Monument. Maretha Maartens. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Maretha Maartens
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Контркультура
Год издания: 0
isbn: 9780624063155
Скачать книгу

       Ek weet nie wat om te sê nie, Here. Mag ek asseblief kwaad bly totdat ek nie meer kwaad is nie?

      Die proefstudent het net ’n oomblik geaarsel. “Stel een voor?”

      So het hulle toe ook in Deo Gloria by die bloekombos uitgekom, die ou plantasie wat respireer, fotosinteer en die lug suiwer.

      “Die eerste inwoners van Petrusburg het meer vir julle gedoen as wat hulle vooruit kon weet,” het die proefstudent geglimlag. “Praat nou vir vyf minute in julle groepe oor die belangrikheid van beginselgefundeerde optrede in elke saak. Identifiseer die saak in hierdie geval, die beginsel en die redes waarom elkeen wat die beginsel toepas weerstand kan verwag.”

      ’n Benoude meisiestem, modelskolier: “Sal meneer bie­tjie stadiger gaan, asseblief?”

      Kraai Esterhuizen het sy hand reg voor Margo opgesteek. “So, meneer sê die lug bo die bloekombos is vuil? Hoekom juis dáár, meneer?”

      Naby die klaskamer se deur het die dosent opgekyk van sy puntelys af: lesdoelstelling, effektiewe interaksie, be­mees­tering, klem op die praktiese toepassing van die leerinhoud. Die geproes van Kraai se pelle, seuns wie se pa’s hulle óf in ’n sportskool wou hê óf in ’n skool waar alles nie swart is nie, is in die kiem gesmoor.

      Toe Margo by die klaskamer uitstap, haar wange aan die brand, het sy die dosent met die proefstudent oor Bloom se bemeesteringsleer hoor praat.

      Die proefstudent het sag gepraat, omgekrap: “Het Bloom ook geskryf oor bemeesteringsweerstand, professor?” Hy het na naskeermiddel geruik en hy was so netjies, so roepingsbewus, so onvoorbereid.

      Sy het Kraai voor haar sien loop, rugsak los oor die skouer, skoolbroek laag om die heupe, sy broer se opvolger waar hy ook al gaan. Hy het geweet. Natuurlik het hy geweet. En hy het alles wat hy geweet het Deo Gloria toe gebring.

      Seuns is vuilgoed, mans ook. Behalwe oom Stander.

      Die bloekombos was Petrusburg se Rietsee: Farao en Oumbecca met hulle strydwaens in aantog, die Beloofde Land voor. Of was die boom van kennis van goed en kwaad ’n bloekom? Geil van die stuifmeel, bewierook met die geur van grond, humus en reukolie, met bye wat in die saadtrosse dreunsing en insekte wat op die grond en teen die boomstamme paar?

      In die bloekombos wat nou by die afdraai na die dorp in die rook dryf, is sy op droë blare en doringpuntige bloekomsaaddoppe neergegooi, vasgepen en gery. In dié blougrys bos is kantbelegsels van haar onderklere afgeskeur en het die silwerkettinkie wat Ma Chris vir haar op haar dertiende verjaardag gegee het, gebreek en vir altyd verlore geraak. Maar tweehonderd, driehonderd meter van waar haar motor nou staan, het sy meer as een keer uit die vuur gerol en opgespring, droë takkies in die hare, wange rooi van skaamte. Dis Oumbecca, het sy geweet. Sy is oral, sy kom op haar strydwa aan, ek hoor haar selfs in die vuur.

      Ja, sy het uit die plantasie gekom, maar nie smetteloos nie, nie vlekkeloos en rein nie. Op veertien kry jy liggaamsvloeistowwe se vlekke nie uit jou klere nie. En hulle reuke bly in jou neus.

      In Oumbecca se eetkamer het die bloekomboomskildery teen die muur hom aan haar opgedring. Die witgevlekte stamme in die skildery was replikas van dié in die plantasie. Ma Chris, beeldskone Ma, was saam met die skilder op skool: Piet Haasbroek van die plaas Greylingsfontein, links van die Bloemfonteinpad. Elke jaar in die skoutyd het Piet aan die teken geraak, elke jaar beter as die vorige jaar, elke jaar meer rooi rosette. Waar hy tyd vir skilder vandaan gekry het, het nugter alleen geweet, want hy het alles gedoen; was hoofseun ook en het redenaarsbekers soos seëls versamel.

      Die bome by Greylingsfontein se hek het ’n naam gekry: Piet se bloekoms.

      Oumbecca het een van Piet se bloekomprente jare later teen iemand se muur in Ons Woning gesien. Sy het die ou dame aan wie dit behoort het met moeite oorreed om dit aan haar te verkoop. “Daardie skildery,” het Oumbecca gepleit, “is geskilder in ’n tyd toe die lewe nog vir Christina gewink het. Nou vra sy vir my of vroeg sterf in die familie loop, of ek vir Margo sal moet grootmaak soos wat my ouma mý moes grootmaak.”

      Toe Ma Chris die bloekomskildery ’n jaar of twee later terugbring van die plaas af, was Oumbecca platgeslaan. Sy’t nie meer plek daarvoor aan haar mure nie, het Ma Chris gesê.

      “Vat dit vir Ma. Ma hou mos nog al die jare van die vlekke en kleure aan die stamme.”

      “Maar Christina …”

      “Ons maak huis skoon, Ma, aanvaar tog rede. En nou moet Ma my verskoon, Boet wag. Hy’s op pad koöperasie toe. Haai, Margo, is die skool dan al uit? Jy moet lekker netbal speel môre. Hoe laat maak julle klaar? O ja, dalk kom Adriaan jou haal. Ons slag, ek dink nie ek sal môre van die plaas af kan wegkom nie. Pas jouself mooi op, my kind.”

      Van mooi oppas het graffiti gekom.

      Leon Louw en Eagle Esterhuizen het haar net een keer bloekombos toe gevat en albei net een keer stuurs daar uitgebring. Leon het aanbeweeg met die Koei, die koshuismeisie wat van ’n verbeteringskool in Bloemfontein na die platteland uitgeplaas is.

      Maar Eagle was ’n gemene verloorder. Hy het haar teen die deur van die seunskleedkamer onder die rugbypaviljoen met ’n paar spykerhale gekruisig: koplose nek, sirkels en strepe vir ’n bra, bloomer soos ’n museumkledingstuk. MD is ’n viskoek, was die byskrif.

      Sy was veertien jaar oud, haar laaste jaar in AJC Jooste.

      Hoofstuk 3

Heidelbergse%20Kategismus.JPG

      Oom Stander het alleen kerk toe gekom. Verdor soos ’n blaar, onversteurbaar en sonder haas het hy Sondag na Sondag die artikels van die Heidelbergse kategismus met die belydenisklas deurgewerk. Hy het na die hiernamaals gehunker en dit in die woorde van Paulus aan die Filippense vir hulle gesê: “Ek word van weerskante gedring: ek het verlange om heen te gaan en met Christus te wees, want dit is verreweg die beste.”

      Hy kon nie heengaan nie, want sy vrou was swart soos haar huiswerker van chroniese nierversaking. Hy moes haar nog eers deursien.

      Jare later, toe Margo ’n boek oor El Greco in die Gericke-biblioteek op Stellenbosch deurblaai, het sy oom Stander daarin aangetref, sy ouderlingsbaadjie verruil vir die geelbruin skouerkleed van Simon Petrus in St. Peter in Penitence, die sleutels van die Koninkryk by hom.

      “Wat is ons enigste troos in lewe en in sterwe, belydenisklas? Hoor wat sê die Heidelbergse kategismus: ‘My enigste troos is dat ek met liggaam en siel in lewe en in sterwe nie aan myself nie, maar aan my getroue Verlosser, Jesus Christus, behoort.’ ”

      Ek voel geen troos nie, oom Stander.

      “Hy het met sy kosbare bloed vir al my sondes ten volle betaal en my uit alle heerskappy van die duiwel verlos.”

      Vir Ma Chris ook, oom Stander?

      “Hy bewaar my op so ’n wyse dat sonder die wil van my hemelse Vader, geen haar van my kop kan val nie. Alles moet inderdaad tot my saligheid dien.”

      Die verwoesting wat Ma Chris en Lukas Lubbe aangerig het, tot my saligheid? Die verwoesting wat my pa aangerig het, tot ons almal se heil?

      “Daarom verseker Hy my ook deur sy Heilige Gees van die ewige lewe en maak Hy my van harte gewillig en bereid om voortaan vir Hom te lewe.”

      Ek is dood, oom Stander. En onoortuigbaar. Op sestien het ek oom só sit en kyk, so seker van alles, so ’n deurwinterde, God-deurligte mens. Nou is ek ook verwoes, derdegraadse brandwonde, ontploffing in my gesig, nog een.

      Ek wil landuit, maar nie saam met die swerms nie. Ek wil gaan dwaal waar niemand my ken nie.

      Hoofstuk 4

MONUMENT.%20Breekware%20leeg.JPG

      Die beeste op die brandveld roer nie; op ’n afstand sou hulle vir miershope aangesien kon word.