Margo betaal en groet. Sy gaan gee een van die pasteie vir Sara se slim seun. Hy klap sy hande op die ou Afrika-manier om dankie te sê.
Sy ry by die vulstasie uit en gaan eet hare by die monument oorkant die pad. Adriaan het die waarheid gepraat, sien sy dadelik. Daar is menslike uitskeidings op die Gelofteklippe. Iemand se frok lê naby die klippe in die sand. Van die botterblomme wat geel daar blom, het hy niks gesê nie.
Die glaspaneel voor die monumentnis is so vuil dat sy die wit Bybel eers raaksien toe sy nader buk. Dit kan nie anders nie: niemand kan die glas agter die verroeste tralierooster bykom nie. As mense – kultuurorganisasies, mense wat in die koerant skryf, jongmense wat sê dis hulle land ook – die glas sedert die aanbring van die tralierooster probeer skoonmaak het, was dit voor die laaste stofstorms.
Sy loop by die poort uit. Van die wawiele aan weerskante daarvan is net die vellings oor. Die nawe en speke is uitgesteel.
Hoofstuk 7
[no image in epub file]
Op die eerste indraai na Winburg stop sy om ’n botterblom af te neem.
Yachin folter homself met geel blomme: gouedissels geraam in doringagtige venyn, geel madeliefies ná die rooi papawers van die Israelse lente. Na die wittes kyk hy nie eens nie. “ ’n Wit blom is geen uitdaging in swart en wit nie, Bubbeleh. White is white, given advantage. Probeer jy: ek stel hom op swart en wit. Neem hierdie een teen die agtergrond van die wintergras af.”
Só neem sy die botterblom af. Die smaak van tandepasta is in haar mond; sy het haar hare gekam. Ná die ontploffing kon mondspoelmiddel en Steradent nie die vreemde reuk uit Pa se mond haal nie. Ek kan nie naby hom kom nie, het Ma Chris gesê. Oor sy asem.
Margo kyk om haar rond. Huise met sonpanele op die dak; vyftien, twintig meter hoë lamppale; bidders in wit onder bome. Sinkstrukture, beeste, halfwas perskebome, armoede, kitsblink en Afrika links van die pad. Regs van die pad troon die suile van die Winburgse Voortrekkermonument, edel soos die orrelpype van Gideon Shamir se pyporrel in die musiekkonservatorium van die Universiteit van Haifa.
Hierdie land is ’n land van luite, fluite, harpe, trompette en die shofar, Bubbeleh. Die pyporrel is van buite, hier ingebring deur hulle wat ná sewe, agt dekades aliyah van Europa af gemaak het. Om orrels in Israel te bou is om bakens te bou op ’n pad wat nie bestaan nie. Gideon Shamir weier om te aanvaar dat niemand ná hom hier pyporrels sal bou nie. Hy is ’n man met ’n hardnekkige geloof.
Klim in die kar en ry, Margo, vermaan sy haarself. Ma Chris is swak en deurmekaar, klink so op die selfoon.
Sy sukkel om die huis op te spoor. Sy was nog net een keer daar, in 2007, en ook net vir een nag, want Lukas Lubbe sou die volgende dag terug wees van China af. Ma Chris het die heilige nag soos ’n staatsgreep beplan: moenie dat ons só uitmekaargaan nie, Margo. Ek sal jou nie moeg maak met verontskuldigings nie. Ons kan net weer op die banke lê en sjokolade eet en musiek luister, orrel en Pavarotti en Randall Wicomb. Ek sal karringmelkbeskuit bak, ons ou pizza maak.
“My pa is dood. Was Ma toe bly oor sy beroerte voor jou en Lukas Lubbe se troue?”
“Asseblief, Margo.”
“Ek en Oumbecca het Ma gesmeek, maar nee.”
“Laat my dan net op my knieë voor jou staan, my kind.”
“Moenie simpel wees nie. Ma moes op Ma se knieë gestaan het toe Ma lus gekry het om Pa te verneuk. Nie voor my nie, voor God. Dis mos van Hom wat julle my altyd vertel het: Ons lewe vir God, Margo. Dink altyd aan God, Margo, dan bly jy op die straight and narrow.”
“Dit sal net ons twee wees, my kind. Ek sal vir Evangeline af gee.”
“Waar beplan Lubbe om die nag te gaan skuil? In ouma Grot se grot in die Korannaberg?”
Die volgende kap was gemeen, sy het gekap om die band tussen hulle af te kap.
“Kom ek sê vir Ma wat ek daardie grot nou noem: die grot van hoereerders. Dis in Ma se gene.”
“Hy is China toe,” het Ma Chris ná ’n lang stilte gesê. “Kom asseblief.”
“Toe staan Lubbe langs my by sy kis. Nou moet ek Ma vergewe!”
“Jy hoef my nie te vergewe nie. Maar ek het reeds twee kinders verloor: een wat verdrink het en …”
“Toe skei Ma van sy pa, oor hy Ma nie kon troos nie.”
“Jy’t nog nie ’n kind verloor nie, Margo.”
“Ander kom daaroor.”
“Adriaan laat nooit van hom hoor nie …”
“Ma het hom versmoor. Hy was nog nooit van plan om te verdrink nie, hy swem soos ’n vis. Ma kon hom gelos het, dan het hy nie soos ’n bees losgeruk nie.”
Verslae stilte.
“Ek kan jou nie ook nog verloor nie, Margo. As ek in jou oë die onvergeeflike sonde begaan het, laat my sonde dan vir jou onvergeeflik wees. Maar jy is op pad Israel toe. Ek wil net weet jy’s nog my kind.”
“Ma is pateties.”
Alles en almal wat sy nie daar verwag het nie, is in Lukas Lubbe se huis: ’n sterk urinereuk, die harde dreuning van ’n wasmasjien op die Sondagmiddag, ’n bejaarde man wat die voordeur vir haar oopmaak, sy gesig beeldhouermateriaal.
“Margo?”
’n Hond spring uit die donker agter hom, maar hy gryp die dier aan sy halsband. Die hond kap met sy voorpote in die lug, tande ontbloot.
’n Vrou kom haastig om die hoek: kort, donker hare, bruin oë, ’n streep sproete oor die neus, halssnoer van deursigtig-helder glaskrale.
“En nou?” vra sy verbaas.
Hulle kyk oor die hond se gebeur en gegrom in mekaar se oë. Vir ’n oomblik dink Margo sy is by die verkeerde adres, maar die vrou maak haar arms oop.
“Margo!” roep sy uit.
Dís dan die hond wat vir Ma Chris oppas. Hy was drie maande oud toe sy hom gekry het, DBV-weggooidier, woedend omdat hy weggegooi is, reg om enigeen te verskeur. Ek moes ’n hond kry, het sy geskryf, met al die moorde oral op die platteland.
Die hond se naam is Michael, soos dié van die aartsengel Michael, die oorlogsengel. Want dis weer oorlog, die oorlog hou nooit op nie. Dis die oorlog van ou vroue teen verkragters.
Margo groet die hond voordat sy die vreemdelinge groet. Hy grom immers, hulle arms is oop. “Hi, Michael!”
Die hond val terug uit sy boosaardigheid, hy staan op vier pote, maar sy stert swaai nie.
“Genene,” stel die vrou haarself voor. “En dis my man, Piet du Toit. Het jy goed gery? Jou ma is wakker, sy kan nie wag nie. Kom sommer deur.”
Die deure uit die gang is almal oop; deur die oop deure sien Margo oop vensters agter diefwering. In een van die vertrekke kyk ’n man televisie en sit ’n jong kind vasgevang in wat ook al op sy selfoonskerm gebeur. ’n Swart vrou in ’n rok so oranje soos ’n Cheetah-hemp staan en skottelgoed was. Die kombuis is deurmekaar: borde oorskietkos, kastrolle nog op die stoof, vlieë in die lug en op die borde.
Hulle loop verby; net die vrou by die wasbak kyk op.
“Is julle die Genene en Piet van wie my ma altyd geskryf het?”
“O, het sy van ons geskryf?” vra Genene.
“Aanmekaar,” sê Margo. Maar ek het geen kommentaar gelewer nie. My ma kon haar briewe netsowel in die wind gaan strooi het. Ek het hulle ontvang, gelees en opgeskeur. Behalwe jou karringmelkbeskuitresep, dit was by