Suid-Afrikaanse geweldenaars sonder genade. Chris Karsten. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Chris Karsten
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Биографии и Мемуары
Год издания: 0
isbn: 9780798154406
Скачать книгу
veral toe die tweetjies besluit om te trou, kort nadat Amelia klaar is met skool. Pieter rook en drink nie en het ’n goeie werk as duikklopper in Pretoria-Noord. Ook Amelia werk al, by haar suster, Raatjie, in Pretoria.

      Die Viljoens rig vir die pasgetroudes ’n woonstel in naby hul hoewehuis op Haakdoring. Dit is ook naby die Brits-ouers vir ’n gerieflike oor-en-weer-kuiery.

PieterViljoen Rapport.jpg

      Pieter Viljoen

      Rapport

      Ná ’n ruk sien almal uit na die aankoms van ’n eersteling, veral Amelia. Sy wil bitter graag ’n baba hê.

      In 1999 is sy swanger, maar het later ’n miskraam. Dit is ’n swaar slag.

      In Desember 2000, op 23, vermoed sy dat sy wéér swanger is. Sy koop ’n swangerskaptoets, maar is eers half aarselend of sy die toets moet doen. Sê nou sy ís swanger, sê nou sy het wéér ’n miskraam.

      Sy doen die toets, en dit wys inderdaad dat sy swanger is. Sy kan kwalik haar vreugde onderdruk, en vertel vir Pieter. Ook hy is bly.

      Amelia besluit om aantekeninge te hou van haar swangerskap, en van haar baba ná geboorte. Sy gesels met haar ongebore baba in ’n dagboek.

      Sy skryf: “Dit is vandag die 20ste Desember 2000 op ’n Woensdag en op jou ouma Brits [Amelia se ma, Ria] se verjaardag. Dit is 05:30 in die oggend en jou pa [Pieter] lê nog in die bed.

      “Ek staan voor die deur in die toilet en besluit nog of ek die swanger-skaptoets moet doen of nie (omdat ek al soveel teleurstellings gehad het).

      “Ek doen toe maar die toets, toe is ek so bly van blydskap dat ek in trane uitbars. Ek vertel toe jou pa. Hy was net so bly, want jy sien, my kind, ek en jou pa het ’n jaar gelede ook ’n baba verloor en ek het vandag besluit dat dit nie weer gaan gebeur nie.”

      Aan die begin van 2001 skryf sy: “Ek het weer gegaan vir ’n bloedtoets om te kan sien of jy nog goed groei hier binne-in my, wel die uitslag sê jy groei baie goed en met volle stoom en vandag was jy 4 cm lank.”

      Nog ’n inskrywing lui: “Ek wonder elke oomblik wat jy hier binne-in my doen, of jy groei en of jy beweeg en of jy slaap.”

      Die jong, opgewonde paartjie besluit alles verloop dié slag so goed met die swangerskap dat hulle maar die babakamer kan regkry vir hul eersteling.

       “Ek wonder elke oomblik wat jy hier binne-in my doen, of jy groei en of jy beweeg en of jy slaap.”

      Pieter werk hard, ry douvoordag met sy bakkie van die woonstel weg, en kom dikwels saans laat eers terug. Hy sê hy werk oortyd sodat hulle meer geld kan hê vir hul baba.

      En Sondae is hulle in die kerk en kuier beurtelings by Amelia en Pieter se ouers.

      Maar die voorbeeldige Pieter se laatkommery saans kwel Amelia, en sy vra vir haar pa, Koos, om vir haar te verduidelik wat “oortyd” alles beteken, want sy sien nie eintlik meer geld as gewoonlik nie.

      Waaroor Pieter swyg, is dat hy sy oortyd dikwels deurbring in die geselskap van ’n ander meisie. Hy loop haar in Januarie 2001 raak in ’n gesellinklub, waar sy meer doen as net gesels.

      Sy is ’n mooi sekswerker met donker hare en staan bekend as Alexa, en het ook reeds ’n jong kind wat oor ’n jaar of twee moet skool toe gaan.

      Toe Pieter die eerste keer in die klub kom, soek hy haar tussen die ander gesellinne uit. En elke tweede week bespreek hy Alexa vir ’n oortyd-aand se seks. Sy lewer so ’n goeie diens aan Pieter dat hy haar dikwels meer betaal as die vasgestelde tarief.

      Pieter gee aanvanklik aan Alexa voor dat hy ongetroud is, maar namate hulle mekaar beter leer ken, begin hulle ook al meer gesels, kom agter hulle was in dieselfde skool, waar Amelia ook was. Een aand erken hy dat hy getroud is en dat sy vrou boonop swanger is. Maar dit, die huwelik en swangerskap, is vir Alexa van min belang. Haar klante het áltyd stories en probleme wat hulle in die bed wil bely.

      Pieter bespreek haar weer vir Maandagaand 9 April 2001 en daag in haar kamer op. Maar dié aand wil hy nie seks hê nie. Hy wil gesels. Hy haal troufoto’s van hom en Amelia uit en wys dit vir Alexa.

      ’n Paar dae later lees Alexa in ’n koerant van Pieter se swanger vrou wat die Dinsdag-oggend vroeg vermoor is, net ure nadat hy en sy troufoto’s by Alexa weg is.

      Op Dinsdag 17 April, ’n week ná Amelia se dood, bespreek Pieter Alexa weer vir seks. Hy sê vir haar, in haar kamer, sy vrou is vroeër dié dag begrawe. Hy is nou ongetroud.

AmeliaViljoen Rapport.jpg

      Amelia Viljoen

      Rapport

      En terwyl sy die jong wewenaar as ’t ware van die graf na die bed onthaal, is Alexa, die sexy sekswerker, onbewus daarvan dat sy deel gaan word van ’n saak wat vir regs-geskiedenis in Suid-Afrika gaan sorg.

      Keel afgesny

      Pieter kom die Maandagaand laatnag van Alexa af by die huiswoonstel op Haakdoringboom aan, bêre die troufoto’s en gaan kruip langs die swanger Amelia in. Omstreeks vyfuur die Dinsdagoggend is hy weer uit die bed om te gaan werk. Toe hy haar groet, gee hy haar R50 vir petrol op pad na haar werk.

      Sy dut nog ’n bietjie voordat sy ook moet gereed maak vir die dag. Amelia sluimer in, hoor nie die glas wat breek en die grendel van die babakamer se venster wat oopgaan nie.

      Sy word ineens wakker toe ’n sterk man bo-op haar op die bed is, met ’n mes in sy hand. Sy probeer gil en stoei van die bed af tot by die kamer se deur en die mes se lem sny haar aan haar regterhand en -pols toe sy dit probeer afweer.

      Hy slaan haar ’n geweldige hou met die vuis op haar oog, so hard dat sy in ’n ligte beswyming op die mat val.

      Dit gee die moordenaar kans om haar keel met die mes af te sny. Hy gebruik krag vir die diep sny van 13 sentimeter lank, van die voorkant van Amelia se keel tot agter in haar nek, deur die sagte weefsel en groot slagare.

      Die moordenaar los haar, steel niks, en vlug weer by die babakamer se venster uit.

       Sy word ineens wakker toe ’n sterk man bo-op haar op die bed is, met ’n mes in sy hand.

      Weens die twee are wat afgesny is, is Amelia besig om haar dood te bloei. Maar sy kom by en strompel na die badkamer, steun haarself met bebloede handpalms teen die mure.

      In die badkamer probeer sy die bloeding met ’n waslap stop.

      Buite, in die vroeë oggend, kom Brian Moyo aan om met sy tuinwerk te begin. Hy hoor Amelia se roepgeluide om hulp uit die woonstel. Maar die deure is gesluit en Brian sien die oop venster en klim in. Hy sien ook die baie bloed, en skrik toe hy Amelia op die badkamervloer sien lê.

      “Brian, help my … help my net …” smeek Amelia.

      Brian vlug uit die woonstel om hulp te gaan soek en kry vir Onica Makola, die Viljoens se huiswerker. Saam klim Brian en Onica weer deur die venster.

      Onica roep Amelia se naam, maar die ernstig beseerde vrou is so swak en sterwend aan bloedverlies dat sy nie kan antwoord nie.

      Onica is paniekbevange. Sy weet nie wat om te doen nie. Sy hardloop deur die woonstel, na die slaapkamer waar sy die bebloede laken afpluk en onder Amelia se kop as ’n kussing indruk. Sy begin ’n wasskottel vol water tap, kan net dink om al die bloed op te ruim.

      Brian ontbied Pieter se ouers. Ria se eerste gedagte, toe sy al die bloed sien, is dat haar skoondogter weer ’n miskraam gehad het. Maar dan sien hulle die verskriklike wonde.

       Ria se eerste gedagte, toe sy al die bloed sien, is dat haar skoondogter weer ’n miskraam gehad het.

      Ria bel Amelia se pa. “Koos, dis Amelia, dis