Suid-Afrikaanse geweldenaars sonder genade. Chris Karsten. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Chris Karsten
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Биографии и Мемуары
Год издания: 0
isbn: 9780798154406
Скачать книгу
klere en skoene in ’n oop stuk veld sou gegooi het. Dié veld het kort voor die uitwysing afgebrand en die polisie het net verkoolde skoene gekry. Dit het geen forensiese bewyse opgelewer nie. Die moordwapen is ook nooit gekry nie.

      Op 25 September 2002 staan regter Patel ’n aansoek van Pieter se regsverteenwordiger toe dat Pieter onskuldig bevind en ontslaan word.

      Hy stap verheug as ’n vry man uit die hof, trane van verligting oor sy wange.

      Prof. Petra Swanepoel van Unisa se departement straf-en straf-prosesreg meen dit kan gereeld gebeur dat beskuldigdes onskuldig bevind en ontslaan word as die staat se saak net steun op bekentenisse wat in geskil is. Sou dié bekentenisse nie toegelaat word nie, het die staat nie genoeg getuienis om sy saak bo rede-like twyfel te bewys nie.

       Hy stap verheug as ’n vry man uit die hof, trane van verligting oor sy wange.

      In Pieter se geval is vingerafdrukke waardeloos omdat hy saam in die woon-stel gebly het. Bloed-en haar-monsters van Pieter het geen forensiese bewyse opgelewer nie. Hy het ’n sny aan sy hand gehad ná sy vrou se dood, maar sy bloed is nêrens in die woonstel gekry nie.

      Prof. Swanepoel sê ’n verdagte se regte moet aan hom verduidelik word met inhegtenisnemings, en dié regte moet gereeld herhaal word, ook met uitwysings. Ook ’n hofverslag moet weerspieël dat ’n beskuldigde al sy regte verstaan, soos swygreg en reg op regsverteenwoordiging.

      Koos en Annatjie Brits vertel enkele dae later op hul kleinhoewe van die skok oor Pieter se vrylating en dat hul dogter se moordenaar nie boet nie.

      ’n Kort entjie daarvandaan werk Pieter aan sy bakkie, buite die woonstel waar Amelia se liggaam gekry is.

      Annatjie sê Amelia was stralend gelukkig oor die baba wat sy verwag het. “Die Donderdag voor haar dood het sy ons almal nog laat voel hoe skop die ou kleintjie in haar maag.”

      Amelia se oupa, Robert Greeff, sê hy sal elke sent op sy naam gebruik sodat geregtigheid kan geskied. En Koos skryf ’n brief aan die minister van justisie waarin hy sy ongelukkigheid uitspreek dat Pieter op ’n “tegniese punt” vrygelaat is ondanks sy aanvanklike bekentenis dat hy Amelia se keel afgesny het.

      Oor hierdie brief word Koos in Junie 2003 in die hof deur regter Patel geroskam. “Ek weet nie wat jóú belang in die saak is nie, maar ministers meng hulle nie in met regters se werk nie,” sê die regter vir hom.

      Regter Patel hoor toe ’n aansoek van die staat aan waarin verlof tot appèl gevra word sodat sekere regsvrae oor die ontoelaatbaarheid van die verklarings, uitwysing en skuldbekentenis aan die appèlhof in Bloemfontein gerig kan word.

      Regter Patel weier die aansoek.

      Supt. Rudi van Olst van Pretoria se moord-en-roof-eenheid sê hierop die polisie soek nie na ’n ander verdagte nie.

      In September 2004, twee jaar nadat Pieter vry by die hof uitgestap het, verhuis Koos en Annatjie Brits na Bela-Bela (Warmbad) om van al die slegte herinneringe oor hul dogter se dood weg te kom.

      Maar staatsadv. Elna Wait, adjunk-openbare direkteur van vervolging in Pretoria, is nog nie klaar nie. Sy wil aan die appèlhof aandui dat regter Patel ’n “regsdwaling” begaan het, en die appèlhof vra vir ’n beslissing dat Pieter herverhoor word, dié keer mét die betwiste bekentenis, ver-klarings en uitwysings as toelaatbare getuienis.

      Adv. Wait sê in haar geskrewe betooghoofde in die appèlhof die staat het 21 regsvrae wat hoofsaaklik daarom wentel dat Pieter se regte twee keer voor sy bekentenis deur die polisie aan hom verduidelik is.

      “As [regter Patel] reg was in sy bevinding dat die landdros [Noeth] ’n plig gehad het om Viljoen se swygreg aan hom te verduidelik voordat hy gepleit het, [is] regtens fouteer deur te bevind dat dié [verhoor-] hof nie kennis mag neem van die feit dat Viljoen vóór sy pleit reeds deur die polisie oor sy regte ingelig is nie.

      “Gevolglik het die hooggeregshof fouteer deur te bevind dat die [landdros se] nalating Viljoen se verhoor onbillik en strydig met die reëls van gesonde regspleging gemaak het.

      “Die hooggeregshof het fouteer met sy bevinding dat Viljoen in elke stadium van die verrigtinge oor sy regte ingelig moes gewees het voordat hy inkriminerende verklarings gedoen het.

      “Die hooggeregshof het ook fouteer deur getuienis te weier dat Viljoen voor die uitwysings aan die polisie en die pleitverrigtinge in Pretoria-Noord inderdaad [deur die polisie] oor sy regte ingelig is, wat insluit sy reg op regsverteenwoordiging.

      “Solank mnr. Viljoen bewus was van sy regte en ’n oorwoë keuse gedoen het om nié regsverteenwoordiging te kry nie, is nóg sy regte aangetas en is nóg die verhoor onbillik.”

      Maar Pieter se regsverteenwoordiger, adv. Gerhard Wagenaar, sê in s´y betooghoofde onder meer: “Dit word aan die hand gedoen dat die reg tot ’n billike verhoor ingevolge die Grondwet, ’n reg is wat ’n aangeklaagde het – maar nie die staat nie.

      “Die staat moet en kan hom dus nie nou beroep op sy reg op effektiewe vervolging en dat hy dus die spreekwoordelike tweede hap aan die appel moet kry met ’n bevel van heropening van die verhoor nie.

      “Die hooggeregshof het inderdaad op die getuienis bevind dat daar inbreuk gemaak is op die grondwetlike regte van mnr. Viljoen ten einde bepaalde getuienis te bekom.

      “Met inagneming van al die feite het die hooggeregshof bevind dat die toelating van daardie getuienis die verhoor onbillik sal maak en nadelig sal wees vir die regspleging.

      “Die vrae met betrekking tot die verrigtinge in die landdroshof hou verband met twee fundamentele regte van ’n beskuldigde (nie die staat nie).

      “Ek doen derhalwe aan die hand dat selfs al word die staat se 21 regsvrae met betrekking tot die verrigtinge in die landdroshof beantwoord [deur die appèlhof], sal die antwoorde daarop bloot akademies van aard wees.

      “Die hooggeregshof het inderdaad (tereg) beslis dat die bekentenis, die uitwysing en die pleit van skuldig deur mnr. Viljoen in die land-droshof getuienis is wat verkry is nadat inbreuk gemaak is op sy fundamentele regte.”

      Op 2 Desember 2004 lewer ’n volbank van vyf appèlregters eenparig hieroor ’n bevel wat as “grondverskuiwend” in Suid-Afrikaanse regs-pleging beskou word:

      “Verrigtinge in verband met dieselfde misdaad waarop Viljoen vry-gespreek is, mag weer ingestel word … asof hy nog nooit aangekla, verhoor en vrygespreek is nie.”

      Die appèlhof stel ook die voorwaarde dat nóg regter Patel nóg sy twee destydse assessore die saak weer verhoor, en bevind die hooggeregshof het fouteer deur: op hoorsê-getuienis in dokumente tydens ’n aansoek om borgtog staat te maak terwyl die dokumente nie tydens die verhoor ingedien is nie; die toelaatbaarheid van bepaalde getuienis te weier sonder om die partye ’n kans te gee om getuienis oor die relevante feitekwessies van sulke getuienis te lei; te bevind dat die toelaatbaarheid van die bekentenis nie tydens ’n binneverhoor bepaal kan word nie net omdat die toelaatbaarheid van die bekentenis op grondwetlike grondslae betwis word, en te bevind dat Pieter se grondwetlike reg op stilswye aangetas is.

       “Ons sal die nuwe verhoor so gou moontlik aan die gang kry.”

      Adv. Wait sê: “Dit is baie goeie nuus vir reg en geregtigheid. Ons sal die nuwe verhoor so gou moontlik aan die gang kry.”

      Adv. Norman Arendse SC, nasionale voor-sitter van die algemene balieraad van Suid-Afrika, sê: “Hierdie is ’n grondverskuiwende uitspraak. Sover ek weet, is dit die heel eerste keer dat iemand ná ’n verhoor op aanklag van moord vrygespreek word en daar dan beveel word dat hy weer aangekla word.

      “Die uitspraak het twee belangrike gevolge. Eerstens stuur dit ’n harde sein aan die gemeenskap dat die howe en die regstelsel steeds daar is om na hul belange om te sien en nie sal toelaat dat mense wat van ’n walglike misdaad verdink word, vry rondloop nie.

      “Ten tweede maak die appèlhof dit baie duidelik dat hy beslissings van ondergeskikte howe fynkam en dat regsdwalings nie maklik