Die Tyd van die kombi's. Koos Kombuis. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Koos Kombuis
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Биографии и Мемуары
Год издания: 0
isbn: 9780798153720
Скачать книгу

      Wie is Bernoldus Niemand? is moerig en rou. Dit doen vir Suid-Afrikaanse musiek wat Woody Guthrie vir Amerika gedoen het. En nog meer.

      Hoe langer ek na die plaat luister, hoe meer kry ek ’n gevoel vir hierdie ou. Dis asof ek hom al jare ken.

      Die album het een liedjie wat uitstaan as die solus-sewekeuse: “Hou my Vas, Korporaal”. Dis ’n prettige antiweermag-protesliedjie, en dit slaan my asem weg. Skaars het ek van die skok herstel, of ek word meegesleur deur die snedige ironie en hipnotiserende kitaarspel op “Reggae Vibes is Cool”. Ek raak dadelik verlief op die snit “Welcome to my Car” en verloor heeltemal kop as ek luister na “Snor City”.

      Nadat ek die hele plaat drie keer deurgeluister het, kan ek myself nie meer in toom hou nie. Ek hardloop na Valerie se slaapkamer en kom terug met haar goedkoop nylonsnaarkitaar. Voor ek my kom kry, sit ek kruisbeen voor ’n draagbare kassetopnemer met haar kitaar. Ek sing al die Afrikaanse liedjies wat ek in die geheim gekomponeer het. Toe ek klaar is, sit ek die kasset in’n koevert.

      Ek weet wat volgende gaan gebeur. Ek gaan dit pos aan Shifty Records (Bernoldus se platemaatskappy). En dan gaan die kak en hare amptelik begin.

scan0001.jpg

      Dit was nie net alles musiek, kuns en drama nie. Dinge het ook begin roer op die literêre front.

      Ek moet erken dat ek op hierdie front dinge ’n bietjie aangehelp het.

      In 1977, terwyl ek in Saal Ses in Weskoppies-hospitaal in Pretoria-Wes was – midde-in ’n klomp dwelmslawe, neurotiese huisvroue en andersins psigoties afwykende persone – het ek my eerste kortverhaal gepubliseer. Die verhaal se naam was “Die Man met die Lang Ding”. “Die Man met die Lang Ding” – ’n kort, absurde en ietwat surrealistiese vertelling van ’n homoseksuele man wat nie sy seksuele voorkeure kan verwerk nie – het ’n sensasie in die kleine veroorsaak. Dit is gepubliseer in ’n ondergrondse literêre tydskrif met die naam Donga. Donga is gepubliseer deur ’n groep feministe onder leiding van Welma Odendaal en Rosa Keet. André le Roux, kortverhaalskrywer en tans groot gees by Sarie, het op dieselfde bladsy as ek gedebuteer met ’n gedig. Ek het spesifiek opgelet na André le Roux se gedig omdat ek destyds onder die naam André le Roux du Toit geskryf het. Ek was geweldig beïndruk met André se gedig. Dit het die gevoel van vervreemding wat intrinsiek deel was van ons generasie perfek oorgedra:

      ek het jou lief met ’n hand vol

      hare in my hand en stap en sit

      in my kamer die ganse goddelike dag

      alles wat ek weet is weg

      ek weet niks …

      Later sou ek, uit respek vir sy kunstenaarsintegriteit, vir André kontak en aanbied om my eie naam te verkort na “André Letoit” sodat hy kan aanhou skryf as “André le Roux” sonder dat daar verder verwarring geskep word. Hy het die kompromie blymoediglik aanvaar, en alles het goed gegaan totdat ek eendag, jare later, besef het dat “Letoit” ’n anagram vir “toilet” is. Toe sou ek begin rondkyk en, na my Tweede Bekering, by die naam “Koos Kombuis” uitkom.

      Toe die regering die uitgawe van Donga waarin my en André le Roux se bydraes verskyn het, verbied – nie alleen van die rakke afhaal nie, maar verklaar dat dit ’n misdaad was om ’n eksemplaar van die tydskrif te besit – het die redakteurs onmiddellik besluit om te hergroepeer en ’n ander tydskrif te stig.

      Hoewel ek Welma Odendaal nie persoonlik geken het nie, het ek ’n heldeverering vir hierdie legendariese vrou van Afrikaanse literatuur gehad. Sy was gedurig in die moeilikheid, maar sy wou nie gaan lê nie. (In daardie opsig was sy heeltemal anders as die meisies in my lewe.)

      Hierdie dapper groepie vroue het ook ander geïnspireer om dieselfde taktiek te volg. Binne ’n paar maande was klein, nieamptelike Afrikaanse “literêre” tydskriffies orals besig om kop uit te steek. In Johannesburg het twee studente van die Universiteit van die Witwatersrand, Dan Roodt en ene Karen Konsentrasiekamp, ’n bisarre en vulgêre blad met die naam Taaldoos op die been gebring. Die briljante jong digter Theunis Engelbrecht het gevolg en, onder die skuilnaam Koekie Ziervogel, die tydskrif De Nieuwe Poes uitgebring (dieselfde Theunis Engelbrecht sou later, soos ek, tydelik letterkunde verruil vir musiek, en die band Randy Rambo en die Rough Riders begin – ook bekend as Die Naaimasjiene – wat in die Voëlvry-tyd sterstatus sou behaal ten spyte van die feit dat hulle baie selde lewendig opgetree het). Nog ’n tydskrif – die ietwat meer duursame publikasie Stet (dit was een van die min nuwe tydskrifte wat nie dadelik verbied is nie) – is gestig onder redaksie van Gerrit Olivier. Waarskynlik die mees invloedryke nuwe tydskrif van die hele lot was egter die netjies gedrukte, byna snobistiese blad Graffier, die skepping van die Stellenbosse skrywer Etienne van Heerden. Etienne, ’n ou skoolvriend van my, was ook voorsitter van die nogal prestigeryke literêre forum genaamd Die Kaapse Groep, en hy het my nie alleen oorreed om deel te neem aan hul besprekings nie, maar my toegelaat om, vir ten minste een uitgawe, my eie eerste satiriese tydskriffie, Graffiti, uit te gee as deel van Graffier.

      My vriend Etienne verdien dalk ’n bladsy spesifiek ter ere van hom.

      Dit was Etienne wat, meer as enige ander vriend, my greep op die werklikheid geword het toe my persoonlike postadolessente soektog na ’n persoonlike mite of allesoorkoepelende waarheid begin handuit ruk het. Vir ’n paar jaar lank sou ek na “’n god” gaan soek in verskillende kerke; ek het dienste bygewoon by oplewingsgroepies en handeklapsektes, sinagoges, en selfs by die spiritualiste. Toe al hierdie soektogte na ’n god misluk, het ek boeke begin lees oor levitasie en astrale projeksie.

      Ek het my vriende meegedeel dat my naam van nou af Abraham sou wees – deels na aanleiding van Abraham uit die Ou Testament, en deels in nabootsing van een van my gunstelingskrywers, Abraham de Vries.

      As selfaangestelde “profeet” van ’n “nuwe geloof” het ek vir my vriende tientalle “openbarings van ’n god” gepos, asook foto’s van myself. In sommige van die foto’s het ek ’n Afro-haarstyl gehad, in ander lang bakkebaarde. Soms het ek ’n donkerbril gedra waarvan die een glas weg was, om lig en duisternis te simboliseer. Ek het ’n dualistiese bestaan gelei, en hierdie bisarre beelde was die beste manier waaraan ek kon dink om dit uit te beeld.

      Gemengde metafore was aan die orde van die dag.

      In hierdie tye van geestelike verwarring, te midde van hierdie fantastiese private reis tussen lugkastele van waansin, was dit telkemale Etienne wat my teruggebring het aarde toe; nie deur my te oordeel nie, maar deur my te herinner daaraan dat ek in die eerste plek nie die profeet van ’n nuwe geloof is nie, maar ’n skrywer …

      “Skryf alles neer,” sou hy in elke brief of telefoonoproep sê. “Werk aan jou gedigte. Skaaf aan jou kuns. Want jy kan nog ontpop in een van die grootste ghoeroes van Afrikaans wat ons land nog ooit gesien het.”

      As ek meer vir hom geluister het, sou dit dalk gebeur het, en sou ek gouer ’n gerespekteerde skrywer geword het pleks van so lank vas te haak by die sing van rymelaryagtige liedjies.

scan0001.jpg

      Dis ’n stowwerige dag in die Transvaal. Vanoggend het ek in my pel Fanie se kar geklim en hy’t my ’n lift gegee tot by Shifty Records. Fanie is my beste pel. Hy is selfs ’n groter pel as Etienne. Ek het hom ontmoet in ’n hysbak in Pretoria jare gelede – dit was nie ’n toevallige ontmoeting nie, maar ’n afspraak waaraan ons lank beplan het – en sedertdien het ons ure en ure in mekaar se geselskap deurgebring.

      Terwyl Fanie my ’n lift gee na Shifty Records, weet ek nie dat hy in die vroeë een-en-twintigste eeu aandag sal trek in die Afrikaanse literatuur met sy debuutroman nie. Ek weet nie dat Fanie se debuutroman se naam Kontrei sal wees nie – ’n naam wat ek vir hom sal uitdink – en dat hy sal skryf onder die skuilnaam Kleinboer nie. Terwyl ons tussen die droë geel gras van die landskap buite Johannesburg ry, weet ek nie dat Fanie – oftewel, Kleinboer – eendag beroemd sal wees vir (a) die feit dat hy nooit enigiets anders sal dra tydens koerantonderhoude as sy