Sondag op 'n voëlplaas. Johann Nell. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Johann Nell
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Контркультура
Год издания: 0
isbn: 9780624064848
Скачать книгу
die eetkamer verskyn met ’n jonger bediende aan elke sy, almal in swart rokke met wit voorskote en bypassende kappies, stap sy triomfantelik in met ’n groot diepbord van silwer wat sy skouerhoogte dra, toegemaak met ’n koepelagtige deksel. Dit is versier met allerhande krulle en met gedraaide handvatsels en fyn silwerblaartjies en -druiwetrosse. In die middel van die tafel, reg voor ons, is ’n plek op die spierwit tafeldoek vir die bak gereserveer. Mavis sit dit trots neer, en toe sy oor die tafel strek, kan ek die sweetkolle onder haar arms sien uitslaan. Die ander twee diensmeisies het soos laatmiddagskaduwees teruggeval teen die lang muur van die eetvertrek. Hulle het stokstyf aan weerskante van ’n buffet gaan staan.

      By ons huis het Meisie sommer die kos op die kombuistafel neergesit en Ma het vir ons uit die potte en kastrolle geskep. En Meisie het nie ’n swart uniform met ’n wit kappie gedra nie. Som­mer elke dag daai ou blomrok van Ma. En as dit kouer was in die winter, ’n dik gebreide trui bo-oor, en onder om haar lyf ’n ou uit­gewasde handdoek gedraai.

      “Sjoe, maar julle het oulike meide,” sê Ma en kyk die drie bruin vroue van bo tot onder deur. Hulle verroer nie ’n oog nie. Ek en Pa kyk vir mekaar, maar sy oë is leeg.

      Die gasvrou lig die deksel met ’n dramatiese gebaar af na die wagtende hande van Mavis, wat dit aangee vir een van die donker standbeelde agter haar. ’n Enorme vleismes en vurk word terug aan­gegee en aangestuur na oom John.

      Voor ons lê ’n enorme stuk bruingebraaide vleis op ’n bed spier­wit rys, omraam deur ’n goue sirkel gebakte aartappels. Ons drie van Aalwynskop staar daarna asof dit die een of ander lewende ding is wat enige oomblik iets gaan doen.

      Oom John hou die groot vleismes in die lug. ’n Flitsende oomblik dink ek aan een van my leesboekies se prente: die bloeddorstige reus in Jan en die boontjierank, net voor hy die arme seuntjie wil verorber. Ek skrik my boeglam toe ek van die mes en vurk opkyk in oom John se gesig, want op daardie oomblik knik hy vir my, asof hy sê: Hou my dop.

      Hy plant die vurk aan die een kant van die stuk vleis in en hark die hele bord nader met die mes wat in die ander kant ingesteek is. “Só moet ’n volstruisboud mos lyk,” bulder hy, ’n speelse glimlag om sy mond. Sy oë is weer op my, en ek skuif ongemaklik rond.

      Stilte.

      Dan lag Ma hardop. Almal kyk haar vreemd aan, en ek spring op, vra saggies in Ma se oor of ek vinnig die badkamer kan gebruik. Voor tannie Bruwer vir Mavis kan vra om my die pad te beduie, is ek reeds uit. Ek hardloop in die gang af, verby die gastetoilet, en swaai by die groot studeerkamer met sy duisende boeke in.

      Kwalik ’n minuut later het my vinger die woorde in een van die volumes van die Britannica gevind. Brussels sprouts: small cabbage belonging to the mustard family (Brassica oleracea variety gem­mifera), widely grown in Europe (as early as 1200 in Belgium) and the United States.

      My hart bons opgewonde. Ek wil nog verder lees, maar twee bruin arms vanuit nêrens vat die boek uit my hande. Ek het haar nie eens hoor inkom nie.

      Mavis maak die boek saggies toe en sit dit terug op die rak. Ek bly versteen staan. Sy kyk my vierkant in die oë en sê: “Jou kos word koud.”

      Toe weet ek, net aan haar manier van kyk: Sý weet dat ek die vorige keer ook in Sterling Gold se studeerkamer was.

      Aalwynskop. Sondagaand. Stiltetyd in my kamer. Die volstruis is ’n onrein dier. Van hulle vleis mag julle nie eet nie. Deuteronomium 14:15.

      Ek het in die toilet gaan opgooi.

      Nie lank daarna nie het die plukseisoen begin.

      11

      ’n Eienaardige man het saam met mister Pocock en Manus le Roux van die koöperasie op Oudtshoorn gekom om die vere te inspekteer – ’n maer en verpoepte bleeksiel met bloedrooi wange, blink pikswart hare en ’n bypassende blinkswart snorretjie. Ronde brilletjie. ’n Volwasse Harry Potter, sy tyd twintig jaar vooruit. Hy het gebroke Engels met ’n bykans onverstaanbare swaar aksent gepraat. Daar hoor ek toe die eerste keer hoe ’n Fransman klink, monsieur Didier Roussel. Het die bruin volk nie vir pa ook “my seur” genoem nie?

      Onmiddellik het die vreemdheid van sy voorkoms, die klanke van sy onuitspreekbare naam en die feit dat hy verbonde was aan die Moulin Rouge in Frankryk my belangstelling geprikkel. Ek het my verkyk aan die man met die netjiese donker pak en rooibruin leerskoene. Hy het ’n spierwit hemp met ’n snaakse ronde kragie aangehad en daarby ’n rooi kolletjiesdas. Hy het ietwat ontuis gelyk tussen die droë stof van die plaas en die bondels volstruisvere in die stoor, maar ek kon sien hy het presies geweet waarna hy op soek is.

      Intussen het oom John ook aangekom van Sterling Gold af. Hoe Pa en oom John saam in hierdie ding was, het ek nie goed verstaan nie. Ek kon aflei dat daar tussen die twee buurplase ’n voldoende hoeveelheid volstruisvere vir die transaksie was en dat alles op ’n vyftig-vyftig-basis sou geskied.

      Die geplukte vere het in netjiese rye gereed in die plukstoor gehang; soldate op aandag vir ’n groot inspeksie. Pa was senuag­tig, want die hele transaksie het daarvan afgehang of die manne­tjie tevrede gaan wees met wat hy sien. Ek kon egter sien dat die moeilike kommunikasie tussen Pa en mister Fransman die eintlike struikelblok was, en nie noodwendig die gehalte van Pa se vere-oes nie.

      Nadat al die grootmense eers in die huis by Ma tee gedrink het, is almal op stoor toe. En ek soos ’n stertjie agterna. Pa, oom John en Le Roux het voor geloop. Hulle het oor ditjies en datjies gepraat; meestal oor die reën wat nou al maande wegbly. Mister Pocock en mister Fransman agter hulle. Ek kon hoor dat hulle Frans met mekaar praat, die eerste keer in my lewe dat ek dié taal op eie bodem hoor. Iewers in die verlede het ek op ’n radioverhaal of êrens gehoor dat iets soos mêrsie “dankie” in Afrikaans is. Dié dag het ek dié woord, en ’n paar ander ook, herhaaldelik in hulle gesprekke gehoor, maar geen idee van die konteks daarvan gehad nie. As ek nou ná jare terugdink aan daardie dag, besef ek dat mister Pocock ook maar net ’n basiese Franse gesprek kon voer – genoeg om, saam met oordrewe handgebare, te verstaan wat die Fransman te sê gehad het. Daardie vreemde woorde het soos sagte nuwe jong donsies op my ore geval.

      In die stoor het duisende vere onderstebo in bondels van tien pond elk gehang. Parcels. Ry op ry het die wit pluime saggies in die lug gewieg. Ek moet sê, dit was ’n fantastiese gesig. Dit het soos ’n wit wolkemassa oor die Karoo se hoogste berge gelyk, net voor ’n donderstorm uitsak. Ek het ’n opgewondenheid in my binneste ervaar wat ek nie kon beskryf nie. Toe die plukseisoen twee weke vroeër begin het, het die werkers hope vuil, vaal en verlepte vere van die plukhokke af ingedra. Die vere is daarna gewas, geborsel en gekook. Hiervoor het Pa ’n spesiale span werkers aangestel. Al die vere moes wit wees, en daarom is hulle nie gekleur nie. Nou het die vere trots, skoon en sneeuwit gewas daar gehang. Uitgepof, asof hulle hul spiere wou wys.

      Mister Pocock en Le Roux het elk ’n bondel vere van een van die hangrakke afgehaal, losgemaak en op die sorteertafel uitgesprei. Le Roux was die ekspert. Ek kon nie dink dat mister Pocock veel van vere geweet het nie, maar dit was in elk geval nie sy taak om daaroor uitspraak te lewer nie. Hy het bloot aan Pa en oom John probeer oordra wat die Fransman te sê gehad het.

      Meneer Fransman was oënskynlik beïndruk met wat hy gesien het. Mister Pocock het aan monsieur Roussel probeer verduidelik dat Le Roux die veerlot as van hoogstaande kwaliteit beskou. Vir die Fransman was veergrootte belangrik. Hy was op die uitkyk na vere wat lekker breed was, waarvan die fatsoen van die veerskouers perfek gevorm was, en dan moes die sagtheid en glans ook op standaard wees. Dit was sy vereistes vir die Moulin Rouge. Die vere se lengte was buitengewoon goed en daarom is ons vere bestempel as van uitstaande gehalte. Die Fransman het alles wat hy wou hê hier gevind. Pa en oom John het in hulle skik gelyk met sy observasies.

      Mister Pocock, Le Roux en die rooiwangman het nog ’n wyle met mekaar woorde gewissel, terwyl hulle die vere oor en oor be­kyk het, dit heen en weer geswaai en saggies daaroor gestreel het. Ek kon hoor hulle sê: “Oui, oui!” Pa en oom John het onderlangs vir mekaar gekyk. Wat whie-whie die manne so?

      “Wat sê die mannetjie?” het oom John eenkant vir mister Pocock gevra, maar vir die Fransman geglimlag.

      Mister