Monument. Maretha Maartens. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Maretha Maartens
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Контркультура
Год издания: 0
isbn: 9780624063155
Скачать книгу
oor tyd, families, kontinente, lewens en nooit gesêde dinge span.

      Toe Margo se plaasbesoek verby was en sy wou vertrek, was Attie soek. Hulle het hom buite op die werf gekry. Wap-wap! Wapwapwapwap het die kind alles wat voorkom met ’n dik stok loop en slaan. Hoenders het krysend uit sy pad gevlug, stukke boombas het deur die lug getrek, blare het gewaai, leë verfblikke het gekletter en gerol. Blomstingels was geknak, want hy het ook die enkele magrietjiebos bygekom.

      Hy het geweier om te kom groet.

      Sy suster het in die droë wind gegaap. “Hy’s iets vreesliks.” Haar mond het lank oop gebly; haar oë het getraan.

      Hulle het saam met Margo motor toe gestap: vier van hulle plus die hond – ’n kruising wat nie moes gewees het nie en wat haar enkels bly beruik het.

      Cheri het afgebuk, ’n kous van die grond af opgetel en dit weer aan die wasgoeddraad gaan vasknip. “Ons los hom maar,” het sy in die kind se rigting beduie. “Anders is hy snags tot halftwaalf, twaalfuur wakker. Diederick was ook so gewees. Attie, gaan speel weg van die wasgoed af.”

      Attie het die kledingstukke aan die wasgoeddraad op die ry af geslaan, die grand finale. By die verste wasgoedpaal het hy begin klippe optel.

      Adriaan het gewaarsku: “Jy gooi nie diékant toe nie, hoor jy vir my?”

      Dalk het Cheri gevoel dat sy ’n verklaring aan Margo verskuldig was: “Só word hulle in hierdie land.”

      “Ons het ’n plaasaanval gehad,” het Adriaan bygevoeg. “ ’n Kilometer hiervandaan, soos die kraai vlieg.”

      Hy het Margo die nuwe-Suid-Afrika-kyk gegee: dinge het verander terwyl jy weg was. En sê nét iets.

      “Daardie kind is skerp,” het Cheri voortgegaan. “Hy mag net vyf jaar oud wees …”

      Adriaan het haar doodgepraat, die haat in sy oë soos ’n kruipende vlam wat die lont verteer. “Die ou vrou is eers verkrag, toe drie keer geskiet. Sy het die Sondagskool op Bokpos begin, sewe en tagtig jaar oud.”

      “As die future klaar hier was, het dit nie met haar gebeur nie.” Diederick, dons op die bolip en pupille te groot in die middaglig, het van die kant af ingeval asof hy ’n deur oopskop. Hy het met háár gepraat, familie.

      Cheri het met die hand gekeer, asof iemand wat met iets op loop raak, gekeer kan word: “Jy en jou science fiction.”

      Hoe neerdrukkend was die werf met sy verroeste metaalskroot en weggooigoed: veevoersakke, buitebande, kartonbokse en sinkplate, stukke doring- en staaldraad, koeldrank- en bierbottels, ’n kastrol met ’n swartgebrande boom, ’n toiletdeksel, son- en waterbeskadigde skooloefeningboeke. Die Wes-Vrystaatse landskap – molshope, dwarrelwinde oor die rooi ploeglande, lae rantjies, botterblomme geler as botter en gesmelte soetmelkkaas – was in ’n skulp van lig en lug, ’n resonansieholte vir die hoorbare en onhoorbare krete van hadidas en mense. Snags, het Margo opeens onthou, is dié stuk aarde skurf en klein soos ’n appelkoospit in die sonnestelsel op die rand van die Melkwegspiraal. Snags het sterre, swartgatkolke, asteroïedegordels, newelwolke en planete soos vuurwerk in die heelal om Oumbecca se huis ontplof.

      Op laerskool het Oumbecca baie weeksoggende – want naweke het Adriaan en Margo plaas toe gegaan – gevra waarom sy die kamergordyne toegetrek het. Hoe kry sy geslaap sonder vars lug?

      “Ek kan nie slaap as ek vir die lug kyk nie, Oumbecca.”

      “Hoekom nie?”

      “Dit lyk of die sterre nader kom, hulle word heeltyd meer, soos bye. Agter elkeen is daar nog van hulle. En agter die agterstes kom daar nóg ander aan.”

      “Hulle is ver, Margo, tienduisende, miljoene ligjare van hier af. Baie van hulle is al uitgebrand, net hulle lig het hier aangekom. Jy hoef jou nie aan hulle te steur nie.”

      So het sy in die velkankergevaartyd van die dag saam met Adriaan en sy gesin na haar motor gestap, ’n prosessie wat bly was dat sy op pad was. Sy kon die wydte en die diepte van die vervreemding tussen haar en haar broer in sy oë en in die oë van sy kinders sien. Sy het bitterbos geruik, nog altyd bitterbos. En daar was die geklap van die jongste kind se stok teen alles: pale, dromme en die stapel gebreekte plastiekstoele teen die muur van die rondawel wat vroeër die gastekamer op die plaas was. Nou lyk dit van buite af soos ’n pakkamer, ’n grys spinnerak oor die stowwe­rige venster.

      Wat maak ek hier? het dit deur Margo geskryn. Ek hoort nie meer hier nie.

      Sy het deur die verwydering getas. Sy kon haar broerskind tog nie ignoreer nie. “Lees jy dit of skryf jy dit, Diederick?”

      Hy het verras gelyk oor die aandag. “Lees of skryf ek wat?”

      “Science fiction.’’

      Hy het een skouer opgehaal. “Ek sien dit net kom. Dis inevitable.”

      “Wat?”

      Cheri het gefrons. “Dis nie praatjies vir kuiermense nie, Diek.”

      Nogtans het Diederick sy standpunt vir Margo uitgespel: “In die toekoms, wanneer ’n human sewentig of vyf en sewentig slaan, sal dit sy tyd wees, maak nie saak of hy Zuma of Mugabe of ant Sienie is nie. Dit sal die wet van die aarde wees. Dan kry hulle ’n inspuiting of ’n cocktail, hier by ons een met Amarula of Klipdrift daarin. Of die elektriese stoel, maar een waarin hulle kan wegsak met hulle hond of kat by hulle. Of hulle opt vir ’n bungee jump, free at last. Ek sien ’n massive industry, huge.”

      “Hy het dit alles uitgewerk,” het Cindy gesê. “Alles begin die jaar voordat hulle vir hulle cocktail of whatever gaan. Daar is farewell parties en speeches en so aan.”

      Adriaan het ’n opstopper na Diederick se ore gemik, maar die kind het weggekoes.

      “Ek wil ’n draai by Oumbecca se graf gaan maak,” het Margo die ontsnappingsroete gekies.

      Die ongepastheid van haar opmerking het haar op pad na die plaashek getref. Sy het aan die lag geraak en meer as ’n kilometer gery voordat sy agtergekom het dat Adriaan se hond heen en weer oor die plaaspad voor die motor uithardloop, sy lyf en stert die ene jakkals.

      Ná die lag het sy net stomgeslaan voor haar sit en uittuur.

      That farmyard is a shissel, sou Yachin gesê het. ’n Kookpot. Die woord het in haar kop bly maal totdat sy die beeste op die brandveld sien lê het en stilgehou het vir ’n foto.

      Net toe sy wegdraai van haar ommuurde grootwordhuis om terug te klim in haar motor, bel Yachin.

      “Ek verlang my uit al my fokus uit, Bubbeleh! Waar is jy?”

      Sy groet laat dink haar aan die herfsdag in 2011, laat-September of vroeg in Oktober, toe hy haar op haar selfoon geskakel het om te hoor of sy al op pad terug was van Tel Aviv af.

      “Hoe het jy Ann Pollard ervaar, Margo?”

      “Something is not lekker there, Yachin, daar is moeilikheid. The shtook scenario. En dis Tel Aviv, ons praat nie van Haarlem nie. Lekker buitelugkafee oorkant die straat, ’n valutabank en ’n delikatessewinkeltjie ’n paar treë van haar woonstel af. Nordaustraat is nie die pits of ’n ouetehuisgang nie, sir. Sy is op die busroete; die bromponies staan ingeryg onder die bome.”

      “What was not lekker?”

      “Maybe she was tidying up, but she looked …shmutzy when she opened the door. Farmisht and shmutzy. Verward en onversorg. Die kat se sandboks in die kombuisie, gordyne toegetrek.”

      “En die onderhoud?”

      “Sy en Esther Pollard …Twee pole. As ek nie geweet het dis sy nie, sou ek nie kon glo nie dat dit sy was wat in die 1980’s gesê het dat sy en Jonathan Pollard gedoen het wat hulle morele verantwoordelikheid as Israeli’s was, hulle morele verantwoordelikheid as mense.”

      “Sou sy die horlosie wou terugdraai?”

      “Ek weet nie. Dis net …haar fokus het verander. Lots of kvetching about the sofa she