In God se teenwoordigheid. Johan Smit. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Johan Smit
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Религия: прочее
Год издания: 0
isbn: 9780796315687
Скачать книгу
vuur in die kolebak gegooi. Hy het so gemaak tot die hele boekrol in die vuur was. Jeremia 36:23

      In Jeremia 36 hoor ons die verstommende verhaal van blatante minagting van die woord van God. Jeremia het in opdrag van die Here sy boodskap aan sy volk deur Baruk laat neerskryf. In die boodskap het die Here sy ontevredenheid met die volk se sonde asook sy oordeel oor die volk duidelik uitgespel. Baruk het die boekrol aan die volk op ’n vasdag gaan voorlees. Die koning se amptenare was teenwoordig en het dadelik aan hom verslag gaan doen. Koning Jojakim het in sy paleis voor ’n bak kole gesit waar Jehudi die boekrol vir hom voorgelees het. Na elke paar paragrawe het die koning die gelese stuk afgesny en in die vuur gegooi totdat die hele boek verbrand is. Sy reaksie was presies die teenoorgestelde van dié van sy pa, Josia, van wie ons gister gelees het.

      Die koning se optrede is veel erger as ons hoor wat die Here se bedoeling met die voorlees van die boekrol was: As Juda hoor van al die rampe wat Ek oor hulle wil bring, sal elkeen hom miskien van sy verkeerde dade bekeer (Jer 36:3). Dit was inderdaad ’n “miskien” wat toe nie ’n werklikheid geword het nie – met rampspoedige gevolge vir die volk.

      Ek het nog nie gehoor van ’n koning (of volksleier) wat die Bybel in die vuur gooi nie. Nogtans weet ek van baie staatshoofde wat die inhoud van God se Woord op vele ander maniere minag. Ons moet onsself tog ook gereeld in dié verband ondersoek.

      Here, laat ons tog aandagtig na u Woord luister, al sou ons nie altyd van die boodskap hou nie. Amen.

      28 Februarie

      God se helder stem

      In die verlede het God baiekeer en op baie maniere met ons voorvaders gepraat deur die profete, maar nou, in hierdie laaste dae, het Hy met ons gepraat deur die Seun. God het Hom deur wie Hy die wêreld geskep het, ook erfgenaam van alles gemaak. Hebreërs 1:1–2

      In ons reeks dagstukke oor woord en antwoord het ons aanvanklik geluister na die onsigbare God se magtige skeppingswoord. Ons het gehoor hoedat mense verkeerd op sy woord geantwoord het. Daarna het ons God se stem gehoor terwyl Hy op verskillende maniere met die Ou-Testamentiese geloofshelde gepraat het. Later het God by monde van die profete sy woord laat hoor. Maar deurentyd was daar die hartseer verhaal van mense wat maar net nie wou luister nie, nie bereid was om God se Woord te gehoorsaam nie. En dán …

      Die Woord het mens geword en onder ons kom woon (Joh 1:14). God raak sigbaar in sy Seun, Jesus Christus. God se Woord kry gestalte, hy neem die vorm van ’n mens aan en kom woon tussen ons. Ja, dis duidelik uit Johannes se hantering van die “Woord” dat hy van Jesus self praat. Dit is inderdaad God wat mens word. As mense ooit gekla het dat hulle God se Woord nie kan verstaan nie omdat hulle vir God nie kan sien nie, word die bordjies nou verhang. Jesus het self gesê: Wie My sien, sien die Vader (Joh 14:9). Kyk na Jesus en sien vir God! Luister na Jesus en hoor vir God! En al sien ons nie vir Jesus vandag van aangesig tot aangesig nie, het ons deur die Bybel ’n onbelemmerde beeld van Jesus. In sy woorde en werke word God se wil duidelik bekend gemaak.

      Verskonings om die Woord te gehoorsaam, het ons nie.

      Jesus, ek loof en prys U as die Woord wat mens geword het, Woord by God, Immanuel, God by ons. Halleluja!

      29 Februarie

      Só bereik God se liefde sy doel

      Iemand wat sê: “Ek ken Hom,” maar nie sy gebooie gehoorsaam nie, is ’n leuenaar, en die waarheid is nie in hom nie. Wie sy woord egter gehoorsaam – in hom het die liefde van God werklik sy doel volkome bereik. Hieraan weet ons dat ons in Hom is. Wie beweer dat hy in Hom bly, behoort self ook te lewe soos Jesus gelewe het. 1 Johannes 2:4–6

      Jesus, die Seun van God, die Woord wat mens geword het en onder ons kom woon het. Jesus die enigste weg na die Vader. Jesus ons voorbeeld by uitnemendheid. Maar dan ook Jesus wat vir ons noukeurig geleer het wat God se wil is en hoe ons dit behoort te gehoorsaam. Hoe goed ken jy vir Jesus? Is sy woorde deel van jou lewe? As jy beweer dat jy Hom ken, maar nie sy Woord gehoorsaam nie, is jy in dieselfde linie as koning Jojakim (eergister) wat sy Woord minag. As jy Hom egter regtig ken en liefhet, sal jy mos sy Woord gehoorsaam. En dan geld die wonderlike belofte van 1 Johannes 2:5–6 vir jou: God se liefde sal sy doel volkome in jou lewe en deur jou lewe bereik.

      God se Woord is ’n liefdeswoord. Bekering is ’n liefdesdaad. Woord en antwoord is liefdeshandelinge. Ons laat die klem te dikwels op wet en straf val. Die bedoeling van God se Woord is om sy liefde tot volkomenheid te laat kom. Mense wat God se Woord gehoorsaam, ervaar ’n vervulde lewe, ervaar die warmte van God se liefde. God wil ons nie met sy Woord stukkend slaan en vernietig nie; Hy wil ons heelmaak en begelei tot lewensvervulling.

      Gee vir God kans om sy doel in jou lewe te bereik. Gehoorsaam Jesus se woorde en ervaar hoedat God se liefde jou lewe vul.

      Here, laat u liefde sy doel volkome in my lewe bereik. Amen.

      Maart

      Inkeer, bestek neem

      Ons gesels hierdie maand oor die betekenis van inkeer. Ons het verlede maand na die woord geluister, nou is die vraag wat ons met die woord gaan doen. Die Bybel roep ons op tot inkeer, stil word, na binne kyk, bestek neem … en met God gesels oor sy woord.

      Dit is nodig om oor jou lewenspad te besin. Waar staan ek in my verhouding met God? Hoe lyk my verhoudings met my medemens?

      Sondebesef, sondeberou en sondebelydenis bly vaste punte op die gelowige se agenda. Die dinge wat verhoudings vertroebel, moet uit die weg geruim word. Ons ontdek die deernisvolle, wagtende Vader wat sy verlore kinders met ope arms ontvang. Ons ontdek die vreugde van vergifnis en nuwe toewyding.

      1 Maart

      Praat met jouself

      Toe kom hy tot inkeer en sê: “My pa het wie weet hoeveel dagloners, en hulle het almal oorgenoeg kos, en hier vergaan ek van die honger.” Lukas 15:17

      Die woord wat die begin van die proses van bekering die beste beskryf is “inkeer”. Jy moet eers tot inkeer kom voordat jy tot bekering kom. Inkeer is ’n gesprek met jouself. Jy kry duidelikheid oor jou lewe. En dan neem jy ’n besluit met die oog op die toekoms.

      In die verhaal van die verlore seun vind die inkeer plaas wanneer hy te midde van sy ellendige toestand na sy vader se huis begin terugverlang. Die verhaal van die verlore seun teken vir ons in hooftrekke die verloop van sake wanneer ’n verbondskind koers verloor. Hierdie kind was aanvanklik deel van die vaderhuis waar hy al die voorregte van die vaderhuis geniet het. Toe die dwaling: ’n keuse weg van die vader vir die plesier van ’n ongebonde leefstyl. Toe breek die krisistyd aan: ’n glinsterlewe hou nie te lank nie. Dit stuur op broodsgebrek af. En dán: die inkeer …

      Hierdie eenvoudige verhaal word op duisende maniere in mense se lewens gerealiseer. Die manier waarop die dwaling plaasvind, die soort van krisis wat mense tot inkeer dwing, is verskillend. Maar die belangrike feit is dat daar ’n oomblik aanbreek waar jy bewustelik tot besinning kom. Bestek neem. Wat maak ek hier? Is ek gelukkig? En dan die terugdink aan dit wat ek prysgegee het. Het ek dalk in Jeremia se woorde ’n waterbron verruil vir gebarste reënbakke?

      En so, al pratende met homself, ontdek die wegloopkind sy diepste nood. Praat gerus ’n slag met jouself. Is jy iewers ver van die huis?

      Here, miskien is ek wel in die huis, maar tog nie naby genoeg aan die Vader nie? Gee vir my helderheid oor myself. Amen.

      2 Maart

      Die vaderhuis

      Toe kom hy tot inkeer en sê: “My pa het wie weet hoeveel dagloners, en hulle het almal oorgenoeg kos, en hier vergaan ek van die honger.” Lukas 15:17

      Die gevaar bestaan dat ’n mens die gelykenis van die verlore seun kan oorvereenvoudig. Dit word ’n verhoogstuk waar jy maar net ’n toeskouer is. Jy is verstom oor