In God se teenwoordigheid. Johan Smit. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Johan Smit
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Религия: прочее
Год издания: 0
isbn: 9780796315687
Скачать книгу
ontvang het) die volk gewaarsku het. Die woord “profeet” in Hebreeus (nabi) beteken “om te praat” of “geroepene”. Kom ons vertaal dit só: geroep om te praat, om God se Woord bekend te maak. En so leer ons hulle die een na die ander ken: onverskrokke predikers wat God se wil sonder skroom bekend maak. Bekeer julle van julle verkeerde paaie! Natuurlik hou mense nie daarvan om op hulle foute gewys te word nie. Die profete was nie gewild nie. Hulle het nie mense na die mond gepraat nie. Daarom is hulle vervolg en selfs doodgemaak.

      Woordverkondigers wat God se Woord sonder vrees verkondig en bereid is om bekering te preek, is vandag ook nie gewild nie. Maar ons moet luister. As hulle namens die Here praat, durf ons hulle boodskap nie ignoreer nie.

      Here, maak my minder krities en meer ontvanklik vir u Woord, ongeag wie dit aan my oordra. Amen.

      18 Februarie

      Raak stil, en vertrou op die Here

      So het die Here my God, die Heilige van Israel, gesê: As julle julle bekeer en tot rus kom, sal julle gered word. Julle krag lê in stil wees en vertroue hê. Maar dit wou julle nie; … Jesaja 30:15

      In Jesaja 30 herinner die profeet die volk by herhaling daaraan dat hy namens die Here, die Heilige van Israel, praat. Sonde groei welig waar mense God se heiligheid veronagsaam, wanneer hulle nie meer respek vir God het nie. Die gevolg was dat God iewers op die agtergrond geskuif is, beskikbaar indien nodig. En intussen het mense hulle eie koppe gevolg en hulle eie begeertes bevredig. Hulle het hulle vertroue gestel in geweld en bedrog (vers 12) – die instrumente van selfhandhawing wat so mildelik deur die wêreld gebruik word. En dié sonde het soos ’n oorhangende muur geword wat enige tyd kon ineenstort en tot vernietiging lei (vers 13). En so is sonde mos: Jy verkeer onder die wanindruk dat jy ’n magtige konstruksie opgebou het, totdat dit op ’n dag inmekaartuimel omdat die fondamente verrot is.

      En daarom die oproep tot bekering. Ondersoek die fondamente van jou lewensgebou. Ondersoek jou motiewe en jou beginsels. Vra jouself af waarom daar onrus in jou hart is. Bekeer jou en kom tot rus sodat jy uit die gemors gered kan word.

      ’n Mens raak so maklik verstrengel in al jou opportunistiese ondernemings, al die geldmaakplanne en gesukkel om bo uit te kom. En God word na die agtergrond verskuif. Sy Woord vergaar stof. Bekeer jou! Jou redding, jou krag, lê in stil wees en vertroue hê. Laat God toe om weer in die sentrum van jou lewe te staan en vertrou op Hom. Eers dan sal jy werklik rus en vrede en geluk vind.

      Here, ek wil in u teenwoordigheid stil word, alles aan U oorlaat en volkome op U vertrou. Amen.

      19 Februarie

      Ander gode

      Ek het vroeg en laat my dienaars die profete na julle toe gestuur om te sê: “Elkeen van julle moet hom van sy verkeerde dade bekeer. Julle mag nie agter ander gode aanloop en hulle dien nie.” Jeremia 35:15

      Die profete waarsku die volk dikwels teen afgode. As ons deur die Ou Testament blaai, vind ons hoe dikwels die Israeliete met heidense praktyke deurmekaar geraak het. Afgode was toentertyd aan die orde van die dag. Dit was ’n integrale deel van die heidenwêreld se bestaan. Elke huis, elke mens, het ’n afgod of twee, drie gehad. Net die Israeliete is verbied om afgode te aanbid. Maar namate die Israeliete ál meer aan die ander volke blootgestel is, en met hulle lewenstyl vertroud geraak het, het dié mense se godsdienstige praktyke op God se volk begin afgee. Dit het tog nie na ’n slegte ding gelyk om benewens die Here ook ’n afgodjie te vertroetel nie, net vir so ’n bietjie ekstra geluk. Maar in God se oë was dit verkeerd!

      Ander gode of afgode verplaas die Here as die enigste ware God in mense se lewens. Hulle neem óf God se plek mettertyd volledig in, óf hulle kom op dieselfde vlak met God te staan, feitlik in kompetisie met God. Mense stel hulle vertroue in afgode. Hulle raak versot op die afgode. En God verdwyn in die newel van afgodsbedwelming.

      Wat het dit met ons te doen? Sommer baie! Vra jouself gerus af waarin of in wie stel jy regtig jou vertroue? Het die geldgod, die god van materiële dinge, nie dalk in jou godegalery plek gekry nie? En het dit nie dalk vir jou op ’n verkeerde koers geplaas nie? Dalk tyd vir bekering?

      Heilige Gees, maak dit asseblief vir my duidelik of daar nie dalk ook in my lewe afgode is waarvan ek afstand moet doen nie. Amen.

      20 Februarie

      Kies die lewe

      “Sê vir hulle: So seker as Ek leef, sê die Here my God, Ek wil nie hê die sondaar moet deur sy sonde sterf nie, Ek wil hê hy moet van sy optrede afsien en lewe. Bekeer julle, bekeer julle van julle bose optrede! Waarom wil julle sterf, Israel?” Esegiël 33:11

      Kies die lewe of kies die dood. Watter dom keuse om aan enigiemand te stel. Ons wil mos almal graag lewe. Vanselfsprekend kies ons die lewe! Maar as jy na mense se leefstyl kyk, lyk dit tog nie na so ’n natuurlike keuse nie. Mense dobbel net te dikwels met die lewe. Hulle mors met die gawe van die lewe. En in hierdie malle dobbelspel verkeer hulle nogal onder die indruk dat die dobbelsteen telkens vir hulle reg val – hulle behaal voordeel uit die dobbelspel. Maar dit is ’n illusie. Skoppensboer bly baas. As jy met die lewe dobbel, kies jy die dood.

      Ja, ek weet dit klink baie swartgallig. Sonde, die dobbelspel met die lewe, is darem erg opwindend. ’n Mens moet darem nou ook nie al die pret uit die lewe verwyder nie. Wel, as jy vir God uit jou lewe haal, het jy al die pret uitgehaal. Want sonder God is jy ’n kandidaat vir die dood. God wil nie hê die sondaar moet sterf nie. Hy wil hê mense moet hulle bekeer van ’n verkeerde manier van lewe, van ’n dobbelspel met die lewe, sodat hulle werklik kan lewe.

      Is hierdie teks net vir ongelowiges bedoel? Ongelukkig nie. Selfs mense wat bely dat hulle in die Here glo, gee hulle oor aan ’n leefstyl wat niks minder as ’n dobbelspel met die lewe is nie. Moenie jou dood soek nie! Die keuse bly joune.

      Here, gee dat my leefstyl sal bewys dat ek die lewe, vir U, gekies het. Amen.

      21 Februarie

      Bekering, waarvoor?

      Van julle voorvaders se tyd af het julle van my voorskrifte afgewyk en nie daarvolgens geleef nie. Bekeer julle tot My, dan sal Ek terugkom na julle toe, sê die Here die Almagtige. Maar julle vra: “Waarom moet ons ons bekeer?” Maleagi 3:7

      Niemand is so blind soos hy wat nie wíl sien nie. Die Israeliete het geen verskoning gehad vir herhaalde oortredings van God se wet nie. Die priesters en profete het gesorg dat hulle oor God se wil goed ingelig was. Maar van vroeg af het hulle maar daardie weerbarstige houding gehad om hulle eie koppe te volg. En natuurlik het dit op herhaalde wetsoortreding uitgeloop. Hulle het net eenvoudig nie geleef soos mense wat aan die Here behoort nie.

      Die Here is egter genadig. Hy roep hulle op tot bekering. Weer ’n keer kom ’n profeet aan die woord. Hy pleit by die volk. Keer tog asseblief terug na die Here! Laat los al die sondige praktyke waaraan julle nou al so gewoond geraak het. En luister net na die belofte: As julle na die Here terugkom, sal Hy weer na julle terugkom. Daardie gruwelike breuk tussen julle en julle God sal herstel word. Toe, kom nou, bekeer julle!

      Maar dan die verstommende antwoord: Waarom moet ons ons bekeer? Ons het nie bekering nodig nie. Ons behoort aan die uitverkore volk; ons is besny; ons het mos vir God aan ons kant.

      ’n Mens kry koue rillings wanneer jy dié antwoord hoor. Nog erger: Wanneer jy dit ook by kerkmense waarneem. “Ons is gedoop, behoort aan die regte kerk, word as gelowiges gereken – waarom bekeer?”

      Here, help my deur u Gees om my eie hart deeglik te ondersoek. Waarvan moet ek my bekeer? Amen.

      22 Februarie

      Die tyd het aangebreek

      Hy het gesê: “Die tyd het aangebreek, en die koninkryk van God het naby gekom. Bekeer julle en glo die evangelie.” Markus 1:15

      In Matteus 3:2 het Johannes die Doper presies met dieselfde oproep as Jesus vorendag gekom: Bekeer julle, want die koninkryk van die hemel het