Die skyn van tuiskoms
’n keur uit die gedigte van
Lina Spies
Saamgestel deur Johann de Lange
Lina Spies het die volgende toekennings
vir Afrikaanse poësie ontvang:
Eugène Marais-prys en die Ingrid Jonker-prys vir Digby Vergenoeg
Uit: Drie laelandse verse vir die nie-ontvangene nooit-geborene
Met liefde
i
Ek kan jou geslag kies
en die kleur van jou oë
sonder smeekbede aan ’n opperwese
Ek kan vir jou ’n naam gee
wat vir my mooi is
sonder kwelling oor ’n ouma se voorkeure
Ek kan vir jou ’n Makkum-bord
bestel uit Friesland
met dié naam daarop geverf
en dit hang teen die muur
van my verbeelding,
Droomkind
Ek hoef my nooit te erger aan ’n snotneusie nie:
die geboortedatum op die mooi blou bord meld
die jaar nul.
iii
Vergewe my die lewe wat ek aan jou gee;
my borste swel daar nie van nie
en die swaard was alleen maar deur my hart,
nooit in my skede nie:
ek het so dwaas liefgehad
dat ek weggekruip het in
luister na musiek
gedigte opsê
boeke lees
My liggaam was soos die Sint Paulus-kerk in Antwerpen
waar hoere en homofiele rondgedwaal het
en met die brand selfloos en seksloos
kosbare kandelare en skilderye
gered het uit die vlamme
Hy kon jou wat ek so begeer het
nie uit my verlos nie
net maar die vers
wat brand soos ’n kandelaar
al het die kerk verbrand
Op die dood van Riëtte
In liefde opgedra aan Marius en Angeline
Die klein wit kaartjie in my hand
is swygsaam met jou silwer naam,
geen Bybelteks vir troos, geen in memoriam,
geen lanferstrepie langs die kant.
So is dit reg: vir jou was donker net
die leeu wat swart en vriendelik saans
kom snuif het aan die agterdeur
terwyl die kinders van die buurt se oë rek.
Jy was hartvol, sag en klipdaswarm,
maar weerloos teen die pad, die teer, die grond
dat tussen al die draad en harde staal
net jou handjies met gewone groefies oor kon bly.
Of was die dood genadiglik die skans
wat jou vroegtydig reeds moes veilig hou teen
elke voet wat na ’n hond sou skop,
elke koeël deur die borsie van ’n duif,
elke hand wat diertjies op sou stop
om in museums na mens te kyk
met koue oë agter koue glas –
Wat staar die silwer letters ook bedrog?
Jou kat skuur spin-spin teen my been
en helder in my sing ons liedjie weer:
Almal dra ’n jas, ’n jas wat netjies pas!
Ek lê my hand eerbiedig teen die warm vag:
Jou groot bruin oë knipoog om die hoek
en ek hoor jou saggies lag
Bogrympie vir Cárolie
Jou ma het soet vokale vir jou naam bedink
maar dit belet my nie
om verspotte versies vir jou op te sê nie:
Karielie Karools
Die kat speel viool
Die koei spring dwarsoor die maan!
Karielie, Karoolsie, my Cárolie-kind,
jy hoort sowaar op hierdie aarde tuis:
Jy is sagter as die wolk se pels,
jy het paddastoelhandjies
en skoenlappervoetjies
en jou stemmetjie as jy kos vra
is koppig soos ’n kappertjie se stingel
wat hom draai net soos hy wil
en geen hand of spykerhouer toelaat
om hom te skik en te bedwing nie.
Jy het ons uit Verreweide terug kom haal
waar ons vergeet het van sonbesies en katjiepierings
en dit onder die denne altyd donker bly.
Binne-in my het die seer geword
’n knapsak, ’n doedelsak, ’n molsak,
’n slaapsak, ’n woonsak vir Karielie, Karoolsie, Cárolie-kangaroe
sodat sy weer my oë kan laat sien
dat ons deur Soeteweide stap
en ek weer met ’n voordagstem vir haar kan sing:
Karielie Karools
Die kat speel viool
Die koei spring dwarsoor die maan!
Uit: Twee gedigte vir Elisabeth Eybers
Jong dogtertjie
Sex, which breaks us into voice, sets us calling across
the deeps, calling, calling for the complement …
D. H. Lawrence
Jy staan voor my net met jou heuninglyfie,
die see se soutsmaak teen jou gladde vel,
sy kleur voorlopig in jou oë bewaar,
die sonlig in jou haartjies vasgestrik.
Van die laaste klere-lastigheid
het jy sonder seremonie ontslae geraak
en skaamte-onbewus vertoon die vlesige klein skulp
met sy dubbelvou na binne tot die smal gleufie
wat voorlopig alle toegang ontsê,
nou nog haarloos en oesterpienk totdat op dertien jaar
die see sal grys word in jou helder oë.