Dampies staan op en begin sy klere uit ’n kartondoos haal.
Die klank van die borde wat Maria op die kombuistafel neersit, breek deur die stilte in die kamer. Meisie staan van die kooi af op en stap kombuis toe.
“Dampies,” vra Stienie sag, “waaraan dink jy dan nou so?”
“Aan niks nie, Ma,” antwoord hy sonder om na haar te kyk.
Stienie maak keel skoon. “Dampies, kom sit hier, ek wil met jou praat,” sê sy.
Hy los die kartondoos en kom sit traag langs sy ma op die kooi.
“Jy weet mos jy moet in die voorhuis slaap, nè?”
“Ja, Ma, ek weet,” antwoord hy kortaf.
“Dampies,” begin sy huiwerig, “jy’t nie meer ’n pa nie, ek is lief vir jou en Meisie, maar ek kan nie elke dag vir jou dophou of saam met jou hier rondloop nie.”
Dampies draai na sy ma toe. “Wat is dit, hoekom praat Ma dan nou so?”
“Tik, my kind, tik, ek is so bang jy verval net soos anner kinners daarin, kyk wat het hier in ant Maria se huis gebeur.”
Dampies antwoord haar nie, hy laat sak sy kop.
’n Rilling trek deur Stienie. Het Dampies nie al klaar te doen gekry met tik nie? wonder sy. Haar gedagtes gaan terug na Willem se gedrag, en haar suster se lyding as gevolg van tik.
Die Here moet my help, hoe wéét ’n mens? Jy kom eers agter jou man of kind tik as dit te laat is, mense verstaan nie, dink sy. Ons lewe tussen tikkoppe en smokkelaars, wanneer hulle eers begin tik, dan help praat en soebat nie meer nie. Maria het ook nie aan die begin geweet nie. Waarna kyk jy, sy oë, sy gewig, sy eetlus, sy gedrag? Sy kan hom nie in die huis toesluit nie.
Stienie kyk in haar kamer rond en soek na die regte woorde. “Dampies, belowe my jy sal nie tik gebruik nie,” pleit sy. “As jy eers ’n tikkop is, is jy verlore, jy kan nie in die skool leer nie, want tik vreet jou verstand weg, al wat oorbly is die tronk. En die dood.”
Stienie bly ’n oomblik stil, sy wag dat hy vir haar moet sê dat sy nie bekommerd hoef te wees nie, dat hy nooit met tik deurmekaar sal raak nie, maar Dampies staar net in die vloer vas.
Toe Maria uit die kombuis roep dat die kos reg is, staan Dampies vinnig op en stap uit. Stienie bly eers net verwese sit, ’n benoudheid in haar bors.
Aan tafel eet hulle in stilte. Dampies peusel net aan sy kos en stoot sy bord ná ’n rukkie eenkant toe.
“Ek kom nou weer, Ma,” sê hy, “ek gaan gou na twee ouens toe hier anderkant, Bennie en Pietie Filander.”
“Wag eers, Dampies,” roep Stienie hom terug. “Ek’t nou die dag met daai twee se ma gepraat, hulle ma kla baie oor hulle, jy moet wegbly van hulle af.”
“Maar hulle bly net twee strate van ons af, Ma, hulle is al tjommies wat ek het.”
“Loop hulle darem nog skool?” vra Stienie.
“Ja, Ma,” antwoord hy kortaf en stap uit.
Dampies is haastig. Sy twee vriende Pietie en Bennie wag op hom by die jong vrou Bom se huis.
“Jy’s laat, Dampies,” sê die gesette Bom, “jy weet jy moet ’n paar pakkies na ant Kleintjie toe neem, julle twee gaan saam. Die Beer wag ook in Kokkerotjiedorp.” Sy bring ’n pakkie te voorskyn. “Dè, dis vir julle, maak gou, die Beer wag.”
Terwyl almal in die daaropvolgende weke wag op Roy se moordverhoor, praat mense vir Maria moed in. Sy besoek Roy gereeld in die opblok of roemaan, soos die mense van Doringdal die plaaslike tronk noem. Geld vir borgtog was daar nie.
Dae voel vir Maria soos jare, hoop en wanhoop wissel mekaar af.
Toe sy Roy kort voor die moordverhoor weer ’n keer besoek, kyk hy haar nie in die oë nie. Sy kan sien hy verwyt homself oor haar omstandighede.
“Hoe gaan dit nou by die huis, Mamma?” vra hy.
“Moenie oor my worrie nie, my kind, noudat ant Stienie ingetrek het, gaan dit baie beter. Ons het klaar ysterpalletjies voor die vensters laat vassweis om die rofryters en tikkoppe uit te hou. Maar jy moet na jouself kyk, my kind.”
Maria se gemoed is swaar toe sy later die dag by haar huis aankom. Die huis is stil, Stienie skil aartappels in die kombuis, Meisie sit met ’n skoolboek op die kooi in hulle kamer.
“Waar’s Dampies?” vra sy.
Stienie antwoord nie dadelik nie, sy sukkel om oor haar seun te praat. “Ja, hy’t skaars uit die skool gekom toe is hy al weer hier uit, ek het nie nou die krag vir hom nie, kyk waarin is ons gedompel.”
Maria draai om en stap na haar kamer. Haar eetlus is weg. Sy dink aan Roy in die roemaan. Sy dink aan wat die mense in die strate sê. Almal praat oor die moordverhoor, baie van hulle vra dieselfde dinge.Wat gaan die regter sê, verstaan hy ons leed, verstaan hy waardeur ons gaan, het hy al gehoor van tik, wat dit aan ons doen?
Toe Roy se verhoor uiteindelik teen die einde van Maart aanbreek, is die hofsaal stampvol. Die verhoor voor die rondgaande hof duur nie lank nie. Roy beken skuld en ter versagting word Maria Stokkies as getuie geroep. ’n Verslag van ’n sielkundige, dr. Benedict Kloppers, word voor die hof gelê en dit kom ooreen met Maria se getuienis. Die hofsaal is doodstil toe die regter met sy uitspraak begin.
“Dit is duidelik dat dit tik is wat aanleiding gee tot sulke familietragedies soos die een wat vandag in die hof aangehoor is. Daar is owerhede en organisasies wat die dwelmprobleem moet monitor en die mense moet help. Hoekom het hierdie stelsels die Stokkies-familie gefaal? Dr. Kloppers rapporteer dat tikgebruik toeneem, ook onder meer gegoede mense, en mense van alle rasse. “Dis ’n baie gevaarlike situasie wat ons almal raak, tik het die potensiaal om hele gemeenskappe te verwoes en selfs uit te wis. Gaan ons wag totdat dit gebeur?”
Die regter bly stil, hy vee oor sy voorkop en kyk na Maria. “Maar hoe gesaghebbend dr. Kloppers se verslag ook al is en hoe jammer ek ook al vir die Stokkies-familie voel, ’n mens se lewe is geneem en die wet kan nie toelaat dat mense die reg in eie hande neem nie. Hoe moeilik dit ook al vir haar was, Maria Stokkies het tog geleenthede gehad om haar man te verlaat en daardeur dalk die moord te verhoed. Met alles in ag genome vonnis ek die beskuldige, Roy Stokkies, tot tien jaar gevangenisstraf waarvan vyf jaar opgeskort word.”
Toe die regter opstaan, gee die volgepakte hofsaal hard uiting aan hul gevoelens en die nuus trek vinnig deur die strate en woonbuurtes.
Die tog te voet huis toe voel vir Maria soos ’n ewigheid. Stienie en Bettie stap saam met haar.
“Dis maklik vir die regter om van die wet te praat, hy bly nie hier nie, hy kan nie eens begin dink hoe dit voel nie. Dis soos om in ’n donker gat vol modderwater op te sukkel na waar die son daar bo skyn, maar elke keer terug in die gat te tuimel,” sê Maria toe sy haar voordeur oopsluit. “Jy sink net dieper in die modder en dan vreet die donkerte stuk vir stuk jou laaste bietjie krag weg.”
Bettie soek na woorde. “Dis soos jy sê, Maria,” sê sy met ’n knop in haar keel. “Mense gee raad, anner veroordeel jou, maar as jy dit nie self beleef het nie, sal jy dit nooit verstaan nie. Waar moet ’n vrou die krag venaaf kry om van ’n tikverslaafde man af weg te vlug? Sonder hulp kom jy nie self uit daai moddergat nie.”
Stienie skud haar kop, sy slaan haar arm om Maria se skouer. “Toemaar, Maria,” sê sy, “dit kon slegter met Roy gegaan het, ons moet tevrede wees.”
Hoofstuk 3
Die verhoor van Roy Stokkies is agter die rug. Terwyl werkloses in die strate ronddwaal en ander in en uit die Kromvlei-gevangenis beweeg, sit gangsters hul misdade voort en dwelmverslaafdes vernietig hulself, terwyl ander hul gereed maak vir die aankomende rugby- en sokkerseisoen.
In