swartkop se kant nie, noudat dit oorlog is. Nie almal sal spyt wees as sy ’n slag goed gesmeer word nie.
Hulle rol ’n paar keer om. So woedend is sy dat sy die oorhand kry en wydsbeen op die swartkop se maag sit met albei hande in dié se woeste dik boskaas geklem. ’n Wilde vuishou tref haar in die oog, maar sy skud net haar kop en gebruik haar greep op die hare om haar treiteraar se kop hard teen die grond te stamp.
Sy skree: “Ek oefen!” Stamp! “Ek oefen, en jy sal my nie keer nie!” Stamp, stamp! “Ek oefen, want ek’t geblo ek sal, en ek sal nie ophou nie! Dis ar-ti-ku-LA-sie!” Stamp op die LA! “OEfeninge!” Stamp op die OE!
Dit voel vir haar asof al die hartseer en al die swaarkry en al die kwaadgeit van die afgelope tyd hier voor haar in een mens kom sit het, en asof sy dit alles voor haar kan vermorsel en wegklap. “Jy soek my al lankal,” grom sy en pluk weer aan die swart hare. “Jy soek my, en jy’t my gekry!”
“Watchit, julle! Watchit!”
Die toeskouers het ’n naderende onderwyser gewaar. Gemaak doodluiters verdwyn hulle een-een in verskillende rigtings tussen die ander kinders op die speelgrond.
Die onderwyser aan diens gee met opset genoeg tyd vir die skuldiges om hulle uit die voete te maak. Soek nie nou, aan die einde van die kwartaal, onnodige drama nie. Buitendien is een van die bakleiers Coach se groot hoop op die 100 m-meisies onder veertien by volgende kwartaal se WP Uitnodigingspele. Nee wat, liewer maak soos die drie ape: Sien, hoor en spreek geen kwaad nie.
Die twee bakleiers steier vinnig orent. Hulle het meteens ’n gedeelde doel: om nie uitgevang en gestraf te word nie. Een skarrel kleedkamers toe. Die ander een sluip om die hoek.
Natuurlik het niemand iets gesien nie.
Hoofstuk 1
JANNIE LAPPIES KOM SAAM
Aanvanklik wou Stien nie regtig ’n kind gehad het nie. Dit het begin met Marcia, Stien se maatskaplike werker-vriendin wat dien op die beheerraad van ’n kinderhuis in Goodwood. Dié het al tevore probeer om Stien te oorreed om ’n kind uit te neem vir ’n paar dae.
“Net vir ’n naweek, of ’n kort vakansie,” het sy gesê. “Man, vat net een van die kinders wat altyd in die koshuis agterbly. Die meeste het darem pleegouers, of eie ouers wat hulle kom haal.”
“Eie ouers? Ek dog dis ’n weeshuis?”
“Lank nie al die kinders in die kinderhuis is regtig wesies nie, maar daar is redes hoekom hulle in die kinderhuis beland. Jy wil nie weet nie.”
“As ek een sou vat, moet dit ’n regtige wesie wees. Want sê nou ’n mens raak geheg aan die kind en dan moet jy hom teruggee vir die eie ouer?”
“Wat dikwels nie verdien om ’n kind te hê nie. Jy’t dalk ’n punt. Maar dink daaroor.”
Toe, op ’n dag na aan die einde van die derde kwartaal, bel Stien vir Marcia. “Hoor hier, ek’t toe tog besluit om ’n weeskind vir die vakansie te neem.”
“O ja? En hoekom nou skielik?”
“Man, ek gaan Van Stadensdorp toe vir die Septembervakansie. Gaan vir my afgetrede oom kuier. Ek dink ek moet ’n kind saamvat.”
“Is dit nou daai famous oom van jou? Die dirigent?”
“Dis hy, ja. Dis nou al vier jaar dat hy daar sit en al hoe eensamer en knorriger word. Ek wil hom ’n bietjie uit sy dop kry. Miskien kan ’n kind help dat hy minstens ’n slag of wat uit die huis uit kom.”
“En dié plan van jou het seker niks daarmee te doen dat jy uiteindelik met Riaan uitgemaak het nie?”
“Miskien het dit iets daarmee te doen, ja,” erken Stien. “Daar is seker ’n element van … nou ja, selfsug daarby.”
“Hoe jy dit drie jaar lank met daai wandelende ego uitgehou het, kon ek nooit verstaan nie.”
“Wel, dis nou verby. En ek gaan nie op ’n hoop sit en huil nie. Ek wil op iets anders fokus. Wat moet ek doen om ’n kind te kan uitneem?”
“Daar’s allerhande voorskrifte en voorwaardes, maar ek sal jou help.”
So gebeur dit dat Stien haar aanmeld by die matrone van die kinderhuis om die kind volgens afspraak te kom haal. Noudat sy werklik voor die matrone sit, voel sy skielik so ’n beklemming dat sy skaars kan asemhaal. Eintlik is die tehuis mooi versorg, die mure songeel, die gordyne gestreep met helder kleure. Daar staan oral blompotte vol vars blomme, elkeen op ’n gehekelde lappie. Maar die plek ruik na gebakte vis en Jik. Daar is iets onheilspellends aan dié kombinasie. Dis asof daar ten spyte van alle pogings om die plek te verfraai hartseer en swaarkry soos ou vlekke aan die mure kleef.
Die matrone, saaklik in ’n blou broekpak oor ’n wit rolnektrui, met ’n silwer borsspeld op die baadjie, is ’n mollige vrou met besonder mooi bruin oë.
“Nou ja, juffrou Terblanche,” sê sy, “al die admin is afgehandel, sien ek. Vorms, getuigskrifte, onderhoud … alles lyk in orde.”
“Baie rompslomp,” sê Stien met ’n sug.
“U weet, party kinderhuise sal net ’n getroude paar, gewoonlik met eie kinders, as vakansie-ouers aanvaar. Maar ons bestuur voel dat die sogenaamde kerngesin nie meer tipies is van ons samelewing nie, en ons aanvaar ander moontlikhede, soos uself en u oom.”
“Ek is bly.”
“U oom, Arnold Terblanche, is die beroemde dirigent, nie waar nie?”
“Ja, hy is. Maar afgetree.”
“Hy was ’n klompie jare gelede hier in Kaapstad ’n gasdirigent met die operaseisoen. Ek sing in ’n koor, ons was by die uitvoering van La Traviata. Ai, dit was te pragtig!”
“Bly om dit te hoor.”
“Het u ’n spesifieke kind in gedagte?”
“Ek soek ’n werklike weeskind,” sê Stien. “Wat regtig geen ouers het nie.”
“Ja, wel, ons het deesdae ongelukkig baie meer sulkes as tevore. Vigs-wesies, u weet?” Die vrou se donker oë is hartseer. “Ouderdom? Of maak dit nie saak nie?”
“Nie primêre skool nie. Ek is gewoond aan hoërskoolkinders. Ek gee musiek. Is hier dalk … dalk ’n kind wat lief is vir klassieke musiek?”
Dit was seker nou laf van my, dink Stien. Waar sou hierdie kinders aan ’n liefde vir klassieke musiek kom?
Maar Matrone het klaarblyklik reeds aan so iemand gedink. Sy tel