Die hart van 'n ma. Abraham Phillips. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Abraham Phillips
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Контркультура
Год издания: 0
isbn: 9780798159531
Скачать книгу
n>

      

      Die hart van ’n ma

      Abraham Phillips

      Human & Rousseau

      Hoofstuk 1

      Maria staan sukkelend van haar knieë op langs haar man se lig­gaam.

      “Jou pa is dood, Roy.”

      Roy Stokkies raak doodsbleek, hy kan dit nie glo nie. Hy gaan staan by die venster, dit voel vir hom of hy daar buite saam met die warm suidoostewind sweef. Vaagweg hoor hy hoedat mense in die straat deurmekaar lag en met mekaar die spot dryf. Hy staar na die huise aan die oorkant van die straat, sy asem jaag. Dit voel vir hom of die noodlot soos die duiwel self op die spoor van die bruin mense in die onderdorp is. Dit laat ons soos zombies lewe, dink Roy en draai stadig van die venster af weg, daar is trane in sy oë. Hy kyk na sy ma: “Mamma moet die poliese bel, ek gaan myself oorgee.”

      “Nee, jy kan nie!” Die trane loop ook oor Maria se wange. “Ek gaan jou pa se dood op mý vat, dis my skuld, ek moes nie vir hom die geld vir tik gegee het nie. Die magistraat sal vir my meer ge­nadig wees.”

      Roy skud sy kop. “Nee, nee, Mamma in die tronk? Dis nie Mam­ma se skuld nie, dis die mense wat tik verkoop. En dis ék wat vir Pa doodgeslaan het.”

      Sy woorde klink vir Maria ver. Sy kyk na Roy, sy soek na ant­woorde. Dit kan mos nie wees nie, Willem het netnou nog so aangegaan, vir haar en Roy gedreig. Maar dan besef sy dis nie ’n nagmerrie nie. Willem is dood.

      Sy kyk af na die gebreekte portret en stukkende blompot op die vloer – na die krismisrose wat sy met soveel moeite in die harde rooigrond agter die huis aan die groei gekry het. “Dan loop ek maar,” sê sy. “Ek sal van die winkel af bel, dis beter so.”

      Roy staar sy ma agterna, hy wil haar aan die arm gryp, hy wil met haar die wye wêreld invlug.

      Maria stap stadig, soos ’n slaapwandelaar, in die straat af. Bitter­heid begin in haar woed toe sy Kleintjie by haar smokkel­huis sien uitkom. Sy’s een van die duiwels hier, dink sy, die mense sê sy was net so erg in die Rooiwalle waar sy vroeër gebly het. Daai gangster Salmon en sy spul rofryters het haar daar uit­gewoel, nou doen sy dieselfde hier in Helshoogte. Haar verskonings oor hoe­kom sy smokkel, is dat sy ook moet lewe, ook moet eet. Maar sy’s een van hulle, sy trek dié wat nie het nie verder die afgrond in.

      Maria sien hoe Kleintjie hande op die heupe kyk na ’n jong vrou wat teenaan die draad lê en twee seuns in die jaarts wat me­kaar dreig met messe. Nie een van die drie weet waar hulle is van die tik nie.

      Sy kan nie verstaan dat die mense in die straat net verbyloop nie, hulle steur hulle nie aan die jong vrou of die twee seuns nie. Het ons dan so gewóónd geraak aan dit alles? wonder sy.

      Sy kyk na die gebeure asof dit nie werklik is nie, maar word uit haar gedagtes geruk toe ’n groot swart motor voor Kleintjie se huis stilhou.

      Maria herken die groot forse man wat eerste uit die motor klim. Dis Dolf Pistoors, alias die Groot Beer, generaal van die 26-tronkgangsters. Sy het hom al baie hier gesien, die mense sê dis sy huis.

      Sy sien hoe die Beer sy hemp uittrek en in die motor gooi. Hy kyk in haar rigting, maar sy weet vir hom is sy net ’n magtelose toeskouer. Hy het ’n sonbril op, en in die styl van die gangster dra hy ook oorbelle.Voor op sy bors is die tatoeëermerk van ’n arend langs die nommer 26, sy gesig is uitdrukkingloos. Hy be­duie na ’n stukkende venster terwyl hy saam met drie van sy gangstervriende, Johannes Willemse, alias Muisvoël, Popeye en Langman, oor die omgevalle heiningdraad klim. Hy lag diep uit sy bors, goud glinster in sy mond. Hy wys spottend na die vrou wat teen die draad lê.

      “Hei, Langman, maak toe die meid se stêre, of moet ons haar saamvat?”

      Langman trek sy gesig, teen sy wangbene is die woord Under­taker getatoeëer.

      “Waantoe? Ek wil haar nie hê nie,” sê hy en skop liggies teen haar boude. “Nei, masse kind, sy’t niks hier onder meer nie,” lag hy.

      Kleintjie glimlag breed toe sy die vier gangsters in haar voor­deur ontvang.

      Maria kan elke woord hoor. Die verdomde rofryter, hy’t bloed aan sy hande, hy’t ’n groot huis hier anderkant in Kokkerotjiedorp. Dié huis hier hou hy net aan om ons mense van Doringdal met tik te vergiftig.

      Maria draai haar rug op die smokkelhuis en stap aan. “Wat gaan van ons word?” prewel sy. Willem is klaar weg. Dis die tik. Kan die mense wat ons moet help dan regtig nie, of wil hulle nie? Selfs vir die poliese moet jy bang wees. Maria sien hoe verbygangers in haar rigting kyk, hulle fluister seker onder mekaar oor die vrou wat met haarself loop en praat. Ek verbeel my allerhande dinge, hulle kan tog nie van die moord weet nie. Moord . . . Nee, dit was ’n ongeluk, tik het hom doodgemaak.

      Maria bewe erg, sy probeer haar wysmaak dat sy nou verlos is van die wrede lewe saam met Willem, maar sy kan nie. Sy haal ’n sakdoek voor by haar bors uit en vee die trane van haar wange af.

      Wat gaan dit aan my kind se lewe doen? Roy was nog nooit in die tronk nie, hy sal nie ’n vlieg seermaak nie. Maar ek moet die oproep maak, ek moet die poliese bel, al weet ek dat dit my lewe en dié van my seun gaan veanner. Stadig loop sy die winkel binne. Met moeite hou sy die telefoon vas. Die woorde “dood” en “moord” stotter uit haar mond.

      Roy staan by die tafel. Hy onthou hoe dikwels hy en sy pa ge­praat het oor hierdie duiwelse tik, wat dit aan die jong mense doen.

      Maar toe word ’n ou man soos hý ook lief vir tik, toe veanner sy pa ook van binne en buite in ’n monster, dink hy bitter. Kyk hoe lyk sy gesig, oortrek van skubbe.

      Hy gaan sit. Sy hande bewe en sy hart klop onstuimig. Hy is ’n moordenaar, ’n seun wat sy pa doodgeslaan het.

      Lank sit hy roerloos langs die tafel. Sy gedagtes word onder­breek toe Maria die voorhuis binnekom en voor hom vassteek.

      “Mamma is gou terug, het Mamma toe gebel?” vra hy.

      “Ja, maar ai, my kind, jy’s so bleek soos die dood, laat ek vir ons ’n bietjie suikerwater aanmaak.”

      Maria sit ’n halfvol beker suikerwater voor Roy neer, sy draai om en stap tot by die venster. Sy sluk hortend, haar skraal skouers krom, sy kan skaars haar beker vashou, watter nuttelose troos is dit nie.

      Wat gaan ek doen? Willem is dood en Roy gaan seker tronk toe. Sy maak haar oë toe, doodstil staan sy daar, die minute voel soos ure, haar lewe het skielik heeltemal verander.

      Vir Roy lyk dit of sy bid.“Wat is dit nou, Mamma?” vra hy. “Hoe­kom staan Mamma so?”

      “Ek dink net, my kind.” Maria maak haar oë oop en draai na hom. “Roy, ek gaan dat antie Stienie hier by my kom intrek, ek wil nie alleen hier bly as jy miskien straf kry nie.”

      “Ek verstaan,” sê Roy, “maar onthou, daai Dampies is ’n vrees­like klong.”

      “Ek weet, maar ek kan eintlik nie anners nie,” sê sy.

      Roy sit die leë beker op die tafel neer. “Ja, Mamma is seker reg, dan kan ant Stienie-hulle ook uit die hok van daai mense se jaarts kom.”

      Hulle bly stil en kyk af na Willem se stil liggaam op die vloer.

      ’n Geraas klink buite in die straat op en Maria kyk by die venster uit. “Dis die poliese,” prewel sy.

      ’n Polisievangwa, ambulans en ’n motor met twee speurders, kap­tein Wielieboy Mathabola en sersant Frikkie Snyders, hou by­na gelyktydig voor die huis stil. Mense uit die buurt skarrel nader.

      Maria wag die twee speurders by haar voordeur in.

      Wielieboy Mathabola sien die vrees waarin die tingerige vrou verkeer.

      “Ek hoor hier’s ’n moord gepleeg, is dit mevrou wat gebel het?” vra hy.

      “Ja, kaptein, hier lê my man,” antwoord Maria.

      Die twee speurders stap om die tafel om na die lyk te kyk. Mathabola is op die punt om vir Maria ’n vraag te vra, toe Roy tussenbeide tree.

      “Dis