Sondag op 'n voëlplaas. Johann Nell. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Johann Nell
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Контркультура
Год издания: 0
isbn: 9780624064848
Скачать книгу
vieslike kroeg waarvan ek geweet het, was die een wat uitloop op die stoep van die Criterion Hotel op die dorp. Ek het gehoor mense praat daarvan as ’n smerige hool waar die suiplappe van die dorp uithang.

      Uithang?

      In my kop het ek dan ’n prentjie gesien van die kroeg met ’n oop swaaideur en vensters waaruit al die dronk mans na buite hang en op die verbygangers skree en vloek.

      Die pad van die plaas het reguit voor die hotel verbygeloop en in die dorp by Hoogstraat aangesluit. Eers het dit my nie opgeval nie, tot Ma op ’n dag na die karre voor die hotel gekyk het en vir Pa sê: “Daar staan ou Kolie se kar al weer.” Ek het nie regtig geweet wat dit beteken nie, en ek het ook nie uitgevra nie. Dit het vir my geklink Ma bedoel dat die kar maar altyd daar staan omdat dit stukkend is en nie verder kan ry nie.

      Dorpsmense het die kroeg die Kraai genoem. Vir my was dit ’n heeltemal onbekende wêreld, seker omdat ons nooit soontoe gegaan het nie, of dat my pa min belangstelling in die dorp gehad het. Pa was maar altyd net op pad prokureur toe of vinnig by die bank in vir sake.

      Die Kraai.

      Daar was geen verband vir my tussen die vieslike kroeg en ’n voëlnaam nie. Eers nadat ek die soveelste keer die uithangbord se letters met die verbyry een vir een uitgespel het, het ek die kloutjie by die oor gekry: Met ’n snaakse opwinding in my binneste het ek besef dat ek hierdie woord kon uitwerk as ’n afkorting vir Criterion.

      Een van my klasmaats, Hennie, se pa het blykbaar gereeld Sater­dag­middae daar gekuier. Hennie se ouer broer, wat by die stasie gewerk het, moes hom glo elke keer met ’n gevloek en geskel daar gaan uitsleep en op die agterste sitplek van hulle Cortina huis toe aanry. Hennie was gewoonlik nie Maandae by die skool nie, want dan was sy ma siek en moes hy haar oppas. Seker daai vieslike plek se skuld.

      Die brief was ’n uitnodiging dat Pa van sy beste volstruisvere via die boerevereniging na Parys moes stuur. Die prys was blykbaar die hoogste wat vere nog behaal het, want die kroeg in Frankryk het die bestegehalte-volstruisvere benodig om rokke, versierings en hooftooisels te maak vir die dansers. Dis wat die brief min of meer gesê het – head gear het daar gestaan.

      Ek kon tóé eers snap dat die meisies waarvan Ma gepraat het natuurlik kaalkop was en daarom head gear nodig gehad om hulle topless koppe te bedek. Ek kon nie verstaan waarom hulle nie hoede of so iets gedra het nie. Of pruike? Of kopdoeke, soos die bruin vroue op ons plaas. Ek het al gesien as Meisie, ons kombuisvrou, se kleintjie op haar rug dit per ongeluk aftrek, dan was sy ook kaalkop. Nou hoe dan vere? Om konsert mee te hou?

      Al wat ek van volstruisvere geweet het, was dat die vertraagde kinders van die nasorgsentrum op die dorp stoffers daarvan ge­maak het. Vere op rietstokke. Langes en kortes. En in elke kleur denk­baar: turkoois, helderpienk, blou, grys, rooi en geel. Of as die vere baie mooi skitterwit en groot was, het die mense van die dorp en omgewing dit met troues voor op die ster van ’n Mercedes vas­gemaak om die bruide kerk toe aan te ry.

      Hoekom ’n mens vere op jou topless kop sou wou dra, was vir my onverstaanbaar. Maar soos dit vir my gelyk het, was Frankryk ’n heerlik boheemse wêreld waar enigiets moontlik was. ’n Plek waar topless meisies in ’n vieslike kroeg met ’n onuitspreekbare naam volstruisvere op hulle koppe dra.

      En dit sou óns voëls se vere wees!

      7

      “Ekke gaan vir julle konsert hou.”

      Uit die bloute sê Jester dit, en ek en Andri kyk hom aan. Konsert?

      “Dja, Mêrrim! Dja, Kleinbaas!” Hy sê dit met sulke rollende erre en ’n vreemde aksent. “En djulle gat djulle gatte af lag vi my.”

      Hy maak ’n buiginkie met sy bolyf, die een arm oor sy maag ge­vou, die ander arm agter sy rug ingevou. Sy wange bol, asof hy iets inhou, iets wat wil uitspring.

      Wat nou? dink ek en kyk vir Andri. Sy sit hom ook so en kyk, so asof sy hom die eerste keer raaksien.

      Jester maak ons sit aan die agterkant van die afdak waar die lusernbale tot teen die sinkplate opgestapel staan. Dit ruik na hooi en beesmis en lusern en hoenderkos – alles deurmekaar in een heerlike mengsel wat vir my die reuk van die plaas is. In die verte dreun ’n trekker en klink die beeste se gebulk op.

      Ons sien nou Jester het twee bale voor op die grond langs mekaar gepak. Die verhoog. Op ’n ander baal, eenkant, sit ek en Andri. Die gehoor.

      Toe hy sien dat ons gereed is, maak hy sy oë toe en haal diep asem. “Damus en djeure …!” sê hy en die reënboogmus op sy kop bewe soos hy die woorde uitspoeg.

      “Appels en pere!” roep Andri en klap haar hande asof sy iets gaan kry.

      Jester kyk haar vies aan. “Dis mý konsert,” sê hy.

      Ek kyk vir Andri. Al lyk sy ’n bietjie soos ’n rowwe plaasseun is dit asof haar gesig helder is soos ’n poel water, haar wit hare so ’n goue kroontjie en haar blou oë soos skynende liggies. Twee sterretjies in ’n helder verligte hemel.

      Jester trek my aandag weer met ’n beweging. Hy strek sy arms en hande wyd uit soos wanneer ’n mens iemand wil vasgryp. “Maak djulle gereed vi dierie skouspel van dierie eeu!” Hy praat weer so snaaks. Dan spring hy hoog op, draai in die lug om sodat hy met sy rug na my en Andri terug op die baal land. Hande op die heupe.

      Andri kyk na Jester, haar mond ’n bietjie oop. En ek kyk na Andri se gesig.

      Wat is jou regte naam? dink ek.

      Maar Andri sien my nie eens raak langs haar nie. Vir haar is ek nou onsigbaar. Sy kyk net na die mal ding voor ons. Na die op­gewende hotnotsapie wat sy twee duime by sy broekrek indruk en dan skielik – my kop ruk – so met een beweging sy broek tot op sy enkels afruk.

      Ek kyk. Jester dra nie ’n onderbroek nie.

      Hy buk vooroor. Sy kaal bruin boude staan styf soos twee warm ysterklippe hoog in die lug, reguit na Andri en my toe, met die bruin ogie daar in die middel wat reg na ons wys.

      Ek hoor hoe Andri haar asem intrek.

      Jester buig verder ondertoe sodat hy kop onderstebo tussen sy knieë deur vir ons kan kyk. Van tussen sy bene deur sê hy: “En da, liewe damus en djeure, siet u nou my se póéphól!”

      Ek en Andri sê niks. Ek kyk vir haar; haar mond is weer oop. Dan klap sy met haar regterhand haar oë toe. “Jou vark!” skreeu sy en spring op.

      Ek sien Jester het weer sy broek opgetrek. Hy steur hom nie aan Andri nie en maak ’n buiging. “Damus en djeure,” skreeu hy. “U mag nou ma u se hande bymeka sit vi ’n gróóót applous.” Hy wag dat ons hande klap.

      Andri is nie meer langs my nie, maar ek bly sit. Kyk vir Jester en hy kyk vir my. Van iewers op die werf hoor ons Andri se stem: “Ek … gaan jou … ma … vertel, jou … vark.”

      Jester bly staan. Hy lyk effens hartseer. Ek is jammer dat ek nie saam met Andri weggehardloop het nie, maar sy was te vinnig vir my. Ek staan op.

      “Jou vááárrrk,” hoor ons haar nog een keer en dan klap die kombuisdeur hard.

      Ja, jou vark, dink ek. Ek kyk na die plaashuis toe en dan weer terug. “Wat is jou van?” vra ek vir Jester, sommerso asof die woorde vanself uit my mond kom sonder dat ek daaroor gedink het.

      “My van?”

      Ja, elke mens op aarde het ’n naam. En ’n van. Dis wie jy is, jou dom platkop.

      “Meier.” Die erre rol so van sy tong af. “My naam is Jester Meier.”

      Hy kyk my grootoog aan, asof ek nou iets gaan doen. Maar ek wil niks doen nie. Ek bly hom net aankyk. Jy het Andri laat weg­hardloop, dink ek.

      In my kop het die woorde begin sing: Lekker, lekker, Jester Meier. Jou tetkop lyk nes ’n eier! Lekker, lekker, Jester Meier. Jou tetkop lyk nes ’n eier! Lekker, lekker, Jester Meier. Jou tetkop lyk nes ’n eier! Lekker, lekker, Jester Meier, jou tetkop is ’n volstruiseier!