Mathabola vee die sweet van sy voorkop af, hy kyk na die venster en skud sy kop. “Die mense hier buite raak oproerig, dit traak hulle nie dat hier binne ’n lyk lê nie.”
“Hulle weet nie wat hier gebeur het nie,” sê Maria terwyl die speurder sy plastiekhandskoene aantrek. Sy en Roy volg sy bewegings angstig.
Mathabola sê egter niks terwyl hy die lyk ondersoek nie. Hy beduie net tam na die wapperende gordyne en sê vir Snyders: “Maak toe die venster, die wind bemoeilik ons werk hier binne.”
Hy tel die stukkende stoel op. “Dis die bewys,” sê hy terwyl hy die stukke van die blompot en die krismisrose eenkant toe vee met sy voet. Hy trek sy handskoene uit en vra vir Snyders om oor te neem.
Frikkie Snyders sien ’n gebreekte portret op die vloer en tel dit op. Aandagtig kyk hy van die foto na die liggaam op die vloer. Snyders skud sy kop: “’n Mens kan nie glo dis dieselfde man nie,” sê hy.
“Ja, die dêmmitse ding tik speel mos nie met ’n ou se gat nie,” antwoord Mathabola.
“Maar, kaptein, hier is dan so ’n groot plek wat kan help, Toevlug, hoekom het hulle hom nie soontoe gestuur nie?”
“Toevlug is propvol, man. Buitendien, die meeste mense het nie die geld daarvoor nie,” sê hy. “Dis soos die oorvol tronke. Om ook die verslaafdes in sulke plekke in te prop sal nie help nie, dis hier buite waar die werk lê, dis die dwelmneste wat uitgeroei moet word.”
Maria en Roy luister in stilte. Die twee praat asof ons nie hier is nie, dink Maria.
Snyders draai na haar toe: “Ek moet ’n verklaring by antie afneem,” sê hy.
Terwyl Maria vir Snyders vertel wat gebeur het, verduidelik Mathabola vir Roy wat sy regte is.
Roy kyk die speurder in die oë. My regte in boeie, dink hy bitter. Toe die lyk uit die huis gedra word, stap Roy Stokkies kop onderstebo agterna.
Hy herken die groot swart motor wat aan die onderpunt van Adamstraat voor Kleintjie se huis staan. Die Groot Beer en sy drie medegangsters kom op daardie oomblik by die huis se voordeur uit.
Die twee speurders sien ook die Beer se motor. Mathabola haal sy selfoon uit en sien hoe Snyders syne ook oopmaak.
Langman, alias die Undertaker, is op die punt om die Beer se motor aan te skakel toe die temalied van The spy who loved me aandui dat die Groot Beer se selfoon lui.
“Dala maar, ek luister,” sê die Groot Beer sag.
Hy kyk met nougetrekte oë na die klomp mense in die straat voor Maria se huis. “Ja, ek sien die geneuk daar bo in die straat, ek sal gou daar inloer.” Hy steek sy selfoon in sy broeksak en kyk deur die motorvenster na Kleintjie in die voorhuisdeur. “Weet jy wat daar aangaan?” vra hy.
“Het nie ’n clue nie,” antwoord Kleintjie, “seker weer ’n bakleiery. Daai ou man Willem het veoggend hier teen die muur gelê en tiep.”
Die Beer knik vir Langman om te ry en oomblikke later hou die motor met die vier gangsters voor Maria se huis stil.
“Ek sê, bra’s, Kleintjie is reg, dis mos daai ou man Willem wat hier bly, ek wonner wat soek die honne dan hier?”
Hy klim uit. Alles wat hier in Doringdal gedala word is my besigheid, dink hy. “Wie se lyk is hier uitgedra?” vra hy.
Die mense antwoord hom nie, hulle kyk na mekaar.
Die Beer wend hom tot Maria in haar hekkie. “Ek sê, antie, vir wie het hulle dan nou hier uitgedra?”
Maria draai net haar rug op hom.
“Die antie is vol kak, maar ek dina worries fokkol’ie,” sê hy. Hy draai om. Die sonbril verberg die uitdrukking in sy oë toe hy in die rigting van Frikkie Snyders kyk. Die Beer voel-voel aan sy regterkantse oorbel en kyk ondersoekend deur die skare mense. Hy skud sy kop. “Die goed lyk al net soos die fokken vaal huise hier rondom hulle,” bulder hy, grom dan diep uit sy keel en spoeg die slym teen die draad vas.
Langman lag. “Gooi sout by die dagga, bra, die Undertaker wil jou nie nou al begraafplaas toe dala nie.”
“Naganja, Langman, kom, manne, laat ons dala,” sê die Beer. Hy en sy medegangsters verlaat die toneel terwyl die mense onder mekaar fluister.
Hulle praat oor die nuus dat Roy sy pa vermoor het, die mense is verbaas en geskok.
“Ek het gewéét die ding gaan ook nog hier by ons gebeur, julle wil mos nie saamstaan teen die duiwelse tikverkopers nie,” sê Bettie Filander, ’n goeie vriendin van Maria Stokkies. Haar woorde bring ’n beroering onder die mense. Party stem saam, ander vloek die polisie.
“Julle tweegatjakkalse, julle hou julle wat julle nie is nie! Daai Bettie-meid moet eerder haar bek hou, haar man, Japie, is ’n koster, hy dra dooie mense weg, sy beter na haar twee tikkopkinners kyk! Sy moet hoop dat daai dogter van haar, Soufie, nie ook ’n tikkop word nie,” skree Bom, ’n jong vrou wat ook vir Dolf Pistoors tik verkoop. Sy vloek op die polisie, en die uniformmanne het hul hande vol om die mense uitmekaar te hou.
“Wat de hel is dit met julle mense?” skree ’n polisieman.
“Fok jou, jy beter na jouself kyk, julle is korrup!” klink ’n stem vanuit die skare op.
Die mense gaan uiteindelik uitmekaar toe die ambulans met die lyk saam met die speurders en polisievangwa vertrek.
In Maria se huis is dit nou stil. Trane stroom oor haar wange terwyl sy op die kooi neersak, sy voel verlate. “Wat het ek in die oë van God gesondig?” Maria voel hoe erge verbittering haar oorval, maar sy weet sy moet vashou aan haar geloof.
Sy dink aan Jaffie Buffels. Sy’t hom daardie tyd veroordeel vir die moorde op die gangsters. Maar ná wat nou in haar eie huis gebeur het, twyfel sy. Het die Here die boggelman regtig opdrag gegee om daai gangsters te vermoor? Of het hy uit moedeloosheid eie reg gebruik?
Die Tien Gebooie sê ons mag nie doodslaan nie . . . Maar ek voel nou nes daai boggelrug van Kaggelsberg, hy’t gesê niemand gee om nie, hy’t geregtigheid gaan soek in die Bybelse geskrifte. Ja, ’n mens voel of jy in ’n kamp vasgemaak sit, net om te sien hoe die smokkelaars en moordenaars vry buite die kamp soos wilde diere tekere gaan.
Dit voel vir haar nou erger as in die tyd van Jaffie Buffels. Sy maak haar oë toe en trek haar asem diep in. Ek moet sterk wees, dink sy, my geloof kan nie nou ingee nie. Ek is mos nie alleen nie, ek het darem nog ’n suster, ons sal mekaar help.
Hoofstuk 2
’n Week ná Willem se begrafnis sukkel Maria Stokkies steeds om vrede te maak met wat gebeur het. Dit was vir haar vreeslik dat Roy, hul enigste kind, nie eens by die begrafnis kon wees nie.
Sy staan by die voorhuisvenster. Ek wonner wanneer Stienie kom, ons het gister nog gepraat, ek kan nie langer so alleen aangaan nie, sy’t gesê sy kom vedag. Dan hoor sy ’n dreuning en haar gesig verhelder toe ’n voertuig voor die huis stilhou, dis hul vriend Boetie Hanekom se wit bakkie. Hy het aangebied om Stienie se goed te bring.
Die twee vroue omhels mekaar en almal help om Stienie Mouries se karige besittings in die huis in te dra.
“Ai, Stienie, al het ons net ’n paar strate van mekaar af gebly, het die dood ons nou nog nader aan mekaar gebring.”
Maria se woorde laat Stienie aan haar eie verlede dink. Hoe verlang sy nie nou na Saul nie, hy was so lank siek voordat hy aan tering dood is. Maar die Here is genadig, dink sy. Hy het my daardeur gedra toe ek ook tering kry. En nou kan Dampies en Meisie vir die eerste keer in hul lewens tussen die vier mure van ’n regte huis bly.
Die eerste dag in Stienie se nuwe tuiste is agter die rug. Willem se dood en Roy wat aangehou word, is vir almal baie pynlik. Sy en Maria praat nie daaroor nie, maar