Suid-Afrikaanse geweldenaars sonder genade. Chris Karsten. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Chris Karsten
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Биографии и Мемуары
Год издания: 0
isbn: 9780798154406
Скачать книгу
hulle hom ook uiteindelik op 18 Mei, twee maande ná Pieter se dood, op ’n sitrusplaas by Malelane vastrap.

      Frans Shabangu is ’n staatsgetuie en word nie saam met Kenneth Mhlongo, Ndukwana Sesh Makamo en Phillemon Malinga aangekla in die moordverhoor wat in Augustus 2003 in die rondgaande hof op Graskop begin nie.

      Jenny getuig oor hoe sy haar man naby die swembad gekry het en van sy liefde vir Tassenberg in ’n tweeliterbottel, soos dié een wat die moordenaars uit die huis weggedra het. Sy ken van haar en Pieter se gesteelde besittings op foto’s in die hof uit.

      Frans Shabangu getuig hoe Pieter met die aanvallers geworstel het. Hy het een van hulle saam met hom in die swembad ingetrek toe hulle hom daarin gestamp het.

      Al drie ontken skuld op die aanklagte van moord en roof met verswa-rende omstandighede, maar hulle word op 19 Augustus 2003 skuldig bevind.

      Regter Johan Els verwerp hul getuienis en sê: “Dit is onverklaarbaar hoekom julle op só ’n barbaarse wyse opgetree het. Dit was op ’n afgeleë plek in die bos, hy (Pieter) was klaar vasgemaak sodat hy hom nie meer kon verset nie. Julle kon met gemak die (gesteelde) goed verwyder het sonder om hom dood te maak.”

      Hy vonnis hulle elkeen tot lewenslange tronkstraf plus nog 25 jaar weens roof en sê as hy kon, sou hy nie geaarsel het om die doodstraf op te lê nie. Die regter vra dat die departement van korrektiewe dienste nie parool vir die drie oorweeg voordat hulle 40 jaar van hul vonnisse uitgedien het nie. “Hervorming is nie ter sprake vir mense soos julle nie.”

      Ná die verhoor gee Jenny op versoek van die kurator van die Polisie-museum in Pretoria toestemming dat Pieter se drafskoene, die Tassenberg-bottel en die muurhorlosie uitgestal mag word.

      “Wat is dit met Maak ’n las se mense? Is die program dan gepaljas?” vra Marita, weduwee van Tolla van der Merwe oor Pieter se dood. En Zack du Plessis sê: “Nou kap hulle darem erg in óns bos.”

      Hulle verwys na die verskeie sterfgevalle die laaste paar jaar van mense wat by dié program betrokke was, soos Jan Spies, toe Tolla en Koos Meyer, en Estelle Viljoen, vrou van regisseur Ollie Viljoen, die sangers Worsie Visser en Bles Bridges, wat as gaskunstenaars opgetree het, en Gert Coetzee, lid van die produksiespan, en nou Pieter.

      Laaste boek

      In Oktober 2005 word Pieter se Manaka: Plek van die horings drie jaar ná sy dood gepubliseer. (Sy ma, Emily, is intussen ook oorlede.)

      Marietjie sê dit het lank geduur voordat sy die moed kon bymekaarskraap om weer na dié outobiografiese manuskrip te kyk.

      “Eers in die winter van verlede jaar (2004) het ek dit versigtig op die eetkamertafel uitgepak, maar ek het geweet Pieter wag vir my in Manaka.”

      En sy het duidelik in die manuskrip die paaie herken wat Pieter se lewe ook geloop het. “Ek vind hom terug in woorde.” In die hoofkarakter, Baas Chipman, sien sy Pieter se soeke na sin te midde van onsin, sy spirituele ontwaking en sy stryd teen malaria.

Jenny Pieterse Tafelberg.jpg

      Jenny Pieterse

      NB-Uitgewers

      Met Takgalani het hy net gevorder tot op bladsy 176, en die laaste woorde wat hy geskryf het voordat hy oorval en vermoor is, is: “… en niemand antwoord nie …”

      By die Boeke-oase van die Aardklopfees in Potchefstroom praat ook Jenny oor Manaka. Sy sê Pieter is tydens die skryf van die boek deur ’n godsdiensstryd en het bekeer geraak. In dié tyd het hy, soos ouma Essie (’n karakter in die boek), sy Bybel in ’n rivier vol krokodille gegooi en, soos sy, ingeswem en die Bybel gaan uithaal.

      In ’n koerantonderhoud vertel Jenny ook hoe sy en Pieter mekaar oor laataand-vuurtjies belowe het: “As ons die ewigheid moet in, laat ons tweetjies dan liewer so saam-saam gaan.”

      Sy mis baie van haar skrywerswerwer-sielsmaat, soos om net weer aan hom te kan vat. “Hy was ’n lekker man om aan te vat. Ons was maar vatterig.” (In die skets oor hul troue vertel Pieter ook hoe graag hy aan háár gevat het, hoe sag sy vir hom was.)

      Ná sy dood trek sy Albertinia toe en vat net ’n paar stukkies saam, soos Oom Koos se Kas, die kiaattafeltjie uit Caprivi en Pieter se Bybel.

       “My Pieter was iemand wat bereid was om … regtig sy droom te gaan soek.”

      “Toe ek (destyds) in die Spookhuis klim, het ek geweet: dié lewe is vir my, en dit was rég. My Pieter was iemand wat bereid was om nie net te droom nie, maar regtig sy droom te gaan soek. En werklik moeite te doen om by die droom uit te kom.”

      Vir hom was dinge nooit halfpad nie. Ook ’n klein daggie, het hy geskryf, dra in hom “die hartslag van die lewe”.

      By die see moes hulle téén die vlakwater wees, om met sy emmertjie gou te gaan water skep vir die kreef se pot.

      In die laaste jare, vertel sy, het hy rustiger geraak. “Ek dink dit was sy geloof, hy’t baie naby aan die Here gelewe sedert daardie tyd in die Caprivi toe ons tot bekering gekom het. Miskien was dit omdat hy so siek was (hy het agt keer malaria gehad) dat ’n mens meer bewus geraak het van die tydelikheid van alles.”

      Sy sê saam met Pieter het sy die lewe grootliks in storievorm beleef.

      En sy haat nie Pieter se moordenaars nie. “Ek het selfs een van hulle effens geken. Hulle is mense op ’n verkeerde pad en dis al. Ek dink die Here het my gehelp om geen haat in my oor te hê nie.”

      Van Albertinia af trek Jenny terug Somerset-Wes toe, na haar bejaarde pa. (Haar ma is oorlede toe sy nog baie jonk was.)

      En kry uiteindelik, ná Pieter se dood, ’n amptelike brief waarin toestem-ming verleen word vir die huur van die erf op Stompneusbaai waarvoor Pieter soveel jare baklei het.

      Langs Pieter se houthuis het sy dogter Annetjie nou ’n eie houthuis wat sy aan gaste verhuur, twintig tree van die see af. Sy noem dit Kom tot Rus, die naam van die plaas in Soekmekaar waar haar pa heeltyds begin skryf het.

      Maar op Marlothpark is alles nie wel nie. In Desember 2007, skaars drie maande nadat ’n sakeman van Robertson in die Wes-Kaap ’n huis hier gekoop het, sterf hy in sy vrou se arms toe rowers hom met AK47-gewere skiet.

      Dié slag oorval sewe aanvallers die 50-jarige Rudi Harris, sy vrou, Susan, en twee kuiergaste tydens ’n vleisbraai by hul huis op Marlothpark.

      Reaksiewagte is binne twee minute by die huis nadat Susan Harris die noodknoppie gedruk het. Die aanvallers het haar man geskiet en gevlug sonder dat hulle iets kon buit.

      Die polisie meen dit is dieselfde bende wat die vorige paar weke minstens ses rooftogte in Marlothpark uitgevoer het.

      Carel de Jager, ’n permanente inwoner, is in Oktober 2007 deur ’n rower met ’n AK47 op sy stoep ingewag. Die bende het toe reeds sy buurman in die huis vasgebind en was besig om dit leeg te dra.

      Hy sê: “Misdadigers beskou ons as ’n maklike teiken. Die dorp is nie dig bewoon nie, dis ruig en maklik om weg te kruip.”

      Alwyn Kruger van Field Sekuriteit sê sedert September tot Desember 2007 het hulle op twintig gewapende rooftogte gereageer. Daar was ook ses inbrake en diefstal by huise en 48 inbrake waar diewe verwilder is voordat hulle kon steel.

      Maar die moord op Rudi Harris is die eerste sedert Pieter se dood in 2002.

      Swanger vrou se dood

      Amelia, Koos en Annatjie Brits se jongste dogter, is ’n pragtige meisie. Haar suster, Raatjie, is agt jaar ouer, maar die twee Brits-dogters is baie geheg aan mekaar, daar op die Haakdoringhoewes net noord van Pretoria.

      Skaars drie kilometer van hulle af bly die Viljoens, bure en vriende. Piet en Ria se oudste seun, Pieter, is saam met Amelia in dieselfde skool, hoewel drie jaar ouer as sy. En dit is glad nie