Meer as een keer het ek gehoop dat die gedagte ook by Stephanus Erasmus sou posvat om generaal Kemp te vertel dat die tyd reg is vir ’n rebellie. Maar Erasmus was te verstandig daarvoor. Ek onthou ’n keer toe ons almal bymekaar was net voor ’n vergadering van die Dwarsberg-skoolkomitee, toe ek Stephanus daaroor uitgevra het.
“Wat dink jy van hierdie nuwe wielbelasting, oom Stephanus?” vra ek. “Dink jy nie die mense moet met hulle roers opruk en die Vierkleur bo die landdroshof in Zeerust gaan hys nie?”
Erasmus kyk my aan en ek laat my oë sak. Op ’n manier is ek jammer dat ek gepraat het. Dit lyk asof sy oë regdeur my kan sien. Ek reken ek lyk seker vir hom soos ’n springbok wat geskiet en oopgevlek is, sodat mens sy hart en sy ribbes en sy lewer en maag en die res van sy binnegoed kan sien. Dis nie ’n baie aangename ervaring om te sit en gesels met ’n man wat jou as niks meer as ’n oopgeslagte springbok beskou nie.
Maar Stephanus Erasmus bly na my kyk. Ek begin bang raak. As hy vir my sou sê, “Jy is niks anders as ’n oopgeslagte springbok nie, weet jy?” sou ek antwoord, “Ja, oom Stephanus, ek weet.” Ek sien toe duidelik dat hy groot mag besit. Uiterlik is hy ’n gewone soort boer, met ’n swart baard en ’n paar ou skoene wat bo-op stukkend is. Maar binnekant is hy verskriklik. Ek begin vrees vir my oorblywende trekosse.
Toe praat hy meteens, stadig en met wysheid.
“Daar is landdroshowe op Mafeking en Zwartruggens en Rysmierbult ook,” sê hy. “Om die waarheid te sê, daar is ’n landdroshof in elke dorp langs die treinspoor waar ek al was. En al daardie landdroshowe samel wielbelasting in,” sê oom Stephanus.
Ek kon sien hy besit nie net groot mag nie, maar hy is ook baie slinks. Hy sou hom nooit met wilde raaiskote ophou nie, soos om vir ’n vreemdeling te sê, “Jy is ’n getroude man met vyf kinders en in jou baadjie se binnesak is daar ’n brief van die Kerkraad waarin jy genader word om as ouderling te dien.” Ek het party sogenaamde fortuinvertellers dít vir ’n man hoor sê wat hulle nog nooit tevore met ’n oog gesien het nie, in die hoop dat hulle dalk reg kan wees.
Jy weet, dis eintlik ’n wonderlike ding dié, om ’n profeet te wees. Ek het baie daaroor nagedink, en wat ek daarvan verstaan, kan ek nie verduidelik nie. Maar ek weet dit het iets met die dood te doen. Dis een van die dinge wat ek in die Marico geleer het, en ek dink nie jy kan dit êrens anders leer nie. Dis net wanneer jy baie tyd het om niks anders te doen nie as dink en kyk na die veld en die lug, waar daar maande lank geen reënwolke was nie, wat jy begrip vir hierdie dinge ontwikkel.
Dan besef jy dat om ’n profeet te wees en mag te besit eintlik baie eenvoudig is. Maar dis ook skrikwekkend. En dan weet jy dat daar mans en vroue is wat boaards is, en dat dít hulle groter as konings maak. Want ’n koning kan sy mag verloor as mense dit van hom wegvat, maar ’n profeet kan nooit sy mag verloor nie – mits hy natuurlik ’n regte profeet is.
Dit was die skoolkinders wat eerste daaroor begin praat het. Ek het al opgemerk hoe dikwels dinge soos dié met die stories van kaffers en kinders begin.
Hoe ook al, ’n baie ou kaffer het by die uitspanplek langs die pad na Ramoutsa kom afpak. Niemand het geweet waarvandaan hy kom nie, behalwe dat hy telkens sy arm baie stadig oplig en weswaarts wys as iemand hom vra. Daar is niks in die weste nie. Net die Kalahariwoestyn. En as jy so na hom kyk, sou jy maklik kon glo dat hierdie ou kaffer sy ganse lewe in die woestyn deurgebring het. Daar was iets omtrent sy verdorde ou lyf wat mens aan die Groot Droogte laat dink het.
Ons vind toe uit dat hierdie kaffer se naam Mosiko is. Hy maak vir hom ’n rowwe skuilte van doringbosse en ou mieliesakke. En daar bly hy op sy eie. Die kaffers in die omte bring vir hom mielies en bier, en uit wat hulle ons vertel, blyk dit dat hy nie besonder dankbaar vir hierdie gawes is nie en dat hy die een wat dit bring vreeslik uitskel as die bier flou is.
Soos ek gesê het, dis die kaffers wat eerste van hom notisie neem. Hulle vertel dat hy ’n groot toordokter is. Maar later begin ook die wit mense vir hom geskenke vat. En hulle vra hom wat in die toekoms gaan gebeur. Partykeer vertel Mosiko hulle wat hulle wil weet. Maar ander kere is hy domastrant en sê hulle moet baas Stephanus Erasmus gaan vra.
Jy kan jou voorstel watter beroering dit veroorsaak.
“Ja,” sê Frans Steyn een middag, “en toe ek die kaffer vra of my dogter Anna sommer dadelik met Gert moet trou en of sy eerder hoërskool toe moet gaan en Engels gaan leer, toe sê dié Mosiko my dat ek baas Stephanus moet gaan vra. ‘Vra hom,’ sê hy my, ‘daardie een is te maklik vir my.’ ”
Dis toe dat die mense besluit hierdie Mosiko is ’n parmantige kaffer en dat dit die beste sal wees as Stephanus hom ignoreer.
Ek het mooi gekyk om te sien wat Erasmus daaromtrent gaan doen. Ek kon sien dat die kaffer se astrantheid hom nie aanstaan nie. En wanneer die mense vir hom sê, “Moenie jou aan Mosiko steur nie, oom Stephanus, hy’s ’n lui ou kaffer,” was dit duidelik dat dit hom grensloos irriteer. Hy het vermoed dat hulle dit uit blote hoflikheid sê. En daar is niks wat mens kwater maak as wanneer dié wat voorheen vir jou bang was skielik hoflik begin raak nie.
Die uiteinde van die saak was dat Stephanus Erasmus na die uitspanplek toe is waar Mosiko gebly het. Hy het gesê hy gaan hom uitskop, terug Kalahari toe, waar hy vandaan kom. Nou kyk, dit was ’n fout van Stephanus om Mosiko te gaan sien. Want dit het Mosiko baie belangrik laat lyk dat die profeet hóm kom besoek. Die regte ding is altyd dat die slaaf die meester besoek.
Ons is almal saam met Stephanus soontoe.
Op pad sê hy, “Ek sal hom skop, al die pad uit Zeerust uit. Dis erg genoeg as kaffers in Johannesburg begin boordjie en das dra en op die sypaadjies staan en koerant lees. Maar ons kan nie dié soort ding in die Marico toelaat nie.”
Maar ek kon sien dat Stephanus om een of ander rede kwaad word as ons probeer voorgee dat ons net so vasberade is om Mosiko ’n les te leer. Want dit was nie die waarheid nie. Dit was net Erasmus se twis. Dit het hoegenaamd niks met ons te doen gehad nie.
Ons kom toe by die uitspanplek aan.
Mosiko het beswaarlik enige klere aan. Hy sit teen ’n bos met sy rug krom en sy kop vooroor gebuig, teenaan sy knieë. Hy het baie plooie. Honderde van hulle. Hy lyk soos die oudste man in die wêreld. En tog is daar ’n soort krag in die kromming van sy rug en ek verstaan wat dit beteken. Met sy rug so geboë, en die son wat op hom skyn en sy kop so vooroor gebuig, kan Mosiko baie groter wees en baie meer gedoen kry deur net te sit as wat ander mense met harde werk en slinksheid kan regkry. Ek het gereken Mosiko kan sit en niks doen en steeds magtiger wees as die kommandant-generaal.
Hy het niks gehad behalwe wat die son en die sand en die gras hom gegee het nie, en tog was dit meer as wat al die mense in die wêreld hom kon gee.
Ek was bly ek was dié dag daar tydens die ontmoeting van die towenaars.
Stephanus Erasmus het natuurlik geweet wie Mosiko is. Maar ek was nie seker of Mosiko vir Stephanus ken nie. Dus stel ek hulle aan mekaar voor. Op ’n ander tyd en plek sou mense lag oor die manier waarop ek dit doen, maar op daardie oomblik lyk dit glad nie so snaaks nie.
“Mosiko,” sê ek, “dis Baas Profeet Stephanus Erasmus.”
“En, oom Stephanus,” vervat ek, “dis Toordokter Mosiko dié.”
Mosiko lig sy oë effens en kyk skrams na Erasmus. Erasmus kyk Mosiko reg in die oë en probeer hom van stryk af kyk. Ek ken die mag waarmee Stephanus Erasmus na jou kan kyk. Daarom wonder ek wat gaan gebeur. Maar Mosiko kyk weer af en hou sy oë op die sand.
Nou kyk, ek onthou toe hoe ek daardie dag gevoel het toe Stephanus Erasmus na my gekyk het en ek reg was om te glo ek is ’n oopgeslagte springbok. Dit verbaas my dus nie dat Mosiko afkyk nie. Maar terselfdertyd besef ek dat Mosiko afkyk op ’n manier wat te kenne gee dat hy nie dink Stephanus Erasmus is belangrik genoeg dat hy hom van stryk af wil probeer staar nie. Dis asof hy dink daar is ander dinge vir hom om te doen as om na Stephanus Erasmus te kyk.
Toe, meteens, praat Mosiko.
“Sê my wat jy wil weet, baas