C'est la vie. Lanie van Reenen. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Lanie van Reenen
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Биографии и Мемуары
Год издания: 0
isbn: 9780624056195
Скачать книгу
entoesiasties oor die projek.

      Soos voorheen in my lewe kom selfaktualisering tot my redding, en dié keer kom Lillibet saam. Sy is een wat kan organiseer en gedissiplineerd kan werk; daarmee vul sy my regterbrein-talente aan en ons twee vorm ’n goeie span. Op 1 Augustus 1985 maak ons winkel, Sweet Emma, sy deure in Constantia Village oop. Ons koop ons meeste voorraad van Lynn, wat vir haar Biggie Best-winkel in Cavendish Square geblomde materiaal laat druk by Berg River Textiles.

      Dit was die dae van internasionale sanksies en Lynn het die geleentheid aangegryp om ’n plaaslik vervaardigde materiaalreeks te vestig. Om die minimum volumes te hanteer wat Berg River Textiles bereid was om te druk, moes sy meer afsetgebiede hê as wat haar enkele winkel kon bied, en dit is waar ons in die prentjie gekom het. Die samewerking het so belangrik geword dat ons winkel se naam uiteindelik van Sweet Emma na Biggie Best Constantia verander het – die eerste van ’n reeks Biggie Best-konsessiewinkels in Suid-Afrika. Dié reeks winkels het een van die suksesverhale van die Suid-Afrikaanse kleinhandel geword en is nou ’n alombekende huishoudelike naam.

      Biggie Best het ’n reuse-pakhuis in Woodstock, waar ek en Lillibet weekliks ons kombi’s tot teen die dak gaan vol pak met rolle materiaal en dekor-bybehore. Ons winkel in Constantia is pragtig en suksesvol, en ek voel al hoe meer soos ’n bemagtigde, onafhanklike, sterk vrou.

      As Michael deesdae die kinders kom haal en terugbring, is ek vriendelik en saaklik met hom. Maar een Saterdag bring hy laatmiddag die kinders huis toe, en toe hulle hom groet en na hul kamers hardloop, bly hy by die deur. “Kan ons praat?” vra hy, en ek kan sien hy is erg verleë.

      “Natuurlik kan ons praat.”

      Ek gaan sit in een van die sitkamerstoele, maar hy bly staan. “Ek wil terugkom,” sê hy. “Ek wil huis toe kom. Ek mis jou en die kinders en ons lewe saam.”

      Ons besluit saam dat dit net kan werk as ons eers ’n draai by ’n goeie terapeut maak. Pas nadat hy teruggetrek het, gaan sien ons iemand. Ons praat en raas en luister en huil totdat die troebel waters weer helder is. Ons vergewe mekaar. Vir die eerste keer praat ons ook reguit oor Michael se verhouding met alkohol. Albei besef hoe ’n groot bydraende faktor dit was in die verwydering tussen ons. Michael besluit om liewer glad nie meer te drink nie.

      Hoofstuk 11

      Ons is oorstelp van vreugde en verbasing toe ek ontdek dat ek, op 39, weer swanger is. Dit was nêrens in ons beplanning nie; ons het bloot gedink dit kan nie meer gebeur nie. Vanweë my ouderdom beveel die ginekoloog aan dat ek ’n amniosentese laat doen. Die uitslag is dat die baba normaal is en dat dit ’n seuntjie is. ’n Seuntjie! ’n Van Reenen-naamgenoot vir oupa Nico! Veral Michael is in die wolke en hy en die meisies is by toe Jan Nicolaas Rossouw van Reenen in Augustus van 1989 met ’n epidurale keisersnee gebore word. ’n Klein leeutjie. Die twee sussies, nou twaalf en veertien jaar oud, wedywer om die rol van hulpmoeder. Michael laat ’n klein T-hempie druk vir Nicolaas met die woorde I survived family planning voorop.

      Soos net so ’n klein mensie kan, bring die baba ’n vreugde oor ons huis. Ons pas mekaar op en woon en werk rustig voort.

      Wel, miskien nie so rustig nie. Ek en Michael is nou albei in ons veertigs, gevestig in ons onderskeie beroepe en erg bedrywig. Michael doen dít waarmee hy veral goed is: Hy verfyn sy kursusse in selfontwikkeling en spanbousessies en bied dit oral in die land aan. Dit beteken dat hy dikwels weg van die huis is. Hy koop ook ’n plaas aan die Breederivier naby Swellendam en noem dit Walkabout. Daar ontwikkel hy seminaargeriewe met buitelug-aktiwiteite waarheen hy die groepe vir sy vyfdag-kursusse neem.

      Ek en Lillibet se Biggie Best-winkel is suksesvol. Die nuwe eienares van die Biggie Best-groep, Prue Phul, noem op ’n dag aan my dat Struik Uitgewers graag ’n Biggie Best-boek wil uitgee, ’n praktiese dekorhandleiding, en of ek dalk iemand ken wat dit sal kan skryf? Toe ek dit die aand aan Michael noem, sê hy: “Wie dink jy sal dit beter kan doen as jy?”

      “Hmmm . . . niemand?”

      “Nou ja toe,” sê hy.

      Die volgende oggend bel ek vir Prue en sê ek sal die boek skryf.

      “Jy?” sê sy. “Maar natuurlik!”

      En wat ’n heerlike projek! Die skryf kom maklik, want ek ken die onderwerp so goed. Elke gordyn, blinding, deken, kussing, nagval . . . alles wat jy met ’n stuk Biggie Best-lap kan maak, moet beskryf, geïllustreer, gemaak en afgeneem word. Dit raak ’n spanpoging – uitgewer, redakteur, illustreerder, fotograaf en ek. Die eerste boek verskyn in April 1990, in Engels en in Afrikaans, en is so ’n sukses dat dit twee herdrukke beleef en daardie jaar een van Struik se topverkopers is. ’n Tweede boek volg kort daarop, dié keer weer ’n doen-dit-self-handleiding met alles anders wat jy met ’n stuk Biggie Best-lap kan maak wat nie in die eerste boek was nie. Maar dit gaan druk met die skryf daarvan, want nou werk ek weer amper voldag by die winkel, het twee tienerdogters en ’n baba. En ’n man! Lizzie Jacobs wat by ons in die huis werk, is my steunpilaar. Smiddae tussen vier en ses pas die meisies vir Nicolaas op, maak Lizzie aandete en skryf ek aan my boek. Wanneer die huishouding dan saans tot bedaring kom, skryf ek nog ’n paar uur.

      Maar as ek deesdae deur daardie boeke blaai, wil ek sê: “Ekskuus, Suid-Afrika, ek is persoonlik verantwoordelik vir baie opgekitschde voorkamers, slaapkamers en toilette met hul bovalle, ondervalle, syvalle, nagvalle en kantvalle, wat onvanpas hang daar waar hulle nooit bedoel was om te hang nie, en lankal afgehaal moes gewees het en stoflappe geword het.”

      Ons lewe is woelig en lekker met baie balle in die lug. Maar ná jare van winkel-en-dekor is ek nou lus vir ’n nuwe uitdaging. My persoonlike smaak beweeg ook nou weg van die blommerige styl wat ek moet verkoop, en ek doen dit met al hoe minder entoesiasme . . . Ek wil eintlik glad nie meer ’n veelkleurig geblomde lap sien nie.

      Dit is 1995, Suid-Afrika het sosiaal-polities ’n kwantum-sprong gemaak, en die wêreld is so tevrede met ons dat hulle in hul duisende kom kuier. Ek het nog altyd gedroom van ’n “klein hotelletjie êrens”, en te midde van die nuwe toerismegolf besluit ek om ons ou Victoriaanse kasarm in ’n gastehuis te omskep. Welgelegen word gebore, ’n uitvloeisel van dit waarvan ek hou en dit waarmee ek goed is, naamlik om ’n plek mooi te maak en om gasvrou te speel. Maar ek doen dit dié slag in my nuut aangekweekte, meer manlik-eenvoudige styl.

      Ons gesin moet egter ook ’n woonplek hê, en daarvoor koop ek die huis agter Welgelegen; ek en die buurman beklink die transaksie een oggend sommer so oor die heining.

      Ek het aandele geërf ná die dood van my oom Fred. My broer en sussies het besluit om hulle keuraandele net so te behou, maar myne het ek verkoop en die opbrengs daarvan in eiendom belê. Eiendom waarmee ek kon woeker. En toe daar ’n cottage in Hofmeyrstraat, naby Welgelegen, op die mark kom, het ek nog genoeg geld oor na die koop van die nuwe woonhuis dat ek die deposito op die cottage ook kan bekostig. Die res leen ek. Ek skakel die cottage by Welgelegen in as ’n verhuurbare eenheid en kan maklik die paaiemente dek met die inkomste daaruit.

      Michelle en Nina is albei op universiteit en woon op Stellenbosch, maar het elk nog hulle eie kamer in ons nuwe huis. Michael, Nicolaas en ek word erg geraak deur die leë nes, veral Nic mis sy sussies.

      My gastehuis werk en Michael se Walkabout werk. Ek begin ook saam met hom fietsry en ons word lekker fiks. Hy hervat ook een van sy ou liefdes, motorfiets ry, en dit bied ons soms die kans om ’n naweek weg te glip. Ons alleentye, wanneer dit net weer ons is, is kosbaar en allerbelangrik. Dan gesels ons weer soos die beste vriende wat ons eintlik is en verstaan al hoe meer hoe ons dinge tot hier verloop het.

      Michael bring ook baie tyd op Walkabout deur. Naweke kom hy huis toe, of ons gaan saam met vriende na hom toe om op die rivier te baljaar. Dit is heerlike tye. Ons dogters se studentevriende kom graag saam en bedags roei en swem almal in die Breederivier en saans kuier ons saam in die lapa om ’n groot vuur.

      Kosmaak is altyd ’n spanpoging en ’n groot deel van al die lekkerte. Michael speel kitaar en sing die liedjies wat ’n leeftyd al saamkom. Klein Nicolaas sit altyd naby sy pa en volg elke akkoord op sy eie kitaar na. En nie net die akkoorde nie, ook sy pa se maniërismes, die manier waarop hy sy oë skrefies trek van lekkerkry,