Sondag op 'n voëlplaas. Johann Nell. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Johann Nell
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Контркультура
Год издания: 0
isbn: 9780624064848
Скачать книгу
bleddie eierkop! Kan hy nie kyk waar ek is nie?

      “Eina, fokkit.” Die wolmus val agter hom op die grond.

      Andri kom tussen ons staan. Sy het nie gehoor wat hy sê nie, maar gryp hom met een beweging aan sy trui se kraag en ruk hom aan sy bors vorentoe. Hulle neuse raak feitlik aan mekaar.

      “My kop!”

      “Luister, klipkop,” fluister sy in Jester se gesig.

      Hy wil huil, lyk dit, maar hy sluk-sluk en kyk Andri vas in die gesig.

      “As jy één woord sê van vandag maak ek jou dood …”

      Hulle kyk mekaar in stilte aan. Hy verstaan niks. Sy wag op ’n antwoord.

      “Hoor jy my, klein strontgat?”

      Jester kyk haar onbegrypend aan. Sy het hom nog steeds aan die trui beet. Haar gesig is so naby dat dit vir hom seker uit fokus is. Sien hy ook net die dowwe blou van haar oë en ruik hy ook die soet asem deur haar saamgeperste lippe? Ek het haar nog nooit só hoor praat nie. En dit lyk dan amper of hulle lippe aan mekaar gaan raak.

      Dan praat Jester: “Ja, kleinmies,” sê hy.

      Andri los sy trui en stamp hom vies agtertoe sodat hy struikel en byna val.

      “Nou toe,” raas sy, “bly by my.” Sy draai vorentoe, maar swaai dan dadelik weer om na hom. “Ek is nie jou kleinmies nie!”

      Hy gooi die stok in sy hand eenkant toe en ’n verskrikte tortel­duifie fladder van agter die groot klippe op en vlieg met ’n luide vlerkslag oor ons koppe weg. Andri kyk die voël agterna, sug en sê: “Nou is alles bederf. Kom ons gaan terug.”

      6

      Ek was in standerd 5 toe ek tot die hemelse besef gekom het dat ons plasie aan die bopunt van die Kangovallei net ’n stippeltjie op ’n groot en uitgestrekte wêreldkaart was. Anderkant die heinings van ons volstruiskampies, verby die see van Mosselbaai na die suide en oor die pers Swartberge na die noorde, is daar ’n groot wêreld en baie ander mense.

      Dit was die jaar toe Pa vir my en Ma na ’n konsert in die Kango­grotte gevat het. Ipi Tombi in die Van Zylsaal. Vir die eerste keer het ek kennis gemaak met Afrika-musiek. Die ritme van die dans, tromme en voetestamp.

      Ek kon nie verstaan waarom die skouspel nie in die dorp se burger­sentrum aangebied is nie. Daar was ’n verhoog, met gordyne wat oop en toe kan sak. Daar was ’n orkesput vir die musikante. Daar was sitplekke in netjiese rye. Pa sê toe vir my die grotte is meer aards en eie aan die Afrika-mentaliteit. Hierdie soort ding het dus eerder tuisgehoort onder in die diep, donker grotte van die Swart­berge. En dit was vir my verstommend dat soveel van die wit mense van al die dorpe in die streek en die omliggende plase spe­siaal grotte toe gery het om daar na die vertoning te kyk.

      Dit was ook die jaar dat dit opgehou reën het. In ons klein­wêreld­se bestaantjie het ek telkens gehoor dat Pa-hulle van die droogte praat en dat daar moeilikheid aan die kom was. Maar vir my was dit iets onwerkliks. Daar was steeds water in die riviertjie, alhoewel die stroompie al hoe kleiner geword het. Daar was altyd water in die krane en ek kon nie verstaan waarom mense bekommerd oor die droë aarde was nie. In hierdie stadium van my lewe was dit vir my belangriker om die wêreld buite die grense van die Kangovallei te ontdek. Ander wêrelde, uitheemse mense waarvan ek nog nooit gehoor het nie, mense wat onverstaanbare tale praat en in eksotiese lande ver oor die see woon. Hoe onverstaanbaarder die tale, hoe groter was die bekoring vir my. Frans was nie meer net Pa se voor­man op die plaas nie, dit was ook die taal wat die Franse in Frank­ryk praat.

      Frans. Frans. Frans.

      Dit het in my kop kom vassteek. Frankryk. Die Franse Hugenote. Franse Revolusie. Ons het van hierdie goed in die geskiedenis­klas begin leer. In die nag in my bed het ek oor woorde en sinne en klanke lê en dink. Los woorde het soos pêrels aan ’n string kom hang en ek het besef dat eenkantdinge onderling aan mekaar ver­bind is.

      “Frans, Frans, Frans,” sou ek oor en oor in my kop dreunsing. Tot­dat daardie doodgewone bruin voorman se doodgewone naam so eksoties en boheems geklink het dat ek my verbeel het ek leef self in ’n wêreld ver weg van die hitte en volstruise en bruin mense en skool en huiswerk en koshuis en tabaklande.

      Wat is ’n Franse horing?

      Dié onbekende wêreld het mettertyd voor my begin oopvou. Franse sjampanje. Die wyn met die borrels wat die ryk Bruwers in oorvloed gedrink het op hulle uitspattige partytjies wanneer dit in daai ronde oop glase geskink word dat die skuim soos warm bier oorloop. Natuurlik! Dis die wyn van Frankryk in die dik groen bottels waarvan die prop met ’n klapgeluid afskiet en almal dan hande klap en die vrouens ligte gilletjies gee. Sou dit ook so eksoties proe?

      Frans se wyn was iets anders. Dit was daardie cheap hanepoot­gemors (Ma het dit só genoem) wat soos sterk pie lyk in die plastiek­bottels met die skroefdoppe. Pa het dit altyd van die dorp af gebring. Dan bêre hy dit in die toesluitkas agter die kombuisdeur en skink dit Vrydae vrygewig in blikbekers vir die volk.

      Een sluk en laat hy val waar hy wil!

      Dankie, my ta!

      Lekker, my baas.

      My grootbaas.

      My koning.

      En Franschhoek? Dit is ’n dorp! Soos Schoemanshoek. ’n Plek wat regtig in Suid-Afrika bestaan. Naby die Kaap. Wynland. Druiwe­land. Ver land.

      En die Engelse ekwivalent van Frans is “French”. Meteens het dié woord ook iewers sy lê kom kry, vanuit my geskiedenisboek het dit uitgespring, die naam by ’n dowwe swart-en-wit foto: Hendrik Frensch Verwoerd. Die vader van apartheid, het ek my pa hoor sê in gesprekke met bure en vriende. Frensch, die argitek van apartheid.

      Argitek? Het hy dit dan op papier geteken?

      Ek het weer en weer in my geskiedenisboek gaan blaai, maar kon niks daar lees dat hy die vader van enigiets was nie. Ek wonder waar Pa dit gehoor het?

      My een klasmaat in standerd 5 se pa was ’n argitek. Ek het een­keer by hulle huis gesien hoe hy huisplanne met potlode en liniale op ’n groot stuk papier teken. Argitek.

      Ek het vir Ma gevra oor Verwoerd. Waar het Pa gehoor dat hy die vader of argitek of wat ook al was van apartheid?

      Hy is sewe jaar vroeër in die parlement deur ’n mal kommunis met ’n mes doodgesteek, het Ma gesê.

      Hendrik Frensch Verwoerd. Ek het niks verder verstaan nie, net die mooie naam onthou. Wat ’n lekker vreemde naam, ’n mengsel van Engels en Afrikaans en Hollands deurmekaar. Dalk sal ek ook eendag my seun Frensch noem.

      Ons volstruise het daai jaar mooi gelyk. Die mannetjies met hulle dik wit pluime het soos pronkstukke op ’n wapenskild teen die Swartberge uitgestaan. Ek onthou hoe Pa een aand, net voordat ’n helse donderstorm hoog bo in die berge ’n stortvloed water in die spruit langs ons huis laat afkom het, opgewonde vir Ma vertel het van Parys. Frankryk, het Pa bygevoeg, ingeval Ma dit sou verwar met verlangse familie van die Vrystaat.

      Pa het ’n eenbladsy-brief, getik en in Engels, uit ’n langwerpige geel koevert gehaal. Die stempel op die enkele uitheemse seël het duidelik gewys dat die brief van oorsee aangekom het. Dit was geadresseer aan Mister Pocock, Pa se prokureur op die dorp; die adres dié van die Klein-Karoo Boerevereniging op Oudtshoorn, en hulle het die brief aangestuur na Pa se prokureur.

      Pa het die geel bladsy versigtig op die eetkamertafel oopgevou. Ons al drie het gebukkend bo-oor die brief staan en kyk. In die mooiste rooi krulle wat ek nog gesien het, met aan die bokant ’n prentjie van ’n windpomp op ’n huisie afgedruk, kon ek die letters boaan die brief uitmaak:

      M O U L I N R O U G E

      Ek het geen idee gehad wat dit beteken nie, maar my op­ge­wondenheid is later gedemp toe Ma vertel dis ’n vieslike kroeg in Parys waar meisies topless dans. Die woord “topless” was vir my net so vreemd soos die brief se opskrif, maar ek wou nie vra wat dit beteken nie. Dit het geklink soos ’n woord wat die mechanic van die dorp gebruik