Resepte uit jou gunsteling-TV-reeks
Human & Rousseau
Voorwoord
Karen onthou:
Ek en my sussie, Sanet, moes vir skoolredes ses maande lank by Oupa en Ouma op Pennington in Kwazulu-Natal gaan bly. Ouma Hannie was ’n bobaasbakster. Ons moes douvoordag opstaan om of die beskuit te knie, die koeksisters te vleg en te doop in die stroop, piesangbrode of vetkoekies te bak. Of die melktertpappot skoon te eet.
Sy was ’n uitsonderlike mens en het met voëls geboer, van makoue en hoenders tot poue. Die smake van haar ingelegde kerriebone met poupastei, boeregroente en geelrys het so góéd gepas.
Elke Desember het die hele familie bymekaargekom, en veertig siele moes elke dag drie etes kry. Ouma het in Julie al begin voorberei aan die kospotte van Egipte, soos sy dit genoem het. Oupa moes drie weke lank sy motorhuis opoffer vir ’n lang tafel.
Vandag nog is onthoukos vir my verlangkos, vol geure van familie, liefde en samesyn. Warm, veilig en geborge.
Karen Meiring
kykNET-kanaalhoof
Mariëtta onthou:
Geure, net soos musiek, bring herinneringe vir my terug. Die reuk van varsgesnyde komkommer is genoeg om my aan my hoërskooldae te laat terugdink. Die nare wiskundeklas was onmiddellik vergete as ek moeg en gaar van die skool af kom en die hele huis na varsgerasperde komkommer ruik.
As ek ouma Kinnear se groenboontjiebredie kook, dink ek aan haar ou groen-en-wit Dover. Ruik ek kwepers, is ek terug in ouma Kruger se koel, donker spens met ingelegde vrugte wat dofweg in die skemerte blink. My pa ruik ek in die soet reuk van sekelboshout in die braaivleisplek.
Mariëtta Kruger
Kokkedoor-aanbieder, radio- en televisie-ikoon
Gesoek en gevind
Kokkedoor:
’n Groot kokkedoor (’n belangrike persoon). Kokkedoor is die verafrikaansing van die Franse coq d’or, die “haan van goud”. Goue hane was destyds baie gewild, maar skaars en duur. Net iemand wat baie ryk en gesien was kon dit bekostig. En as jy ’n goue haan kon bekostig, het dit van jou ’n groot kokkedoor gemaak. ’n Beroemde Franse fynproewersrestaurant is ook vernoem na die haan van goud.
Kokkedoorkos:
Vandag se kos, gegeur met gister. Dis ’n werkwoord, ’n versamelnaam, ’n troetelnaam en ’n manier van dink. Om te kokkedoor is om kosmaak te geniet, vriende en familie na die lang tafel te nooi en ure lank te gesels oor gister se dinge en môre se drome.
Om te kokkedoor is om kosmaak te geniet en ure lank te gesels oor gister se dinge en môre se drome.
ONTMOET
Hetta van Deventer-Terblanche
Kokkedoor-beoordelaar, sjef en kosgeskiedeniskenner
Meer oor Hetta:Hetta het op ’n Swellendamse skaap- en koringplaas grootgeword. As Silwood-student het sy by Topsi Venter op Roggeland gaan werk waar haar passie vir streekkos begin het. Sy doen graag navorsing oor kosgeskiedenis en is net so gelukkig in die argiewe – omring deur ou geskrifte en antieke kookboeke (met haar kenteken-syblom op die kraag) – as in haar blomtuin vol katjiepierings en pronkertjies. |
Hetta beskou ons koskultuur as net so ryk soos fynbos, geseën met ongelooflike diepte en verskeidenheid.Hetta onthou: “Outydse soetkoekies laat my terugdink aan die groot inpak en die groot bak vir vakansies by die see. Ek sien nog die ou koekblikke met die rooi of blou strepe. Elkeen in die gesin het sy eie gunsteling- en sy swartskaapkoekie gehad. Hawermoutkoekies vir my pa, soetkoekies vir ons kinders en koffiekoekies vir die gaste. My broer kon ’n gemmerkoekie nie verdra nie.” |
“Tannie Myrtle, my peetma, glo tee moet uit ’n mooi koppie gedrink word. Dink ek aan outydse soetkoekies, dan dink ek aan fyn porseleinteekoppies, seevakansies en ’n lekker seergebrande lyf.”
Outydse soetkoekies
met Delft-porseleinversiering
Lewer 24 koekies
Koekies
480 g (4 k) koekmeel
2,5 ml (1/2 t) sout
5 ml (1 t) fyn kaneel
5 ml (1 t) fyn kruienaeltjies
5 ml (1 t) fyn gemmer
375 ml (11/2 k) suiker
230 g botter
60 ml (1/4 k) vet
5 ml (1 t) koeksoda
15 ml (1 e) louwarm water
30 ml (2 e) muskadel of soetwyn
1 eier, geklits
Sif die meel, sout en speserye saam en voeg die suiker by. Vryf die botter en vet met die vingerpunte in die meelmengsel.
Los die koeksoda in die louwarm water op en roer die muskadel of soetwyn by. Voeg die koeksodamengsel by die geklitste eier.
Voeg die eiermengsel by die meelmengsel en meng tot ’n stywe deeg vorm. Knie om goed te meng. Laat rus die deeg oornag in die yskas.
Voorverhit die oond tot 200 °C. Smeer bakplate goed.
Rol die deeg tussen 2 lae plastiek tot ’n dikte van 3–5 mm uit. Sny die deeg in 8 cm-vierkante of druk vorms met ’n koekiedrukker uit. Plaas dit op die bakplate en bak 10–15 minute.
Harde versiersel
2 groot eierwitte (60 g)
10 ml (2 t) vars suurlemoensap
750 ml (3 k) versiersuiker, gesif
voedselkleursel
Klits die eierwitte en suurlemoensap saam. Voeg die versiersuiker by en klits tot glad. (Voeg nog versiersuiker by as die mengsel te slap is of bietjie water as dit te styf is.) Plaas dadelik in ’n lugdigte houer want die versiersel word hard as dit aan lug blootgestel word.
Gebruik ’n spuitsak met ’n klein punt en spuit ’n versiersel-raam om die buiterande van die koekies. (Die versiersel moet minder loperig hiervoor wees.) Laat 1 uur lank staan om droog te word.
Voeg ’n bietjie water by die res van die versiersel om dit loperig te maak. Vul die oop dele van die koekies met die versiersel tot teenaan die gespuite raampies. Laat die koekies op ’n gelyke oppervlak staan om droog te word.
Gebruik ’n verfkwas en kleursel om die koekies te verf. Poeierkleursel werk baie goed. (Meng rooi met geel en ’n titseltjie swart vir ’n Delft-blou kleur.)
Nic van Wyk
Kinkelkok-beoordelaar,