Die Skyn van tuiskoms. Lina Spies. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Lina Spies
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Языкознание
Год издания: 0
isbn: 9780798153751
Скачать книгу
ses burgers van Calais,

      tou om die nek, met leë oë,

      doodsbereid as net hul stad gespaar kan word.

      In hierdie lentedae is Parys

      my opstanding en hemelvaart,

      maagdelike stad, meisie van die Seine,

      verkrag op die Place de la Bastille

      en wie-weet-waar tot ook by St. Michel

      – “Boul’ Mich” van die studente, heerlike boulevard –

      waar teer gegooi is oor die mooi keistene

      sodat niemand weer ’n klip kan optel

      vir ’n nuwe revolusie nie.

      Voorjaarsboodskap

      Jy het jou oë se babablou verruil vir bruin;

      “geelbruin”, skryf jou ma, “en dit word nog aldag donkerder”.

      Ek loop steeds vrolik oor die asfalt van Amsterdam,

      die lente vergoed vir die lang winter,

      haal die tyd vertikaal in, verdubbel homself:

      die gragte is pienk van al die bloeiselbome

      en ek kyk en kyk totdat die merels

      my weer kop bo water sing.

      Maar dan meteens trek ’n vliegtuig

      ’n streep bo die vergroende bome,

      dwarsdeur die helder vokalisme en my lighoofdigheid:

      ek kom weer huis toe, streeptrekkervliegtuig,

      want elkeen wat Cárolie se oë sien bruin word,

      beleef ’n mooier jaargety as ek.

      Affodille

      ’n Week gelede het hul geel gestaan, die narcissen,

      nou drentel ek half-verleë met my kamera

      by die uitgeblomde plein waar net hier en daar

      ’n goudgeel kelk nog gretig sy weerkaatsing soek

      tevergeefs bokant die donker grond

      wat nooit weer die eerste helder water word nie.

      Volgende jaar sal ek betyds kom

      om hulle te red vir my plakboek,

      want deur die gedig kan hulle

      sedert Wordsworth ongelukkig nie meer leef nie.

      En hulle het nog altyd ’n spieël nodig

      soos almal wat alleen is en eensaam liefhet.

      Buitendien raak die ware skoonheid

      ten slotte altyd op homself verlief.

      Woonplek

      En Hy het hulle gelei op ’n regte pad

      om te gaan na ’n stad om in te woon

      Ps. 107:7

      Sal ons in hierdie land uiteindelik

      alleen maar met die liggaam woon

      terwyl ons gees

      ’n skuit word op ’n Amsterdamse grag

      ’n duif op Trafalgar Square

      ’n grassprietjie in die Luxembourg-tuin

      Die son is hier

      felwit teen ’n gewel

      sekelblink oor ’n mielieland

      oneindig om ’n doringboom

      nie ’n illusie nie:

      haastige hoop op ’n misdag in Amsterdam

      onmoontlike ontvangenis in die somber Londen

      vlugtige vrolikheid oor die Seine van Parys

      Maar o my land, het die groot son

      jou mense klein en blind gemaak:

      “Dankie, Here, dat ek nie soos die ander is nie,

      die anargiste van Wes-Europa, die heidene,

      die afgedwaaldes en die immoreles.”

      In hierdie land het ons ’n ontugwet

      opdat niemand die swart-wit ordelikheid versteur nie

      ons het boonop ’n wet teen die homofilie

      opdat ons bewaar mag bly van Sodom

      en Sondag is ons almal in die kerk

      opdat Gods guns oor ons, die uitverkorenes, sal bly.

      En ek wat hierdie woorde skryf,

      ek met my hoë waan en my poësie?

      Ek is ook ’n fariseër:

      ek is André wat verlief is op Parys

      ek is Breyten wat daar woon

      ek is Jan op Kreta

      ek is Peter wat hom êrens in Engeland bevind

      en in Amsterdam kan ek Elisabeth word

      maar hier is ek uiteindelik myself

      ek hoereer agter dié mooi stad aan

      totdat ek voor hom neerkniel

      met my wange nat om Kaapstad

      en die vreemde god meteens sy vinger

      verwytend suidwaarts rig

      ’n Paternoster vir Suid-Afrika

      Here, laat die name geheilig word

      van al die kinders van die land –

      van hulle

      wat modderkoekies gebak het uit sy aarde,

      dassies skrikgemaak het in sy klowe,

      wol getrap het in sy krale.

      Ek het asemloos toegekyk:

      swart bolywe geboë oor magtelose diere

      en skerp skêre wat my laat wag het,

      bang vir die glip-slag, die bloed, die pyn.

      Maar die swart versigtige hande

      het selde dieper as die wit geknip

      en ek kon die lootjies uitdeel

      want die arbeider was sy loon waardig

      volgens die aantal wat hy vrygemaak het

      om ligvoets teen die somerheuwels uit te wei.

      Maar die bale is lankal toegewerk en weggestuur,

      die wololie van my voete afgewas,

      my bene nie meer lam getrap nie.

      Vergewe ons, die vergeetagtiges, die uitgerustes,

      soos ons hulle vergewe, die luidrugtiges

      wat nooit binne die kraal was nie,

      wat nooit rietperd gery

      en kaalvoet geloop het nie,

      en Here, sien ons hande aan:

      Kyk, om my wit pols is ’n armband van gras;

      my donker speelmaat het dit kunstig gevleg

      soos ek nooit kon nie …

      Aan U behoort die land

      en die son

      en die skape van sy weiding

      Gee ons liefdevolle hande, Heer,