Dan stap sy na Stienie in die kombuis. Sy hoor die kerkklokke in die verte en hoedat die sirenes van ’n ambulans skril weergalm deur die strate.
“Ek gaan veoggend ’n bietjie kerk toe,” sê sy vir Stienie wat besig is by die stoof.
Stienie roer met ’n lepel in die grootste van die drie potte. “Dis goed, suster,” antwoord sy. Maria kyk stilswyend na haar suster.
“En nou, hoekom kyk jy my dan nou so?” vra Stienie.
“Nee, ek het gewonner of Dampies en Meisie nie wil saamgaan nie.”
“Meisie kan saamgaan, maar Dampies is al vroeg veoggend hier uit. Die rofryters fluit, maar hy’s nie bang nie. Ai, ek’s so geworrie, Maria, ek weet nie met wie die klong deurmekaar is nie,” sê Stienie.
Dampies moet tog net nie ook die pad byster raak nie, dink Maria. “Nou ja, Meisie,” sê sy, “dan is dit net ek en jy.”
Meisie trek haastig aan en ’n rukkie later stap hulle in die straat af, eers by die laerskool en toe by Kleintjie se smokkelhuis verby. Maria wonder wat die kind dink toe sy na die twee geboue kyk, twee geboue wat heel verskillende rolle kan speel op ’n mens se lewenspad.
Pastoor Isak Louw preek vanoggend oor vergifnis, sy oë ondersoekend oor die gemeente. Voor hom in die kerk sit die Groot Beer en sy vriende, almal in swart geklee. Die gemeentelede klap hande, party sê amen.
Louw steek sy hande in die lug. “Ons mag nie oordeel nie, ons is almal God se mense,” sê hy. Dan kyk hy vinnig na die Groot Beer en voeg by: “En geseënd is hulle wat ruim bydra tot die welvaart van die kerk, soos broer Dolf Pistoors.”
Die naam van die gangster in die huis van die hemelse Vader laat Maria ineenkrimp. Skaam pastoor Louw hom nie, hy prys so wragtig die rofryters en smokkelaars, net omdat Pistoors ’n paar duisend rand bygegooi het vir die bou van die saal. Hy sê niks oor hoe ons vergaan onder die tik en drank nie, geen woord oor hoe die tikkoppe by ons huise en skole inbreek nie, of oor al die aanrandings in die strate, en hoedat die ou mense se geld met paytyd afgevat word nie, dink Maria. Die diens verander vir Maria in ’n marteling, dit voel soos ure voor pastoor Louw uiteindelik amen sê.
Die gemeente sing en klap hande toe die pastoor by die kanseltrappies afkom.
Met inspanning staan Maria van die bank af op en sy en Meisie stap uit. Stadig verlaat hulle die kerk.
Die Beer en sy drie medegangsters bly egter sit, hulle hou die pastoor dop wat na die agterste deur van die kerk stap.
“Paaster,” roep die Beer, “kan ons gou praat.”
Pastoor Louw klem sy Bybel stywer onder sy blad vas. Die Groot Beer en sy butlers, Langman, Muisvoël en Popeye, groet pastoor Louw saaklik.
“Ons het net kom groet, ons sien die saal is klaar gebou,” sê Pistoors.
Pastoor Louw kug. “Ja, die skenking was handig,” antwoord hy.
“Nou ja, dan loop ons maar weer,” sê die Beer.
Die koster, Japie Filander, kom nader. “Ken pastoor die mense dan persoonlik?” vra hy.
“Nie eintlik nie,” sê Louw. “Ek het Pistoors eendag ná ’n aannemingsdiens ontmoet, hy’t na my toe gekom en begin gesels, hy lyk na ’n aangename mens. Hy’t gevra hoe en waar hy my en die kerk met geld kan help. Ek was uit die veld geslaan, maar die manier hoe hy dit in ’n sagte stem gesê het, het my beïndruk. Ek het vir hom gesê die gemeente sal baie bly wees, ons soek juis fondse vir die bou van die kerksaal.”
As koster Filander verbaas is, wys hy dit nie. Hy staar na pastoor Louw se hande voor sy bors. “En nou, hoekom bewe pastoor dan nou so?” vra hy.
“O, dis sommer niks, ek het nie vanoggend gëeet nie,” antwoord Louw.
“Ja, ’n mens kan nie net van die Woord lewe nie, mens het ook die brood van die lewe nodig,” sug die koster, en sê dan: “Pastoor moet versigtig wees.”
“Ja, dis waar,” antwoord Louw, “maar dis nie net dit nie. Ek hét geworstel met die idee dat die kerk geld ontvang van mense soos Pistoors.” Hy bly vir ’n oomblik stil en gaan dan voort: “Maar nêrens in die Bybel staan dat dit sonde is nie, veral nie as dit vir ’n goeie doel is nie.”
Die koster sê niks nie, hy staar net stip na die pastoor.
“Moenie bekommerd wees nie, broer, ek weet wat jy dink. Ek dien in die komitee teen misdaad, speurder Mathabola en die ander komiteelede sal verstaan. Dis beter om te weet wat almal se planne is, ek moet juis vir Mathabola bel oor ons volgende vergadering.”
Japie trek sy skouers op, hy voel skuldig. Hoe kan hy twyfel aan hierdie man? Hulle trek dan soos een man in die tuig vir die Woord van die Here.
Die ongetroude jong pastoor is ’n boorling van die dorp Hopetown in die Karoo. Doringdal was sy eerste gemeente ná sy studiejare. Japie onthou dat party gemeentelede vertel het dat die pastoor baie swaar grootgeword het. Sy familie is arm en het gesukkel om die kinders op skool te hou. Louw het hard gewerk en ná skool is hy universiteit toe en het met beurse en lenings sy studies voltooi. Die gemeente is trots daarop dat, ten spyte van die lenings wat hy moet terugbetaal, hy ook elke maand ’n bedrag geld vir sy bejaarde ouers stuur.
“Nou ja, pastoor, ek moet nou gaan, wil nog ’n paar mense in my wyk gaan besoek,” sê hy.
Die pastoor knip nie ’n oog toe hy die koster agternakyk nie. Vir ’n oomblik bly staan hy daar. Hy word uit sy somber gedagtes geruk toe ’n frase van die Gaither Vocal Band se lied “Somewhere between Jesus and John Wayne, a cowboy and a saint” hard uit sy selfoon opklink.
Sy oë verhelder toe die naam en nommer op die selfoon verskyn, hy luister aandagtig.
“Dankie, suster, ek is bly om jou stem te hoor, ek het begrip vir jou afwesigheid by vanoggend se diens,” sê hy. Die gesprek tussen Isak Louw en die suster aan die ander kant van die foon eindig nie dadelik nie. Sy oë trek op skrefies, wat hy hoor is vir hom baie goeie nuus en hy staar tevrede na die selfoon in sy hand.
Maria en Meisie stap stadig huis toe. Maria se gedagtes draai om pastoor Louw. Ek kan dit nie verstaan nie, is dit hoe die lewe van vedag maar is? Haar gedagtes word onderbreek toe kerkgangers hardop skree vir die groot swart motor wat vinnig naderkom.
“Pas op, my kind, die skollies gee nie om nie,” sê Maria en trek vir Meisie aan die arm na die kant van die straat.
Dis die Groot Beer se motor wat digby hulle verbyry. Die Beer bestuur nie self nie, dis Langman wat agter die stuur sit met sy een hand op sy makker Muisvoël se skouer.
“Ek sê, ou Beer, jy’t daai Godsman met sy lang swart togga en al vol in jou pocket!” grinnik Langman.
Die Beer antwoord nie.
“Kom weer, masse kind,” sê Popeye, “daai togga is maar net ’n show. Vir ons almal, net soos daai moegoes in die boonste plekke, vir daai manne en vroue is dit maar net ’n dêm show.”
Die Groot Beer sit sy sonbril op en maak sy das los. “As jy eers aan die krip begin vreet, hou jy nie op nie, bra. Money speaks, bra, en power controls, masse kind, die plek is vrot daarvan, net waar jy dala loer die maerkat om vet te word,” sê hy.
Muisvoël draai agtertoe. Hy verstaan wat sy groot bra bedoel. Hy vryf oor die nommer 26 teen sy nek en grinnik. “Laat die katte maar vet word, bra, die gangster eet die afvalvet.”
Dit raak stil in die motor, Langman bestuur stadiger, die strate lewe, mense kom van die kerk af, ander strompel voort op onvaste bene en oë wat na nêrens staar. Langman swaai vir ’n voetganger weg. “Die bastardse dronk meid, ek moet haar