Dis die windpomp.
My oë dans oor die woorde. Windpomp? Nee, dis nie ’n windpomp nie. Dis ’n windmeul! ’n Windmeul bo-op ’n huisie. Dít was die rooi windmeul van die vieslike kroeg in Parys. Ek lees die inskrywing met ingehoue asem: Moulin Rouge: Also known as the Red Mill.
Moulin Rouge.
Die rooi meul.
Ek het verwonderd gestaan en die ontdekking laat insink.
’n Deur het ver geklap en my teruggeruk na die hede. Ek het die boek vinnig toegemaak en noukeurig op sy plek tussen die ander ingeskuif.
Met my eerste tree in die gang af, kom Mavis van onder af aan. “Is jy klaar?”
“Ja, ek is klaar, koebaai.”
Ek vlieg by die deur uit in die helder sonlig in. My oë op skrefies teen die skerp lig.
Mavis het die voordeur vir my oopgehou terwyl sy my agterdogtig nastaar. Ek het daar uitgesweef. Die fiets onder my het gekraak soos ek trap. ’n Duif in die grondpad het woes opgevlieg toe ek verbykom en hom amper raakry met my voorwiel.
Moulin Rouge. Die rooi meul! Die Moulin Rouge was die rooi meul!
Die wêreld was meteens ’n groter plek.
9
Ons het gehoor dat Andri, op haar pa se instruksies, vakansies met die plaaswerk begin help het. Toe ek haar by die skool daaroor vra sê sy ja, sy kan nie wag dat die skool moet klaarkry sodat sy op die plaas kan gaan help nie. Soggens, wanneer die skaduwees van die Swartberge nog uitgestrek en koud oor die plaas gelê het, was sy al in die hoenderhokke besig. Eers die hek oopmaak sodat die hoenders uit die hokke kan uit om in die toegespande erf te skrop. Dan die eiers onder uit die houtkassies uithaal. Versigtig op skoon strooi in die groot kombuismandjie gepak. Nuwe, vars water in die drinkbakke skink. Daarna die mielies en saad meng om vir die pikkende hoenders op die werf uit te strooi. Sy het die hele storie een pouse aan my verduidelik.
Later het haar pa vir haar groter en meer verantwoordelike take begin gee. Andri kon die volk in die groot volstruiskampe gaan help om die ivoorkleurige eiers te tel. Partykeer tot vyftien in ’n nes onder die driehoekhutjies. En, omdat sy van kleins af al geweet het dat ’n volstruiseier sterk genoeg is om ’n volwasse mens se gewig te dra, het sy soms een mooi eier uitgekies wanneer hulle in die kampe besig was. Hierdie eier het sy dan ’n ent van die nes die veld in gedra en op ’n gelyk stukkie grond neergesit.
“Kyk, ek staan op ’n eier!” roep sy dan uit, met haar hande skouerhoogte uitgestrek, met albei voete op die eier balanseer sy. Die volk wat naby gewerk het, het aan die begin hande geklap en deur tandelose kake gefluit, maar later het dit ou nuus geword. Die eiertoertjie was maar iets wat sy vir haarself en die oop ruimtes gedoen het, sonder toeskouers. By die skool het sy my altyd vertel van haar toertjies op die volstruiseiers. Dit was iets wat ek beslis nie sou doen nie. Ek was te bang vir daai kwaai mannetjiesvolstruise wat met hul nek soos ’n giftige slang en blaasbek na ’n mens aangestorm kom as jy net naby die kamp verbyloop.
Jester het haar glo ook soms van ’n afstand af dopgehou, maar nooit sy voet in die volstruiskamp gesit nie. Andri het my self vertel dat Jester se ma hom eendag in die heel boonste kamp opgemerk het, die verste een van die huis, waar hy sit en hande klap het vir Andri wat op ’n volstruiseier staan. Mieta het hom daardie aand ná werk langs die strooise se buitetoilet gegryp. Die arme Jester het eers gedink sy maak ’n grap. Maar toe die eerste houe met haar kaal hand op sy kaal boude val, het hy sy mamma deur al die taai snot en trane plegtig belowe, ook voor die Heretjie in die hemel, dat hy nooit ooit weer in ’n volstruiskamp sal ingaan nie. As daai voël jou trap, bly net jou harsings teen die grond sit.
“Waar het jy dit gehoor?” het ek Andri gevra.
“Mieta het dit self vir Mamma kom vertel.”
En toe sy dit sê, was ek spyt dat Jester se ma hom nie harder geslaan het nie. Vir wat sal hy ook maak soos wat Andri maak?
Andri het my ook vertel dat sy een oggend saam met Jester in die hoenderhokke besig was om die hoendereiers versigtig in die rottangmandjie vir die kombuis te pak toe Jester skielik een van die eiers op die grond gesit het. Andri het hom verbaas aangekyk. “Wat maak jy nou?”
“Kyk hier,” sê hy. Andri staan toe opgewonde nader, want sy het gedink hy wil haar iets wys.
“Ek kan ook op ’n eier dans,” sê Jester. En voor Andri nader kon kom, sit hy sy voet op die eier. En toe die ander voet. Kraak! Onder sy voete spat ’n geel, slymerige gemors.
Andri het geskok nader gestorm. “Is jy dom, jou stupid?” skree sy. “Dis ’n hoendereier! Dis nie ’n volstruiseier nie.”
Jester het verleë eenkant toe geval toe Andri hom hard wegstamp. Sy het by die platgetrapte eier gebuk, asof sy dit wil optel om weer aanmekaar te sit. Onder haar hande het die slymerige eierdop in honderde stukkies in die grond ingetrap gelê.
Sy het woedend na hom opgekyk. “Voertsek! Voertsek hier by my eiers. Lóóp!” Sy het hom aangekyk totdat hy wegdraai en by die hekkie uit is. Toe skree sy weer vir hom: “Jy kom nooit weer naby my hoenders of eiers nie! Hoor jy my, klong? Nooit nie!”
Ek weet nou nie meer hoeveel van my herinneringe verbeelding is en wat daarvan regtig so gebeur het nie. Dit is egter hoe dit in my kop leef en al hoe ek dit kan onthou. Ek sien byvoorbeeld helder voor my hoe Andri een middag weer bo-op ’n eier in haar eie wêreld verlore raak. Die sonbesies het oorverdowend in die geel doringbome gesing. Plek-plek het dwarrelwindjies stof die lug ingetrek. Sy het probeer om, met haar tone klouend aan die ovaalvormige dop, die eier al in die rondte te laat tol deur haar bolyf hard met haar arms om te swaai. ’n Mal dansie bo-op ’n volstruiseier. Sy het haar oë styf toegeknyp en haar gesig in die warm Karooson ingedraai.
Draai-draai-draaaaaaai op die eier. Dan weer anderkant toe.
Draai-draai-draaaaaaai.
Onder haar voete het die eier ook gedans. As sy dan haar oë oopmaak, was alles pikswart om haar. Verblind deur die helder son en dronk gedraai.
Sy het eers gehoor dat die volk histeries skree toe ’n harde hou haar reg van agter teen die rug tref. “Daai voël! Pasop daai voël!” was al wat Pietman kon uitkry, hy was een van Dawid se voormanne.
Andri het met ’n slag in die harde stof ingeduik. Haar kop het die grond eerste getref.
“Bly op die grond!” het Pietman vir haar geskreeu. “Moenie opstaan nie … bly plat lê!”
En toe was die pikswart mannetjiesvoël bo-op haar. Die klou aan sy regterpoot se toon, ’n vlymskerp prehistoriese lem, het haar rug oopgekloof. Dit het gelyk of hy bo-op die klein bondeltjie dans soos hy trap-trap met sy rooi slangvelbene. Die swart-en-wit vlerkpluime aan weerskante van sy lyf het ’n asvaal wolk hoog die lug in opgestuur. Die volstruis se klein kop het op en af geruk op die lang dun grys nek, die eend-bek hap-hap en klap-klap, sy groot ronde oë oopgesper.
Pietman kon die vinnigste by haar uitkom en het die gedierte met ’n doringtak verwilder. Die volstruis het weggespring, maar Pietman nog ’n keer bestorm; knoppiesvelbene al trappend hoog in die lug en ’n slanggeluid uit sy keel.
Pietman het Andri van die grond opgeraap. Daar was oral bloed. Hy het met die kind, hangend in sy arms, na die hekkie aan die onderkant van die kamp gehardloop. “Gaan roep die baas!” het hy vir een van die kleinvolk geskreeu. Buite die kamp het hy haar op haar maag op die dik gras neergelê. Haar hempie aan die agterkant was aan flarde getrap, en onder die lap kon hy die helderrooi bloed in lang strepe uit haar rug sien sypel.
Emily het die paniekgeroep uit die kombuis gehoor en gesien hoe Pietman met die kind in sy arms aangehardloop kom. Een van die kinders het Dawid agter die lusernbaler in die stoor gaan roep.
Dawid en Emily het tegelykertyd by die toneel aangehardloop gekom. Emily het met ’n gil gebuk